Volg ons op Facebook

Rekordjaar vir tafeldruifuitvoere verwag

Written by  Leoni Kok
| in Landbou
| December 14, 2015

Die Suid-Afrikaanse Tafeldruif Produsentevereniging (SATI) het vanjaar vir die tweede opeenvolgende jaar ‘n rekord-oes vir die bedryf voorspel. Na raming sal die land in die huidige oesseisoen meer as 60 miljoen kartonne druiwe lewer, waarvan die meerderheid uitgevoer sal word.

Ook die Aussenkehr-gebied in Namibië – waar Plaastoe! in November gekuier het – verwag ‘n rekordjaar. Aussenkehr is Namibië se belangrikste tafeldruifverbouingsgebied. Om dié sowat 2000ha wingerd in die middel van die woestyn te aanskou is nogal ‘n belewenis. Die area, wat ongeveer 50km noord van die Vioolsdrifgrens met Suid-Afrika geleë is, word deur die Oranjerivier gevoed en is die eerste gebied in die suidelike halfrond om druiwe te lewer. Dit gee Aussenkehr ‘n voorsprong in toegang tot die gesogte voor-Kersmark in Europa en die Verenigde Koninkryk.  Tradisioneel word van die hoogste pryse gedurende hiérdie tydperk vir tafeldruiwe behaal.

“Aussenkehr is Namibië se belangrikste tafeldruifverbouingsgebied.“

Met die huidige swakheid van die rand is dit ‘n gulde geleentheid vir Suid-Afrikaanse produsente om buitelandse valuta te verdien. Dit beteken ook ‘n hupstoot vir ‘n oorhoofse trae ekonomie en ‘n verbete-ring in die land se handelsbalans wat vir die tweede kwartaal in 2015 op ‘n tekort van 3.1% gestaan het.

Die swak wisselkoers is egter nie ‘n totale wen vir produsente nie. Hoewel beter pryse vir uitvoere verdien word, verhoog die insetkoste van ingevoerde produkte dienooreenkomstig;  soos pakmateriaal, chemikalieë en kunsmis. 

decjan2016 uitvoere 1‘n Ander swaard wat oor die Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerbedryf se kop hang, is die toutrekkery tussen die plaaslike regering en die VSA oor Suid-Afrika se voortgesette lidmaatskap van AGOA. Die African Growth and Opportunity Act bied verskeie konsessies vir  deelnemende lande wat produkte na die VSA uitvoer.  Indien Suid-Afrika sy lidmaatskap verloor, sal veral die sitrusbedryf daardeur geraak word. Volgens SATI-syfers het Suid-Afrika egter verlede jaar minder as ‘n persent van sy tafeldruiwe na die VSA uitgevoer, so die impak van AGOA is minimaal op die tafeldruifbedryf.

Suid-Afrika en Namibië se kernmarkte vir tafeldruifuitvoere is tradisioneel Europa en die VK. Bykans 48 miljoen kartonne van Suid-Afrika se totale 2014-2015-produksie van net onder 58,5 miljoen kartonne is na die Europese Unie en die VK uitgevoer.

Ontluikende markte soos Sjina en Afrika hou groot potensiaal vir die bedryf in, maar handelstoestande het die meeste Suid-Afrikaanse produsente nog uit dié twee afsetpunte gehou. Gabriel Viljoen is ‘n aandeelhouer en direkteur van A.S. Viljoen Grapes. Die familie-maatskappy het belange in die Noord- en Wes-Kaap; by Kanoneiland/Upington, Onseepkans, De Doorns en Piketberg. Gesamentlik voer dié plase sowat 2 miljoen kartonne druiwe per jaar uit. Ook oorwegend na die VK en Europa.

Die maatskappy doen sy eie bemarking en een van die markte wat onlangs ontsluit is, is Mauritius. Gabriel glo dat Afrika in die toekoms ‘n baie belangriker mark vir Suid-Afrikaanse produsente sal word, maar tans is die probleem dat mens nie altyd verseker is dat jy betaling vir jou produkte gaan kry nie. 

Waarom dan nie Sjina nie? Vervaardigers uit alle sektore val deesdae omtrent oor hul voete  om die Sjinese mark te betree. Gabriel verduidelik dat dit te doen het met al die nakomingsreëls waaraan produsente
moet voldoen. “Mens moet deur die STERIE-proses gaan,” sê Gabriel, en dié vereistes is nog strenger as die rits veel-eisende regulasies wat die EU en die VK verg. Mens sou dink dat Sjina juis nie soveel vereistes het nie, omdat sy omgewingswetgewing minder rigied is, as byvoorbeeld dié van die EU.

Wat Suid-Afrikaanse produsente ook dalk huiwerig maak om Sjina te ontgin, is dat dit nader is aan Australië wat min of meer in dieselfde tydgleuf tafeldruiwe produseer as Suid-Afrika. Die Australiese mark word egter as meer wispelturig vir uitvoere beskou, omdat die plaaslike Australiese mark betreklik sterk is. Die waarde van die Australiese dollar beteken ook dat produ-sente in dié land nie dieselfde voordeel trek uit internasionale wisselkoerse nie.

“My hart gaan uit vir hoenderboere, want hulle gaan sleg geraak word as ons grootskaalse hoender-invoere uit Amerika toelaat.”

decjan2016 uitvoere 6Ek vra Gabriel se mening oor die AGOA-aangeleentheid. Hy voel die VSA behoort Suid-Afrika in dié verband tegemoet te kom, aangesien ons ‘n ontwikkelende land is en die VSA weinig verloor deur Suid-Afrika se beskerming van sy pluimveebedryf: “My hart gaan uit vir hoenderboere, want hulle gaan sleg geraak word as ons grootskaalse hoender-invoere uit Amerika toelaat.”

Ons gesprek verskuif na die ongewone koel weer wat gedurende Oktober en November in die Noord- en Wes-Kaap voorgekom het. Dié twee provinsies produseer die grootste gros van Suid-Afrika se uitvoer-tafeldruiwe. Tafeldruiwe word wel ook in die Noordelike Provinsie geproduseer, maar hiér word daar meer op die plaaslike mark as die uitvoermark gefokus. Die koeler weer was goed vir die set van vrugte in die maatskappy se vroeë area by Onseepkans, maar Gabriel sê die koeler temperature het veroorsaak dat die vrugte by hul Upington-plaas vaster geset het; hulle kon derhalwe nie spuit vir korrelvermindering nie en moes trosse met die hand knip. Die korrelvermindering word gedoen om die ideale mikpunt van 100-150 korrels per tros te behaal. As daar te veel korrels aan die trosse is, neem dit te veel energie vir die wingerdstok om die trosse ryp te maak, en dit lei ook tot kleiner korrels wat die markkwaliteit van die trosse benadeel. Die uitvoermark is verral gesteld op vrugvoorkoms, so uitstekende vrugvoorkoms is ‘n eienskap waarop alle uitvoerprodusente sterk fokus.

Selfs Aussenkehr het ongewone koel weer in die eerste twee weke van November beleef. Terwyl ek die gebied besoek het, was temperature in die middel dertigs, terwyl dit gewoonlik in die lae veertigs is. André  Vermaak is die Besturende Direkteur van Silverlands-boerdery in Aussenkehr. Die boerdery is in Julie vanjaar deur ‘n Londense batebestuursmaatskappy gestig. André is ‘n ou hand in Aussenkehr en was voorheen ook aan die stuur van Capespan Namibië.  Hy sê die koeler temperature het beslis ‘n invloed op hulle paktyd gehad en veroorsaak dat hulle agter geraak het met die oes. Maar teen die laaste week in November het temperature weer opgetel en was hy gerus dat hulle steeds mikpunt-volumes vir die voor-Kersmark sou behaal.

decjan2016 uitvoere 2Tydsberekening en logistiek is twee kritiese faktore as jy tafeldruiwe suksesvol wil uitvoer. Produsente begin reeds maande voor die oes mondelinge ooreenkomste met oorsese supermarkte sluit en wanneer oestyd in volle swang is, praat die produsente se bemarkers elke dag met partye in oorsese afsetpunte om inligting oor beskikbare volumes en aanvraag op te dateer.

“Hulle gee vir jou programme (die supermarkte),” verduidelik André. “Byvoorbeeld Sainsbury’s (in die VK) sal sê ons soek rooi pitloos vanaf week 46 tot week 51. En ons benodig 20 duisend kartonne per week, en dan net voor die Kers-spitstyd het ons 40 duisend kartonne nodig.

“Jy gaan kyk dan na jou oesskatting en sê vir hulle dat jy dit kan lewer, of jy kan die helfte van die program lewer, en as jy nie die volle program kan lewer nie, dan verkry hulle die res by ander produsente.”

In Nederland word daar ook ‘n handelsmark bedryf waarheen produsente hul tafeldruiwe stuur. André sê dit beloop nie meer as 10% of 20% van produsente se oeste nie, omdat die mark meer wispelturig is. Maar weens die feit dat pryse nie vooraf vasgestel word nie, is dit moontlik om soms meevaller-winste in dié mark te maak.

“Aussenkehr het werklik unieke uitdagings om sy tafeldruiwe uit te voer.“

Aussenkehr het werklik unieke uitda-gings om sy tafeldruiwe uit te voer. Omdat dit aan die suidpunt van Namibië geleë is, is die naaste hawe – Walvisbaai – amper 1000km daarvandaan. Die gebied produseer ook nie genoeg volumes druiwe om Walvisbaai lewensvatbaar te maak nie. Al Aussenkehr se druiwe word dus per vragmotor na Kaapstad (735km) se hawe vervoer en dan vandaar verskeep na die buiteland.

André wys op die ironie van die situasie: “Die skepe van Kaapstad vaar dan weer teen die kus op by ons verby om in Europa te kom.”  Sou Walvisbaai eerder as hawe gebruik kon word, sou dit heelwat van die verskepingstyd verkort. Produsente betaal darem nie ekstra tariewe om hul druiwe uit Suid-Afrikaanse hawens te verskeep nie.

Wanneer die vervoer van jou produkte oor groot afstande en oor weke geskied, is jou koelketting van kritieke belang. Derhalwe word Sensitech monitors in alle koeltrokke en koelvraghouers geplaas om die temperatuur voordurend te moniteer. Lesings word gereeld geneem en kan per rekenaar ontleed word as iets sou skeefloop, om te bepaal waar in die vervoerketting enige skade gely is.

Met die uitstekende oes wat Suid-Afrika en Namibië vanjaar behoort te hê, lyk dit soos ‘n rooskleurige feesgety vir tafeldruifprodusente. En gepraat van meevallers en winste. Gabriel reken die Europese en VK-uitvoermark hoort vanjaar meer bestendig te wees as verlede jaar, toe aanvangspryse te hoog was. Dit klink dalk teenstrydig maar jy wil nie hê pryse moet te hoog wees nie, anders verkoop die druiwe nie en het jy ‘n swakker vloei van produksie.