Volg ons op Facebook

Groei in die droogte

Written by  Elmarie Helberg
| in Landbou
| December 14, 2015

Suid-Afrikaanse produsente kan meeding met die bestes in die wêreld. Hulle is toegerus met kennis en vaardighede en kan in ‘n uitdagende politiese en ekonomiese omgewing uiters suksesvolle besighede bedryf.

Die huidige droogte is wyd verspreid oor Suid-Afrika en verskansing hierteen is baie duur. Volgens Graanmarkkonsultant Pieter Esterhuysen, is produsente se enigste redding waarskynlik beplanning en genoegsame reserwes. Hy noem egter dat dit vir heelparty nie moontlik is en dat sommige produsente nie ‘n droogte soos dié finansieel sal kan oorleef nie. “Produsente werk meer en beter in krisistye saam – studie-groepe, verenigings, koopgroepe, en so meer kan van groot waarde wees indien die lede saam dink om effektiwiteit te verhoog en om meer met minder gedoen te kry. Die verhouding tussen produsente en finansiële instansies is ook van uiterste belang tydens moeilike tye omdat toegang tot krediet die verskil kan maak tussen oorleef en ophou boer.”

“Produsente werk meer en beter in krisistye saam.”

Dit is moeilik om te sê wat die netto-effek van ‘n verswakkende rand op produsente is, aangesien die meeste negatief daardeur geraak word deur duurder insetkostes, maar aan die anderkant wen deurdat hulle produkte vir duurder kan verkoop, indien hulle uitvoer. ‘n Ander manier om die argument uit te druk is dat die negatiewe effek van invoer-inflasie op insette opgeweeg moet word teen die positiewe effek van verhoogde uitvoerpariteit-verhandelde kommoditeite en produkte.

Produkte op die JSE kan ‘n produsent in staat stel om wisselkoers- asook dieselprysverskansing te doen. Op dié wyse kan produsente redelik effektief verskans word teen wisselkoersskommelinge, maar ongelukkig net vir een seisoen.  Oor die lang termyn bly jy blootgestel. 

Ekstreme droogtetoestande toets jou besigheidsmodel. Kleiner boerdery-eenhede, geografies gekonsentreerde eenhede, aktiwiteite-gekonsentreerde eenhede (net mielies, of net bone, of net beeste) en eenhede waarop swak produksiepraktyke toegepas word, word waarskynlik die ergste deur die droogte geraak. Aangesien produ-sente geen beheer oor die prys van kommoditeite het nie, behoort hul eerder hul aandag te vestig op dit wat hulle wel kan beheer, soos om produksievolume te verbeter, die meer doeltreffende gebruik van insette en in die verhoging van kapasiteit. Tog moet mark instrumente soos Safex gebruik word vir beskerming teen dalings. ABSA se Hoof: Agribesighede Ernst Janovsky, identifiseer sewe stappe wat produsente kan neem om hul produktiwiteit te verhoog.

decjan2016 landbou produktiviteit 1

Verbruikerstoegang

Die beginsel van waardetoevoeging is om ‘n groter gedeelte van die verbruikers-rand in jou sak te steek, dit wil sê, deel te word van die waardeketting. Alhoewel dit eenvoudig klink, is daar heelwat ekstra werk en bestuurstyd wat daarmee gepaard gaan. “Produsente hoef nie noodwendig self vir daardie waardetoevoeging verantwoordelik te wees nie, maar kan betrokke raak by die waardeketting deur byvoorbeeld aandele by ‘n meule aan te koop en sodoende waarde vir hul produkte te kry,” sê Landbou-ekonoom en konsultant Pietman Botha.

Bergingstegnologie

Grane en oliesade het ‘n relatiewe lang raklewe. Wanneer opberging korrek hanteer word - in langtermyn-opbergingstrukture en onder professionele bestuur - kan dit gemaklik vir twee tot drie jaar gestoor word. Langtermyn-opberging kan aktief as deel van ‘n produsent se prysbestuur-opsies benut word. Indien ‘n produsent graan of ander kommoditeite wil stoor vir latere verkope, moet hy die drakoste opweeg teen sy siening van die prysbeweging oor tyd. Sou pryse met meer styg oor tyd as wat die drakoste (rente en stoorgeld) van die graan is, dan kan die strategie sin maak. Die probleem is egter dat graan- en oliesaadmarkte seisoenaal is en die pryse neig om te styg na die einde van elke seisoen en te daal aan die begin van elke seisoen. Opberging oor seisoene heen is dus in min gevalle werklik tot voordeel van die eienaar van die graan.

decjan2016 landbou produktiviteit 3

Vervoertegnologie

Die effektiwiteit van vervoersisteme bepaal onder meer die koste daarvan. In Afrika oor die algemeen is dit nie baie effektief nie en daarom maak vervoerkoste uiteindelik ‘n noemenswaardige deel uit van die finale prys van enige kommoditeit of verwerkte produk. 

Verbeterde vervoertegnologie dra by tot globalisering – dis net makliker om kommoditeite tussen lande en kontinente te skuif. Dít veroorsaak dat invoer- en uitvoerpariteite ‘n werklike en direkte realiteit in alle wêrelddele is. Eintlik is dit spesifieke lande se regulatoriese vereistes wat soms eerder ‘n stok in die speek druk.  In ‘n RSA- en veral Afrika-konteks is die fisiese infrastruktuur van vervoer eerder ‘n beperkende faktor, en nie soseer die ver-voerstelsels en tegnologie self nie.

Produsente koop toenemend die regte grootte vragmotors, trekkers en stropers aan. Die fokus is daarop om die optimale grootte toerusting te gebruik vir die spesifieke plaasgrootte en afstand wat die produk vervoer moet word. Daar is ook ‘n toenemende tendens van uitkontraktering van vervoer van produkte na afsetpunte. Op dié wyse word vervoer vanaf die plaas na die afsetpunte gekommersialiseer en word dit meer effektief gedoen as wat ‘n produsent dit moontlik op sy eie sou doen.

Inligtingstegnologie

Die koste-knyptang is ‘n tendens wat produsente oor meer as 25 jaar gaandeweg al meer knou. Volgens NWK se Bestuurder: Presisieboerdery Martiens du Plessis, gaan hierdie tendens nie verdwyn nie: “Produ-sente wat wil oorleef, sal óf die koste in toom moet hou, óf inkomste moet verhoog, of albei.”

“Produsente wat wil oorleef, sal óf die koste in toom moet hou, óf inkomste moet verhoog, of albei.”

Volgens du Plessis hou presisieboerdery koste in toom, terwyl inkomste dramaties verhoog word. Omdat produksie-insette in saaiboerdery so duur geword het, moet dit oordeelkundig aangewend word volgens die produksiepotensiaal van elke hektaar grond. Kunsmis en kalk moet volgens die gewasse se behoefte, grondontledings en produksie-potensiaal toegedien word. Hierdie drie fasette wissel geografies oor landerye. Dit moet derhalwe oor die landerye gevarieer word, sodat nêrens te veel of te min toegedien word nie. Presisietegnologie is juis op hierdie aspekte gefokus.

“Meganisasiekoste neem ‘n groot hap uit die begroting,” meen du Plessis.  GPS-tegnologie kan ingespan word om bewer-kings meer doeltreffend uit te voer. Dit het die deur oopgemaak vir die toepassing van beheerde spoorverkeer oor meer jare. Dit beteken dat bewerkings verminder kan word, sonder om op opbrengs in te boet. Beheerde spoorverkeer beteken dat die grond slegs losgemaak word waar geplant gaan word. Inteendeel, as dit nie vasgetrap is nie, is dit heel waarskynlik nie nodig om dit diep los te maak nie. Verder verlaag spoorverkeer brandstofverbruik deurdat die trekker altyd op vaste grond ry, met dié dat rolweerstand en wielglip betekenisvol verminder. Dit het ook die voordeel dat werk nou met kleiner - en goedkoper - trekkers hanteer kan word.  Die besparing lê op verlaagde brandstofverbruik, verlaagde herstel en onderhoud, en verlengde lewensverwagting van duur kapitaaltoerusting.

Biologiese boerderypraktyke

Om die impak van droogte te verminder is dit noodsaaklik dat grond die reën wat daarop val, benut en soveel as moontlik daarvan opgaar om dit vir plantwortels moontlik te maak om te penetreer en te gedy. Volgens Wimpie Maré, Landboukun-dinge van Monsanto, kan hierdie gewenste toestand bereik word deur organiese materiaal korrek te bestuur, wat die stoorkapasiteit van 1 ha grond met 151 400 liter water per 0.75 m kan verbeter vir elke 1% organiese materiaal.

Organiese materiaal verbeter ook die grond se wateropname-vermoë tydens reënbuie wat verseker dat meer water gestoor word. Grondbedekkers verbeter water-infiltrasietempo en verminder verdamping. Wanneer al hierdie faktore gekombineer word, kan die intensiteit van droogte en die noodsaaklikheid van besproeiing grootliks verminder word.

Maré noem dat kleigrond in totaal meer porieë het wat water kan vashou, alhoewel sommige van die porieë baie klein is en die water só styf vashou, dat plante dit nie kan benut nie. Sandgrond het weer minder porieë wat kan water vashou, maar die meeste van dié water is plantbeskikbaar. Water-evaporasie uit sandgronde is vinniger as uit kleigronde. Enige produsent sal vir jou kan sê dat sandgronde vinniger uitdroog na reën, en dat die gewasse wat daarop groei gouer tekens van droogte toon in vergelyking met gronde met ‘n fyner tekstuur. Dit sal dus wys wees om droogteverdraagsame gewasse op gronde te plant wat geneig is tot droogte, en om droogtesensitiewe gewasse op gronde met ‘n fyner tekstuur te plant.

decjan2016 landbou produktiviteit 5Grond-aggregasie beskryf hoe die sand, slik en klei bymekaar kom om groter grondkorrels te vorm. Goeie aggregasie kom voor in gronde met ‘n krummelrige struktuur en waterstabiele grondkorrels wat nie maklik disintegreer nie. Gronde met goeie aggregasie laat meer water deur die oppervlakte in, is beter deurlug, en het beter waterhouvermoë as gronde met swak aggregasie. Grond se tekstuur en aggregasie bepaal lug en watersirkulasie, weerstand teen erosie, fermheid, gemak van bewerking en wortelindringing. Alhoewel tekstuur ‘n ingeskape eienskap van grond is, en nie met landbouaktiwiteite verander nie, kan aggregasie redelikerwys verbeter of vernietig word deur produsente se keuse en tydsberekening van produksiepraktyke.

“Organiese materiaal bevat nie net water nie, maar verbeter ook aggregasie.”

Sommige van die praktyke wat grond-aggregasie beskadig of vernietig, is:
•  Oordrewe bewerkings;
•  Bewerkings van te nat of te droë gronde;
•  Die oormatige gebruik van stikstofkunsmis; en
•  Die oormatige opbou van natrium deur  die gebruik van brak besproeiingswater of  natriumbevattende kunsmisstowwe.

Organiese materiaal bevat nie net water nie, maar verbeter ook aggregasie. Soos wat organiese materiaal ontbind, word groot hoeveelhede gomme en slym, wat die samebindende komponente van aggregasie is, geproduseer deur mikrobes in die ontbindingsproses. ‘n Verhoging in die hoeveelheid mis wat toegedien word, lei tot verhoogde infiltrasietempo’s as gevolg van die verbetering in grond-aggregasie. 

Goeie aggregasie, voldoende oesreste, en biologies-aktiewe grond is die beginsels wat produsente moet toepas om grond droogte-weerstandbiedend te maak. Al hierdie kwaliteite word verder verbeter deur verminderde bewerkingstelsels. In kort, die handhawing van hoë volumes oesreste en die byvoeging van organiese materiaal terwyl bewerkings verminder of gestaak word, sal tot maksimum vogbewaring lei.

Genetiese tegnologie

Geneties gemodifiseerde gewasse, veral mielies, word op al groter skaal in Suid-Afrika verbou. Afgesien van die feit dat produsente se opbrengste oor die algemeen die hoogte in skiet wanneer hul na hierdie kultivars oorskakel, is die beheer van plae soos stronkboorders ook beter, wat weer insetkostes sny.

Danksy vooruitgang in biotegnologie kan produsente reeds aansienlik meer produseer op dieselfde oppervlakte as vroeër. Intussen help biotegnologie boere om onkruide en insekte by mielies baie doeltreffender te bestry met minder chemikalieë wat die omgewing beskadig.

Droogte-weerstandige mielies, beter bekend as WEMA (Water Efficient Maize for Africa) is nog nie kommersieel beskikbaar nie, maar behoort binne die volgende paar jaar in Suid-Afrika te vinde te wees.

decjan2016 landbou produktiviteit 4

Ekonomieë van skaal

Petru Fourie, Navorsingskoördineerder en Produksiekoste-analis by Graan SA, beskryf ekonomieë van skaal as ‘n konsep waar produsente produkte goedkoper kan produseer en op so ʼn manier koste per eenheid verminder. Die vernaamste aspekte ten opsigte van skaalvoordele is:
•  Laer oorhoofse koste per eenheid;
•  Grootmaat-aankope, gevolglik beter pryse;
•  Meer doeltreffende produksie, wat eenheidskoste laat afneem; en
•  Meer bedingingsmag deur groter hoeveelhede op een slag te bemark.

Een van die vernaamste voordele van ekonomieë van skaal is dat daar groter besparings beding kan word, wanneer insette op grootmaat aangekoop word. Weens die uitbreiding van die boer-dery kan die gebruik van gespesialiseerde arbeid of masjinerie ook tydbesparing en doeltreffendheid in die boerderystruktuur meebring. Groter skaalekonomie stel die produsent grotendeels in staat om meer tyd aan bestuur, aankope en bemarking te bestee.

Ten slotte

Die uitdaging waarmee produsente tans te kampe het, is dat daar nie veel te doen is wanneer die droogte of ekstreme toestande reeds in volle swang is nie. Benewens die feit dat produsente so ver moontlik gerat moet wees vir ‘n onverwagse droogte, kan optimale bestuurs- en produksiepraktyke die wa deur die spreekwoordelike drif trek in ‘n uitdagende landboujaar.