Volg ons op Facebook

Pas aan of kwyn - ’n Uittreksel uit Nasie in Gesprek

Written by  Staff
| in Landbou
| December 15, 2015

Landboumaatskappye moet nie bloot op verandering reageer nie, maar inderdaad verandering inisieer. 

Die vrymaking van die ekonomie na 1994 is waarskynlik die belangrikste gebeurtenis wat die rol en aard van landboubesighede dramaties verander het. Landboubesighede ding meer in vandag se ekonomie net soos enige ander besigheid. Hulle is nie mee geo-grafies beperk nie en hulle aandeelhouers, kliënte en werknemers lyk anders. Dít is die siening van Francois Strydom, Besturende Direkteur van Senwes.

Strydom het onlangs saam met Chris Venter, Uitvoerende Hoof van AFGRI, deelgeneem aan die weeklikse landbou-gespreksforum op kykNET, Nasie in Gesprek. Die Uitvoerende Hoof van Galileo Capital, Theo Voster, het die gesprek gelei.

Op sy beurt het Venter gesê dat die wyse waarop boere produseer ook die afgelope twintig jaar verander het. Moderne presisieboerdery noop die boer om meer spesifiek te wees. Met die fokus op groter opbrengste en laer koste moet hy probeer om beter pryse met insetverskaffers te beding, en beter diens van sy landboumaatskappye te kry

Op ’n vraag van Vorster hoe landboubesighede te werk gegaan het om hulle stelsels en personeel aan te pas om in ’n sake-omgewing te kan meeding, het Venter geantwoord dat moderne tegnologiese ontwikkeling ’n groot rol speel. Tegnologie gaan vorentoe nog baie ontwikkel en die boer sal konstant daarby moet aanpas. Hy moes ook by die veranderde handelings- omgewing soos die termynbeurs aanpas om die regte pryse te beding. Landbou-masjinerie se werkverrigting is nou baie meer presies. Dit skep nietemin ’n probleem vir kleiner boere wat nie altyd groot en duur werktuie kan bekostig nie.

decjan2016 landbou aanpas 1

Strydom het daarop gewys dat die eertydse landboukoöperasies wat ontstaan het uit boere se behoefte om gesamentlik te bemark en aankope te doen, ontwikkel het tot vandag se landboubesighede wat gespesialiseerde dienste op elke spesialis-terrein moet kan aanbied. “Die kliënt is internasionaal kompeterend,” sê hy. “Prysontdekking van sagte kommoditeite vind internasionaal en sentraal plaas. Elke boer is dus daagliks in kompetisie met enige ander boer dwars-oor die wêreld en hy vereis gespesialiseerde dienste. Nuwe vennootskappe en samewerkingsgeleenthede ontstaan, waarvan Hinterland die beste voorbeeld is. Dit is die gesamentlike onderneming tussen Senwes en AFGRI wat gestig is om ‘n enkele gespesialiseerde, gekonsolideerde aanbod in die kleinhandel-insetkanaal te ontwikkel. Die kliënt is vandag in die posisie om enige kleinhandelproduk by ‘n hele reeks besighede te koop. Daarom moet die landboubesigheid hoogs kompeterend wees sodat die kliënt hom steeds verkies.”

Venter het voorts gesê landboumaatskappye moet voortdurend daarop fokus om te verbeter om relevant vir die boer te bly. “Een ding wat in die 93 jaar van AFGRI se bestaan nie verander het nie, is dat die boer sentraal staan as kliënt. Landboumaatskappye in Suid-Afrika sal baie meer op dienslewering en effektiwiteit moet fokus. Hulle het toenemend met ‘n ander tipe boer te doen, want daar is nou heelwat meer kleinboere as voorheen wat gehelp en ondersteun moet word. Landboumaatskappye moet beplan vir die uitdagings wat voorlê om die boer as primêre kliënt na behore te kan bedien.”

“Strydom het saamgestem dat landboumaatskappye tred moet hou met tegnologiese veranderinge in die boerderybedryf. “       

Strydom het saamgestem dat landboumaatskappye tred moet hou met tegno-logiese veranderinge in die boerderybedryf. Dit gaan gepaard met die internasionalise-ring wat na 1994 plaasgevind het, asook die mededingendheid waarmee die produsent vandag te doen het. Die voedselsektor moes daarby aanpas. Dit het ook meegebring dat multinasionale maatskappye in Suid-Afrika bedrywig is. Dit geld nie net vir die landbousektor nie. Alle sektore, waaronder die bankwese, het die internasionale terrein betree.

Die hele voedselketting is daarby betrek. Dit is die volgende vlak waarmee ‘n landboumaatskappy te doen het. Hy moet groter, meer professionele besigheidseenhede aan die begin van die voedselketting daarstel, asook reg aan die einde daarvan. Suid-Afrika se 50 miljoen verbruikers word inderwaarheid deur vier groot voedselgroepe bedien. Daar het beduidende konsolidasie aan die voorkant sowel as aan die finale verbruikerskant van die voedselketting plaasgevind, met hoër mededingings-vlakke en internasionalisering. Daarom volg dit logies dat almal in die voedselketting dit moet doen. Dit het groter investering in tegnologie meegebring, asook ʼn algehele verandering in die aard van die perso- neelkomponent wat moes transformeer van besigheid-tot-kliëntverhoudings na besigheid-tot-besigheidsverhoudings.

Venter het gemeld dat die landskap uit die oogpunt van die landboumaatskappy, die afgelope twintig jaar meer verander het as in die voorafgaande 70 jaar. In die volgende vyf tot twintig jaar gaan dit nog meer verander. “Die wêreldwye uitdaging om voedselsekuriteit te handhaaf, bring mee dat Afrika toenemend in gesprekke genoem word. Mense wat aankope uit Asië doen, kyk uit ʼn strategiese oogpunt baie spesifiek na hoe Afrika vir produksie benut kan word.”

Strydom is van mening dat die geografiese afbakening van landboumaatskappye toenemend sal vervaag. Internasionale kompetisie is grensloos en die reaksie daarop sal ook grensloos moet wees. Sekere segmente van die landboubesigheid, byvoorbeeld die graanbergingsbedryf, sal nietemin steeds geografies en op bates gefokus moet bly. Daarteenoor is die kleinhandelbesigheid en verskaffing van insette grensloos.

decjan2016 landbou aanpas 2Die kompetisie op hierdie front is ook grensloos. Internasionaal is besighede soos graanverhandeling, logistiek, versekering en finansiering weer veel meer intellektueel- en stelselgedrewe. Dit blyk ook uit multinasionale maatskappye se aanslag in die Suid-Afrikaanse mark. Daar is sekere elemente waarop hulle fokus en ander wat hulle vermy. Hulle is tipiese bate-gebaseerde besighede wat sal wil saamwerk eerder as kompeteer.

Hulle sou wel bestaande infrastruktuur kon dupliseer, veral wat alternatiewe berging betref. Die wese van alternatiewe berging het die afgelope paar jaar dramaties verander. Mededingendheid het plek gemaak vir herinvestering deur bate-gebaseerde besighede. Suid-Afrika se silo-kapasiteit is in die jare 1960 opgerig, en dit is eers in die jongste tyd wat groot herkapitalisering van bergingsbates plaasvind.

Strydom noem twee belangrike insidente wat nie net die Suid-Afrikaanse ekonomie struktureel verander nie, maar ook die hele wêreld s’n. Eerstens kom die supersiklus van kommoditeite wat in die jare 1970 tot 1980 begin het, nou tot ʼn einde. Tweedens is die olieprys wesenlik laer. Dié twee komponente het ’n direkte invloed op die landboubesigheid en die produsent. Die produsent moet ten opsigte van insette en die gebruik van tegnologie meer doen met minder. Hy moet nuwe inkomstestrome,
kompetisiemetodes en vennootskappe ontwikkel. Dit is alles elemente wat in die toekoms toenemend meer relevant sal wees. Landboubesighede moet nou op die onderste draaipunt van die supersiklus, steeds relevant en kompeterend bly. Dit bied uitdagings dwarsdeur die voedselketting. “Ons bevind ons nou in die eeu van die kliënt en die verbruiker. Ons het deur die era van industrialisasie en daarna inligtingstegnologie beweeg en het nou met ʼn hoogs ingeligte en kompeterende verbruiker te doen. Dit het die spelreëls geheel en al verander. In enige besigheid gaan dit vandag oor die kliënt en die mag waaroor hy beskik.”

“Strydom het gesê dit is belangrik dat die landboumaatskappy nie bloot op verandering moet reageer nie, maar inderdaad veran-dering moet inisieer.”

Venter het ook gemeld dat die veranderende omgewing ‘n groot uitdaging is. Die maatskappy moet die omgewing deurlopend ontleed, buigsaam en gereed vir verandering wees, en ‘n kultuur en klimaat skep wat hom deurentyd paraat hou vir verandering. Van kernbelang is die behoud van kundigheid en ervaring deur seker te maak dat personeel wat reeds dekades lank by die maatskappy is, verstaan waarom verandering nodig is en gereed is daarvoor. Van die jongste tot die oudste personeellid moet in ʼn konstante staat van gereedheid vir verandering wees.

Strydom het gesê dit is belangrik dat die landboumaatskappy nie bloot op verandering moet reageer nie, maar inderdaad verandering moet inisieer.   “Die toekoms is die produk van jou insette en ontwerp. Landboubesighede moet ook veranderings-agente wees. Hulle moet op die voorpunt van kennis en kundigheid oor nuwe tegnieke bly, en die kliënt daarheen lei. Vandag se groot boere funksioneer soos ‘n maatskappy wat op die AltX (alternatiewe beurs) genoteer is, hoewel hy minder strukture sal hê en inherent steeds ‘n familiebesigheid bly. In die meeste gevalle is besluitneming op een persoon gesentreer, wat nie net diens van die landboubesigheid verlang nie, maar ook insette wat hom kan help om te verander.”

Daar is min maatskappye in Suid-Afrika, het Voster die gesprek saamgevat, met ‘n geskiedenis van 93 jaar soos AFGRI en 106 soos Senwes. Met die nodige aanpasbaarheid by ‘n veranderende omgewing is daar ‘n blink toekoms wat voorlê.

Die volledige program is op YouTube beskikbaar:https://www.youtube.com/watch?v=3yf-D86o4Y4