Volg ons op Facebook

Philippi, die droogte en die rand

Written by  Leoni Kok
| in Landbou
| February 3, 2016

Dis bittervroeg in die oggend toe ek gaan sit om hierdie artikel te skryf. Eerste gaan soek ek die jongste rand/dollar- en rand/euro-wisselkoers. Ek Google ook die weer, want ten spyte van die uur is dit reeds snikheet en windloos hier in die Strand.

Ek vermoed dosyne boere gaan vanoggend eerste ding presies doen wat ek nou doen, want almal is bekommerd oor die droogte en die rand.

Dit is 3 vm, die kwik staan al klaar op 20 grade, en dit gaan nog klim tot by 33. Vir lesers in die binneland, klink 33 in middel-Januarie dalk nie verskriklik nie, maar hou in gedagte dat die Strand ‘n katspoeg van die see af is. Hier is temperature in die algemeen ‘n paar grade koeler as in die noordelike voorstede van Kaapstad (soos Durbanville). Die rede is die wind. In die somer is windstil dae langs die Kaapse kus ongewoon, maar hierdie Desember het ons meer as ons deel windstil dae gehad. Die Philippi-boere by wie ek in die middel van Januarie gekuier het, sal vir jou sê dit is hoekom boere in die binneland een van die warmste en droogste somers in drie generasies beleef het.

Suidooster moet waai vir reën in die binneland

Die teorie is dat, as die Suidooster nie in die vroegsomer in die Kaap waai nie, kry die binneland nie reën nie. Daar is moontlik waarheid in, want vroeg in Januarie het die wind hier by ons skerp opgetel en daarmee saam het groot dele van die binneland goeie neerslae gehad. Dit was egter te min te laat en die skade wat vee- en saaiboere gely het, gaan verbruikers nog lank in die sak ruk.  
Die swak rand vererger hoë kosprysdruk aansienlik. Vanoggend (18 Januarie 2016) staan die rand op  R16,75 teen die Amerikaanse geldeenheid, en die neiging is steeds afwaarts.   

“Die area se minder as 30 boerderye voorsien ‘n aansienlike persentasie van die Kaapse metropool se vars groente.”

Die Philippi Horticultural Area (PHA), midde-in die Philippi-nedersetting in Kaapstad, word beskou as een van die Wes-Kaap se broodmandjies. Die area se minder as 30 boerderye voorsien ‘n aansienlike persentasie van die Kaapse metropool se vars groente. In Suid-Afrika (en dalk wêreldwyd) is die PHA die enigste van sy soort. Geen ander intensiewe kommersiële landbougebied lê so midde-in een van die digsbevolkte stedelike gebiede in die land nie. Die PHA produseer grotendeels stapelgroentes soos wortels, slaai, verskeie kole (blomkool, kopkool, broccoli, ens.), beet en murgpampoentjies (baby marrows) en is ‘n goeie studiegeval om die uitwerking van die huidige droogte en die swak wisselkoers aan te meet.

Selfs historiese waterryk gebiede trek swaar

Die PHA is gelukkig in die sin dat hier selde waterskaarste is. Besproeiingswater kom uit ‘n ondergrondse akwifeer wat strek vanaf Philippi tot by Kaappunt. Toegang tot die grondwater word met boorgate verkry en water word in die meeste gevalle uit die akwifeer in damme gepomp. Gedurende die winter word reënwater ook opgegaar om watervoorraad aan te vul.

Leon Rix is ‘n afgetrede Philippi-boer en voorsitter van die Kaapse Vlakte- en Distrik-Landbouvereniging. Dié organisasie het verlede jaar sy 130ste bestaansjaar gevier wat dit die oudste boerevereniging in die land maak. Die PHA se reënvalgemiddeld is gewoonlik meer as 1 000 mm per jaar. Leon bring die reënskaarste die afgelope seisoen in perspektief: “Ons het die vorige drie jaar (2012–2014) elke jaar tot soveel as 1 500 mm reën gehad, maar in 2015 het ons nie 400 mm gehad nie.”

Langtermyn-afnames in watervlakke is ook te bespeur. In die verlede kon boere gronddamme grawe waarin grondwater sommer deurgesyfer het. Deesdae moet daar meestal vir water geboor word en boorgate raak al hoe dieper.  

Ooglopende tekens van swak reënval en die hittegolwe wat die Kaap die afgelope paar weke geteister het, was oral in die PHA sigbaar teen die tweede week in Januarie.  Plase wat verder weg is van die see se waterdruk is baie laag en kry nie genoeg water gepomp om al die groente nat te lei wanneer dit so warm is nie, so in verskeie lande staan koolkoppe met omgekrulde blare weens sonbrand. Leon sê die hitte veroorsaak ook dat blomkool se koppe vergeel en dan wil supermarkte nie die groente hê nie.

‘n Ander produsent met wie ek gesels het, het die vorige week ‘n R40 000-vrag verpakte wortels verloor omdat die produk te warm by die supermark-depot aangekom het. Dis egter moeilik om enigiets koel te hou as jy in 30 grade plus jou groente moet oes.

landbou feb 2016 droogte 1

Die rand, o weë die rand!

Asof waterskaarste en bogemiddelde temperature nie genoeg is nie, kou die swak rand ook aan boere se winsgewendheid. Johan Terblanche en sy seun Stiaan bedryf die Kleinensorgen-boerdery en Philippi Groente Verpakkers. Hulle plant heelwat wortels wat nie net in die plaaslike mark verkoop word nie, maar ook na ander Afrika-lande uitgevoer word.

Johan sê die wortelsaad wat hulle ge-bruik, het weens die swak rand oor ‘n kort tydperk met sowat R1 500 per pak gestyg. In die plaaslike mark kry Johan egter steeds minder as R4 vir ‘n pakkie wortels.

“Ons winsgrens is drie persent. Wie kan werk met drie persent?” vra hy. “Ons saai 200, 300 pakke saad ‘n jaar, en dis net die koste van saad.”

Boere is meer uitgelewer aan die gevolge van wisselkoersskommelinge as wat mens dink. Die meeste groentesaad word ingevoer, sowel as kunsmis, spuitstowwe en pakmateriaal. Dan is daar nog implemente en masjinerie ook, wat groot kapitaalinsette verg.

Johan gee ‘n voorbeeld: “Ek bestel middel verlede jaar ‘n masjien uit Europa. Ek het so om en by R700 000 vir die masjien betaal. Daai masjien sal my nou by ‘n miljoen rand kos.”

Wanneer mens prysverskille op hoë-koste landbouinsette begin vergelyk, dan raak die wisselkoers se uitwerking op produk-siekostes kommerwekkend duidelik. Verlede jaar, op 16 Januarie, het die rand teen R11,51 teen die dollar verhandel. In 2014, op dieselfde tydstip, het die geldeenheid op R10,94 gestaan. Dit gee mens ‘n idee van die pas waarteen die rand die afgelope jaar verswak het.

landbou feb 2016 droogte 2

Geen voordeel uit laer oliepryse

landbou feb 2016 droogte 3

Weens die swak rand trek boere en verbruikers ook weinig voordeel uit die afgelope paar maande se laer oliepryse. Inteendeel, as die rand aanhou verswak en oliepryse weer die hoogtes inskiet soos wat dit in 2013/14 gedoen het, het die Outomobiel-Assosiasie (AA) onlangs gewaarsku dat ons petrolpryse van tot R20 per liter kan sien. Met diesel wat nog een van produsente se grootste insette is, plaas dit net verder opwaartse druk op kosprysinflasie.   

Politieke knoeiery nie al probleem nie

landbou feb 2016 droogte 4

Geen ekonoom is gemaklik om die toekoms van die rand te voorspel nie. Party glo dat ons die bodem bereik het, ander is minder optimisties. ‘n Versameling faktore, waaronder dollarsterkte eerder as randswakheid, is verantwoordelik, hoewel politieke onsekerheid en gepaardgaande swak sakevertroue as die twee groot sondebokke voorgehou word. Verlede jaar se harwar oor die Minister van Finansies-pos, en die drie finansiële ministers wat ons in een week gehad het, het nie gehelp nie, maar tans is alle ontluikende-mark-geldeenhede onder druk van die Amerikaanse dollar. Selfs tradisioneel bestendige geldeenhede soos die Australiese dollar kry swaar. Ekonoom Dawie Roodt glo dat die rand op die oomblik onderwaardeer is en dat ons binnekort ‘n keerpunt sal bereik waarin die rand sal “korrigeer”. Hy wil hom egter nie verbind tot op watter vlak die rand sal herstel nie.   Hy merk wel dat historiese skerp onderwaardering gewoonlik met dienooreenkomstige regstellings gepaard gegaan het.  

Trek uitvoerders werklik voordeel?

Mens sou nie verwag dat produsente in die middel van ‘n stedelike woongebied op die skaal boer wat uitvoere regverdig nie. Maar in Philippi voer verskeie boere na die res van Afrika uit. Dis egter ongewoon om na ander vastelande uit te voer. Leon Rix se Quality Veg het egter dié onderskeid. Die meerderheid van dié boerdery se produksie is op nismarkte in Europa en die Verenigde Koninkryk gerig, en gesogte supermarkkettings soos Tesco, Sainsbury’s en Waitrose tel onder hul kliënte. Die boerdery voer babagroente en ongewone variëteite (soos pienk bababeet) uit, so buitelandse verdienste verteenwoordig die grootste deel van hul inkomste.

“Die meerderheid van dié boerdery se produksie is op nismarkte in Europa en die Verenigde Koninkryk gerig...”

Gunther Rix en sy swaer Mark McElhone is vennote in die besigheid en ek vra of die swak rand wel vir hulle ‘n winsmeevaller is. Tot ‘n mate ja, reken Gunther, maar hy skat dit is nie meer as tien persent nie. Hy glo om werklik voordeel uit die swak rand te trek, moet uitvoerders in hoë volumes werk.

landbou feb 2016 droogte 5

Veral die koste van saad en kunsmis skakel die voordele van hoër uitvoerverdienstes uit, omdat dié insette grootliks ingevoer word en dit van die primêre uitgawes vir ‘n groenteprodusent is. Groenteboere in Philippi gebruik bogemiddeld baie kunsmis, omdat die grond feitlik net uit sand bestaan en dit nie oor veel nutriënte beskik nie.

Dan is daar ook die lugvragkostes vir hul uitvoere wat duurder geword het. In baie gevalle word die voordele van groter buitelandse valutaverdienste ook nie aan produsente deurgegee nie, omdat uitvoermaatskappye hulle in rand, eerder as in dollar betaal. Dit is slegs boere met baie onderhandelingsmag en dié wat in staat is om direk uit te voer wat beduidend voordeel trek.  

Is dit die ergste droogte in 100 jaar?

Wat die rand vanjaar gaan maak, weet weinig, maar wat van die weer? Soos met valutaskommelings is langtermyn-weervoorspellings ook ‘n baie oneksakte weten-skap, en dis bykans onmoontlik om korrek te voorspel of ons net ‘n buitengewoon droë 2015 gehad het, en of dit die begin is van ‘n kwaai droogtesiklus.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se jongste syfers was Januarie tot Desember 2015 die jaar met die laagste reënval sedert 1904, met ‘n gemiddeld van slegs 403 mm. So verlede jaar was inderdaad die droogste jaar in meer as ‘n honderd jaar. Die tweede droogste jaar was in 1945 toe daar gemiddeld 437 mm reën geval het. Droogte is egter siklies en kom in vier- tot sesjaartydperke voor. Die droogste vierjaarsiklus was 1930–1933 (519 mm gemiddeld). Die siklus vir 2012–2015 was egter nie ver agter nie, met ‘n gemiddeld van 544 mm reën.

landbou feb 2016 droogte 6

In ag geneem dat die grootste El Niño-verskynsel wat nog ooit waargeneem is hom in 2015 oor die Stille Oseaan gevestig het, moet die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap hulself waarskynlik staal vir nog reëntekorte vanjaar. Die uitwerking van El Niño-verskynsels (wat normaalweg in ons geweste met droogtetoestande gepaard gaan)  word gewoonlik oor vyfjaartydperke waargeneem; derhalwe sal die uitwerking van die huidige verskynsel eers later duidelik raak.

“Droogte is egter siklies en kom in vier- tot sesjaartydperke voor.”

Waterbeperkings is reeds ‘n werklikheid in groot dele van Suid-Afrika, en selfs sonder die droogte loop die land se varswaterbronne die gevaar om so gou as 2020 al onvoldoende te wees om aan groeiende aanvraag te voldoen. Dié voorspelling is in 2014 gemaak deur UNISA se Fokusgroep vir Waterbestuur en -bewaring. As individue sal ons dus elkeen moet waterwys raak en water bespaar waar ons ook al kan.