Volg ons op Facebook

SA wyne in die Verenigde Koninkryk

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| February 4, 2016

Die rand se verswakking teenoor die pond en ander geldeenhede die afgelope twee maande, kan die wynbedryf se uitvoere tot voordeel strek - mits dit reg aangewend word.

“Suid-Afrika besit 10 persent van die totale wynmark in die Verenigde Koninkryk.”

Suid-Afrika besit 10 persent van die totale wynmark in die Verenigde Koninkryk (VK). En ’n nuwe gonswoord in die wynbedryf: Cape Vintner Classification (CVC)-status, behoort saam met die gunstige uitvoer-wisselkoers, ’n groot hupstoot vir plaaslike wynboere te gee.

Danie de Wet van De Wetshof Landgoed buite Robertson is een van die pioniers van dié nuwe CVC-liggaam. Hy sê CVC wil die status van Suid-Afrika se premium-wynsektor verhoog. “Ons wil ’n standaard skep vir Suid-Afrikaanse wyne, wat afkomstig is van liggingspesifieke wingerde en wat herkoms en ’n bloedlyn gevestig het.   CVC-lede moet geregistreerde landgoedere wees en voldoen aan die hoogste standaarde vir kelderpraktyke (Geïntegreerde Produksie van Wyn -IPW), arbeidsverhoudinge, kelderdeur-aanbiedings en wingerdbestuur.

“Ons vaar onbekende waters binne met die nuwe akkreditasie, maar is seker dat dit ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse wyne inlui,” sê hy.

“Suid-Afrikaanse wyne word in die buiteland as ‘vrolik’ en ‘goedkoop’ gesien.”

Don Tooth van Vergelegen in Somerset-Wes, onderskryf dit: “Suid-Afrikaanse wyne word in die buiteland as ‘vrolik’ en ‘goedkoop’ gesien. Ons moet daardie beeld verander.”

Don het voorleggings aan Wines of South Africa (WOSA) en die CVC-liggaam gemaak, waarin hy gewys het dat oorsese markte Suid-Afrikaanse wyne nie as ernstige rolspelers sien nie. Hy het Nielsen-data gebruik met die gemiddelde kleinhandel wynprys vir SA-wyn as 4,78 pond (ongeveer R110).

february 2016 landbous wyne 1

“Daar is wyne van uitstaande gehalte in ons land. Tog, as jy in Michelin-ster restaurante gaan eet, sê sommeliers reguit dat mense nie 100 pond vir Suid-Afrikaanse wyne sal betaal nie.” Hy beklemtoon dat hulle nie sê dat gaste nie 100 pond vir Nuwe Wêreld-wyne sal betaal nie, maar spesifiek vir Suid-Afrikaanse wyne.

“Ons wyne haal hoogstens 75 pond in hierdie eetplekke, terwyl Australiese- en Nieu-Seelandse wyne se gemiddelde prys onderskeidelik 195 en 125 pond is. Op een wynlys was daar nege Suid-Afrikaanse wyne en die gemiddelde prys was 58 pond.  Mens hoef nie wiskundig-aangelê te wees om te sien die somme klop nie.”

“As ons die prys per bottel met ’n skrale 5 pennies (ongeveer R1,25) kan verhoog, kan ons jaarliks meer as R600 miljoen ekstra in die wynbedryf inbring.”

february 2016 landbous wyne 2

“As ons die prys per bottel met ’n skrale 5 pennies (ongeveer R1,25) kan verhoog, kan ons jaarliks meer as R600 miljoen ekstra in die wynbedryf inbring. As ons dit met 10 pennies kan verhoog, bring ons R1,2 biljoen ekstra in,”  illustreer hy. Dit bring SA-wyne se gemiddelde prys steeds laer in as Chili met ’n gemiddeld van 5,31 pond.

“Ons kwaliteit is uitstekend, maar die pryse te laag. Ons fouteer ook om dit plaaslik te goedkoop te verkoop. Australiërs betaal baie vir hul land se wyn - hul wynbedryf het geslaag om kwaliteit en prys in verhouding te bring.”

Maar hy glo die SA wynbedryf is ’n gefragmenteerde industrie. Hy hoop vir samewerking om in die lig van verhoogde internasionale kompetisie, Suid-Afrika eerste te bemark: “Ek hoop die nuwe CVC-status sal dit begin omkeer.”

february 2016 landbous wyne 3Met ’n besoek aan winkels en restauran-te in die VK, eggo sommeliers en agente dit: ons produseer te veel goedkoop-, ondergeskikte wyn; kwaliteit moet verbeter; en die pryspunt moet opgestoot word om die kwaliteit te reflekteer. “Mense soek ’n storie met hul wyn en soveel beter as die wynmaker dit self vir hulle kan vertel,” hoor ek in Palmer’s Winestore in Bridport. Die assistent sê Suid-Afrikaanse wyne is uitstekende waarde vir geld: “Die Cape Heights Chenin blanc teen 5.99 pond is beslis die beste kopie in hierdie winkel.”

Die Waterkloof-wyne staan ook uit, omdat Britte vra na organiese wyn. As hulle van Waterkloof se biodinamiese boerderyme-todes hoor, is hulle oorgehaal. “Dan is die wyne boonop uitstekend en dis ’n wen-wen,” voeg die assistent by.

By die luukse The Chesterfield Hotel in Mayfair, eet ons aandete en die sommelier laat proe ons wyne van Frankryk teenoor vier variëteite van Bouchard Finlayson in Suid-Afrika. Laasgenoemde skop stof in die oë van hul Franse eweknieë en ek kan sien die Italiaanse sommelier stem saam, maar probeer sy objektiwiteit behou! Daar is ’n fluweelagtige nasmaak aan die Suid-Afrikaanse wyne, wat met of sonder kos, sy man kan staan.

Die Suid-Afrikaner, Greg Sherwood van Handford Wines in South Kensington, wat ook sy eie wyn maak, is ’n Master of Wine (MW) - een van slegs vier Suid-Afrikaners met dié titel. Hy verkoop die afgelope 15 jaar wyne van regoor die wêreld, maar as jy daar tussen die etikette staan, kan jy sien hoe diep sy passie vir sy land se wyne loop.

Die winkel het onlangs die Decanter én die International Wine Challenge Spesialis Wynverkoper van die Jaar vir Suid-Afrikaanse wyne verower. Greg sê die vyf top-wynverkopers in die winkel is Bordeaux, Boergondië, Rhône, Italië en Suid-Afrika. “Ons verkoop meer Suid-Afrikaanse wyne as Argentynse-, Chileense- en Australiese wyn saam.”

“Daar is soveel geleenthede vir Suid-Afrikaanse wynmakers, maar uitstaande kwaliteit, -verpakking en -prys, is van kardinale belang.”

Hy beaam egter dat daar onder die SA wyne onder die 10 pond prys-etiket, nie veel is wat hy sal wil drink nie. “Daar is soveel geleenthede vir Suid-Afrikaanse wynma-kers, maar uitstaande kwaliteit, -verpakking
en -prys, is van kardinale belang. Daar is min dinge só sleg as ’n goeie bottel wyn van 25 pond, met 5 pond verpakking,” glo hy.

february 2016 landbous wyne 4Greg sê die dae van sekere goeie va-riëteite van sekere lande, is verby. Dit gaan nou oor streeks-eienskappe. Hy stem ook saam dat wynkopers ’n storie rondom hul wyn verlang, maar dit moet outentiek wees: “Nie een wat uit die duim gesuig is, om verkope op te stoot nie.”

Ek kom een van hierdie wyne (van Nederburg) teë by Wheeler’s of St. James; ‘n restaurant wat aan glanssjef, Marco Pierre White, behoort. Gaste vra vir The Motorcycle Marvel, ’n Rhône-styl versnit, omdat dit waarde vir geld en uitstekende kwaliteit is, met ’n naspeurbare storie: dié van Günter Brözel, die legendariese eertydse wynmaker. Hy is bekend vir sy uiters hoë standaarde. Die klank van sy 250cc BSA motorfiets, het menige broek laat bewe, omdat dit sy aankoms (én inspeksie) aangekondig het.

Nederburg se bemarkingspan gee insette in terme van die wyne wat deur hul agente in die VK, Matthew Clarke gelys word, maar Clarke werk self met die restaurante en kroeë, wat aandui in watter tipe wynstyle en kultivars hulle belangstel. Dat dié wyn gewild is by Wheeler’s, is ’n feit, verseker die restaurant se bestuurder, Jo Flanigan, ons.

Nederburg se 56Hundred-reeks word in die kleinhandel gelys by supermarkte Morrisons en Tesco. Hulle verskaf ook die Heritage Heroes-, Ingenuity-, II Centuries- en The Manor-reekse.

Dr. Winnifred Bowman, Kaapse wynmeester en onder andere een van die wyn- en spiritus proepaneel vir die IWSC, sê: “Ons wyne is goedkoop as gevolg van die wisselkoers, maar die grootste aantrekkingskrag is die gehalte - Suid-Afrikaanse sonskyn in elke glas!”

february 2016 landbous wyne 6Sy sê die Britte is meer ingelig oor SA wyne en dinge het baie verbeter, “veral omdat SA produsente gereeld trofees vir die beste wyn-wêreld wen in spesifieke style, kultivars  - en ons wynmakers en distilleerders wen ook die wêreldpryse!” In November is Abrie Beeslaar, wynmaker by Kanonkop landgoed buite Stellenbosch, deur die IWSC as internasionale wynmaker van die jaar aangewys.

february 2016 landbous wyne 5Dr. Bowman sê baie meer van die top (Michelin) restaurante het ’n SA bladsy: “The Harrow at Little Bedwyn, hou jaarliks kompetisies, waar SA wyne met dié van ander lande vergelyk word. Ons wen gewoonlik. Vandeesmaand is daar een oor MCC teenoor Engelse vonkelwyne; en dan ook SA Pinot Noir’s versus Nieu-Seeland.”

Dis nie net wynskoue en feeste wat SA wyne se beuel blaas nie. Naweekkoerante het baie gereeld SA wyne onder die soeklig.  Geleenthede soos 2015 se New Wave SA, het nuwe, jong wynmakers aan die publiek voorgestel. Meeste van dié wynmakers volg ’n meer natuurlike aanslag waaronder wilde gisting en geen- of minimale swael  byvoe-gings.

En ten slotte, voeg Dr. Bowman by, ons swak rand maak ons nog meer aantreklik vir toeriste. Veral Britte is mal oor die warmer weer, geen vlugvoosheid en die makliker kommunikasie in Engels. Hulle eet by ons restaurante, besoek ons wyn- en brande-wynplase en neem wyn en brandewyn huis toe. Só word hulle ook ambassadeurs vir ons.

“Naas Suid-Afrika en  Amerika is dit ons derde grootste mark vir ons premium-wyne.”

Die VK-mark is ’n belangrike een vir De Wetshof. Londen is ’n groot fokus, aangesien daar ’n groot konsentrasie restaurante is, maar hul wyn is regoor Engeland, in Wallis en Skotland, asook die eilande soos Jersey en Guernsey te kry.  

Bennie Stipp sê: “Naas Suid-Afrika en  Amerika is dit ons derde grootste mark vir ons premium-wyne.”

Hy sê die plaas het tot die vroeë 2000’s ongeveer 60 persent van hul produksie aan Engelse supermarkte verskaf, wat dit onder hul eie etiket verkoop het - soort van ’n Odd Bin-beginsel. “Ons het net in bottel uitgevoer. Selfs in tye wat die rand sterk was, het ons hier gebotteleer, om volle beheer te hê oor die kwaliteit wat gebotteleer word,” verduidelik Bennie.

february 2016 landbous wyne 7Bennie sê aanvanklik was dit lekker, want jou witwyne verkoop elke jaar uit en die kelder bly leeg. “Mens besef egter dat jy ’n risiko dra, want supermarkte kan gou van plan verander en besluit om by ’n ander produsent te koop, weens byvoorbeeld, ’n beter prys. Toe het ons besluit om onder ons eie handelsmerk uit te voer en nou is ons net in restaurante beskikbaar.

“Die Engelse het ons geleer dat jy jou huis in orde moet kry,” vertel hy.

• Lees aanstaande maand meer oor wat wynmakers en bemarkers uit ons wynstre-ke oor die uitvoermark na die Verenigde Koninkryk sê.