Volg ons op Facebook

Riversdal se merino's - meer as net 'n wolhaarstorie

Written by  Suzanne Opperman-Kemp
| in Landbou
| February 5, 2016

As een van die gewildste en gehardste skaaprasse in Suid-Afrika, wei merinokuddes wyd en syd oor die land. Hulle is dalk nie moeilik om op te spoor nie, maar om nasionale beoordelaars te laat regop sit en kennis neem, sit nie sommer in enige merino se wol nie.

As jy van die land se beste merino wolkuddes wil teëkom, moet jy Wes-Kaap se kant toe keer, na Riversdal knus onder die Langeberge.

Die merinobedryf is wawyd wakker en aan die gang in hierdie klein juweel in die Hessequa-streek. Luister jy na die groot entoesiasme waarmee die dorp se boere oor hul wolkuddes praat, is dit nie moeilik om te verstaan waarom dié dorpie plaaslik en internasionaal as een van die groot menere van merinoboerdery beskou word nie.

Suid-Afrika se voorste merino’s word jaarliks by die toonaangewende Merino Classic aangewys, en in Februarie verlede jaar was dit Heidelberg, net ʼn klipgooi van Riversdal af, se beurt om gasheer te speel.  By hierdie spoggeleentheid het Riversdal se kuddes beslis nie aan die kortste speen getrek nie. Die Geldenhuyse van die plaas Uitkyk was onder die boere wat breëbors terug huis toe kon keer, met niks minder as agt toekennings in die kort- en langwol- afdelings nie.

“Die Geldenhuyse boer reeds vier geslagte lank op Riversdal met merino’s, en is al so te sê deel van die dorp se meubilering.”

Uitkyk se uitskieters

landbou febriary 2016 riversdal merinos 1Die Geldenhuyse boer reeds vier geslagte lank op Riversdal met merino’s, en is al so te sê deel van die dorp se meubilering. Tans is Koos Geldenhuys en sy seuns, Adriaan en Divan, aan die stuur van sake op Uitkyk, onder die vaandel van Geldiaan Trust.  Hulle is met reg trots op hul kuddes. “Ons het al aan vyf Classics deelgeneem en baie goed gedoen, het al ʼn hele paar kampioene gehad en ook baie plasings onder die eerste vyf plekke gehad,” vertel Koos. Uitkyk se wol haal ook dikwels die tien hoogste pryse op veilings. Hulle het juis in Januarie vanjaar by die streek se mees onlangse wolvei-ling rekordpryse behaal, met die hoogste, tweede hoogste en negende hoogste pryse.  Duidelik produseer die Geldenhuys-manne nie sommer súlke skape nie.
        Koos reken merino’s verg baie meer aandag as ander skaaprasse. “Soos die wol langer word, raak die peste soos brommers en bosluise gou ʼn groter probleem, veral in natter toestande.” Merino’s kan ook lekker vol fiemies wees. Koos beskryf hulle as “die mees selektiewe vreters van al die rasse, wat dan ook groot uitdagings aan hul voerbehoeftes stel.” Dit is ook ʼn baie komplekse ras, en daar is veelvoudige eienskappe waaraan die ideale skaap moet voldoen. “Hy moet ʼn goeie vag dra en dan ook nog goed gebou wees om genoeg vleis te produseer, en daarby ook nog vrugbaar wees om genoeg lammers te teel,” brei Koos uit. “Ons sê ʼn skaap moet ʼn goeie konstitusie hê.  Dit beteken die skaap moet hom goed kan aanpas, homself kan handhaaf en floreer, en moet ʼn nageslag kan voortbring in die omstandighede waarin hy geplaas word.”  Dit klink na ʼn uiters ingewikkelde taak, maar volgens Koos maak ʼn tikkie liefde alles makliker: “Dan kyk jy beter na jou skape en hulle gee vir jou dubbeld terug.”

“Dan kyk jy beter na jou skape en hulle gee vir jou dubbeld terug.”

landbou febriary 2016 riversdal merinos 2Oor roofdiere bekommer Koos hom vir eers nie vreeslik nie. “Dit is eintlik nog nie juis ʼn probleem nie, maar enkele rooikatte vang soms lammers. Dan stel ons maar ʼn hok en vang die kwaaddoener,” vertel hy. “Enkele rooijakkalse is al opgemerk wat dalk in die toekoms vir ons probleme kan gee.” Uiteraard is jong lammers die kwesbaarste lede van ʼn kudde. Daarom, sê Uysie Willemse, Merino SA-raadslid van die Geldenhuyse se streek en self ʼn merinoboer van formaat, “is dit dalk raadsaam om gebruik te maak van ʼn intensiewe lamstelsel of
kampie-stelsel” wat dan ongediertes forseer om hul eerder tot hul meer toeganklike natuurlike prooi te wend. Hy voeg by: “Distrikte moet van kort lam periodes gebruik maak, sodat beter toesig gehandhaaf kan word en die ongediertes weggehou word.”

Van die plaas af, gaan die Uitkyk-kudde se wol na BKB wat dit dan voorberei vir wolveilings. By hierdie veilings word dit aan wolverwerkers van regoor die wêreld verkoop, wat dit in die vervaardiging van verskeie produkte, insluitende klere en matte, gebruik. “Ons wol is so goed, ko-ningin Elizabeth se onderklere is blykbaar daarvan gemaak, en dit lyk of sy baie gemaklik daarmee is!” skerts Koos.

“Ons wol is so goed, koningin Elizabeth se onderklere is blykbaar daarvan gemaak, en dit lyk of sy baie gemaklik daarmee is!”

Die Geldenhuyse is nie die enigste uithaler merinoboere in Riversdal nie. Koos lys Artho en Jac Saayman, Manie Fourie, Geoffrey Joubert, Jaco Geldenhuys en Hennie Geldenhuys ook as ouens om voor uit te kyk by skoue en vendusies. “Ons area se merinoboere hou van skou en kompeteer elke jaar lekker onder mekaar,” sê Koos. Hulle sien al klaar uit na die volgende Riversdal Skou wat van 17 tot 20 Februarie gehou gaan word.

ʼn Skaap van ʼn ander kleur

So wat maak die merino nou eintlik so spesiaal? Uysie Willemse het die antwoord: “Die merino is die mees winsgewende wolras wat bestaan en het die genetiese vermoë om 10% van sy liggaamsmassa in skoonwol te produseer, wat dan by uitstek die merino die ideale dubbeldoel-skaap maak. Omsetting van hoë kwaliteit weiding soos lusern en klawer in vleis en wol kan nie geëwenaar word nie.” Uysie voeg by dat die merino ʼn besonders aanpasbare ras is. So kieskeurig soos wat hierdie ouens oor hul voer is, kan jy hulle enige plek in Suid-Afrika neersit, en hulle sal floreer. “Groeivermoë kompeteer met enige suiwer vleisras en die wol-aspek plaas die merino as die gunstigste boerderyvertakking in Suid-Afrika.”
        Uysie reken verder dat die merino die oudste skaapras ter wêreld is. Hier in Suid-Afrika wei merino se kind ook reeds eeue. Volgens Merino SA se webtuiste (www.merinosa.co.za) was Suid-Afrika die eerste land buite Europa wat met hierdie besonderse ras begin boer het, en strek die geskiedenis van merinokuddes in Suid-Afrika al die pad terug na 1789. Oor die laaste 200 jaar het Suid-Afrikaanse telers merino’s geproduseer wat enige dag by die bestes ter wêreld kan kers vashou. “Ons het nou merino’s wat groter, taaier, meer funksioneel, effektief en meer ekonomies produktief as ooit tevore is,” sê John Stretton, Merino SA se president van 2000 tot 2005.

“Ons het nou merino’s wat groter, taaier, meer funksioneel, effektief en meer ekonomies produktief as ooit tevore is.”

Die wetenskap agter ʼn kampioen

landbou febriary 2016 riversdal merinos 3Die teling van Riversdal se uitsonderlike merinokuddes behels veel meer as bloot die blommetjies en die bytjies. Stoetramme en -ooie word met groot sorg geselekteer om ’n sterk bloedlyn te verseker. Uysie vertel dat daar heelwat eienskappe is waaraan stoete moet voldoen om bobaas te wees. In terme van bouvorm word daar gekyk na liggaamsgrootte, lengte, breedte en diepte van lyf, en goeie voor- en agterbeenplasing. Wat die wol betref, word stoete onder meer vir hul goeie balans tussen lengte en digtheid, kwaliteit, stapel en kleur gekies. Vir ʼn ram of ooi om stoetstatus te ontvang, moet dit ʼn bogemiddelde punt uit tien vir al hierdie eienskappe ontvang.

Stoetwees gaan egter nie net oor mooi lyk nie; dié skape moet ook kan produseer. Volgens dr. Buks Olivier, tegniese adviseur van Merino SA, is ’n goeie stoetram een “wat ten minste 50 ooie in ʼn ses-weke-siklus suksesvol kan dek, waarvan die lammers goed groei en op volwasse ouderdom goeie kwaliteit wol produseer. ʼn Goeie (stoet)ooi is een wat gereeld lam en haar lammers goed speen, en vir ten minste vier lamseisoene bogemiddelde-gewig lammers speen. Sy moet verkieslik meer lammers speen as die aantal lamkanse wat sy gehad het.”

Dit klink of daar ʼn reuse taak op ma en pa se wollerige skouers rus, maar gelukkig kan die moderne tegnologie help om ramme en ooie te teel wat die mas sal kan opkom. “DNA kan vanaf ʼn bloedmonster bepaal word in baie gesofistikeerde laborato-riums,” vertel dr. Olivier. “Tans word die 50K ‘snip chip’ gebruik om op 50 000 bepaalde plekke op die chromosome die spesifieke SNP (single-nucleotide polymorphism) te bepaal.” SNP is onder meer beduidend van vatbaarheid vir siektes.

landbou febriary 2016 riversdal merinos 4Uysie Willemse stel dit bietjie eenvoudiger: “Binne die DNA-ketting wil ons byvoorbeeld die chromosoom identifiseer wat verantwoordelik is vir ʼn spesifieke eienskap, byvoorbeeld wollengte, liggaamsgroei en melkproduskie.” Hierdie DNA word onder meer in speeksel, bloed, en wolvesels gevind. Die proses, wat as genomika bekend staan, is egter nie goedkoop nie, en nog glad nie wyd beskikbaar nie.

“Dit kos ongeveer R2 000 per monster, en dit sal nog ʼn geruime tyd neem voordat hierdie tegnologie in ons Suid-Afrikaanse skaapkuddes algemeen gebruik kan word,” sê dr. Olivier.

ʼn Gebruik wat egter reeds in Suid-Afrika toegepas word om ʼn sterk nageslag te verseker, is die oes van uitblinker stoet-ramme se saad en die bewaring daarvan vir die toekoms. “Plekke soos RAMSEM in Bloemfontein doen dit al vir jare,” voeg dr. Olivier by.

“Hy vertel verder dat stoetramme se saad vir meer as 50 jaar gestoor kan word.”

Uysie Willemse verduidelik dat die saad getap en gevries word om later deur middel van ʼn laparoskopiese inseminasieproses - gewoonlik uitgevoer deur ʼn gekwalifi-seerde veearts - gebruik te word. “Die voorbereiding van die proses ten opsigte van ooibestuur bepaal die sukses van die oefening,” voeg Uysie by. Hy vertel verder dat stoetramme se saad vir meer as 50 jaar gestoor kan word. Dit word egter nie bloot in die vrieskas gedruk nie: “Bevriesing word by ʼn KI–stasie gedoen deur baie kundige persone met die regte toerusting.”

Dit gaan alles oor die wol

Vir Riversdal se merinoboere, kom al hierdie wetenskaplike truuks op een ding neer: die kwaliteit van hul skape se wol. Hennie Hattingh van BKB verduidelik dat goeie definisie  die kenmerk van hoë-gehalte wol is, d.w.s. “duidelike, reëlmatige, egalige karteling sonder vreemde vesels (soos hare of kemp of enige besoedeling) oor die hele vag.

“Dunner wolstapels se kwaliteit is gewoonlik beter, maar daar moet gewaak word teen waterige stapels (ook bekend as penswol).” Hennie lys omgewingstoestande, soos swak weiding, asook swak teling (veral oormatige plooi-ontwikkeling) as faktore wat die wol se kwaliteit negatief kan beïn-vloed. Verder lig hy uit dat goeie voeding baie belangrik vir ʼn puik woljas is.

Deur die jare is merino’s se genetika “deur modegiere en voorkeure van stoettelers” gedryf, vertel Uysie Willemse. Verskillende tipes wol word dus van era tot era gesoek: “In die vyftiger jare na die oorlog was die vetwolprys baie hoog en die teling het verskuif na oorplooide tipe merino’s wat laag vrugbaar was, en nie bestand was teen moeilike klimaatstoestande in Suid-Afrika nie.

“Tans egter het die tipe (wol) verander na groter en gladder met die beste gehalte wol wat vir ons ʼn 80:20 vleis-tot-wol verhouding gee, en dus nie maklik ekonomies geklop kan word nie.”

landbou febriary 2016 riversdal merinos 5Hennie Hatting (van BKB) beskryf Riversdal-merino’s se wol as fyn en lank, en hy reken dat meeste van die area se wol na Italië, Duitsland, Engeland, Sjina en Japan toe uitgevoer word.  Regoor die wêreld is die fashionistas gaande oor merinowol.  Die redes hiervoor, sê Merino SA, is dat merinowol ʼn veeldoelige, reuklose en masjienwasbare stof is, wat ook sonder enige bekommernis in die tuimeldroër gegooi kan word. Verder is merinowol sagter en meer elasties as ander wol, en bied dit na-tuurlike UV-beskerming, warmte, goeie asemhaling en besker-ming teen vog. Dit is ook ʼn natuurlike, hernubare produk wat op ’n volhoubare, omgewings-vriendelike wyse geproduseer word. Terwyl dit so lekker teen mens se vel voel, word merinowol egter ook in ander produkte gebruik, insluitende die vervaardiging van mediese toestelle en lugruim-produkte.

 “Tans egter het die tipe (wol) verander na groter en gladder met die beste gehalte wol wat vir ons ‘n 80:20 vleis-tot-wol verhouding gee, en dus nie maklik ekonomies geklop kan word nie.”

Kom kuier!

Duidelik spruit daar ʼn reuse industrie uit klein Riversdal. Praat jy egter met die boere van die omgewing, besef jy gou: die ware geheim agter ʼn kampioen-merinokudde is nie ʼn wetenskaplike gekonkel nie, maar ʼn passie en liefde vir hierdie skaap van alle skape. Dié boere is nét so vriendelik soos hulle passievol is, so moenie net verby ry as jy jouself weer in Riversdal bevind nie. “Kom kuier vir ons en dan kan jy sien hoe gasvry Riversdal se boere en mense is,” nooi Koos Geldenhuys een en almal hartlik uit. Gaan maak dus ʼn draai by die volgende Riversdal Skou op die dorp se skougronde van 17 tot 20 Februarie, en kom van aangesig tot aangesig met die internasionale sterre van die wolwêreld. Koos nooi jou selfs om skaapkop te kom eet – maar daarvoor gaan jy wol op jou tande nodig hê!

“Koos nooi jou selfs om skaapkop te kom eet – maar daarvoor gaan jy wol op jou tande nodig hê!”


Bronne:
www.merinosa.co.za
https://en.wikipedia.org/wiki/Single-nucleotide_polymorphism
https://en.wikipedia.org/wiki/Riversdale,_Western_Cape
http://www.nwga.co.za/images/downloads/Wool_manual.pdf
Uysie Willemse, Merino SA: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.; 082 787 5831
Koos Geldenhuys, Geldiaan Trust: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.; 082 416 5062
Dr. Buks Olivier, Elsenburg: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Hennie Hattingh, BKB, via Jannie Fourie, NWGA: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.; 083 564 1105