Volg ons op Facebook

Hie kommie bokke

Written by  Yolanda Wessels
| in Landbou
| March 2, 2016

Mnr. Edward Fritz, skoolhoof by Buffeljags Primêr, ‘n netjiese skool in die kleurvolle Overberg distrik, het ongeveer ses jaar gelede vyf Saanen melkbokke aangekoop.

Ondanks sy pos as skoolhoof, is hy ‘n ywerige boer en dié aankoop was die ideale geleentheid om die skoolkinders bloot te stel aan boerderypraktyk. Maar die uitkoms van dié projek was beslis bó sy wildste verwagting!

Geboorte van ‘n droom

Dié 120-jaar oue plaasskooltjie, geleë in die Buffeljagsrivier-plaasgemeenskap, 7 km vanaf Swellendam, presteer nie net op akademiese- en sportgebied nie, maar maak ook naam as SA Kampioen kaasmaker, nadat hul bokmelk room/maaskaas 'n eerste en tweede plek verower het by die onlangse SA Suiwelkampioenskappe.

Die boerdery het sowat ses jaar gelede vlam gevat nadat daar toestemming verkry is van die beheerliggaam om die skool se stortingsterrein vir tuinafval te herskep tot ‘n bokkamp. Dit stel natuurlik die kinders in staat om direk betrokke te wees by die verskeie fasette betrokke in boerdery en verseker ‘n hands on ervaring. Sodoende kan hulle letterlik betrokke wees by die fisiese skep en onderhoud van die area waarin die bokke gevestig word, tot die versorging en verantwoordelikheid wat gepaardgaan met die versorging en verantwoordelikheid van diere. Daar het groot entoesiasme onder die kinders se ouers geheers en vir Mnr. Fritz se verjaarsdag in 2010, is genoegsame fondse geïn om nóg twee ooie aan te koop.

Van boer na pronk  

Natuurlik is die belangrikste om die kinders te leer hoe om die bokke behoorlik te versorg. Dit sluit die korrekte voeding (spesiale dank aan De Heus, wat die voerpille borg) en daaglikse vars, skoon water, asook die onderhoud en skoonmaak van die kamp in. Die kinders geniet dit baie om om te sien na hul bokke en het met groot entoesiasme begin deelneem aan jeugskoue. Om bok-se-kind reg te kry vir ‘n tentoonstelling by ‘n skou, verg baie werk en vaardigheid. Elke kind het sy eie bok waarvoor hy verantwoordelik is en waarmee hy skou. Die bok moet spierwit gewas, afgedroog en goed uitgeborsel word, ter voorbereiding van ‘n skou. Selfs die hare in en om die ore en hoewe moet netjies geknip word en daarna word die hoewe ook netjies geknip en gepoleer.

Die kinders oefen daagliks, om te verseker dat hul goed voorbereid is by die skou. Alle gereedskap en skoonmaakmiddels moet as deel van die kind se skoutoerusting uitgestal word.

“Selfs die hare in en om die ore, en die hoewe moet netjies geknip word. Daarna word die hoewe ook blink gepoets. “

Die waarde van hierdie interaksie met diere is ongelooflik. Kinders wat aan die begin te bang was om naby die bokke te kom, het nou genoeg selfvertroue om met 'n bok voor honderde mense te skou. Dit kweek eiewaarde, trots, verantwoordelikheid, respek, empatie, asook 'n liefde en aanvoeling vir alle lewende wesens. Terselfdertyd leer die kind verantwoordelikheid en pligsbesef. In 2011 is die bokke ingeskryf vir die Wes-Kaapse Saanen Kampioenskappe. Drie van die vier bokke wat ingeskryf het, het pryse gewen en dis voorwaar ‘n unieke prestasie! In 2014 het ‘n groep leerders deelgeneem aan ‘n melkbok Jeugskou te Middelpos en daarna by die Jeugskou van die Agri-Megaweek te Bredasdorp. Verlede jaar het ‘n groot groep leerders vanaf Graad 1 tot Graad 7 by die Swellendam Landbouskou aan die Jeugskou deelgeneem en hul behaal uitmuntende prestasies. Mnr. Fritz sê, “Die ideaal is dat soveel moontlik van die skool se leerders geleentheid moet kry om deel te neem aan dié skoue. Hulle leer van hantering, versorging en interaksie met die diere en dit isprysloos.”

Kaaskampioene

Mnr. Fritz het aanvanklik die paar bokke sommer met die hand gemelk, later ‘n melkstalletjie gebou en toe ‘n melkmasjien aangeskaf. Aanvanklik het hy die sowat 5 liter melk vir die huis gebruik of om skaap-hanslammers mee groot te maak. Ook met bottelgee kon die leerders fluks help. Tans is daar 32 bokke wat gemelk word en hulle is geregistreer as ‘n kudde. Spasie is beperk, so die kudde sal nie vergroot word nie en die mikpunt is om deur middel van teling die kudde te verbeter. Hulle fokus veel eerder op kwaliteit as op kwantiteit. Hulle laat ook nie ooie toe om voor die ouerdom van 17 maande te teel nie, want dit verseker groter en sterker ooie en op die uiteinde lammers. Weens die hoeveelheid melk tot hul beskikking, het Mnr. Fritz en sy vrou, Nicolene, wat ook verbonde is aan die skool, sommer  begin om in hul kombuis te eksperimenteer om kaas te maak. Die room/maaskaas-proses is spoedig onder die knie gekry en die kinders is geleer hoe die proses werk. Die beheerliggaam het voorgestel dat die bokboerdery as skoolprojek aangepak word en só meer praktyk tot die onderrig toe te voeg. Daar en dan is besluit dat ‘n ordentlike kaasfabriek opgerig moet word. Borge is gesoek en verskeie maatskappye, instansies en privaat persone het geld geskenk sodat dié droom ‘n realiteit kon word.

“Die beheerliggaam het voorgestel dat die bokboerdery as skoolprojek aangepak word en só meer praktyk tot die onderrig toe te voeg.”

‘n Skenking in 2010 van ‘n Duitse tandartsvereninging, het hul in staat gestel om hul eie kaasfabriek op te rig. Mnr Fritz onderstreep dit, “Danksy die hulp van dié borg, kon ons ‘n fabriek oprig en ons aandag skenk om kwaliteit kaas te vervaardig. Lamont het ‘n pH meter geskenk wat weereens bydra dat ons die beste kaas moontlik kan maak.” Die bokke word daagliks gemelk en verskaf altesaam ongeveer tagtig liter melk. Die melkmasjien, geskenk deur Danie de Wet, kan ongeveer agt bokke op ‘n slag melk. Die installasie is gedoen deur De Laval Milking. Tydens ‘n prestige geleentheid in Stellenbosch in 2011 vir die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, het hulle ‘n eerste plek gewen vir “Bokmelk maaskaas sonder byvoegings” en ‘n tweede plek vir “Bokmelk maaskaas met byvoegings”. Nicolene skryf dié sukses toe aan hoë kwaliteit bokmelk. “Ons het net ‘n sekere aantal bokke, dít verseker dat ons optimale beheer het en kwaliteit kan verseker.”

Na dié kampioenskappe, het Mej. Kampschulte tydens die Nasionale Kaasfees, ‘n bedrag aan die skool oorhandig om ‘n fonds te begin om later die nodige kaasmaak toerusting aan te koop. Tydens die oorhandiging het sy bygevoeg, “Hoe jonger kinders ‘n liefde vir landbou aanleer, hoe beter ‘n land se toekoms.”

landbou march 2016 bokke 1

Fokus op entrepreneurskap

Die kinders is aktief betrokke in die kaasmaak-proses en namate hul ouer raak, kry hul al meer verantwoordelikhede. Die Graad 3-7 leerders help kaas vervaardig in die Tegnologie-klas, onder leiding van Nicolene wat deel is van die skoolkurrikulum. Die trotse kinders kan dan hul produk huistoe neem. Nicolene vertel, “Hulle leer van die prosessering van voedsel, die kostes betrokke, verpakking, asook die bemarking wat nodig is vir die suksesvolle verkoop van die produk.”
Mnr. Fritz beaam, “Die hoofdoel is om die kinders bewus te maak van entrepreneurskap. ’n Mens hoef nie noodwendig jou eie beeste of bokke te hê om kaas te maak nie, maar ons wil hulle leer dat jy ook melk kan koop en verwerk. Die kinders doen praktiese ondervinding op, so wanneer ’n graad 7-leerder hier uitstap, is hy toegerus met vaardighede om sy eie besigheidjie te kan bedryf.”

Een van hul leerlinge, Ruan Kok (Graad 7), maak sy eie fetakaas op hul familieplaas, Elstelm Boerdery. Voorwaar iets om op trots te wees! Mnr. Fritz vertel, “Die skool konsentreer huidiglik op die vervaardiging van roomkaas in die volgende geure: gewoon, knoffel & kruie, knoffel en swartpeper, suurlemoen peper, groenui en sweet chilli. Hulle het ook onlangs begin om feta te vervaardig en eksperimenteer met die maak van harde kase. Die Departement van Onderwys is glo baie ingenome met die melkbokprojek en in 2012 is die skool aangewys as wenner in die Wes-Kaap vir uitmuntende leierskap. Vir Mnr. Fritz, bly daar nog een groot uitdaging oor, om die prys vir die beste harde kaas by die Suiwelkampioenskapsbyeenkoms na Buffeljagsrivier toe te bring.

landbou march 2016 bokke 2

“Die Departement van Onderwys is glo baie ingenome met die melkbokprojek en in 2012 is die skool aangewys as wenner in die Wes-Kaap vir uitmuntende leierskap.”

Die produkte is reeds beskikbaar by verskeie padstalle en winkels in die Swellendam-distrik. Die name van die borge kan by die skool gesien word en hulle is alle hulp innig dankbaar.