Volg ons op Facebook

Gee ons tog (hernubare) krag!

Written by  Suzanne Opperman-Kemp
| in Landbou
| March 2, 2016

Met wispelturige Moeder Natuur as vennoot, bly boer-dery ʼn onvoorspelbare besigheid. Vat nou maar die verskriklike droogte wat tans Suid-Afrika se landbou kniehalter.

Dáároor kan mens nie veel meer doen as bid nie. Ons land se energiekrisis – wat die doemprofete net soveel soos die droogte laat mor – is egter ʼn ander saak.

Terwyl die effektiwiteit van die reëndans nog bepaal moet word, begin verskeie hernubare energiebronne stadig maar seker grond wen in Suid-Afrika. Boere hoef ook nie net terug te sit en kyk hoe kragonderbrekings in hul plase se produktiwiteit invreet nie. Al is dit nog baie vroeg in die wedstryd teen energieloosheid, ís oplossings beskikbaar.

Die probleem en die oplossing

Om te verstaan hoe die landbou in die hernubare energie prentjie inpas, moet mens eers die bobbejaan agter die berg gaan haal. So kom ons begin by die begin: Waar het dinge skeefgeloop vir Suid-Afrika se energievoorraad? Volgens ʼn 2011 tesis deur J.G. Potgieter, ʼn meganiese ingenieur verbonde aan die Stellenbosch Universiteit se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energie Studies, het Suid-Afrika se ener-gievoorraad reeds in 2007 tekort begin skiet. Sedertdien sit ons met die ongebakte pere op ʼn koue stoof. Potgieter skryf verder dat die oplossing ʼn duidelike energiebeleid van die regering behels, asook die skuif van ʼn fossiel-olie gebaseerde na ʼn hernubare energie gebaseerde energievoorraad.

Waarom die skuif? Want terwyl daar net soveel nie-hernubare energiebronne (steenkool, olie, natuurlike gas en uranium) op aarde is, kan hernubare energiebronne, soos sonkrag, windkrag en waterkrag, wel hernu word. Hierdie hernubare energiebronne, skryf Potgieter, het baie meer potensiaal as nie-hernubare energiebronne om aan die wêreld se huidige en toekomstige, aanhoudend groeiende energie-aanvraag te voldoen.  

landbou march 2016 energie 1

REIPPPP vrugte

Intussen het die regering strukture in plek gestel om die gebruik van hernubare energie te bevorder en die situasie te beredder. Danksy die REIPPPP (Renewable Energy Independent Power Producer
Procurement Programme) begin die gebruik van hernubare energie in Suid-Afrika al minder van ʼn sprokie en al meer van ʼn realiteit word. Verskeie onafhanklike kragvoorsieners het reeds suksesvolle botte gemaak in hierdie program, en veral die Noord-Kaap het ʼn tuiste vir hul massiewe windkrag- en sonkragstasies geword. SouthAfrica.info lys ʼn paar van die ontwikkelinge wat tans onderweg is: die Spaanse maatskappy Abengoa se 50MW Khi Solar One kragtoring-projek, 100MW KaXu Solar One projek en Xina-projek; die Karoshoek Solar One wat deur Emvelo en hul vennote ontwikkel word; en die 100MW Kathu Solar Park en Redstone Thermal Power wat albei onder leiding van GDF SUEZ ontwikkel word. Volgens SouthAfrica.info was vorige bodrondtes van REIPPPP ook baie suksesvol, en het 21 verskillende hernubare projekte opgelewer wat te same sowat 1,067MW sal lewer. Die Departement van Energie se uiteindelike doel is om minstens 3,725MW uit hierdie hernubare energiebronne te genereer vir ʼn ononderbroke voorraad van elektrisiteit (aldus www.ipprenewables.co.za).

Dit klink dalk na ʼn behoorlike inval uit die buiteland, maar Saliem Fakir, hoof van die Beleid en Toekomste Eenheid van WWF-SA, is positief daaroor: “Die influks van oorsese rolspelers in die Suid-Afrikaanse mark het verseker dat ons by die beste firmas en innoveerders in die wêreld kan baat. Suid-Afrika is oor die algemeen ʼn goeie assimileerder van nuwe tegnologie.”

Daar is natuurlik kostes aan hierdie stasies verbonde. Fakir verduidelik: “Die grootse koste is die installasie en, by sonkrag-stasies, die vervanging van die wisselrigters ná ʼn sekere tyd en ook miskien om te verseker dat al die sonkragselle optimaal funksioneer.” Dit is darem nie katastrofiese bedrae nie: “Operasie- en onderhoudkostes is ʼn klein onkoste en daar is geen brandstofkostes soos by steenkoolstasies nie,” voeg Fakir by.

“Terwyl hernubare energie definitiewe voordele vir die omgewing inhou, is die konstruksie van reuse windkrag- en sonkragstasies natuurlik ook tot ʼn sekere mate nadelig vir die omgewing.”

Terwyl hernubare energie definitiewe voordele vir die omgewing inhou, is die konstruksie van reuse windkrag- en son-kragstasies natuurlik ook tot ʼn sekere mate nadelig vir die omgewing. Daarom het die Suid-Afrikaanse Kabinet onlangs agt hernubare energie ontwikkelingsones (Renewable Energy Development Zones of REDZs) goedgekeur. Volgens The Energy Blog sal hierdie agt sones “die uitbreiding van windkrag- en sonkrag in die land bespoedig deur ʼn stroombelynde bemagtigingsproses, asook die prioritisering van netwerk-uitbreidingsprojekte.” The Energy Blog vertel verder dat hierdie sones deur ʼn strategiese omgewingsevaluering bepaal is, wat die bestudering van ekonomiese, sosiale en omgewingsfaktore ingesluit het. Die agt sones is areas waar “windkrag- en son-kragprojekte die laagste moontlike impak op die omgewing sal hê terwyl dit die hoogste moontlike sosiale en ekonomiese voordeel vir die land inhou.”

landbou march 2016 energie 2

So waar gaan al hierdie energie heen?

Michelle Hamman, ʼn regskundige wat spesialiseer in hernubare energie, verduidelik dat onafhanklike energieproduseerders, ʼn kontrak wat gemiddeld oor 20 jaar strek met Eskom aangaan. Volgens hierdie kontrak, koop Eskom die energie wat deur die onafhanklike produseerders gegenereer word en voer dit in die nasio-nale netwerk in. Hierdie energie word dan tuis deur Jan Publiek gebruik. So ja, jy gaan nog steeds aan die einde van die maand ʼn elektrisiteitsrekening kry, maar die hoop is dat hernubare energie die bedrag bietjie sal afbring. En dat jy jou minder hoef te bekommer dat die ligte gaan afgaan in die middel van Saterdag se rugbywedstryd.

Daar is reeds bewyse dat hernubare energie meer koste-effektief as nie-hernu-bare energie is. Saliem Fakir en Manisha Gulati, ʼn energie-ekonoom verbonde aan die WWF-SA, vertel in die Daily Mail dat die REIPPPP bewyse verskaf dat hernubare energie koste-effektief is en nie gesubsidieer hoef te word nie. “In die derde rondte van die onafhanklike kragvoorsiener bod-proses was die gemiddelde tarief vir windkrag en sonkrag R0.66/kWh en R0.88/kWh onderskeidelik, terwyl die kosteberaming vir Medupi en Kusile [nie-hernubare kragstasies] by omtrent R1.05/kWh geskat is,” skryf Fakir en Gulati. Hulle verduidelik verder dat hernubare energiebronne baie vinniger in die sisteem geïntegreer kan word as nie-hernubare energiebronne, en dus ʼn optimale oplossing vir vandag se kragkrisis bied.

landbou march 2016 energie 3

Intussen, op die plaas …

So wat beteken al hierdie verwikkelinge vir jou en jou plaas? Michelle Hamman verduidelik dat die grond waarop die onafhanklike kragproduseerders se massiewe stasies gebou word óf by boere gekoop, óf vir 20 jaar (die standaard lengte van die kontrak wat kragproduseerders met die Departement van Energie aangaan) by boere gehuur word. Kortliks: dis goeie geld in die boer se sak. Grond word gekies volgens die geskikt-heid daarvan en, in die geval van sonkragstasies, hoeveel sonlig dit kry. Geen wonder die Noord-Kaap is so gewild nie!

Hamman vertel verder dat die kontrak wat met onafhanklike kragproduseerders aangegaan word, ook stipuleer dat ʼn sekere persentasie van enige hernubare energie-aanleg se winste terug in die omringende gemeenskap geploeg moet word. Dit is dus nie net die boer nie, maar ook sy gemeenskap (en uiteindelik die res van die land) wat by hierdie onafhanklike energiestasies baat.

“Hoekom nou van iemand anders afhanklik wees vir jou krag?”

landbou march 2016 energie 4

Wat as jy nie met Eskom besigheid wil doen nie?

Hoekom nou van iemand anders afhanklik wees vir jou krag? Daar is deesdae verskeie produkte op die mark wat dit moontlik maak om jou eie hernubare energie tuis op te wek. Dus, terwyl die tamaaie stasies van onafhanklike energieverskaffers reguit na Eskom toe gaan en eers vandaar af die pad na jou huis toe vind, kan jy nou jou eie energie genereer en onmiddellike toegang tot dit geniet.  

Daar is verskeie opsies vir self-verskaffing van energie, maar sonkrag word op die oomblik meer algemeen gebruik. In hierdie verband, is daar onlangs baie opwindende nuus bekend gemaak. In Februarie berig die webblad Mybroadband dat Rubicon ( ʼn amptelike herverkoper van Tesla Energy) aangekondig het dat Tesla Powerwall-toestelle binnekort in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees. Die Tesla Powerwall-toestel sluit ʼn Tesla Powerwall-battery en ʼn StorEdge-wisselrigter van SolarEdge in. Dié handige toestel werk met sonkrag en is basies ʼn battery vir jou huis. Dit sal in vier pakkette beskikbaar wees, so jy sal die opsie wat die beste vir jou werk kan kies. Hou hierdie spasie dop!

Michelle Hamman waarsku egter dat, terwyl dit dalk lekker is om nie ʼn rekening van Eskom te ontvang nie, daar wel sekere vereistes is vir die installering van sonkrag panele vir privaatgebruik. Jy sal dus eers by die owerhede moet gaan aanklop vir toestemming, en enige krag wat jy nie in ʼn maand gebruik nie, moet in die nasionale netwerk ingevoer word.  

“Daar is baie mense wat so iets probeer maak werk.”

ʼn Ander opsie is om in hernubare energie beleggingskemas te belê. “Daar is baie mense wat so iets probeer maak werk,”  vertel Fakir. “Die kuns is om die goedkoopste bronne van geld te vind, want 90% van die koste van hernubares is die kapitaalkoste.” Ander kenners waarsku egter dat jy die kat maar goed uit die boom moet kyk as dit by hierdie tipe skemas kom. Dit is ʼn industrie waarin baie geld te make is en dis aanloklik vir mense van alle vlakke van kundigheid. Loop dus lig, en vind soveel as moontlik oor ʼn skema uit voordat jy daarin belê.

landbou march 2016 energie 5

Biomassa: Die nuwe gonswoord

Daar is nóg ʼn opsie waaruit boere direk kan baat. Biomassa (of biomass in Engels) behels die gebruik van landbou-reste om hernubare energie te produseer. J.G. Potgieter verduidelik dat biomassa verwys na “koolstof-gebaseerde materiale afkomstig van lewende organismes of organismes wat onlangs geleef het.” Dit sluit meestal plantmateriaal, maar ook dierlike en menslike afval in. Potgieter lys hout- en woud-reste, landbougewasse, landbou-reste, rioolvullis, munisipale vaste afval en alge as bronne van biomassa.

In ʼn studie wat op die Groter Gariep langbougebied fokus, bevind Potgieter dat landbou-reste geweldige potensiaal het. In 2011 in hierdie gebied alleen was “daar jaarliks ’n beraamde 311,000 ton mielie- en koringstrooi beskikbaar. Hierdie landbou-reste het die energie-ekwivalent van 196,000 ton steenkool per jaar en behoort as hernubare energiebron benut te word.” Potgieter beraam die energie-potensiaal van biomassa in Suid-Afrika by 1,834PJ (petajoules) per jaar.

Met ʼn bietjie wetenskaplike hulp, kan die bogenoemde syfers selfs hoër raak. “Met onlangse ontwikkelinge  in geneties-geïn-genieurde gewasse wat droogtebestand is, of ontwerp is om in spesifieke klimaatstoestande te groei, kan die totale biomassa wat geproduseer word beduidend toeneem,” skryf Potgieter.

“Brikettering, verbranding, pirolise en vergassing is geïdentifiseer as die tegnologieë met die hoogste potensiaal om landbou-reste te omskep in ’n hoër graad energieproduk vir hierdie gebied.”

Potgieter se studie meld verder dat daar verskeie maniere is om landbou-reste in energie om te sit: “Brikettering, verbranding, pirolise en vergassing is geïdentifiseer as die tegnologieë met die hoogste potensiaal om landbou-reste te omskep in ’n hoër graad energieproduk vir hierdie gebied. Die verwagte totale energie omsettings-effektiwiteit vir ’n aanlegkapasiteit van tussen 5,000 tot 10,000 ton/jaar is onderskeidelik 98.9%, 10-25%, 25-30% en 28-36% vir die brikettering, verbranding, pirolise en vergassingsaanlegte.”

Potgieter noem verskeie maniere waarop boere ʼn inkomste kan genereer uit die produsering van biomassa. Landbou-reste kan byvoorbeeld gebruik word om brandstof-brikette te produseer wat deur die plaaslike gemeenskap vir kosmaak- en verhittingdoeleindes gebruik kan word. Biomassa kan ook gebruik word om elektri-siteit op te wek, wat die boer dan weer vir prosesse soos pomp en besproeiing van water kan gebruik, of aan die nasionale netwerk kan verskaf. Verder kan sogenaamde ‘bio-char’ uit landbou-reste geproduseer word, wat kan dien as brandstof, bemesting of gesekwestreerde koolstof wat terug in die grond ingewerk kan word. Potgieter noem ook dat, terwyl dit geen inkomste-potensiaal het nie, die hitte wat as byproduk van biomassa produksie vrygestel word, gebruik kan word om landbou-reste en -gewasse uit te droog vir voer.

Hernubares op jou plaas  

Volgens Fakir verkies meeste boere wat hul eie energie genereer om ʼn kombinasie van verskeie hernubare energiebronne te gebruik, insluitende sonkrag, windkrag en biomassa. Hy vertel verder dat, terwyl dit moeilik is om ʼn presiese syfer daaraan te koppel, daar groeiende belangstelling in die gebruik van hernubare energiebronne onder boere is.

Oor die koste-effektiwiteit van hernu-bare energiebronne vir boere, sê Fakir: “Dit hang alles af van die tipe sisteme wat jy installeer. Wat ons wel weet is dat die koste van hernubares drasties verlaag het. Jy moet ʼn langtermyn perspektief neem en ʼn balans behou tussen sekuriteit, prys en buigsaamheid as die hooffaktore wat die behoefte dryf om hernubares te integreer.”

Buiten moontlike koste-besparings, is daar nog ʼn duidelike voordeel as jou plaas sy eie hernubare energie produseer: die voorkoming van kragonderbrekings. “As jy kragonderbrekings kan voorkom, kan jy beslis jou plaas se produktiwiteit verbeter,” vertel Fakir. “Dink maar net aan prosesse-ring, verkoeling en die gebruik van elektrisi-teit om water te pomp.”

Kortliks som Fakir die voordele van self-verskaffing van energie op as komplementariteit, sekuriteit en die bestuur van langtermyn-kostes. “Dit gaan meestal daaroor dat jy jou eie inset-kostes kan bestuur, sonder om te veel op eksterne bronne te steun.” Boere kan dus deur die gebruik van hul eie hernubare energiebronne energie-outonomiteit bereik. Of soos Fakir dit in Engels stel: “You are in-housing energy autonomy”.

Maar elke omgewingsvriendelike roos het sy dorings. Fakir verduidelik dat die stoorspasie verbonde aan die generering van hernubare energie boere se produksie-kostes kan verhoog, veral omdat hulle gewoonlik van ʼn verskeidenheid energiebronne gebruik maak. ʼn Enkele hernubare energiebron op jou plaas is glad nie ʼn goeie idee nie, sê Fakir: “As jy nie ʼn goed geïntegreerde sisteem het nie, is jy uitgelewer aan Moeder Natuur, wat baie risiko’s inhou.”

landbou march 2016 energie 6

Die pad vorentoe

Selfs met al die ontwikkelinge wat onderweg is, meen Fakir dat hernubare
energie tans maar nog ʼn nismark is. Die situasie kan nog verander, maar slegs die tyd sal leer. “Soos wat elektrisiteitspryse opgaan en verskaffing van Eskom minder betroubaar raak, kan daar ʼn wyer aanneming van hernubares wees,” verduidelik Fakir. “Dit is egter op die oomblik te vroeg om te sê. Intussen sal tegnologiese verbeterings en kosteverminderings help om die aanneming van hernubares te bespoedig.”

Jy wat boer is hoef egter nie net te sit en hoop dat dinge sal uitwerk nie. Doen bietjie huiswerk en maak jou plaas een van die voorlopers in die implementering van hernubare energie. Die krag is letterlik in jou hande.


Bronne:

Potgieter, J.P. Agricultural Residue as a Renewable Energy Resource: Utilisation of Agricultural Residue in the Greater Gariep Agricultural Area as a Renewable Energy Resource (Stellenbosch University, March 2011)
SouthAfrica.info: http://www.southafrica.info/about/sustainable/solar-redstone-9115.htm#.VsQnefl97IV
IPP Renewables: http://www.ipprenewables.co.za/#page/303

The Energy Blog Facebook blad