Volg ons op Facebook

Grond, graan en graswortels

Written by  Jacques van Zyl
| in Landbou
| March 3, 2016

Dis laatmiddag, iewers langs ‘n meer. Die stilte is só dik in die lug dat mens voel of jy daaraan kan vat. Aan die een kant na regs, ‘n entjie weg van die water, klomp daar ‘n groepie grof gevlegte takhutte saam.

Maar vandag gaan daar niemand na hierdie hutte toe terugkeer nie.

Een of twee beddings ongeoeste graan - in die steeds stygende water - begin alreeds soos verwaarloosde rysvelde lyk en staan in skerp kontras teen die halfwoestynlandskap agter dit. Geen siel is in sig nie.

Wat miskien mag lyk soos ‘n tragiese toneel in een of ander somber hinterland is so doodgewoon en gevestig as wat dinge kan wees – dis bloot die ontruimde kampplek van ‘n klein groepie nomadiese proto-boere, jagter-versamelaars en vissermanne op die rand van die See van Galilea, 23,000 jaar gelede. Om hierdie getal in perspektief te plaas; sabeldiere kom nog algemeen voor en gaan vir ‘n verdere 10,000 jaar lank op die aarde aangetref word. Tog is hierdie mense graanboere. Hulle is so vertroud met saai, onkruid uittrek en oes as wat hulle is met die maal van meel uit die sade van die drie yl grassoorte wat hulle verbou: wilde emmerkoring, wildegars en wildehawer.

Versamelaars deur die eeue

Wat opval aan hierdie merkwaardige argeologiese fonds met die naam Otalo II in Israel, is twee dinge: dit wys duidelik dat die mens al veel langer van grasse afhanklik is as wat daar voorheen gemeen is, beide wat hulle sosiale en liggaamlike behoeftes aanbetref.  Party kenners meen dat bier - van alle dinge - gebrou is lank voor daar brood en koeke gebak is. Die antropoloog Claude Lévi-Strauss het oortuigend aangevoer dat beskawing ‘n direkte uitvloeisel van die sistematiese verbou en gebruik van graan is. Meer belangrik miskien, tot welke mate landbou die omgewing se hulpbronne kan uitput en gevolglik ‘n nomadiese be- staan op ‘n bevolking kan afdwing, iets wat ongelukkig nie vandag meer ‘n opsie is  nie. By hierdie twee insigte kan ‘n derde gevoeg word; ‘n idee van die rol wat tegnologieë regdeur die geskiedenis van landbou gespeel het. Of dit nou die kennis, beplanning en werktuie was waarmee graan verbou is, of die kundigheid en vaardighede wat nodig was om ‘n grootliks oneetbare oes om te skakel in iets wat gemeenskappe kon bind en onderhou. Vandag is hierdie kundighede tot ‘n baie hoë mate verfyn en uitgebrei, maar die mens bly maar bloot ‘n toenemend gesofistikeerde gras-eter.

landbou march 2016 graan 1

As ons vorentoe spring, oor ‘n geteisterde kontinent en 23 millennia, bevind ons onsself weer tuis aan die suidpunt van Afrika, steeds besig om hoofsaaklik graan te verbou en amper net so volledig afhanklik vir oorlewing van die Poaceae, oftewel die grasfamilie, as soveel eeue terug, veral as die voer van ons veekuddes in berekening gebring word. Heel gepas is die noordelike somerreëngebiede van die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga, die grootste produsente van beide geel- en witmielies. Witmielies vind hulle weg hoofsaaklik na die voedsel- en alkoholbedryf, waar geel- mielies grotendeels opeindig as veevoer. Volgens ‘n onlangse verslag deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se oesskattingskomitee sien die 2016-aanplantingstatistieke op die oomblik as volg daar uit:

Mens merk dat, met die uitsondering van Mpumalanga se syfers, produksie aan- sienlik verlaag het. Gesien in die lig van die feit dat die 2015 mielieoes van 9.955 miljoen ton die laagste in agt jaar was, is die 2016 syfers glad nie bemoedigend nie.

Die International Grains Council Grain Market Report vir 21 Januarie 2016 voorspel effens verder die toekoms in: die 2015/2016-seisoen hoort 10.6 miljoen ton mielies te produseer, (0.6 miljoen ton uitvoer en 1.1 miljoen ton invoer). Daarenteen sal  die 2016/2017-seisoen na beraming 7.5 miljoen ton mielies produseer (0.2 miljoen ton uitvoer en 1.8 miljoen ton invoer).

landbou march 2016 graan 2

In ‘n gesprek, kort na die eerste reëns, met Arnold Botha van die plaas Goldenvaal naby Viljoenskroon in die Vrystaat, het hierdie werklikhede duideliker begin word. “Dit gaan eintlik baie sleg. Daar’s boere wat nog glad nie geplant het nie en dié wat wel geplant het staan ‘n risiko van ryp wanneer Mei kom.” Ironies genoeg word inkomstebelasting problematies vir boere wat nie geplant het nie, veral omdat hulle boeke geen uitgawes in hierdie belastingjaar gaan toon nie.  Die gesprek het gewend na tegnologie en hoe dit kan help, veral geneties gemodifiseerde saadmielies. “Daar is verskillende saadmaatskappye – ons doen elke jaar proewe. Ek is lief vir Monsanto. Dis ‘n goeie mielie...die groot probleem is stronkboorders wat die pluim en die stronk aanval. Party boere wil nie ekstra betaal nie, maar ek koop liewers GM mielies. ‘n Mot kan glad nie aan daardie mielies eet nie.” Op die oomblik staan baie van sy mielielande onder sonneblomme. “Kyk, die jaar is basies klaar verby,” sê hy. “Mense sê die najaar gaan goed wees. Niemand weet nie.”

“Dit gaan eintlik baie sleg. Daar’s boere wat nog glad nie geplant het nie en dié wat wel geplant het staan ‘n risiko van ryp wanneer Mei kom.”

Verder suid, in die Wes-Kaap se koringstreke, lyk sake effens minder grys, maar steeds nie rooskleurig nie. Die 2015 koringoes word beraam op 1,501,190 ton, bykans ‘n kwartmiljoen ton minder as 2014 se finale oes van 1,750,000 ton. Tans word na beraming 50% van Suid-Afrika se koring ingevoer, wat verder lig werp op hierdie statistieke. Hierdie produksiedaling word grotendeels aan die vertraagde reën in 2015 toegeskryf. As mens egter na die reënpatroon van die laaste paar jaar kyk, het dit globaal ‘n merkbaar afwaartse tendens, wat beteken dat al kom die reën op die regte tye, dit dalk steeds nie genoeg sal wees nie. As mens egter grondvog kan behou tot die eerste reëns verwag word, verskaf dit bie- tjie meer beweegruimte wat planttye aanbetref, wat opbrengs kan verhoog, ongeag van groter tendense.

Blindekolle en grond

Uit die aard van die saak sal hierdie afwaartse produksie-tendense hoofsaaklik aan die deur van warmer en droër weerpatrone gelê word. Die feit bly egter staan dat klimaatsverandering goed op dreef is en dat daar heelwat tyd verby sal moet gaan voordat die huiwerige pogings wat tans aangewend word om die wêreld se koolstofspoor kleiner te maak, vrug begin afwerp. Dis gevolglik amper ‘n positiewe meevaller dat die kort- en langtermynstrategieë vir produktiwiteit begin om saam te val, naamlik die maksimaal sinvolle  benutting van hulpbronne. Anders gestel: die oorkoepelende strategie vir maksimale produksie word byna noodgedwonge identies aan die strategie vir volhoubare produktiwiteit – die bewaring van natuurlike hulpbronne met behulp van al die kennis en tegnologieë tot ons beskikking. Hierdie impliseer noodge-dwonge ‘n dieper ondersoek van wat presies ons hulpbronne is, en of daar nie dalk nog altyd ‘n blinde kol in ons definisie van hulpbronne was nie. ‘n Blinde kol wat ons toelaat om iets soos die lewende aard van grond uit die oog te verloor, maar meer hieroor later. Soos die boere van ouds dit dalk stompweg sou stel: nood leer dink.

landbou march 2016 graan 3

Asof die implikasies van veranderende weerpatrone nie genoeg van ‘n probleem skep nie, gee die swak rand-wisselkoers verdere redes tot kommer. Nie alleen moet graan ingevoer word om op te maak vir  tekorte nie, maar vleisproduksie ly ook onder die geelmielietekort, en vleis moet teen hoër koste ingevoer word. Die prys van veevoer het oor die laaste jaar met 93% toegeneem en vleisproduksie kan met tussen 30% en 40% daal in 2016. Hierdie tendens sal in alle waarskynlikheid tot in 2017 voortduur weens kuddes wat weer opgebou moet word, al keer die reënvalsyfers na normale vlakke terug. “Daar’s mense wat hulle stoetbeeste vir R5000 weggee, net dat hulle nie moet vrek nie,” vertel ‘n boer kort voor die laaste reëns. Net so word die invoer van saad, chemiese middels, plaasimplemente en -masjinerie negatief geraak, wat produksiekostes verder die hoogte in kan stoot.

In die lig van hierdie taamlik ysige waarhede is dit verblydend om ‘n reeks inisiatiewe te sien wat verligting kan bring. ‘n Redelik onlangse skuif in fokus na bewa- ringslandbou by Graan SA is besonder bemoedigend. Dr. Hendrik Smith is aangestel as bewaringslandbou fasiliteerder by Graan SA, veral in die lig van geweldige grondverliese in die huidige bedryf. Hierdie verliese beloop gemiddeld 12 ton per hektaar per jaar.  Doelstellings sluit vyf gebiede in: die diagnose en dokumentasie van bewarings-  landboustelsels; bewustheidskepping; bemarking en toegang tot informasie; boer- gesentreerde innovasiesisteem navor- sing; aansporings- en markgebaseerde meganismes; opvoeding en opleiding; informasieplatforms; netwerke; sosiale leer; tussenhandel en fasilitering.

landbou march 2016 graan 4Uiteraard is volhoubaarheid vandag op almal se lippe. ‘n Onderhoud met Dr. Pieter Swanepoel van die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie werp meer lig op die potensiële voordele wat bewaringslandbou inhou. “Die boodskap is dat bewaringsboerdery die risiko van droogte kan verlaag deur die meganismes wat beskryf word,” benadruk Dr. Swanepoel. Die probleem waarmee ons veral in die Wes-Kaap sit, is dat politiese intervensies en wetgewing in ons land se verlede nie net tot oorproduksie onder monokulture gelei het nie, maar ook tot die benutting van gronde met marginale produksiepotensiaal. Deregulasie in die 1990’s het baie van hierdie onproduktiewe benutting laat uitsterf en sedert 2000 het ‘n meerderheid plase reeds omgeskakel na bewaringsboer-derypraktyke.   Die ‘meganismes’ waarna verwys word behels hoofsaaklik drie aspekte: gewasrotasie; minimum- of geenbewerking; en dekgewasse. Die reeds relatief koolstof-arm renosterveld van die Swartland is traag om organiese koolstof in die grond op te bou. ‘n Langtermyn studie van konvensionele bewerking in die Swartland, wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou uitgevoer word, toon duidelike degradering van sowel aktiewe koolstof as mikrobe populasies en -diversiteit in die grond na ‘n tydperk van so kort as vyf jaar van grondbewerking. Gewasrotasie behels die opeenvolgende aanplant van drie of meer onverwante gewasse, tipies gewasse met respektiewelik hoë en lae koolstoftot-stikstofverhoudings. Optimale C:N in die grond kan verkry word deur versigtige gewas seleksie, ook wat dekgewasse aanbetref. Die geneigdheid tot kompaktering en korsformasie van Swartland-gronde skep wel uitdagings vir bewaringslandbou in die gebied, maar die voordele weeg tans ruim swaarder as die nadele.

“Dit maak ‘n groot verskil aan watergebruik,” benadruk Heinie Fourie van die plaas Droëkloof. Heinie verbou al vir die afgelope 24 jaar koring volgens sogenaamde ‘biolo- giese’ metodes op sy plaas naby Caledon Dis verfrissend om met iemand te praat wat opgewonde klink oor graanverbouing, veral in die lig van die pessimisme rondom waterskaarste. “Produksie is maar dieselfde as met konvensionele boerdery, maar dit skakel uiterstes uit, soos as daar tekorte aan dinge soos sink sou wees. Die deklaag onderdruk onkruid en hou vog in die grond, maar beïnvloed glad nie die ontkiem van die saadkoring nie.” Heinie maak gebruik van ‘n medic en klawer gewasrotasiesisteem en hou pal sy vinger op die pols van sy onderneming. Hy verduidelik hoe organiese bemesting die “langste voete” het, maar chemiese bemesting vinniger is. ”Ons kies wat ons gebruik.”

“Sommige boere is maar versigtig om oor te skakel; dit vat tot 5 jaar vir die grond om te stabiliseer.”

Ons praat vir ‘n ruk oor tandoopmakers en skyfoopmakers. “Biologic is natuurlik nie organic nie,” sê Heinie voor mens vra. “Daarvoor stel ek voor jy gesels met James Moffett.” Heinie maal sy eie meel in ‘n steenmeul en bemark dit self onder die naam Bio-WheatTM. “My way of putting my money where my mouth is,” voeg hy droogweg by.

Organies?

James Moffett en sy vrou Vanessa boer al sedert 1990 100% organies op hulle familieplaas Kirklington naby Ficksburg in die Oos-Vrystaat. “Die grond was van die begin af baie vrugbaar,” erken hy, maar dit laat nie reg geskied aan die suksesse wat hy behaal nie. Koringoeste staan tans op 1 ton per hektaar, hoog vir enige soort drooglandplaas. Aanvanklik het opbrengste effens gedaal, maar vandag produseer hulle teen dubbel die gemiddelde produksiekoers van die streek en insetkostes van nagenoeg R4000 per hektaar is steeds besig om te sak. Wat dit toon is dat ‘organies’ nie net iets is vir die ryk tannies om die Woolworths-rak nie; dis ‘n verbouingsmetode wat ewe geskik is vir klein- as vir grootskaalse produsente.  “Dit gee die ouens met hulle duisende hektaar NPK-plase hoop om uit die skuldboeke uit te kom.” James verkoop wel koring teen ‘n effense premie, maar sy uitgawes staan grotendeels los van ekonomiese skommelinge en soms is sy prys baie na aan die standaard koringprys. Daar word geëksperimenteer met antieke grane en James glo dat mens graan moet aanplant wat in, en vir mens se groeistreek ontwikkel is. Op die oomblik praat hy van ‘beyond organic’ eerder as ‘organies’ en neem deurentyd deel aan voorligtingsaksies en proewe, soos dié wat binnekort met mielies en antieke graan op die wynplaas Boschendal in Franschhoek ‘n aanvang gaan neem. In die verbygaan noem James die naam Bertie Coetzee van Prieska wat onder besproeiing organies boer. “Maar dis heeltemal ‘n ander ding,” sê hy. Die versoeking trek hard, maar daar is ongelukkig nie genoeg tyd om by hom te gaan kers opsteek nie.

“The destruction of soil is the most fundamental kind of economic loss which the human race can suffer,” vermaan Aldo Leopold in Erosion and Prosperity (1921). Sedert die mens sy eerste koringaar aangeplant het, het daar heelwat meer tyd verbygegaan as wat ons ooit sou vermoed het, en steeds lyk dit of hierdie waarheid nog nie volledig ingesink het nie. Daar’s ontsettend baie ruimte vir die landbou en landbouwetenskap om meganismes van organiese verbouing - wat in die praktyk duidelik vrugte afwerp - te ondersoek en te optimeer. Of dit ‘n groot droogte gaan neem voor ons besef dat ons modelle nie werk nie, sal net nog tyd ons leer. Soos die filosoof Louis Althusser besef het na hy sy vrou vermoor het: “The future lasts a long time.”