Volg ons op Facebook

SA wyne vang al meer VK se oog

Written by  Maryke Roberts
| in Landbou
| March 3, 2016

Suid-Afrikaanse wyne raak al meer gewild in die Verenigde Koninkryk (VK). Mense vra vir hul gunsteling wynplaas by die naam, ander ken die variëteite waarvoor die land bekend is.

Maar met die internasionale ekonomie wat druk en groot kompetisie van ander lande, wonder mens oor die jaar wat voorlê.

Wines of South Africa (WOSA) se kommunikasiebestuurder, Andre Morgenthal, is egter meer positief oor 2016 en die vooruitsigte in die VK, as negatief. WOSA se hoofdoel is om waardegroei te bevorder en die ‘Handelsmerk SA’ op dinamiese manie-re uit te brei, om groter bewustheid van die land en ons kwaliteit te skep. André sê verlede jaar was dit Cape Wine wat elke drie jaar deur WOSA aangebied word; vanjaar is dit weer die Sommelier Wêreldbeker, ’n uitvloeisel van die goeie gesindheid wat die 2010 Sokker Wêreldbeker vir die land geskep het. Dié kompetisie word elke twee jaar gehou.

“Die opgewondenheid rondom die Wêreldbeker ses jaar gelede, het ons die kans gegee om ons huidige gewild-heid tot voordeel van ons wyn-industrie te gebruik.”

“Die opgewondenheid rondom die Wêreldbeker ses jaar gelede, het ons die kans gegee om ons huidige gewildheid tot voordeel van ons wyn-industrie te gebruik.  Die Sommelier-geleentheid betrek 250 internasionale sommeliers uit ons top 10-14 wyn uitvoermarkte, wat almal ons wyne bestudeer en geproe het. ’n Groep van 12 finaliste kom vir ’n week na SA waar jy hulle as ambassadeurs vir ons wyne kan wen.”

André sê die Verenigde Koninkryk was nog altyd SA se grootste wyn uitvoermark, maar die onstabiele wisselkoers en verhoogde kostes, is struikelblokke wat in wynproduseerders se pad staan.

“Ons land se diversiteit en verskillende terroir, waarin ons dieselfde kultivars met verskillende eienskappe en in verskillende style kan produseer, is soms ’n moeilike boodskap om te kommunikeer.”

Hy sê wynkopers se indiepte kennis oor die kategorie is skraal, wat dit nog moeiliker maak om die positiewe boodskap van SA wyn oor te dra.

 “Vir die toekoms is ons uitdaging om die momentum te behou, die kwaliteit deurgaans top te hou en steeds op transformasie te verbeter - al daardie beloftes wat ons ’n dekade gelede gemaak het.”

“Vir die toekoms is ons uitdaging om die momentum te behou, die kwaliteit deurgaans top te hou en steeds op transformasie te verbeter - al daardie beloftes wat ons ’n dekade gelede gemaak het.”

Raisin Social, ’n maatskappy wat sterk gefokus het op Franse wyn, maar tans die voorste VK invoerder van Suid-Afrikaanse wyn is, fokus hoofsaaklik op die handelsmark. Clare  Felton sê hulle voer al vir meer as 25 jaar wyn in en die geleidelike en deurlopende kwaliteit-verbetering van hul verskaffers in die intree- en middel-vlak, was deurslaggewend om handelsmerke soos Namaqua en Leopard’s Leap te vestig. “Premium handelsmerke soos Kanonkop, Beyerskloof, La Motte en Ormonde, maak ook al meer indruk op die mark, omdat hulle uitstaande waarde verteenwoordig. Ons kry al meer navrae oor waar hierdie wyne beskikbaar is, wat bewys dat wynliefhebbers uitkyk vir hierdie top wyne.”

landbou march 2016 wine 1

Gary en Kathy Jordan - van Jordan Wines buite Stellenbosch - is saam met Neleen Strauss die eienaars van High Timber restaurant in Londen, waar jy jou eie wyn uit die kelders onder die restaurant kies.
Neleen sê hul wynlys verander gereeld.  Jordan Wines is altyd deel van die lys, omdat dit baie goed met kos pas. Gaste stap saam met ’n sommelier deur die kelder en word voorgestel aan SA se groot name, maar kry ook die geleentheid om wyne wat spesifiek vir High Timber gemaak word, te geniet.

Hieronder is onder meer Ken Forrester se eksklusiewe FMC Moelleux, en ouer oesjare van plase soos Kanonkop. Jy kan selfs om die houttafels tussen die bottels aandete geniet en Helen Zille, FW de Klerk en Thabo Mbeki was al gaste daar.

Sy skryf die gewildheid van Suid-Afrikaanse wyn aan Suid-Afrika toe. “Ek dink die Britte hou van die land - een van die wêreld se mooiste bestemmings. Die wyne is ook maklik om te verstaan; ons het nie ’n klomp verwarrende variëteite nie.
“Maar hulle hou ook daarvan omdat dit goeie wyn is en die waarde vir die hoogste kwaliteit wyne - beslis die beste in die wêreld.”

Neleen sê daar is definitiewe gunste-linge soos die Kaapse Wynmakersgilde-wyne; by die witwyne staan SA se chardonnay en chenin blanc uit. “Ons grootste verkopers is die Jordan Nine Yards Chardonnay en Ken Forrester FMC. Omdat ons in die stad is, is die ‘klassieke’ wyne ook die gunstelinge: pinot noir (Hamilton Russell en Bouchard Finlayson). Op die cabernet sau-vignon en versnitte kant, is die Van Biljon Cinq, Kanonkop, Cederberg en Glenelly tops; die Mullineux en Jordan Prospector Syrahs vlieg!”

Neleen voeg by dat Suid-Afrikaanse soet- en portstyl wyne ’n bederf is. “Ek dink Suid-Afrikaanse brandewyne is sensasioneel - iets wat maklik oorgesien word as mense van wyn praat.” En met dié aankondiging, gooi sy vir ons ná ete ’n sopie Boplaas Thirsty Angel 10-jaar oue potketel brandewyn.

Grant Dodd van Haskell Wines buite Stellenbosch, sê: “Die onlangse belangstelling in ons wyne deur voorste VK kritici het beslis vir ons deure - wat voorheen geslote was - oopgemaak en die kreatiwiteit en nuwe golf SA wynmakers, het aan Suid-Afrika nuwe dimensie gegee.

“Daar kan baie meer gedoen word, maar ons het ver gekom sedert die berugte Jane MacQuitty 2007 berig wat verklaar het dat SA wyn ‘stink soos gebrande rubber’. Daar is ’n gevoel van momentum om die ‘Handelsmerk SA’-storie waaraan individuele produsente moet aanhaak.”

Maar hy glo dat die streek- en sub-streek stories rondom Suid-Afrikaanse wyn sleg verstaan en -weergegee word. Hy waarsku egter dat ’n groter aanslag op die VK-mark dit kan verbeter, maar dat daar gewaak moet word daarteen om nie by tegniese aspekte en wyn-nerd praatjies vas te haak nie. ’n Meer “uitgebreide, inklusiewe boodskap oor kwaliteit en innovasie moet versprei word, voor terroir en streek-spesifieke boodskappe enige relevansie vir die groter wyndrinker-mark sal hê,” benadruk Grant.

Johan Fourie van Doolhof buite Wellington sê: “Internasionale kompetisies speel ’n belangriker rol as Suid-Afrikaanse kompetisies, wanneer oorsese markte ter sprake is. Ons wyne word op ’n internasionale verhoog vergelyk, wat positiewe uitslae soveel meer perspektief gee en die taak van bemarking en verkope verder ondersteun.”
Johan sê dat ons gebottelde produk ongeveer 3 pond per bottel goedkoper op die rak staan as enige Nieu-Seelandse of Australiese wyne. “Die wyne beskik oor kultivars en oesjare op die etiket, maar is ongesertifiseer, wat beteken dat dit as grootmaat oorgestuur is en daar gebottel word. Vir handelsmerk Suid-Afrika is dit nie goed nie.”

Grethe du Toit van Van Loveren buite Bonnievale, het pas teruggekeer van Londen om hul teenwoordigheid in die VK te verstewig. Sy sê wynskoue soos IWSC, IWS en Decanter help die verbruiker kies en die aanlynverbruiker kies Suid-Afrikaanse wyne, omdat hulle al in SA was en die wynplase herken. Supermarkverbruiker kies grotendeels op prys.

“Gelukkig het Suid-Afrika tans ’n baie positiewe beeld in die Verenigde Koninkryk vir goeie kwaliteit en waarde wyn,” meen Grethe.

Louis Boutinot van Waterkloof in Sir Lowry’s pas, sê: “Suid-Afrikaanse wyne val in twee kategorieë in die VK wynlys-mark: bistro’s en pubs, waar jy laer pryse vir wyn per glas betaal - weens hul waarde vir geld wanneer jy dit teen ander wynstreke in die wêreld vergelyk; en dan deftige restaurante wat tot vyf jaar gelede weinig SA wyne op hul wynlyste gehad het. Dié wat dit wel gebied het, het gesukkel om dit te verkoop.

“Gelukkig het die getal SA wyne op VK wynlyste drasties
toegeneem en die onafhanklike handelaars kry toenemend kliënte wat vir die wyne vra. Van die VK se top restaurante verkoop ons wyne per glas - ’n sleutel-ontwikkeling vir ons. Waterkloof is per glas by The Ledbury, Dinner by Heston Blumenthal, Texture, Hakkasan, Chez Bruce, en ook by twee restaurante met ’n sterk klem op Suid-Afrikaanse wyn en wat deur Suid-Afrikaners besit word - Vivat Bacchus en High Timber -  beskikbaar.”

Hy glo die beste manier om by onafhanklike handelaars en restaurante ingesluit te word, is om “’n boeiende storie, kwaliteit wyne teen die regte prys en ’n goeie verspreider met bestaande kliënteverhoudings en sigbare teenwoordigheid in die mark” te gebruik.

landbou march 2016 wine 2

Grootmaat of nie

Fanie Augustyn van Namaqua Wines, sê sowat 25% van hul totale produksie van 75 miljoen liter word as stortmaat verkoop en 2 miljoen liter na die VK uitgevoer. “Ons gebruik twee verskillende botteleerders daar en die wyn word as Namaqua Elephant River en Namaqua Diamond Coast in die VK verkoop.”

Fanie sê die besluit om stortmaat uit te voer, is ’n finansiële een: dis steeds goedkoper om die wyn in die VK te verpak as plaaslik en dit bring ook beter kontantvloei in die kelder en beter inkomstes aan die produsent mee. Hy glo nie dat grootmaat-uitvoere ’n negatiewe impak op die handelsmerk het nie. Die enigste nadeel, glo Fanie, is dat werksgeleenthede hierdeur na Europa uitgevoer word.

John Barnardt van Bonnievale Wyne, vertel die beste van hul wyne word gebottel en 90 persent van die kelder se produksie in grootmaat uitgevoer. Dit gaan nie direk na die VK nie, maar na Duitsland, waar dit vir die VK gebottel word en die supermarkte hul eie etiket aanbring.

Hy sê: “Ons produseer jaarliks 21 miljoen liter wyn. Ons besigheid sou onder finansiële druk geplaas word, indien ons alles self sou bottel. Die koste van verpakking is groter as die koste van die wyn. Met grootmaat-uitvoere, is daar geen verpakkings-koste en die kontantvloei is vinniger per volume.”
Maar grootmaat uitvoere het sy nadele. “Jy verloor dikwels jou handelsnaam in die proses.”

Dieter Odendaal, van Creation Wyne in die Hemel-en-Aarde vallei, sê hul wyne word deur Bibendum (wat ook Graham Beck en Steenberg hanteer) versprei en meestal by fynproewer restaurante en hotelle bedien, waaronder China Tang en The Dorchester.

Carolyn Martin, mede-eienaar en bemarkingsbestuurder, reis gereeld na die VK om kos- en wynpasmaats funksies en meesterklasse oor Creation-wyne aan te bied. Creation se wyne word ook direk verkoop aan die publiek deur www.sawinesonline.co.uk. Verder hou Creation hul eie promosies deur media veldtogte.

Kleine Zalze Landgoed buite Stellenbosch is einde 2014 deur internasionale wynkonsultante Wine Business Solutions, as die nommer 1 ‘binneverbruik’ handelsmerk in die VK aangewys - ’n toekenning waarin die plaas al vir tien jaar uitblink. Dié verslag dui daarop dat Kleine Zalze die Suid-Afrikaanse wyn handelsmerk is, wat die wydste versprei word en die 13de algehele verspreider in die land is.

Kobus Basson van Kleine Zalze sê dis spanwerk wat dié toekenning moontlik gemaak het. Hy glo ook dat Suid-Afrikaanse wyne in die 7-15 pond marge moet kompeteer. “Mense gaan die kopskuif moet maak en minder wyn verkoop, maar beter verteenwoordiging van die land se wynlandskap gee.

“Suid-Afrika sukkel met ’n persepsie-probleem in die VK, maar daar is groot lojaliteit onder mense wat ons wyne ken en geniet,” meen Kobus. Hy glo ook die toekoms van plaaslike wyne lê in binneverbruik - restaurante, hotelle, klubs en kroeë. “Supermarkte is ’n baie belangrike afsetpunt en kanaal na die verbruiker, maar verander te vinnig van voorkeur gegrond op prys. As jy jou verteenwoordiging in restaurante bou, is jy verseker van ’n goeie mark; maar dit verg geduld.”

Hul wyn-uitvoere na die VK is sowat 15% van hul totale produksie. Mens wonder of uitvoere al die moeite regverdig. Kobus sê: “Uitvoere is om verskeie redes baie belangrik vir die SA bedryf. Eerstens produseer ons baie meer wyn as wat plaaslik verbruik en verkoop kan word; en as ons nie sou uitvoer nie sal ons met ’n reuse oorskot sit.
“Tweedens is dit baie goed vir die bedryf dat ons wyn uitvoer na verskillende lande in die wêreld, omdat dit ons risiko versprei en baie noodsaaklike buitelandse valuta verdien vir die produsente, maar ook vir Suid Afrika. Dit stel ons in staat om weer kapitale investering in die bedryf te vergroot en ook in ons mense te investeer. Derdens is dit ook baie goed vir die handelsmerk van Suid-Afrika omrede die land se produkte in verskillende lande verbruik en geniet word, wat help om ‘n meer positiewe beeld van SA in die wêreld te skep.”

landbou march 2016 wine 3

STATISTIEK
Volgens die jongste statistiek van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting & Stelsels (SAWIS), is die Verenigde Koninkryk die grootste uitvoermark vir Suid-Afrikaanse wyne met ’n totaal vir die periode November 2014 tot Oktober 2015 van 106,375,022 liter.