Volg ons op Facebook

Windplaas en mens

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| March 14, 2014

Hierdie is deel twee oor windplase vir Plaastoe! In die eerste het ek vertel van die nuwe geslag wind­plase wat teen die einde vanjaar reeds krag sal voorsien aan die nasionale (Eskom) netwerk.

Soos genoem, praat ons van so 22 projekte – 12 in die Oos-Kaap, 6 in die Noord-Kaap, en 4 in die Wes-Kaap. Die regering se 2030 kragvoorsienings­plan maak dan ook voorsorg vir ’n verdere 15-25 privaatsektor windplase teen 2020.

Ek het ook genoem dat die nuwe generasie windplase aan­sien­lik groter gaan wees as die wat sedert 2008 op die Weskuspad buite Darling staan (50 m), en dat turbines in die Wes-Kaap volgens wet nie ’n maksimale hoogte van 200 m (afhangende van goedkeuring) mag oorskry nie.
In hierdie artikel gesels ek bietjie oor die moontlike impak van windplase op grondeienaars (meestal boere), bure en gemeenskappe. Ek kyk na lesse uit ander lande, en ook na relevante wetgewing en norme in Suid-Afrika, spesifiek die Wes-Kaap.
Ter afsluiting gesels ek kortliks ook oor twee verwante sake. Eerstens: wat is die kanse dat privaat individue direk krag van windplase kan kry? En tweedens: kan ’n boerdery of bedryf op wie se grond ’n windplaas staan moontlik baat in terme van koolstof-krediete en sertifisering vir die uitvoermark?
Ek gaan steek ook kers op by dr. Hugo van Zyl, ’n Kaapse spesialis-ekonoom met heelwat ondervinding van windplaas-aansoeke, en by dr. Panos Lazanas, verbonde aan die Departement Elektriese Ingenieurswese aan die Johannesburgse Universiteit (UJ).

Lesse uit ander lande
Die eienaar van die buurplaas oorkant die bestaande Darling-windplaas naby die Weskus-pad, was aanvanklik bekommerd dat sy melkkoeie en kraaldiere deur die nuwe geluide ontsenu sou word. Twee jaar nadat die 4 x 50 m hoë turbines opgerig is, het ek ’n draai gaan maak om oor ’n nuwe windplaas te gesels.
Volgens hom het die turbines geen merkbare impak op
sy diere gehad nie – iets wat my trouens nie verras het nie, want uit my studente-jare in Nederland was ek redelik
gewoond aan koeie wat vreedsaam staan en wei onder tollende turbines.
’n Ander buurman het dit ook bevestig jeens sy diere.
Die eerste buurman het egter wel genoem dat hy een nag wakker geword het en gedog het “nou’t van daai laaiers bearings geslaan”, want die geluid hou nie op nie. Volgende oggend ry hy Darling toe, vasbeslote om die windplaas-mense te bel van waar hy kan sein kry. Maar in Darling aangekom, hoor hy nog steeds die geraas … dit was toe al die tyd ’n sogenaamde “trance party” op ’n plaas naby die dorp!
Soos in die eerste artikel genoem, is daar tot op hede nog nie enige gemeenskappe in Suid-Afrika wat al werklik met groot windplase, of selfs van die nuwer en groter turbines saamgeleef het nie.
Die eerste van die nuwe geslag windplase sal immers eers vanaf die einde van vanjaar “aanlyn” wees. Ons situasie is nie uniek nie, want dit is eers met die inwerkingtreding van die Kyoto-protokol in 2005 dat die meeste lande ernstig in windkrag begin belangstel het.
Ook in die VSA en Wes-Europa, waar kommersiële wind­plase reeds uit die vroeë 1980’s dateer, is die drastiese groei in die aantal en grootte van windplase ’n fenomeen van na die millennium-wending.
Oor die werklike impak van kommersiële-skaal windplase is dus op hierdie stadium nog nie die laaste woord gespreek nie. Die rekord is nog te kort, en gevallestudies meestal beperk tot Wes-Europa en Noord-Amerika, en dikwels uit die jare voor die huidige windkragstormloop.
Tog, mits mens hierdie voorbehoude in ag neem, is daar heelwat te leer uit die ervaring van hierdie lande. En heelwat van die impak wat mens van windplase kan verwag verskil natuurlik nie baie van die generiese impak vir vergelykbare (skaal, hoogte, ens.) infrastruktuur-projekte nie.
Internasionaal was daar tot op hede al twee opspraakwekkende gevalle waar gemeenskappe hulle tot die hof gewend het met betrekking tot nabygeleë windplase – die Horse Hollow Wind Energy Facility in Texas (2005), en die Hallet-windplaas in Suid-Australië (2010).
In beide gevalle was geraas en visuele impak ter sake. In albei gevalle praat ons egter van groot windplase – 411 turbines in Horse Hollow se geval, en ongeveer 200 in Hallet se geval. Daarbenewens ook die klagtes in Spanje in 2005 rondom die voorgestelde aflandige Cabo de Trafalgar-windplaas op die terrein van die beroemde seeslag.
Ongeag die spesifieke uitkomste van hierdie gevalle, is dit wel duidelik dat windplase soms nie aanvaarbaar is vir alle mense of belangegroepe (byvoorbeeld residensieel, toerisme of erfenis) onder sekere omstandighede nie.
Gevallestudies en navorsing uit Europese lande soos Skotland, Denemarke, Nederland en Duitsland, dui egter daarop dat plaaslike gemeenskappe meestal ondersteunend van hulle windplase is.
Dit, míts hulle geken was in die ontwikkelingsproses, en toenemend soos die plase ook voordele soos werkskepping of goedkoper plaaslike krag lewer. In lande soos Denemarke, Swede en Duitsland is windplase wat aan munisipaliteite of plaaslike gemeenskappe behoort, redelik algemeen, wat verdere plaaslike inkoop tot die projekte verseker.
In Suid-Afrika is potensiële gemeenskapsvoordele een van die sleutelkriteria op grond waarvan windplaas-voorstelle teen mekaar bie vir voorkeuraansoek status.
’n Plaaslike gemeenskapstrust is ’n standaard vereiste, maar daar word ook na werkskepping en opleidingsvoordele gekyk; dikwels met teikens vir plaaslike indiensneming, en ’n fokus op areas met beperkte alternatiewe werkskeppingspotensiaal.
Lesse uit Wes-Europese lande dui voorts daarop dat die sensitiewe plasing van turbines spesifiek van deurslaggewende belang is. Bewoonde areas moet liefs vermy word, en in landelike gebiede moet turbines op ’n afstand van bewoonde huise en ander sensitiewe waarnemers opgerig word.
In meeste lande geld so ’n paar honderd meter as norm, maar in Kanada en Ierland word daar tans na groter wetlike terugsette gekyk – in Ierland tot sover as 2 km vir groot turbines. In die Wes-Kaap skryf soneringsregulasies tans ’n minimum-terugset van 1.5 keer die turbine se toringhoogte vanaf die naaste woonhuis voor.
Sensitiewe plasing van turbines is ook van belang om toerisme-belange soos toneelagtige landskappe, skouspelagtige bergpasse, ens. te beskerm.
Europese lande, waar ruimte dikwels knap is, is deels daarom geneig om tans alle groot windplase aflandig op te rig, en van meet af aan weg van mense en sensitiewe landskappe.
Daarvoor het mens egter ’n redelike vlak, lae-energie see soos die Noordsee nodig, wat dié opsie vir Suid-Afrika onmoontlik maak. Maar bygesê, is ons nie so dig bevolk soos Wes-Europa nie.
In die Wes-Kaap word die geskiktheid van voorgestelde windplase of turbines vir spesifieke areas grootliks beoordeel op grond van riglyne en bestaande ruimtelike ontwikkelings­raamwerke (ROR).
’n Gebrek van die bestaande Provinsiale ROR, die identifisering van spesifieke sensitiewe of belangrike landskappe, word later vanjaar met die inwerkingtreding van die 2014 ROR aangespreek. Dit behoort heelwat duidelikheid te gee oor watter areas ongeskik is, en van meet af aan vermy behoort te word.

En wat van geraas en steurnisse?
Internasionale bronne is dit eens: sommige mense is meer sensitief as ander, maar in feitlik alle gevalle kan dinge soos geraas, lem-weerkaatsing, en flikker-effek maklik uitgeskakel word deur behoorlike terugsette en geskikte turbine-plasing.

Wat is behoorlik en gepas?
Dit sal van geval tot geval afhang – topografie speel ’n rol, en die aanwesigheid van bome (soos dikwels op residensiële erwe of om huise) kan byvoorbeeld heelwat van die klank demp of maskeer, selfs op kort afstande.
In Suid-Afrika word hierdie en ander aspekte deur spesialis-Geraas en -Visuele impakstudies tydens die wetlik-voorgeskrewe Omgewingsimpakstudieproses (EIA) ondersoek, dikwels met behulp van sagteware-modelerings op grond waarvan sensitiwiteit-sones en minimum-terugsette bepaal word.

En hoe word die boer op wie se grond ’n windplaas opgerig word, geraak?
In sy geval is dit belangrik dat fisiese konstruksie op hoë poten­siaal landbougrond vermy moet word. Die boer moet ook in gedagte hou dat die gedeeltes grond rondom die turbines miskien nie altyd so maklik bewerkbaar is nie, en dat daar netwerke ondergrondse kabels gaan wees.
Moontlike impak op bestaande privaat paaie is ook iets waarmee rekening gehou moet word. En die boer moet laastens in gedagte hou dat die boerdery-aktiwiteite onvermydelik tot ’n mate ontwrig gaan word tydens konstruksie (tipies 18-24 maande); sowel as elke keer wat turbines opgegradeer word, of as die windplaas uitgedien is en die infrastruktuur ontruim moet word.
Volgens dr. Hugo van Zyl, ’n veteraan ekonomiese-impak spesialis van Independent Economic Researchers in Kaapstad, is laasgenoemde veral belangrik om in gedagte te hou as dit kom by die opstel van kontrakte.
Hy adviseer verder dat boere vooraf moet seker maak by hul plaaslike owerhede dat die infrastruktuur nie tot verhoogde erfbelasting sal lei nie – die infrastruktuur is immers op die boer se grond, en kan as kapitaal-intensiewe verbeteringe beskou word.

’n Ou se eie privaat krag van windplase?
Een van die eerste dinge wat boere en buur-boere gewoonlik op projekte van my wil weet, is of hulle direk krag van die projek vir hulle bedrywighede sou kon kry, en met ander woorde Eskom uit die prentjie sou kon sny.
Volgens Dr Panos Lazanas, verbonde aan die Departement Elektriese Ingenieurswese,  UJ, is daar geen tegniese redes waarom ’n boer, sy buurman of selfs buurgemeenskappe nie van die krag wat kommersiële windplase opwek direk sou kon tap nie.
Volgens hom is die truuk egter om direk van ’n turbine (laer stroomspanning) te tap met behulp van ’n drie-fase-transformator, voordat die krag aange­stuur word na die projek-substasie.
Op hierdie stadium is die onkostes moontlik haalbaar. Sodra die krag egter die substasie of Eskom se lyne tref, is die spanning egter reeds so hoog dat ’n groot, duur transformator nodig sal wees, en dus eintlik onprakties is.
Sou mens as boer of buurman dus ’n direkte ooreenkoms met die windplaas kon aangaan om jou eie transformator te koppel en ’n lyn na ’n turbine aan te lê? Nee, so maklik is dit ongelukkig nie, waarsku hy.
Die grootste struikelblok is dat, in terme van lisensiëring en voorsieningsooreenkomste, elke windplaas kontraktueel verplig is om uitsluitlik aan die nasionale kragvoorsienings­netwerk krag te lewer (prakties dus: Eskom).
Mens sou verder ook kon noem dat die aanlê van privaat lyne na turbines, afhangende van ʼn spesifieke geval, aan omgewings- en ander goedkeuringsprosesse onderhewig sou mag wees. En bure kan natuurlik nie sommer infrastruktuur (lyne) oor ’n ander ou se grond oprig nie. Vir alle praktiese doeleindes is die antwoord dus – nee. Voorlopig bly ons nog aangewese op Eskom in daardie opsig.
Bygesê, is dit duidelik dat die desentralisering van energie-opwekking, en die ontwikkeling van sogenaamde “embedded” (5 MW of kleiner)-aanlegte al hoe meer aandag van regeringskant gaan geniet oor die komende paar jaar.
Die nuutste weergawe van die regering se elektrisiteitsplan tot 2030 (IRP2010-3) wat in November verlede jaar bekend gemaak is, noem spesifiek dat die fokus toenemend ook moet val op kleiner foto-voltaïse (PV)-sonplase (met ander woorde son panele).
Die idee is dan ook spesifiek dat kleiner opwekkers plaaslike gemeenskappe (tipies munisipaliteite, wat genoeg geld het om inkoop-ooreenkomste te onderskryf) van krag sal kan bedien, en ten minste vir sekere gemeenskappe ’n alternatief tot Eskom sal kan bied. Volgens die IRP2010-3 word verwag dat die klem veral op die ontwikkeling van kleiner son-PV-aanlegte sal val.

Koolstof-krediete vir groen-sertifisering?
Die Cape Times het so ’n jaar gelede ’n artikel oor Moyeng Energy se nuwe voorgestelde Rheeboksfontein WEF
(windplaas) tussen Darling en die R27 (Weskuspad) geplaas.
Daarin het die eienaar van Rheeboksfontein (waarop die leeueaandeel van die nagenoeg 43 turbines voorgestel word) genoem dat hy die projek onder meer aanloklik vind omdat hy beoog om dit as koolstof-krediete in die produksie van sy bekroonde wyne te verdiskonteer. Wat uiteraard ’n aantreklike pasella vir groter uitvoerboere sou kon wees (dit is benewens die huurinkomste of winsdeling), en ook heelwat bemarkingspotensiaal vir die boer en sy produkte inhou.  
Volgens Dr van Zyl moet mens onthou dat ouditeerbare koolstof-kredietsertifikasie gekoppel is aan die reële verbruik van bronne; m.a.w. jou krag sal fisies van spesifieke turbines moet kom. En, waarsku Dr Lazanas weer, net omdat die turbines op jou grond staan, is die krag natuurlik nie jou produk nie. “Dink so daaroor”, sê hy, “as ek grond by jou huur vir my beeste, word die melk nie joune nie”. Soos hierbo genoem, is privaat-aansluitings (wat dan op invoer-ooreenkomste tussen boer en operateur gebaseer sou wees) egter onmoontlik.

Verder waarsku dr. Lazanas teen die praktiese onhaalbaarheid van ’n algehele netwerkvrye groen verbruik uit windbronne vir individuele boere. Die turbines gaan immers net krag voorsien as die wind waai, en mens sal dus steeds op Eskom moet terugval vir heelwat van die tyd. Vir boerderye wat op kritieke tye op energie aangewys is (koel- en pakstore, besproeiing, ens.) is die wispelturigheid van wind natuurlik ’n faktor om mee rekening te hou.
Voorlopig lyk dit dus of die tipe koolstof-kredietvoordele dus nie haalbaar is nie. In elk geval nie in terme van ouditeerbare sertifikasie nie. Wat natuurlik nie beteken dat daar nie steeds bemarkingsvoordele kan wees in so ’n boerdery se verbintenis tot groen energie op sy grond nie.