Volg ons op Facebook

Droogte, El Niño gooi lang skaduwee

Written by  Jorisna Bonthuys
| in Landbou
| April 6, 2016

Suider-Afrika beleef een van die ergste droogtes in dekades. Produsente kry swaar en verbruikers gaan binnekort die rimpeleffek hiervan voel. Die voortslepende droogte – die ergste in dekades – het groot dele van die land in 'n wurggreep.

april 2016 landbou elnino 5

Van Porterville tot Polokwane word die effek hiervan deur mens en dier gevoel. Dit was 'n geweldige droë somer – die droogste in 112 jaar.

Vyf provinsies - Noordwes, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat – is reeds tot rampgebiede verklaar. Dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap trek ook noustrop.

Die droogte het veral die produksie van koring, mielies, suiker en bees- en skaapvleis kwaai geraak. Ander sleutelgewasse loop egter ook deur.

In Maart vanjaar het goeie reënbuie gelukkig groot verligting oor dele van die land gebring, onder meer in die sentrale dele van die land. Vir baie produsente, insluitende boere in die oostelike dele van die mielieproduserende streek, het die reën egter te laat gekom om betyds aan te plant.

Die droogte se rug is ook nog lank nie gebreek nie, met minder as normale reënvalsyfers wat vir die einde van die somerseisoen voorspel word. Op dié stadium is dit nog onseker hoe reënpatrone in die winter-reënvalstreek gaan lyk.

Droogte-spoor lê diep

Na raming word tot R16,5 miljard benodig om die effek van die droogte af te weer, boere op drooggeteisterde plase te hou, en landbouproduksie te verseker. Dit kan na raming vier jaar duur om van die droogte se nadraai te herstel.

“Die droogte is nie net 'n probleem vir produsente en hul werknemers nie – dit is Suid-Afrika s'n,” reken Omri van Zyl van AgriSA. Daar is “'n enorme risiko” dat voedselonsekerheid, hiperinflasie en werksverliese in die landbousektor ons voorland is. AgriSA vra derhalwe dat die voortslepende droogtekrisis tot 'n nasionale ramp verklaar word. Droogteverligting, waarborge vir oordragskuld, en direkte loonsubsidies kan volgens hom baie help om die nood te verlig. “Ons moet boere ondersteun totdat die reën kom en hulle weer voedsel kan produseer.”

“Ons moet boere ondersteun totdat die reën kom en hulle weer voedsel kan produseer.”

Daar is boonop ook groot kommer oor die effek van die droogte op voedselsekerheid in Suider-Afrika. Suid-Afrika produseer ongeveer 61% van die streek se kosvoorrade. Boonop loop ons buurlande soos Mosambiek, Botswana en Namibië ook erg deur weens die droogte. Zimbabwe het reeds ’n nasionale ramp afgekondig. Daar is selfs potensiaal vir migrasie van mense in, en van buurlande, omdat die hele streek in die droogte vasgevang is, waarsku Van Zyl. Derduisende mense sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou.

april 2016 landbou elnino 1

Suid-Afrikaanse gebruikers het ook nog nie die droogte-impak aan hul sakke gevoel nie. Groot prysstygings weens laer produksie van sleutel-gewasse word min of meer vanaf Mei/Junie verwag. Na raming gaan Suid-Afrika tot April volgende jaar sowat 7,3 miljoen ton graangewasse - mielies en koring - moet invoer. Dit sal 'n groot effek regdeur die waardeketting hê, berig Moneyweb. Kos-inflasie het weens die droogte in Januarie reeds tot 7% gestyg van 4,3% in Junie laasjaar.

Maar presies hoe droog is 'droog' nou eintlik? Wanneer 'n gebied minder as driekwart van die normale reënval oor 'n bepaalde tydperk ontvang, word dit as 'n 'weerkundige droogte' bestempel, blyk dit uit bronne van die SA Weerdiens. Dit gaan met swakker oeste en waterskaarstes gepaard, wat maatskaplike en ekonomiese gevolge inhou.

Die jaar 2015 in die geheel was besonder droog. Laas jaar was die gemiddelde jaarlikse totale reënval op eie bodem die laagste sedert 1904. Die afgelope 112 jaar kry die land jaarliks gemiddeld 608mm reënval. Só sê Elsa de Jager, bestuurder van klimaatinligting van die SA Weerdiens. In 2015 was die reënvalgemiddeld egter net 403mm. Voor dit is die laagste gemiddelde reënvalsyfer (van 436mm) in 1945 aangeteken.

Die nasionale gemiddeld ondervang egter nie noodwendig die provinsiale prentjie nie. In die Vrystaat – die mielieproduserende hart van Suid-Afrika - het laas jaar byvoorbeeld net 321mm uitgesak. Volgens historiese rekords (1900-2015) is die gemiddelde reënvalsyfers in dié provinsie 555mm.

april 2016 landbou elnino 2

Groot gedeeltes van Suider-Afrika het die afgelope somer 60% of minder van die normale somerreënval gekry. Dit sluit in dele van die Suid-Vrystaat, Lesotho, die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, gedeeltes van Noord-Wes, asook Botswana en Namibië.

Laasjaar was boonop die derde agtereenvolgende droë jaar in die somerreënvalstreek, wat grondvog en die koers van verdamping beïnvloed het. Die oostelike gedeeltes van Mpumalanga en Limpopo, asook die noordelike dele van KwaZulu-Natal het omtrent 40% minder reën as normaalweg gekry.

Teen einde Maart was veral die westelike graanproduserende streek, die oostelike dele van die Oos-Kaap, die noordelike dele van KwaZulu-Natal en die Laeveld steeds onder groot druk. In die Vrystaat is daar in meer as 'n derde (65%) van droëlandgebiede nie betyds gesaai of aangeplant nie, het Netwerk24 berig.

Kwik styg drasties

Hoewel droogtetoestande dikwels in Suider-Afrika voorkom – die reënvalpatrone hier is wisselvallig – word die situasie vererger deur die voorkoms van die sterkste El Niño-weerverskynsel in dekades. El Niño veroorsaak droër as normale seisoene in Suid-Afrika en verhoog druk op die land se reeds beperkte waterbronne, verduidelik Cobus Olivier, 'n navorser gemoeid met voorspellings van die SA Weerdiens.

Die heersende El Niño is op een na die sterkste sedert betroubare rekords hieroor gehou word. Die sterkste was in 1997/98. Dit (El Niño) is egter nie alleen verantwoordelik vir die voortslepende droogtetoestand nie, meen Olivier. “Die droogte is aangehelp deur 'n relatiewe warm winter landwyd, asook swak reënval einde laas seisoen wat grondvog beïnvloed het,” sê Olivier.

“Die droogte is aangehelp deur 'n relatiewe warm winter landwyd, asook swak reënval einde laas seisoen wat grondvog beïnvloed het,”

Dit was voorheen ook al baie droog dié tyd van die jaar (byvoorbeeld gedurende 1992 en 2007), maar dan het droogtetoestande nie gevolg op droë jare soos nou nie. Só verduidelik dr. Johan Malherbe van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Grond, Klimaat en Water.

Wêreldwyd was 2015 ook die warmste jaar sedert betroubare rekords hieroor gehou word. Dit word toegeskryf aan stygende (mensgemaakte) kweekhuis-gasvrystellings wat die koers van globale verhitting aanhelp, aldus die Wêreld-Meteorologiese Organisasie.

april 2016 landbou elnino 3

Die afgelope somer (Desember tot Februarie) was ook die warmste nóg in Suider-Afrika, sê prof. Francois Engelbrecht, die WNNR se hoofnavorser gemoeid met klimaatstudie, modellering en omgewingswelstand. “As mense vir jou sê hulle het nog nooit so warm gekry nie, is hulle reg. Klimaatsverandering is met ons.”

In 2015 is 'n ander, kommerwekkende statistiek ook aangeteken, naamlik 'n gemiddelde temperatuurstyging wêreldwyd van 1ºC relatief tot voor-nywerheidsvlakke. Internasionaal is diplomatieke pogings onderweg om die gemiddelde temperatuurstyging onder 2ºC te hou. Hierna is drastiese en onomkeerbare klimaatsverandering moontlik ons voorland. “Dié belangrike halfpadmerk onderweg daarna om hierdie kritieke drumpelwaarde te oorskry, is nou oorgesteek,” sê Engelbrecht.

Ten minste is daar lig aan die einde van die tonnel – die heersende El Niño het reeds begin verswak en sal na verwagting nie ná die herfs voortduur nie. Dit kan gevolg word deur die La Niña-verskynsel, wat gewoonlik met natter toestande in Suider-Afrika gepaard gaan.

april 2016 landbou elnino 4

Droogte eis sy tol

Intussen verdrink baie boere in skuld, namate oeste misluk en talle kan selfs hul plase verloor. Boonop word van die onlangse suksesse met grondhervorming ingeboet, onder meer omdat kleinboere se veekuddes deurloop en desnoods verklein word. Damme is sorgwekkend leeg en verskeie dorpe word deur waterskaarstes in die gesig gestaar.

Volgens André Roux, Direkteur: Volhoubare Hulpbronbestuur in die Wes-Kaapse Departement van Landbou, ly talle produsente tans enorme finansiële verliese. Die Wes-Kaapse wyn- en vrugtebedryf het byvoorbeeld reeds R1,245 miljard se droogteverliese gely, terwyl koringproduksie in die provinsie met 'n vyfde gedaal het (dit was 200,000 ton minder as gewoonlik).

Veral die landelike ekonomie trek swaar. Na raming word R88 miljoen oor die komende vyf maande in die Wes-Kaap alleen benodig om veevoer te voorsien aan die 610 produsente (meestal ontluikende boere), wat om droogtehulp aansoek gedoen het. Laasgenoemde proses is steeds onderweg. In die Wes-Kaap wag twee distrikte, naamlik die Weskus en Sentraal-Karoo, asook drie munisipaliteite, naamlik Witzenberg, Tulbagh en Oudtshoorn (Dysselsdorp en De Rust) ook nog om amptelik tot droogte rampgebiede verklaar te word.

Die rimpeleffek van die droogte gaan nog lank gevoel word, reken landbou-ekonome soos prof. Johan Willemse van die Universiteit van die Vrystaat. “Ons praat hier van 'n sogenaamde perfekte storm in die landbou – alles loop skeef,” skryf hy onlangs in 'n artikel hieroor in Die Burger. Baie produsente trek ekonomies rééds swaar weens die sukkelende rand en stygende produksiekostes.

Die landbousektor is egter krities belangrik om maatskaplike en ekonomiese welstand te verseker, sê Inge Kotze van die WWF-SA. Die droogte hou groot risiko's in vir dié sektor asook vir voedselsekerheid en verwante werksgeleenthede, sê sy in 'n onlangse verklaring. Sy meen regeringsbeleid moet dringend meer opvattende, gekoördineerde planne, asook beleidsrigtings daarstel wat op volhoubare kosproduksie en voedselsekerheid fokus. Sentrale grondkwessies moet volgens haar ook dringend aandag geniet om stabiliteit in die sektor te verseker. Steun aan ontluikende boere moet verdiep en voedselsekerheid op huishoudingsvlak moet aandag kry.

Klimaat van verandering

Suider-Afrika verhit tans vinniger as talle ander wêrelddele – min of meer dubbeld so vinnig. Beduidende verhitting word vanaf 1961 oor die westelike en sentrale dele van Suider-Afrika bespeur.

Die laaste tien maande (tot Februarie) het almal wêreldwyd rekords vir dié betrokke maande vir die statistiekboeke gelewer. Globaal was Januarie boonop die warmste maand wat nog ooit gemeet is. Februarie se temperature - wêreldwyd - was selfs hoër.

Oor die algemeen word voorsien dat groot dele van Suider-Afrika oor die komende dekades toenemend gaan verwarm en ook droër gaan word, sê Engelbrecht. Meer ekstreme weerstoestande blyk ook ons voorland. “Oor die komende dekades gaan landbouproduksie in Suid-Afrika na verwagting aansienlik geraak word deur klimaatsverandering, onder meer wat die mielieproduserende somerreënvalstreek betref.”

Dit noodsaak langtermyn-beplanning en klimaatsverwante aanpassings in die landbousektor. Toekomsboerdery gaan dus klimaatsverwante aanpassings noodsaak, onder meer om meer doeltreffend in 'n aansienlike warmer klimaat, met kwynende waterbronne te boer, reken Engelbrecht. Dié en ander kwessies word indringend bekyk in die sogenaamde derde nasionale dokument oor klimaatkommunikasie van die Departement van Omgewingsake, waaraan navorsers tans werk.

'n Gemiddelde temperatuurstyging van 3°C (van voor-nywerheidsvlakke) word dié eeu in Suider-Afrika verwag, tensy daar ingrypings is met betrekking tot kweekhuis-gasvrystelling.  'n Drastiese toename in die voorkoms van hittegolwe word volgens Engelbrecht boonop oor die komende dekades voorsien, wat veral die plaaslike veebedryf en mielieproduksie kan laat steier.

Die LNR voorsien dat klimaatsverandering die aard en omvang van produksie in die somerreënvalstreek kan verander, blyk uit 'n onlangse parlementêre voorlegging hieroor. Geskikte gebiede waar gewasse soos mielies, sojabone, sorghum, sonneblom en aartappels tans aangeplant kan word, sal na verwaging oor die komende dekades verklein. Presisie-landbou, doeltreffende grondbestuur, waterbesparings en lewendehawe-bestuurspraktyke, moet daarom aandag geniet.

El Niño kan ook na verwagting nog groot kopsere veroorsaak. Tans kom een 'super' El Niño-verskynsel (soos dié een wat ons tans beleef) min of meer elke dekade voor. Weens die heersende koers van klimaatsverandering is twee sulke 'super' El Niños per dekade voortaan moontlik in die tweede helfte van die eeu. “Daar is nog nie duidelike bewyse dat hierdie verskynsel voortaan meer dikwels gaan voorkom nie. Klimaatmodelle toon wel dat die voorkoms van hierdie geweldige sterk El Niño's waarskynlik oor die tweede helfte van die eeu kan verdubbel,” verduidelik Engelbrecht.

Die afgelope somer is 'n voorbeeld van die soort somers wat ons in die toekoms meer gereeld kan voorsien, reken Engelbrecht.

“Hierdie somer was min of meer 2ºC warmer as 'n normale seisoen. Ons kan ons maar net probeer indink aan die somers in die tweede helfte van die 21ste eeu, waar die temperatuur gemiddeld 4-7ºC  hoër kan wees as nou (indien kweekhuis-gasvrystellings onbeperk voortduur.) Dis 'n totaal en al ander streeksklimaat waarvan ons hier praat.”