Volg ons op Facebook

Geenbewerking, chemiese boerdery en bewaringslandbou

Written by  Leoni Kok
| in Landbou
| April 8, 2016

Waar lê die balans?

Na raming het meer as 90% van boere in die Wes-Kaap reeds na 'n geen- of minimum-bewerkingstelsel oorgeskakel. KwaZulu-Natal is die tuiste van die No-Till Club wat hom beywer vir die bevordering van dié praktyk, en verskeie boere wat as pioniers van geenbewerking beskou word, is in KZN gesetel.

1. Head image top 01

Maar wanneer dit kom by droëland-saaiboere in die Noordwes en die Vrystaat se laer reënvalgebiede, is produsente meer huiwerig om die sprong na geenbewerking te neem.

Ons het gaan aanklop by Frik van Rooyen, 'n ervare mielieboer buite Lichtenburg in die Noordwes, om uit te vra oor hul unieke uitdagings. Frik verbou droëland-mielies in 'n monokultuurstelsel. Ja, erken hy, "mense gaan my waarskynlik verkwalik daarvoor, maar dit is wat in ons omgewing werk."

Tans beproef Frik 'n oorlêstelsel op sy plaas. Hiervolgens laat hy sekere grond vir 'n seisoen rus om vogstatus en ander allelopatiese wanbalanse reg te stel. Kompos wat van kraal- en hoendermis verkry word, word aangewend om tekorte aan kalium en sekere mikro-elemente op te hef. Dit help ook om onkruiddoders af te breek.

“Wat hierdie seisoen gewerk het, gaan nie noodwendig dieselfde resultate lewer oor ‘n jaar of vyf nie.“

Volgens Frik begin grond-chemiese bestuur by die pH van jou grond en is dit die belangrikste sleutel tot sukses. Vir vogbestuur word vogmeters gebruik en verder is hy ook 'n voorstander van 'n spoorbestuurstelsel waar alle trekkers, stropers en toerusting op dieselfde spore loop in die landerye. Dit beperk kompaktering van die grond tot klein en spesifieke areas.

Frik is 'n voorstander van bewaringslandbou, maar hy is nie so seker dat geenbewerking die Goue Vlies van grondgesondheid is nie. Hy benadruk dat mens in 'n dinamiese stelsel boer wat van seisoen tot seisoen, van grondtipe tot grondtipe, en van omgewing en ligging beduidend kan verander. Wat hierdie seisoen gewerk het, gaan nie noodwendig dieselfde resultate lewer oor 'n jaar of vyf nie. "Ek dink oor tyd en met ondervinding maak jy foute net met meer selfvertroue. Jy sal nooit presies reg wees nie."

2. geenbewerking 02

"Ek het al in die verlede gesien, boere wat al hulle implemente verkoop het en totaal na geenbewerkingstelsels oorgeskakel het, en dan gebeur dit in 'n seisoen dat hulle moet terugval op die ou implemente om regstellings te maak. Dan kan hulle dit nie doen nie, want hulle het alles verkoop."

'n Ander kommer wat Frik opper is die beheer van onkruid. Chemiese onkruiddoders versteur die grondvoedselketting en verhoog siektedruk op gewasse. Praktyke soos onkruidbeheer in 'n geenbewerkingstelsel, en die gebruik om dekgewasse dood te spuit voordat gewasse soos koring en mielies aangeplant word, mag langtermynrisiko’s verhoog.

"'n Mens vra die vraag: hierdie oordosis van onkruiddoders oor die langtermyn in die grond, gaan dit nie 'n groter nadelige uitwerking op jou grond hê as sekere meganiese bewerkings nie?"

Kenners is dit eens; jy kan nie geenbewerking toepas sonder dat jy wisselbou toepas, waarvan dekgewasse 'n aspek is nie. En daar lê nog 'n ding. "Jou keuse van gewasse is beperk in ons gebied," verduidelik Frik. Sonneblom is 'n gewilde wisselgewas vir Noordwes-mielieboere, maar sonneblom trek net soveel vog uit die grond as mielies. Grondboontjies is 'n ander keuse, maar is ook 'n gewas wat "hard is op die grond" sê Frik.

In KwaZulu-Natal en die Oostelike Hoëveld is soja een van die gewasse wat suksesvol met mielies geroteer word in geenbewerkingstelsels, maar volgens Frik begin hulle nou eers soja-kultivars kry wat aangepas is vir hul gebied.

Met 'n beperking op kontantgewasse vir wisselbou, is die ander opsie suiwer sogenaamde 'cover cropping'. 'Cover cropping' behels die plant van dekgewasse vir die primêre doel van grondgesondheid en word nie noodwendig geoes of as weiding aangewend nie. Gewilde gewasse vir dié praktyk sluit in peulgewasse en 'n verskeidenheid klawers.

Frik glo daar is besliste meriete in dié praktyk, maar daar is nog nie op grootskaal proewe daarmee gedoen in die laereënvalgebiede van die Noordwes en die Vrystaat nie. Die gebrek aan deurslaggewende resultate is een van die redes hoekom dié praktyk nog nie beduidend in dié streke toegepas word nie.

“In KwaZulu-Natal en die Oostelike Hoëveld is soja een van die gewasse wat suksesvol met mielies geroteer word in geenbewerkingstelsels...”

Die ander (en grootste) probleem is water. Die Noordwes is 'n somerreënvalgebied wat hoofsaaklik deur donderstorms gevoed word, en met die sand/klei samestelling van die grond beskryf Frik die gesamentlike effek as volg: "Jou reënval intensiteit is baie hoër as jou grond se vermoë om vog in te neem. So jy kan praat van "ek het 20mm reën gehad", maar oor watter tydperk en hoeveel van dit is in die grond in?"

"Om beter vogindringing te kry moet jy soms die grond losmaak. As jy reeds 'n redelike deklaag het (dit beteken geen beweiding) help dit ook. Die beplanning van jou ryrigting met betrekking tot die helling, is ook baie belangrik. Vir gesonde grond moet jou pH reg wees, beperkende lae moet opgehef wees en die grond moet bedek wees, oor jare, met genoegsame plantmateriaal."

“Dis ‘n voldonge feit dat nie almal wat na geenbewerking oorskakel sukses daarmee behaal nie...”

"Die afgelope jaar was een van die droogstes wat ek kan onthou," sê Frik. "En as reënwater ʼn beperking is, wil jy nie jou water met ander plante deel nie." Hy is van mening dat ʼn mens jou nie moet blindstaar teen 'n enkele praktyk soos geenbewerking nie, omdat elke produsent se omgewing en omstandighede 'n unieke benadering verg.

Tydens 'n weeklange besoek aan saaiboere in die Bloemfontein-omgewing word Frik se siening oor geenbewerking grootliks beaam. Die algemene mening is dat ʼn mens 'n doelwit moet stel om bewerking geleidelik te verminder, maar dat geenbewerking vir droëland-boere in lae somerreënvalgebiede waarskynlik nie prakties haalbaar is nie.

"Hoe vestig jy 'n dekgewas as jy water daarvoor het nie?" vra Nic Meyer, 'n saaiboer van die plaas Riverton naby Brandfort.

3. geenbewerking 02 03

Dis 'n voldonge feit dat nie almal wat na geenbewerking oorskakel sukses daarmee behaal nie, maar Francis Yeatman - agronoom en een van die land se voorste raadgewers oor grondgesondheid en geenbewerking - meen die fout lê nie by geenbewerking nie, maar eerder by die implementering daarvan.

Francis is 'n onafhanklike konsultant met wye ondervinding. Hy gee 30 tot 40 praatjies per jaar en werk met boere van regoor die wêreld, insluitend Amerika en Australië. Die proewe waarby hy tot dusver betrokke was, sluit alle dele van Suid-Afrika in, en behels sowat 70 gewasse.

Hy benadruk dat geenbewerking nie in isolasie beoefen kan word nie, en dat dit hand-aan-hand moet gaan met 'n holistiese benadering tot bewaringslandbou en grondgesondheid. As jou grond nie lewend is nie sal geenbewerking nie vir jou werk nie.

Ons gesels oor Frik se spesifieke scenario. Om 'n konvensionele droëland-saaiboerdery van honderde hektaar te moet omskakel na geenbewerking klink na 'n onbegonne taak en net die idee daaraan veroorsaak waarskynlik dat party boere nie eers wil probeer nie. Francis vergelyk dié uitdaging met die analogie: hoe eet mens 'n olifant?

"’n Klein stukkie op 'n slag," sê hy, en dit is hoe mens te werk moet gaan. Dis 'n geleidelike proses en hy bieg ook dat daar nie 'n manier is om aanvanklik verby die gebruik van meer chemiese bemesting en chemiese onkruidbeheer te kom nie. Soos die grond se gesondheid verbeter en die biologiese lewe daarna terugkeer, word dit egter al hoe minder nodig om chemiese bemesting en onkruidbeheer toe te pas.

“Dis ‘n geleidelike proses en hy bieg ook dat daar nie ‘n manier is om aanvanklik verby die gebruik van meer chemiese bemesting en chemiese onkruidbeheer te kom nie.”

Die truuk lê in die kies van die regte wissel- en dekgewasse vir jou omgewing en spesifieke uitdagings. Daar is verskeie dekgewasse wat byvoorbeeld onkruid onderdruk. Francis noem voorts dat hulle met proewe in KZN groot sukses behaal het met die natuurlike onderdrukking van nematodes - een van die uitdagings wat Frik ook spesifiek genoem het. Swart mosterd (brassica sinapis spp.) is as dekgewas aangeplant by 'n mielieboerdery in Underberg. Brassica-plante - wat kanola insluit - skei 'n natuurlike fumigeerder in die grond af wat die aanwas van nematodes onderdruk. Die swart mosterd-variëteit wat Francis verkies is Nemafix, omdat dit spesifiek vir die doeleinde van nematodebeheer aangepas is en beter resultate lewer as enige van die ander brassica- gewasse.

Volgens Francis maak dekgewasse soos klawer sin om voghouding in grond te verbeter. Sou jy jou grond laat oorlê sonder 'n dekgewas sal verdamping waarskynlik meer vogverlies tot gevolg hê as wat die dekgewas water sal gebruik.

Vir die verbetering van grondgesondheid is die gebruik van dekgewasse deeglik bewys. Om dekgewasse te vestig in omgewings met min reën is 'n uitdaging waarvoor daar nie altyd antwoorde is nie, maar die wegskram van dekgewasse is in verskeie gevalle ekonomies van aard. Dekgewasse maak nie geld nie, en in 'n milieu waarin saaiboere onder kwaai droogte en finansiële druk gebuk gaan, is dit te wagte dat produsente nie uit hulle pad sal gaan om produksiegrond onder dekgewasse te sit nie.

Proewe is onlangs geloods om selfs hierdie probleem te oorkom. Hou ingedagte dat geenbewerking onlosmaakbaar is van wisselbou om suksesvol te wees. Een van die redes is dat jy organiese materiaal in jou grond nodig het om te voorkom dat dit kompakteer. Wanneer grond kompakteer word dit noodsaaklik om dit meganies los te maak en grondversteuring is juis wat jy wil vermy. Jy het ook biologiese lewe in jou grond nodig om te verseker dat die organiese materiaal afgebreek word in voedingstowwe soos koolstof, wat plante kan gebruik. Om net te 'mulch' is nie die antwoord nie. Francis sê hulle sien gereeld hoe saad ontkiem maar nie wortelskiet nie, omdat die deklaag (mulch) wat gebruik word op grond lê wat nie biologies gesond is nie. Die saad gaan lê dan basies in die deklaag sonder dat die wortels ooit die grond bereik. "Ek sou wou sien dat enige deklaag wat jy gebruik nie vir langer as twee tot drie maande op die grond lê nie," sê Francis.

"Veral waar daar 'n oortoediening van stikstof was, vind ons dat mikrobe in die grond dan ophou om organiese materiaal af te breek."

So hoe kry jy meer organiese materiaal in bestaande saailande, sonder om spesifiek grond af te staan aan dekgewasse? Om kompos in te ry is in die geval van mielies heeltemal te duur, so die nuwe proewe behels die plant van dekgewasse binne en langs die mielierye.

"Ons sit hierdie 'metgesel' plante in wanneer die mielies sowat kniehoogte is, wat ons noem 'n B5 tot B9 groeistadium," verduidelik Francis. "So die mielies is reeds gevestig wanneer ons die nie-kompeterende gewas daar tussenin plant."Soortgelyke metgesel aanplantings is ook met soja gedoen.

"Ons het (onder meer) peulplante en brassicas gebruik, afhangende van die tipe grond."

Die gebruik van metgesel plante word reeds jare lank deur die wêreld en selfs in Suid-Afrika gebruik. Die uitdaging is egter om dit in die kommersiële saaibedryf lewensvatbaar te maak. Tot dusver is die metgesel aanplantings nog altyd met die hand of met 'n vliegtuig gedoen. Laasgenoemde is meer koste-effektief, maar baie saad gaan verlore omdat dit bo-op die grond versprei word.

“Die gebruik van metgesel plante word reeds jare lank deur die wêreld en selfs in Suid-Afrika gebruik.”

"Ons werk op die oomblik saam met 'n ingenieursfirma in Swellendam, Alfa Engineering, wat besig is om vir ons 'n planter te ontwikkel, of sou ek eerder sê 'n bestaande planter aan te pas, om die metgesel-plante meganies tussen die saaigewasse te plant." Francis sê heelwat vordering is reeds met die ontwikkeling van die planter gemaak en die feit dat dit 'n plaaslike firma is, beteken dat die implement behoorlik by plaaslike toestande aangepas sal wees.

"Ek het al baie van plaaslike boere gehoor: "Dit sal werk in Amerika, of dit sal werk in Australië, maar dit sal nie in Suid-Afrika werk nie". Ek glo 120% dat geenbewerking op enige plek in Suid-Afrika sal werk. Ons grootste struikelblok is mense se denkwyse, dit is al wat moet verander," meen Francis.

Om sy opinie te onderstreep gebruik hy die voorbeeld van Noord-Dakota in die VSA: "Met sneeu en somerreënval, en baie koue grond wat partykeer vries tot op temperature van minus 20 tot minus 30 grade, is hulle steeds op 100% geenbewerking in 'n omgewing met 450mm reënval."

“Op die oomblik haal ons Hoëveld droëland-saaiboere gemiddeld vier en ‘n half ton mielies per hektaar af. Ek is oortuig dat mens dié opbrengs na sewe tot agt ton per hektaar kan verhoog...”

Prakties gesproke, hoe lank sou dit neem om 'n konvensionele boerdery na geenbewerking om te skakel? "Ek sou sê 'n maksimum van drie jaar," sê Francis. "Op die oomblik haal ons Hoëveld droëland-saaiboere gemiddeld vier en 'n half ton mielies per hektaar af. Ek is oortuig dat mens dié opbrengs na sewe tot agt ton per hektaar kan verhoog as jy geenbewerking toepas in 'n gesonde grondstelsel."

"Ek beklemtoon altyd gesonde grond, want dit is die kern van die ding. Jy moet begin deur die balans in jou grond te herstel. Aan die begin beteken dit dat jy gereelde grond-ontledings moet doen en chemiese verstellings moet maak tot jou pH-balans reg is en die biologiese lewe na jou grond begin terugkeer."

4. geenbewerking 04

Soos vroeër genoem is die Wes-Kaap geen vreemdeling vir geenbewerking en bewaringslandbou nie. Dis ook hier waar een van die mees omvattende langtermynwisselbou- en geenbewerkingsproewe gesetel is. Dr. Johann Strauss is betrokke by die navorsing wat by Langewens gedoen word - 'n navorsingsplaas tussen Moorreesburg en Malmesbury. Dr. Strauss is sekretaris van die organisasie Bewaringslandbou Wes-Kaap en is ook 'n wetenskaplike verbonde aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Die langtermynwisselbouproef by Langewens is reeds 20 jaar aan die gang en in 2002 het die proef na geenbewerking oorgeskakel. 'n Monokultuur koring aanplanting is onder meer gemeet teen sewe ander wisselboustelsels. "Die koring monokultuur se gemiddelde opbrengs was twee en 'n half ton," sê Dr. Strauss. "Die koringopbrengs in die wisselboustelsels was rofweg 30% hoër."

"Dis net as jy na opbrengs kyk. Ons werk daardie proewe tot op bruto-marge vlak. Dit sluit al jou insette in, gewaspryse word in berekening gebring, ensovoorts. As jy die monokultuurstelsel vat en jy vergelyk die ander (wisselbou) stelsels se bruto-marge, dan wissel dit van omtrent 23% tot 68% beter as jy wisselbou toepas."

Dit staaf die saak vir geenbewerking gepaard met wisselbou redelik duidelik. Dr. Strauss (soos Francis Yeatman) beklemtoon egter weer dat jy nie geenbewerking kan toepas buite 'n holistiese bewaringslandbou-stelsel nie. Bewaringslandbou is drieledig sê Dr. Strauss. Die eerste been behels die minimum versteuring van grond, die tweede die rotering van gewasse, en derdens is daar die maksimum behoud van reste in en op die grond.

5. geenbewerking 05

Maar wat van onkruidbeheer? Ek opper weer Frik van Rooyen se kommer dat mens meer chemiese onkruiddoders moet gebruik as jy nie die grond mag omdolwe nie.

"Mense vergeet dit vat 'n tyd vir die stelsel om homself te balanseer. So ja, jy moet miskien in die begin meer chemie gebruik om onkruid te beheer, maar hoe langer jou stelsel aangaan hoe minder begin daai chemie raak, " sê Johann. "Ons spuit deesdae omtrent glad nie vir insekte nie. As jy jou chemie reg gebruik dan hoef jy nie so baie te spuit nie."

Hy voeg ook by dat daar voortdurend vordering gemaak word met natuurlike maniere om onkruid te bestry. "Ons het al 'n paar stelsels waar ons ontsaglike goeie onkruidbeheer kry deur byvoorbeeld 'n swart hawer te plant, dit net eenvoudig om te rol en so te los op die grond, dan kom die onkruid fisies net nie deur nie."

"Ons sukkel verskriklik met onkruid in die monokultuurstelsel, ons kry dit net nie gewen nie, maar in die medic/koring (wisselbou) stelsel is ons koring deesdae so te sê skoon van (onkruid) grasse."

“Laasjaar het die seisoen (in die Wes-Kaap) ‘n maand en ‘n half laat begin.”

Om te bewerk of nie te bewerk nie, is 'n vraag wat boere waarskynlik vir die afsienbare toekoms sal bly vra. Dis ook duidelik dat geenbewerking nie lewensvatbaar is buite die konteks van meer holistiese bewaringslandbou nie. Niemand stry egter meer dat bewaringslandbou noodsaaklik is nie. Dr. Strauss som die beste motivering vir bewaringslandbou aan die einde van ons gesprek op: "In 'n goeie jaar - 'n jaar waar die reën volop is, sal jy nie die verskil tussen konvensionele en bewaringslandbou sien nie. Dis in die moeiliker jare waar bewaringslandbou homself bewys. Laasjaar het die seisoen (in die Wes-Kaap) 'n maand en 'n half laat begin. Ons het relatief goeie reën in Junie en Julie gehad en toe het dit skielik heeltemal afgesny. Daardie materiaal wat ons kon behou bo-op die grond, het gemaak dat ons langer met daardie bietjie water kon uitkom."

Na een van die droogste jare ooit, het mens nie veel meer motivering nodig nie.