Volg ons op Facebook

Brand

Written by  Deur Jo-Anne Smetherham & Henda Kellerman
| in Landbou
| April 8, 2014

Grondeienaars in landelike gebiede staan voor ’n moeilike keuse wat die gevaar van wegholbrande betref.

Hulle kan die risiko wat dit vir hul lewens en eiendom inhou - en dié van hul bure - ignoreer, of hul kan aansluit by die pogings om dié risiko te bestuur, wat dit dramaties laat afneem, en hulself die kostes van eise van miljoene bespaar.
Daar is ’n grondige model om die risiko van veldbrande te bestuur, en ’n bewese rekord wat wys dat hierdie benadering werk.
Voor die bestaan van BBVs, toe mense nie ordentlik opgelei was nie, was daar werkers wat brande gaan bestry het in plastiek-
reënjasse. Die belang van voorkoming kan nie genoeg benadruk word nie.
    ’n Paar jaar gelede het Dave Hodgson, ’n lusern- en beesboer in die Langkloof, ’n pyplyn en van sy plaasheinings verloor in ’n brand wat weens weerlig ontstaan het. “Ek sou veel, veel meer verloor het, as dit nie was vir die brandbeskermingsvereniging (BBV) nie”, sê hy. “Voorkomende maatreëls was die belangrikste faktor. Ons het brandbane en opgeleide personeel gehad en daar was ’n gekoördineerde brandbestrydingspoging.”
    Vandag is daar ’n groot getal BBVs in landelike gebiede dwarsoor die land, asook op die grense van stedelike gebiede - in ooreenstemming met die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande van 1998. Die Wet omskryf die verantwoordelikhede van grondeienaars wat betref veldbrande, die verantwoordelikhede van BBVs in die bestuur van brande, die voorkoming van ongewenste brande en die prosedures wat gevolg moet word wanneer brande uitbreek.
    Lede van ’n BBV is egter beskerm teen hierdie aanspreeklikheid, indien daar bewys kan word dat redelike stappe geneem is om die skade te verhoed.
    ’n BBV is nie ’n brandbestrydingsmag nie. Die wetgewing vereis dat grondeienaars se personeel opleiding in brandbestryding moet ontvang, maar slegs brandbestryding toepas totdat die amptelike brandbestrydingsmagte op die toneel aankom en oorneem.
    Lidmaatskap aan ’n BBV kos so min as ’n paar honderd rand per jaar vir privaat grondeienaars, afhangend van die grootte van hul eiendom. Jaarlikse fooie word uitgeweeg deur die voordele van voorsorg- maatreëls wat deur BBV-lidmaatskap ingestel en getref word. Dit kan verhoed dat brande lede se eiendom vernietig, en kan ook keer dat groot eise spruit uit ’n brand wat weens nalatigheid versprei en naburige eiendom vernietig het.
    Die Sederbergbrande van vroeg 2013 is steeds vars in die geheue, en sou nie geblus kon word sonder gekoördineerde brandbestrydingspogings nie. Die brande het vir weke gewoed in onbereikbare dele van die Sederberge, maar gesamentlike pogings het skade aan landbougrond en infrastruktuur beperk.
    ’n Enkele BBV kan die veldbrandrisiko van miljoene hektare bestuur. BBVs se sukses lê dikwels in die feit dat grond in bestuurseenhede eerder as binne die grense van ’n enkele grondeienaar se eiendom opgedeel word, wat dit moontlik maak om brande op ’n plaaslike vlak te beheer, dog steeds hulpbronne te kombineer en brande te bestry binne ’n area wat logies sin maak.
    BBVs bestuur die risiko van veldbrande op stedelike grense, sowel as in landelike gebiede. Philip Prins, bestuurder van die Tafelberg Nasionale Park se Brandbestuursdepartement, wys daarop dat alle grondeienaars op stedelike grense van Kaapstad die risiko loop om deur veldbrande oorval te word. “Ons wil hê dat alle grondeienaars aan die stedelike grense moet deel word van ons pogings,” sê Prins.
    Die BBV-model het gegroei tot op provinsiale en nasionale vlak. Daar is nou nege oorkoepelende liggame – een vir elke provinsie – wat die belange van BBVs en hul lede verteenwoordig. ’n Nasionale sambreelliggaam, die Nasionale Veldbrand-bestuursadviesforum (NVFMAF), is gestig om die provinsiale liggame daartoe in staat te stel om by mekaar te leer, te verseker dat gemeenskaplike standaarde gehandhaaf word, en om BBVs op regeringsvlak te verteenwoordig.
    Die Wet vereis dat plaaslike munisipaliteite en eie-naars van staatsgrond, insluitend plaaslike en nasionale bewaringsorganisasies soos Cape Nature en SANparke, by hul plaaslike BBV moet aansluit. Die wetgewing vereis ook dat elke BBV ’n veldbrandbestuurstrategie moet ontwikkel. Só ’n strategie stipuleer planne vir pogings tot koördinasie met naburige BBVs, sodat daar samewerking sal plaasvind wanneer brande oorgrens bestuur moet word.
    Toe daar in Desember 2013 ’n brand ontstaan het in die gemeenskap van Nieuwoudtville – ’n klein, Noord-Kaapse boeregemeenskap – was daar op daardie stadium nog geen BBV gestig nie, en is die GCBBV is genader om hul hulpbronne en grondspanne beskikbaar te stel aan die boere in nood.
    “Die brand het gelukkig nie na die Wes-Kaap versprei waar nog groter en meer teeplantasies is nie. Dit is te danke aan die samewerking tussen die twee provinsies. Ons moes vinnig optree en saamwerk om te keer dat die brande nie versprei nie,” sê Charl du Plessis, algemene bestuurder.
    Nieuwoudtville is intussen by die GCBBV geamalgameer en sal daar voorts oorgrens koördinasie en bestuur plaasvind sodat ook dié gemeenskap kan baat vind by die voordele van geïntegreerde brandbestuur.
    Kundiges stem saam dat geïntegreerde brandbestuur die beste strategie is vir die bestuur van die risiko van wegholbrande, en dit is dié BBVs wat geïntegreerde brandbestuur aanvaar en implementeer wat die beste vaar. Geïntegreerde brandbestuur is ’n holistiese benadering wat onder andere bepaal dat: ongewenste brande beveg moet word met brandpaaie en beheerde brande; dat ’n veldbrand toegelaat word om uit te woed indien dit nodig is om die inheemse veld te laat herleef; om uitheemse plantegroei te verwyder wat groot wegholbrande kan veroorsaak; om veldbrande te blus wat geboue of plase kan afbrand; en om  brandbewustheid in die omring-ende stede en dorpe te bevorder.
    Dit is nie vir inwoners van stede en dorpe nodig om by ’n BBV aan te sluit nie, hoewel lede van die gemeenskap ’n rol kan speel deur ’n BBV te stig indien daar nog nie een bestaan nie, en om geïntegreerde brandbestuur toe te pas.
    Die groter, gevestigde BBVs het hulself reeds bewys.         Die uitdaging is om die effektiwiteit van dié wat nog nie goed funksioneer nie te verbeter, en om die finansiële volhoubaarheid van almal te bevorder. BBVs word hoofsaaklik befonds deur ’n verskeidenheid skenkings, die deel van hulpbronne - soos die gebruik van geboue en landingstroke van lede, en ook lidmaatskapsgelde.
    Vir BBVs om wesenlik te groei, benodig hul die dienste van ’n brandvoorligtingsbeampte, wat die werk van die BBV kan verduidelik aan voornemende lede, en wie bystand en raad kan verleen. BBVs moet aan grondeienaars hulpbronne kan verskaf – van radio’s tot “bakkie-sakkies” of watervoertuie. Die uitdaging is om die ledegetalle binne elke BBV te vermeerder tot die punt waar die voorligtingsbeampte en kostes verbonde aan hulpbronne gedek word.
    “Dit is ’n moeilike situasie,” sê Paul Gerber, besturende direkteur van die Suid-Kaap BBV . “Ons moet ons lidmaatskap vergroot, maar om te groei benodig ons hulpbronne.”
    Die FynbosFire projek verskaf hulpbronne aan BBVs in die fynbos-bioom, om hulle te help om op die langtermyn selfonderhoudend te wees. Hierdie hulpbronne sluit die salarisse van die voorligtingsbeamptes in. Die projek het baie ander doelstelling om BBVs in die fynbos bioom te bevorder, insluitend bystand met die aanvaarding van geïntegreerde brandbestuur, die verbetering van die kwaliteit van weerdata en die ontwikkeling van aansporings om gedragsverandering onder grondeienaars en bedreigde gemeenskappe te bevorder.
    Die projek is ’n multimiljoenrand inisiatief tussen die Suid-Afrikaanse regering, die Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram en die Global Environment Facility.      Die uiteindelike doel is om, in die lig van die veranderende klimaat, ’n volhoubare brandbestuursmodel te ontwikkel wat regoor die land kan versprei, en selfs na ander lande uitgebrei kan word.
    Daar is geen twyfel dat BBVs selfonderhoudend kan word nie, sê Peter Dorrington, bestuurder van die oorkoepelende Wes-Kaap BBV en sekretaris van die nasionale organisasie. “Sommige distrikte slaag nie, omdat die rolspelers oënskynlik nie wil saamwerk nie. Maar in ander gebiede werk dit beslis. Dit vereis streng bestuur, maar ons beskik reeds daaroor in ons BBVs. Die manier waarop hulle saamwerk, is werklik wonderlik, en uiters effektief.”
    Die antwoord is om elke grondeienaar wat wettig verantwoordelik is vir brandbestuur oor te haal om by sy plaaslike BBV aan te sluit. “Ons soek nie meer na ’n brandbestuursmodel wat werk nie. Ons het reeds een,” sê hy. “Die program is bestem vir sukses.”