Volg ons op Facebook

Kakiebos - jou lekker ding

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| April 14, 2014

Almal in die somerreënvalstreke van ons land ken dié welige onkruid met sy kenmerkende skerp, byna vrugtige reuk.

Sy Latynse naam is Tagetes minuta. Ons ken hom as “kakiebos”, “stinkbos”, “stinking Roger” – nou nie juis name wat van toegeneentheid getuig nie. En vir die meeste mense is die eerste assosiasie met die plant dat dit ’n “onkruid” is – in die sin van “ongewens”, ’n “space invader”.
Kakiebos is onteenseglik ’n ernstige eenjarige onkruid vir gewasse soos mielies en sonneblomme; in boorde, wingerde en tuine – en eintlik op enige sonnige plek op versteurde grond wat klam genoeg bly tydens die somermaande. Met sy fenomenale saadproduksie (tot 29 000 per plant), staan kakiebos dikwels in digte plate, en is dit moeilik om volkome uit te roei. Benewens kompetisie met gewasse, kan die saad (met sy kenmerkende skerp reuk) tot die kontaminering (en afgradering) van mielies lei. Voorts is kakiebos allelopaties (verhoed ontkieming van ander soorte plantsade), en “vergiftig” dus op ’n manier die grond. Die plant se sap kan dermatitis veroorsaak, en die onkruid moet dus met handskoene verwyder word.    Vir die veeboer beteken die plant ook nie veel nie, want vee is nie danig daaroor nie. Boonop is die plant se klein, houtagtige sade ’n besmetter van wol. Kontak van melkkoeie se uiers met kakiebos kan ook ’n ongewensde bysmaak aan die melk gee. Die enigste algemeen-bekende pluspunt is eintlik dat lastige insekte ook nie van kakiebos hou nie – die oumense het mos bondels gedroogde kakiebos onder die vloerplanke gesit om vlooie weg te hou, en in landelike gebiede word kakiebos steeds in huise opgehang om muggies en muskiete af te weer.
Landbou-april-2014-kakiebos8    Dit alles het ek min of meer oor kakiebos geweet, totdat ek een middag saam met Werner Bester op sy plaas in die Rheebokskloof (Agter-Paarl) gaan stap het. Werner (en sy vennoot Sandor Kocsis) is nou al meer as ’n dekade doenig met alle aspekte van die produksie van essensiële plantolies van al wat ’n plant is – vanaf die kweek van plantmateriaal, die bou van distilleerketels en die distillering van olies, tot die maak van skoonheidsprodukte en ander middels van die olie. Hulle maatskappy in Riebeeck-Kasteel is tans een van ’n handjievol wêreldwyd wat spesies-gespesialiseerde distilleertoerusting vervaardig vir die bedryf.  
    Dié middag wys Werner my toe sy nuutste belangstelling: kakiebos, bron van die essensiële olie-tagette (of taget), wat tans so tussen US$150-200 per kilo olie verhandel, waarvan mens so 3 kilo per hektaar digte kakiebos kan oes, en tans een van die duurste olies op die mark is. Kakiebosolie – waarvoor? Werner verduidelik dat tagette (oftewel spesifieke fraksies van die olie) ’n legio gevestigde aanwendings as industriële geurstof het, in produkte so uiteenlopend soos parfuum, roomys, drank, soetgoed en tabak. Die olie word ook algemeen in insekwerende middels gebruik, en het heelwat bewese mediese aanwendings.

Landbou-april-2014-kakiebos10

Groter nog was my verbasing toe ek tuis begin nalees oor kakiebos, en dit gou begin duidelik word dat die plant nie slegs tradisioneel ’n gewaardeerde kruid in dele van Suid-Amerika is nie, maar dat die plant en olie tans heelwat aandag geniet in velde so uiteenlopend soos bio-onkruidbeheer, interne medisyne, voedselwetenskap, en dierlike geneeskunde. In akademiese publikasies in lande soos die VSA, Argentinië, Iran, Pakistan en Indië, maar ook Suid-Afrika, en heelwat daarvan oor die afgelope dekade.
    Kakiebos, ’n lid van die spesieryke madeliefie-familie (Asteraceae), is inheems aan nege lande in Suid-Amerika. Die plant het aanvanklik tydens die Boere-Oorlog in besmette perdevoer hier beland. Opsigself ’n interessante storie, en ’n bewys dat “globalisering” nie iets van vandag is nie: die Britse leër het Argentynse voer via ’n agent in die VSA ingevoer, en na die oorlog het Australiese berede troepe weer onwetende saad verder na Australië toe saamgedra: ’n reis vir die plant tussen vier kontinente binne twee jaar.
    Die plant is tans gevestig op al ses bewoonde kontinente, sowel as ’n aantal eilande, vanaf die trope tot diep in gematigde streke. In Suid-Afrika word dit algemeen as ’n bestrybare onkruid in die somerreënvalstreke beskou, maar dit is nie tans ’n gelyste onkruid in terme van landbou- of omgewingswetgewing nie.
    Etnobotanies is die hartland van kakiebos dié dele van Suid-Amerika wat tot die Inka-ryk behoort het. Die Inkas het kakiebos aktief verbou as tussengewas, spesifiek om aalwurm (nematodes) uit hul aartappelvelde weg te hou – iets wat weer toevallig in Holland in die 1940’s “herontdek” is, en tans algemeen gebruik word om aalwurm-sensitiewe gewasse soos aartappels te beskerm. Die Inkas het die bogrondse dele van die plant vars en gedroog gebruik as kookkruid, as “tee”, en vir uiteenlopende medisinale gebruike. Die Inkas se befaamde boodskappers is elk toegerus met ’n ocopa, of proviandsakkie, wat grondbone, sout, rissies en vars kruie soos kakiebosblare bevat het.
Landbou-april-2014-kakiebos9    Die kulinêre gebruik van kakiebos duur steeds voort in lande soos Peru, Bolivia, Ecuador en Chili. Die plant het verskillende name in verskillende lande en streke, maar die algemene Spaanse term is huacatay (uitgespreek: wha-ka-tai), oorgeneem uit Quechua. Veral in Peru word huacatay hoog aangeslaan as kookkruid, en is dit veral sinoniem met salsa ocopa, ’n pittige dik, romerige neut-kaassous wat tradisioneel saam met gebraaide hoender (pollo brasso), aartappel (ocopa arequipena), of as veelsydige doopsous gebruik word. Alle Peruaanse kokke (en buitelandse kos-bloggers met heimwee na Peru) is dit eens: die onvervangbare sleutelbestanddeel is huacatay, verkieslik vars blare. In Peru is dit – soos enige ander basiese kruid – vars en gedroog beskikbaar, sowel as kommersieel gebottel (as ’n pasta van die geblansjeerde blare). Boonop is die blare ook as (medisinale) tee beskikbaar.
    Buiten die Andes-lande was huacatay – en die kulinêre gebruik van kakiebos - tot onlangs redelik onbekend. In Noord-Amerika, waar daar die afgelope dekade of so ’n nis-aanvraag is, staan die kruid as “Peruvian Black Mint” bekend, en kan mens dit in Latyns-Amerikaanse supermarkte koop (gebottelde pasta), of via Amazon en ander maatskappye bestel. ’n Aantal Amerikaanse en Britse kwekerye verkoop ook saad via die internet (vir kruietuine). In 2011 was huacatay ook in foodie-nuus toe die New Yorkse restaurant-konsultantgroep Baum + Whitman dit as een van die “culinary buzzwords” vir 2012 voorspel het. Doodgewone kakiebos – verkieslik vars “takkies” (sprigs) wat tradisioneel tydens die blomtyd (Maart-Mei) geoes word, voordat die plant saad maak.

Landbou-april-2014-kakiebos7

Vir my is die kulinêre aspekte veral interessant, want ’n vinnige naslaan in Betsie Roodt se Kos uit my Veldkombuis (Protea, 2008), en Ben-Erik van Wyk en Nigel Gericke se People’s Plants – A Guide to the Useful Plants of Southern Africa (Briza, 2000) lewer geen verwysing na gedokumenteerde kulinêre gebruike in Suider-Afrika op nie. My nuuskierigheid word veral geprikkel deur die bekende feite dat die Inkas heelwat van ons geliefkoosde plante verbou het – aartappels, avokadopere, grondbone, mielies, tamaties, rissies – en dat Lima (die hoofstad) tans internasionaal bekend is as een van die top- kulinêre bestemmings in die Amerikas. Die afgelope dekade het ook die internasionale herwaardering van Peruaanse dinge soos ceviche (rou-vis-carpaccio wat met lemmetjiesap “gekook” word) en quinoa (“Inka-koring”) gesien. Alles belowende tekens. Boonop bevestig leesstof dat die blare en stingels van T. minuta nie giftig is nie  – dus is daar geen rede om nie te eksperimenteer nie.
    Die meeste Peruaanse kosskrywers beskryf die smaak as ’n mengsel van kruisement, basiliekruid, vars koljander, en pietersielie en “iets ekstra”. ’n Smaaktoets wat in die 1990’s aan die Universiteit van Texas gedoen is, het bevind dat die meeste Amerikaanse monde van die smaak (van ’n drankie berei uit die blare) hou, maar veral diegene wat ook van “black jelly beans and licorice” hou. Allan Davidson (red.) se uitvoerige Penguin (Oxford) Companion to Food (2002) bevestig die anys-agtige aspek van Tagetes, en meld voorts dat die gedroogde blare van T. minuta soos appels ruik.
Landbou-april-2014-kakiebos6    Kakiebos se reuk is veral te danke aan die kenmerkende klein oranje oliekliertjies wat op die blare en stingels van die plant voorkom, en ’n skerp, vrugtige, anys-agtige reuk afgee wanneer die plant gekneus word. Die essensiële olie wat hieruit onttrek word (deur stoomdistillering), bestaan ongeveer 90% uit ses chemiese bestanddele, insluitende limoneen (die reuk van gekneusde sitrusskil), en osimeen (tipies welriekende molekules wat algemeen in die parfuumbedryf  aangewend word). Die kulinêre gebruik van kakiebos is dus miskien nie so vergesog nie.
    Vir durfmoediges beveel ek tuisgemaakte eg-Peruaanse salsa ocopa aan – dit gaan saam met die meeste dinge wat ons saam met ons braaikos sal eet – aartappels, soetpatat, hoender, vleis, groenslaai. Daar is letterlik dosyne resepte op Google. ’n Mens het so een tot twee vars “takkies” (eintlik saamgestelde blare) kakiebos nodig per standaardbereiding (ongeveer 1.5 koppies sous). Dié voeg jy by ’n mengsel van gebraaide uie, aji (of in plaas daarvan geel soetrissie & ’n brandrissie), knoffel en aji-pasta (gemaak van geroosterde aji en sonneblomolie), en laat die blare mooi verlep. Gooi alles in ’n voedselverwerker, en “vermeng” saam met ricotta (of feta), ingedampte melk, en geroosterde grondboontjies (of grondboontjiebotter). Verdik die sous met gebreekte cream crackers as jy wil. Sout en witpeper na smaak. Ocopa arequipena word tradisioneel saam met slaaiblare, gekookte/ gebakte aartappel, gekookte eier en swart olywe voorgesit, as ‘n soort heilsame armmanslekkerny. Maar die salsa self kan koud of warm saam met baie koue of warm disse voorgesit word.      
    En? Die konsep klink eienaardig, maar dit werk. Veral die pittige romerigheid, verryk met die tekstuur van die neute en kaas. En die kakiebossmaak? Ek dink vir ’n buitestaander val die smaak van huacatay in dieselfde kategorie as vars koljanderblaar of seldery: either you love it or you hate it. Probeer dit gerus self – nou is ’n goeie tyd. Onthou dat die vars blare skerper as verwerkte blare ruik (dink maar aan salie), en probeer om jou onkruid-vooroordele vir ’n oomblik te vergeet. Die blare en takke is nie giftig nie, so jy kan nie verkeerd gaan mits jy die regte plant beet het nie. En soos met alle onbekende bestanddele, begin met min, en vermeerder na smaak!

Untitled-11Untitled-12