Volg ons op Facebook

Voorkom skokkende veeverliese so

Written by  Laurel Cadle Barber
| in Landbou
| May 13, 2014

Kleinveeboere in Suid-Afrika ly geweldige verliese as gevolg van roofdiere. In sekere veeproduksie-gebiede is kleinveeboerdery nie meer lewensvatbaar nie as gevolg van die groot verliese wat gely word.

Volgens mnr. Arthur Rudman van die Glenconner- en Distriksroofdier-bestuursforum in Uitenhage word kleinveeboerdery grootliks deur roofdiere bedreig, en as dit teen die huidige koers aangaan en daar nie roofdierpopulasiebeheer toegepas word nie, sal kleinveeboerdery teen 2020 nie meer ekonomieslewensvatbaar wees nie.

Kleinveeboere verloor nou meer as 6 000 diere (meestal jong skape en bokke) per dag, as gevolg van roofdiere soos rooikatte en swart-jakkalse. Dit kom neer op verliese van meer as R1.3 miljard per jaar, en as jy dit vergelyk met die jaarlikse verlies as gevolg van veediefstal (sowat R400 miljoen), kan ’n mens net sien hoe groot die roofdierprobleem is. Die probleem is ernstiger in die hoofkleinveeboerderygebiede van die Noord- en Oos-Kaap, sowel as in die Vrystaat.
Die hoogste verliese kom voor in die Noord-Kaap, waar kleinveeboere ongeveer 13% van die totale produksie verloor as gevolg van roofdiere.
    ’n Studie deur Van Niekerk et al. van die Universiteit van die Vrystaat se departement van landbou-ekonomie (Agricultural economics) het gefokus op die ekonomiese impak van roofdiere, met spesiale fokus op rooikatte en rooijakkalse (“black-backed jackal”)
    Die mees algemene roofdiere van kleinvee is die rooi-jakkals (Canis mesomelas) en die Rooikat (Caracal caracal). ’n Broeipaar jakkalse kan vermeerder tot 26 in 13 maande, en daar word beraam dat daar ses jakkalse (drie broeipare) vir elke 1 000 hektaar is.
    Omdat hierdie twee roofdierspesies so oorvloedig en wyd verspreid in Suid-Afrika aangetref word, is die effektiewe bestuur van die probleem redelik moeilik.
    Maar verliese as gevolg van roofdiere is nie die enigste ekonomiese verliese nie, want daar is bykomende kostes verbonde aan die voorkoming van predasie. Van die kostes verbonde aan die bestuur van hierdie roofdiere is die toewysing van skaars hulpbronne te midde van baie mededingende behoeftes.
    Die koste van voorkoming sluit die kostes van ’n professionele jagter, jaghonde, slagysters, gif en bestuursinsette, om net ’n paar te noem, in. Hierdie kostes is aaneenlopend, baie duur en dus nie ’n lewensvatbare opsie vir alle boere nie.
    ’n Boer moet self besluit watter vlak van bestuur voldoende en aanvaarbaar sal wees, en verseker dat die kostes verbonde aan voorkomingsmaatreëls en roofdierbeheer nie die voordele oorskry nie – met ander woorde, die besparings ten opsigte van verminderde verlies moet meer wees as die kostes aangegaan om verliese te verminder.
    ’n Goeie metode van plaagdierbeheer is die gebruik van Gallagher elektriese heining. Dit is bekostigbaar, maklik om te installeer, draagbaar, maklik om te vervoer, en duursaam.
Dit kan gebruik word om roofdiere te beheer, kleinvee en vee te beheer, en verskillende groepe diere van mekaar te skei.
    Vir belastingdoeleindes kan die uitgawes wat op omheining bestee word ten volle verreken word teen (positiewe) net-voor-belasbare inkomste.

    Ons het met ʼn paar boere wat Gallagher elektriese heinings ingespan het, gesels om hulle persoonlike opinies en ervaringe te hoor:

Mnr Kobus Smith boer met skape in die Hopetown-omgewing en sê die Gallagher elektriese heining het hom reeds self betaal: “Ek het in totaal 20 km geëlektrifiseer. 12 km daarvan was jakkalsbestand en daar het ek net twee drade gespan. Een naby die grond vir ongediertes wat onderdeur grawe, en een bo vir die wat oorspring. Ystervarke en vlakvarke is baie lastig en die onderste draad is baie belangrik daarvoor, alhoewel dit hulle nie altyd stuit nie. 8 km van die 20 km  was nie jakkalsbestand nie en daar was meer drade nodig. Ek het op sommige plekke twee tot drie van die heining se bestaande drade geëlektrifiseer, plus vier drade wat ek skuins na onder gespan het. Ek het ook op ’n groot deel hiervan nog ’n draad bo gespan vir die wat oorspring of klim. Vir die skuins drade het ek plastiese sparre gebruik as stutte. By elke trekpaal het ons wit porselein-isoleerders gebruik aan beide kante en die draad dan gekoppel, anders word die afstand te ver om te trek - omtrent in die middel was die kragkas. Die kragkas bestaan uit twee sonpanele wat twee groot batterye laai en krag lewer aan die Gallagher Energiser wat dan die krag aan die drade lewer.
    “Wat ek as baie belangrik beskou, is gereelde patrollie van die grensdrade. Ons meet die krag en as dit te min is, wys dit dat daar lekkasie is êrens. Dan word die draad deeglik nagegaan en die fout gesoek. ’n Groot hulp is skakelaars. Ek het by elke kamp-hek ’n skakelaar aangebring en deur die skakelaar af te sit en die krag op die volgende draad te meet kan daar maklik vasgestel word in watter rigting die fout is. Dit vergemaklik fout soek baie.
    “Kostes: Ek was in die gelukkige posisie dat ek baie ou telefoondraad gehad het wat ek kon gebruik. Dit het my koste aansienlik afgebring en dit het my omtrent R70- 000 gekos, die toerusting in die kragkas ingesluit. Die 8 km het dus baie minder gekos as die ander 12 km.
    “Voor die heining geëlektrifiseer was, het ek baie lammers verloor. Ek was ’n bekommerde man. Ons het  slagysters, vanghokke tot vervelens probeer maar sonder sukses. Sommige weke was daar tot agt  lammers per kamp gevang. Die ongediertes het baljaar. Soos die werk gevorder het, het dit verminder. In die laaste jaar het ek slegs 6 lammers verloor, en elke keer kon die skuldige geskiet word. Die laaste een was ’n groot rooikat wat by ’n houttrekpaal oorgeklim het. Dit het effens gereën en die grond van haar pote was sigbaar bo-op die paal.
    My buurman het haar gelukkig met die tweede probeerslag geskiet. Ons het nou bo-op al die houtpale Agriwire-draad gespan wat geëlektrifiseer is en wat ons ons reënboog noem. Dit het die oorklim dadelik gestop.
    “Voorheen het ons baie las gehad van springbokke wat gate in die draad hardloop. Ons moes gedurig heelmaak. Dit het ook nou tot ’n einde gekom. Die diere leer gou!
    “Ek kan nie genoeg dankie sê vir die Gallagher elektriese heining nie. Dit het weer rus en vrede op die plaas gebring en ons kan skaap tel sonder om bang te wees dat daar weer ’n klomp gaan makeer. Dit is beslis beloning vir die harde werk.”
    Willie Burger boer met skaars wildsoorte soos rooibokke, gemsbokke, bastergemsbokke en koper springbokke. Hy het die Gallagher elektriese heining geïnstalleer suiwer as ’n voorkomende maatreël teen veeverliese en het tot op datum geen verliese gely nie. Hy gebruik ook die Gallagher elektriese heining om die manlike gemsbokke te skei, met groot sukses. Hy sê dat die koste van die heining verbasend goedkoop was en noem net een negatiewe punt, waarvoor hy graag ’n oplossing sou wou vind – hy is bekommerd oor die talle skilpaaie wat deur die elektriese heining doodgeskok word (want die onderste draad is baie naby aan die grond).    
    Paul Avenant is besig met die installering van ’n Gallagher elektriese heining – tot op datum het hy al 2000 ha toegespan, teen ’n koste van R140 000. Voor hy begin het met die bedrading het hy enorme verliese gely – in 2012 het hy 231 lammers verloor as gevolg van roofdiere – ’n direkte verlies van R138 600. As gevolg van die feit dat hy net die gemerkte lammers getel het, kan sy verliese dus veel groter wees. Hy sê die Gallagher elektriese heining het homself in net een jaar betaal. Die enigste moeilikheid met die elektriese omheining, sê hy, is dat dit net soos ’n klein baba is – dit het baie onderhoud en aandag nodig. Maar, wanneer jy jou lammers tel, kan jy breed glimlag.
    Gallagher se elektriese omheining is dus ’n effektiewe, bekostigbare nie-dodelike alternatief om roofdiere te beheer – het wel redelik baie instandhouding nodig, maar is beslis die moeite werd.