Volg ons op Facebook

Winde van verandering

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| February 19, 2014

Hierdie is die eerste van twee artikels oor windplase vir Plaastoe!. In die artikel word die agtergrond kortliks geskep van die ‘windplaas-stormloop’.

 As vryskut omgewingskonsultant was ek onlangs betrokke by die omgewingsimpakstudies van ongeveer 20 windplaasprojekte in die Wes- en Noord-Kaap. As deel van my studies ondersoek ek spesifiek die moontlike nadelige impak van windplase op mense en die omgewing (meestal plase, maar ook plaaslike toerismebelange).

Hierdie is die eerste van twee artikels oor windplase vir Plaastoe! In hierdie artikel skets ek kortliks die agtergrond van die hele “windplaas-stormloop” van die afgelope twee tot drie jaar, en wat op die oomblik die vooruitsigte is met betrekking tot verdere ontwikkeling.
Ek gee ook kortliks ’n paar feite oor die nuwe geslag Independent Power Producer (IPP) windplase, en hoe groot hierdie turbines werklik is.

Ons eerste nuwe groot windplase

Die afgelope paar jaar was Darling-windplaas (WP) op die Weskuspad se groepie van vier windturbine-torings seker een van die mees herkenbare landskapbeelde in ons land; te siene as agtergrondinsetsel op byna elke SABC- en E-tv-nuusuitsending sodra “hernieubare energie” of die “Kyoto-protokol” opduik.
Wel, tot onlangs nog, en beslis nie meer vir lank nie. Want die eerste geslag IPP-windplase word tans opgerig, en dié outjies gaan aansienlik groter - en waarskynlik meer fotogenies vir die kamera - wees. Dít volg op die toekenning van ’n voorkeurbodstatus (die grootste “groen lig” in die ingewikkelde windplaas-aansoekproses) aan 22 windplaas-projekte - ’n totaal van 1 982.7 megawatt (MW) binne die bestek van die regering se Renewable Energy Independent Power Producer  Procurement (REIPPP) program die afgelope drie jaar.
Dié program is daarop gemik om private ontwikkelaars en beleggers te betrek by die groeiende aanvraag na groen energiebronne, hoofsaaklik son en wind.
Om dit vir ontwikkelaars aantreklik te maak, stel die regering jaarliks ’n vasgestelde (gesubsidieerde) inkooptarief (geldig vir 20 jaar) per tegnologiebron (son, wind en 5 ander hernieubare bronne) vas. Projekte wat reeds omgewings-, sonerings- en ander goedkeurings verkry het, bie jaarliks teen mekaar op grond van ’n hoofsaaklik voorgestelde inkooptarief met ontwikkelingsvoordele vir plaaslike gemeenskappe.
Sedert 2011 was daar al 3 bie-rondtes, waartydens daar op ’n totaal van 255 hernieubare projekte gebie is. Twee verdere bie-rondtes word voorsien, en die regering het in 2012 die beskikbare ontwikkelingskapasiteit vir hernieubare kragvoorsiening met ’n verdere 3 200 MW (teen 2020) aangevul -  vanaf ’n aanvanklike bewilliging van 3 725 MW teen 2016.
Om miskien ’n idee van die skaal en konteks te gee: Eskom se twee Koeberg-kernkrag-reaktors verteenwoordig tans 1 930 MW, ongeveer 7% van Suid-Afrika se huidige energieproduksiekapasiteit (ongeveer 25% van die Wes-Kaap se behoefte). Ongeveer 90% van ons krag landwyd kom tans van steenkool-gedrewe kragstasies, grootliks in Mpumalanga, wat met hoë lynverliese tot in alle uithoeke van die land gestuur word. Die land se energiebehoefte teen 2030 word op 89 532 MW geskat, waarvan vir meer as die helfte nog nie eens voorsiening gemaak is nie.
Medupi en Kusile, die twee groot nuwe Eskom steenkool-stasies, tans in aanbou, sal aan ongeveer 9 600 MW voorsien. Die balans sal deur ander nuwe konvensionele en hernieubare groen-projekte verskaf moet word. ’n Groot windplaas soos die 138 MW Jeffreysbaai WP, tans ook in aanbou, kan teoreties krag aan ongeveer 110 000 gemiddelde huishoudings verskaf. Die regering hoop dat hierdie wind- en songedrewe verskaffing teen 2030 ongeveer 17 800 MW sal verteenwoordig.
Privaat-sektor-windplase behoort dan tot ongeveer 9% van die land se energiebehoeftes te voorsien. Tot tyd en wyl tegnologie egter nog ontbreek om opgewekte krag effektief vir latere gebruik te stoor, sal konvensionele bronne soos steenkool, olie, gas, kernkrag en ingevoerde hidro steeds aan die meeste van die land se energie-behoeftes moet voldoen – trouens die geval in die meeste lande.

Waar kom die nuwe windplase almal – en wanneer?

Aan die einde van die derde bie-rondte in Oktober verlede jaar was daar 12 voorkeur-bodprojekte in die Oos-Kaap, 6 in die Noord-Kaap, en 4 in die Wes-Kaap.
Van die Oos-Kaap is 3 in die Port Elizabeth-omgewing geleë, met nog ander by Cookhouse, St Francis en elders.
Twee elk by Loeriesfontein en De Aar verteenwoordig die leeueaandeel van die Noord-Kaapse projekte, terwyl een elk vir Caledon, Gouda, Hopefield en Vredenburg/ Paternoster in die Wes-Kaap bewillig is.
Dit is benewens Eskom se 100 MW Sere WP by Koekenaap, wat buite bestek van die IPP-program val, en die Darling WP wat reeds sedert 2008 operasioneel is, en tans ongeveer 8.6 GWh per jaar aan die Stad Kaapstad lewer.
Soos reeds genoem, is hierdie nuwe windplase maar die puntjie van die ysberg van projekte wat deur provinsiale departemente van omgewingsake goedgekeur is - soos byvoorbeeld SAGIT se Wolseley-windplaas, en Moyeng se Rheeboksfontein Wind Energy Facility (WEF), ’n klipgooi van die bestaande Darling WP.
Van die projekte wat in die eerste bie-rondtes uitgesak het, mag egter in rondtes vier en vyf weer meeding op grond van bestaande omgewingsgoedkeurings, so ons het waarskynlik nog nie die laaste van hulle gehoor nie.  
Van die projekte wat tydens REIPPP 1 en 2 bewillig is, het die meeste reeds met konstruksie begin, en is sommige reeds in ’n gevorderde stadium. Soos byvoorbeeld die 8-turbine WP by die Dassiesklip tussen Darling en Botrivier langs die N2, en die 47-turbine West Coast One WP naby Vredenburg.
Konstruksie aan die Jeffreysbaai WP is ook ver gevorderd, en die laaste van die beplande 60 turbines behoort teen die helfte van vanjaar opgerig te wees.
Ook dié by Cookhouse (66 turbines) en Eskom se Sere WP (46 turbines) behoort vanjaar voltooi te wees.
Die eerste energie van hierdie nuwe windplase behoort teen die einde van vanjaar in Eskom se netwerk te begin invoer – byna ’n jaar later as die eerste IPP foto-voltaïse PV sonplase, wat as ’n reël aansienlik vinniger opgerig kan word.

Hoe gaan die nuwe windplase lyk?

Die nuwe windplase gaan oor die algemeen heelwat meer turbines as die bestaande Darling WP (wat moontlik ook vergroot gaan word) hê, en die turbines gaan hoofsaaklik heelwat groter wees, met langer rotorlemme.
Om ’n idee te gee: die 4 x Darling WP- turbines, elk 1.3 MW, staan 50 m hoog, en elk van die drie rotorlemme is 32m lank.
Die torings van byvoorbeeld die 9 x 3 MW Sinovel-turbines van die Dassiesklip WP buite Caledon sal daarenteen elk 90 m hoog wees, en elk van die lemme 55 m lank.
Daar word selfs na groter turbines vir sommige projekte langs die Weskus gekyk.
Groter turbines se oprigting het natuurlik gevolge in terme van abnormale vragte se vervoer op plaaslike paaie tydens konstruksie, maar veral in terme van die moontlike nadelige visuele impak in toerisme-sensitiewe areas.
In die Wes-Kaap staan die beperking vanaf owerheidskant sedert 2012 op 200 m maksimale turbine-toringhoogte, en mag turbines nie nader as een en ’n half keer (x 1.5) hul hoogte vanaf die naaste bewoonde strukture of openbare geriewe opgerig word nie.

Kom daar nog windplase?

As mens na die vorige bie-rondtes kyk, dan is dit duidelik dat die belangstelling vanaf ontwikkelaars se kant jaarliks aansienlik toegeneem het – vanaf 53 aansoeke in rondte 1 (2011) na 79 in rondte 2 (2012), na 93 in rondte 3 (2013).
Dít terwyl elke rondte ’n aansienlike daling in die vasgestelde inkooptarief gesien het – so byvoorbeeld, het dié van windkrag vanaf R1.14 in rondte 1 na  R0.74 in rondte 3 gedaal, en dié van PV-sonkrag vanaf R2.75 na R0.99.
Dit is bemoedigende nuus vir die toekoms van ’n plaaslike groen-energiebedryf wat uiteindelik ook ongesubsidieerd finansieel volhoubaar sal moet word (soos dit reeds in  Duitsland die geval is).
Dit beteken ook dat die “windplaas-stormloop” wat die Kaapse kusprovinsies die afgelope 4 jaar getref het, nog nie verby is nie.
In die November 2013-wysiging van die land se 2030 energie-plan (IRP 2010-2030-3), word trouens aanbeveel dat tot 1 000 MW nuwe kapasiteit jaarliks vir windkrag-projekte vir die volgende twee tot drie jaar bewillig word; dis ongeveer tot 10 nuwe projekte per jaar.
’n Vierde bie-rondte sal later vanjaar plaasvind, maar die Departement Energie het nog nie ’n datum aangekondig nie.
Windplase gaan dus binnekort deel van ons alledaag- se werklikheid word in die Kaap se winderige provinsies. En boere gaan voortaan gereeld deur ontwikkelaars genader word wat op soek is na geskikte terreine.

(In die tweede artikel gaan ek bietjie gesels oor die eintlike “pitkos” – hoe raak so ’n windplaas moontlik die boer (en sy sak), sy bure en die omliggende gemeenskap? Hoe reageer plaasdiere (soos melkkoeie) op windturbines? Hou dit ’n gevaar vir ons voëllewe in? En kan die geluid van die turbines mens snags uit die slaap hou?)

Tot ’n volgende keer.