Volg ons op Facebook

Die Cheetahs teen die Turke - in ongetemde Afrika

Written by  Nikki Swanepoel
| in Landbou
| May 15, 2014

Roofdiergetalle daal vinnig – om maar een voorbeeld te noem, daar is slegs 7 500 cheetahs wêreldwyd oor, en minder as 1 000 van hulle word in Suid-Afrika aangetref.

Hierdie welbekende feit het gelei tot die stigting van die Cheetah-uitreikprojek vir vee-waghonde, met hulle hoofkantoor en die cheetah-teelprogram naby Somerset-Wes (jy het moontlik al die tekens gesien op die N2 na Kaapstad). Dit is hulle doel om die publiek in te lig oor hierdie verstommende diere wat so onlosmaaklik deel is van ons erfenis. Hulle is in vennootskap met nasionale en internasionale bewaringsorganisasies en doen baie, onder andere die teel van cheetahs as ‘ambassadeurs’ vir hierdie bedreigde spesie asook die teel van Anatoliese herdershonde wat help voorkom dat ons bedreigde wild uitgeroei word. Hierdie spesiale honde is die fokus van hierdie artikel.

    ’n Jaar lange Anatoliese herdershond- (AHH of Anatoliërs) program, wat veeartsenykundige sorg en optimale voeding insluit om die honde se welvaart te verseker, is in 2005 geborg. Honde in die AHH-program is by sorgvuldig uitgesoekte boere geplaas. Die uiteinde was dat, nadat die honde bekend gestel is, 95% tot 100% van veeverliese voorkom is. Anatoliërs help dus om die vee te beskerm en roofdiere so te dwing om terug te gaan na hulle natuurlike prooi. Baie ander diere word ook in die proses gered, want ontevrede boere sit strikke en gif uit, wat ongelukkig nie net die roofdiere beïnvloed wat vermoedelik die vee doodmaak nie, soos cheetahs en luiperds, maar ook die nuttige diere doodmaak soos roofvoëls, bakoorjakkalse en aardvarke.
    Hoewel dit hoofsaaklik skape en bokke is wat deur die AHHs beskerm word, is daar ook ander vee en selfs wild wat met welslae by die program ingesluit is.
    Anatolië is die sentrale gebied van Turkye, en die toestande daar is baie soos dié in talle gebiede in Suid-Afrika waar daar met skape geboer word – baie warm en droë somers en baie koue winters. Hierdie sterk hond is eeue lank geteel om vee te beskerm (en nie aan te keer nie) teen Mesopotamiese jaghonde van weleer. Hulle is groot, maar vinnig en sterk – mannetjies kan tot 75 kg weeg. Hulle kleur is gewoonlik room, “sesam”-geel of gevlek, wit (witbont) en hulle kan ’n swart “masker” en ore hê. Dit klink ’n bietjie soos ’n gemaskerde stoeier, of hoe? Hoewel daar soms van hulle verwag word om hulle gevegsvaardighede op die proef te stel, is hulle imponerende teenwoordigheid, tesame met ’n kwaai geblaf dikwels genoeg om roofdiere weg te hou. Hulle stekelrige dubbelpels laat hulle baie bonkig lyk – in werklikheid is hulle baie dun honde. Veral by die nek het hulle ’n dik laag pels om hulle teen roofdierbyte te beskerm, sou dit nodig wees.

Cyril Stannard woon in Middelburg, Oos-Kaap, en bestuur die westelike cheetah-streke (Noordwes-provinsie en Noord-Kaap) van die AHH-projek. Die oostelike cheetah-streek (Limpopo) word bestuur deur Deon Cilliers. Maar boere landwyd word genooi om aan die program deel te neem. Cyril is ook die voorsitter van die AHH-telersvereniging van Suid-Afrika. Die ras word hier erken, nie as ’n skouhond nie, maar streng net as ’n werkhond. Die oorspronklike voorouers is verkry vanuit die beste werkersafstammingslyne – plaaslik sowel as ingevoer.
    Babahondjies word op die ouderdom van ses weke by hulle kudde gesit. Sodoende leer hulle om hulle kudde as hulle “familie” te beskou en beskermend oor hulle te raak.
    Babahondjies ontvang al die standaardinentings (natuurlik ook teen hondsdolheid) asook primêre gesondheidsorg (ontwurming en vlooi- en bosluisbeheer) en word op die ouderdom van ses maande gekastreer. Goeie voeding is noodsaaklik – mieliepap met ’n bietjie sous is nie goed genoeg nie.
    Wanneer die hondjies ses weke oud is (die tyd wanneer die meeste hondjies van hulle ma’s gespeen word), word hulle geplaas by die spesifieke trop wat hulle gaan oppas. Dit is belangrik aangesien sosiale binding op hierdie ouderdom (tot op vier maande) uiters sterk by die hondjie ontwikkel – ’n ouer hondjie of volwasse hond bind nie altyd sterk genoeg met sy kudde nie. As hy byvoorbeeld skape oppas, moet die hondjie ook gewoond wees aan vee soos bokke, beeste, perde of wild, aangesien hierdie diere soms bymekaarkom, soos by ’n waterpunt, en die hond moenie dan “sy” trop wil beskerm teen hierdie ander gewone diere nie. Selfs al moet die hele trop gaan wei, bly die hondjie agter by ’n paar van hulle.

Die hondjie se “spelerige” fase is veral sterk op ses maande, en jy moet sorg dat die hondjie nie hardhandig raak met die vee nie – dit kan ’n lelike gewoonte raak.
    Sommige kundiges beveel aan dat jy die hondjie tussen die jonges in die kudde hou, soos die lammetjies. Die hondjie kan in ’n kampie tussen hulle geplaas word ingeval die groter lammers hom boelie terwyl hy nog baie klein is. Wanneer die hond eers goed met die kudde gebind het, vanaf ongeveer vier maande, kan hy onder toesig na die veld gestuur word, verkieslik saam met ’n paar van die skaapvriende saam met wie hy grootgeword het. Wanneer hy hierdie toets geslaag het, behoort hy vanaf die ouderdom van ongeveer een jaar ’n goeie waghond te wees. Die hond, as ’n groot ras, is eers op ongeveer twee jaar volwasse, en daarom is geduld en toesig steeds baie belangrik op hierdie ouderdom.

Op groot plase is een hond geskik vir tot 300 skape, waarna meer honde geplaas moet word – een ekstra vir elke 200 of meer. In ’n area waar skape kan verstrooi, is meer honde nodig, aangesien ’n enkelhond oorwerk sal raak. Jonger honde moet by ’n trop met ’n ervare hond geplaas word, aangesien hy die jonger honde touwys kan maak.

Op groot plase is een hond geskik vir tot 300 skape, waarna meer honde geplaas moet word – een ekstra vir elke 200 of meer. In ’n area waar skape kan verstrooi, is meer honde nodig, aangesien ’n enkelhond oorwerk sal raak. Jonger honde moet by ’n trop met ’n ervare hond geplaas word, aangesien hy die jonger honde touwys kan maak.
    Die hond moet daaraan gewoond wees om gehanteer te word en aan ’n leiband te loop (ter wille van veeartsenysorg), maar verdere interaksie van mense met die hondjie word ontmoedig, aangesien hy lief vir hulle kan word of met hulle kan bind – die hondjie moet met die trop bind. Volgens die volledige AHH-boeregids sal: “voortdurende monitering van die hond ook die eienaar en die hond in staat stel om mekaar te leer ken en ’n werksverhouding te ontwikkel”. Die klem is dus duidelik op vertroudheid en ’n werksverhouding, en nie ’n baie hegte band (van die hond vir mense) en vriendskap nie. (Mense sal natuurlik lief raak vir die honde, maar hulle moet net leer om dit op ’n koel afstand te hou.) Jagtery word ontmoedig – die hond moenie die begeerte hê om die kudde te verlaat en agter ’n ystervark of vlakvark aan te hardloop nie – dit kan ernstige gevolge inhou vir die vee asook vir die hond. Net roofdiere moet as die vyand beskou word waarteen die trop beskerm moet word – geen ander vee of wild nie.  
    Terwyl die meeste honde moontlik ’n mate van die relevante beskermingsinstink het en ook afgerig kan word om vee op te pas, is Anatoliërs selektief geteel om hierdie werk te doen. Dit beteken dat die inherente komponent (die hond se instink) optimaal is vir hierdie soort werk, en tesame met die regte soort afrigting, sal die Anatoliër meer waarskynlik ’n ideale waghond vir ’n trop vee uitmaak. Sorgvuldig uitgesoekte honde van ander rasse, selfs basterhonde, kan ook gebruik word. In bosagtige dele of waar die terrein skerp en rotsagtig is, sal dit dalk beter wees om ’n kleiner hond te gebruik as groot honde met groot ledemate en pote. In die meeste gevalle sal die geblaf genoeg wees om ’n roofdier af te skrik as die hond wakker en taai genoeg is. In ander programme is inheemse “Maluti”-honde van Lesotho ook met groot welslae gebruik.

    Probleemgedrag kan in sommige gevalle ontwikkel, byvoorbeeld waar honde nie goed met hulle trop bind nie; honde wat die vee jaag of met hulle speel; honde wat nie by hulle trop vee bly nie, nie saam met hulle uitgaan nie of afdwaal; honde wat nie nuwe skape wat by die kudde inkom, aanvaar nie; honde wat aggressief is met hulle eie kudde of met ander soorte vee; honde wat wild jag terwyl hulle “aan diens” is (wat altyd is); en honde wat jong of ouer diere beseer omdat hulle rof met hulle speel. Sommige van hierdie probleme kan opgelos word, maar nie almal nie. Gelukkig sê Cyril Stannard dat die meeste van hulle as gesinshonde aangeneem kan word (doen navraag by Cyril indien jy belangstel).

Hoewel Anatoliërs nie geteel word om troeteldiere te wees nie, moet jy onthou – as jy daaraan dink om so ’n dier aan te neem – dat plaaslike Anatoliërs geteel word om vee op te pas, op hulle eie, sonder menslike bystand. Anders as huishonde, moet hulle onafhanklike werkers wees en nie vredeliewende saamwerkers nie. Selfs al is hulle goed gesosialiseer as klein hondjies, moet jy verstaan dat hierdie hond nie deur hoepels sal spring om jou te plesier nie. Cyril glo dat hulle goeie lede van die huishouding uitmaak, dat hulle gemaklik is en graag net daar wil wees, maar moenie ’n AHH aanneem as jy ’n hond verwag wat net een doel het, en dis om jou gelukkig te maak of jou met slymerige soene te bestook nie.  Hulle growwe pels moet gereeld versorg word, en hulle groot liggame benodig goeie gehalte en genoeg voedsel, maar benewens dit, meen Cyril, is hulle honde wat nie veel instandhouding verg nie. Hulle is deur nomadiese stamme gebruik wat lang afstande afgelê het op soek na weiding, en as stadsbewoner sal jy dalk vind dat jou Anatoliër swerflustig raak as hy te verveeld raak; daarom moet gereeld met hom gaan stap en speletjies gespeel  word wat julle albei geniet, en maak seker dat daar ander metgeselle is, verkieslik menslike metgeselle, omdat hy nie sy skape het wat hom geselskap kan hou nie.
    As jy steeds seker voel dat dit die hond is vir jou, moet jy met ’n kundige soos Cyril in aanraking kom wat jou kan help om ’n klein hondjie by ’n verantwoordelike teler te kry.
    Hoewel Cyril Stannard reken dat ongeveer 85% van die hondjies wat geplaas word suksesvolle veewagterhonde word, is Gerald Buchanan-Clarke, wat naby Hopetown boer, meer skepties. Hy sê dat hy ses AHHs grootgemaak en gebruik het en dat net een, ’n wyfie, ’n uitstekende waghond geword het. Sy is ongelukkig na slegs agt jaar van getroue diens deur ’n slang doodgemaak.

“Die honde is dalk goeie waghonde vir hulle trop, maar ek vind dat hulle geneig is om die trop te boelie, wat die skape fisies skade kan aandoen.” Hy glo dat die honde, omdat hulle in Turkye deel was van ’n nomadiese mensegesin, saam met ’n menseherder uitgegaan het na die weiding en dan teruggekom het en saans as waghond by die kamp opgetree het en dat die mens die hond se gedrag gerig het, en nie dat die hond alleen by die vee gelos is nie. Gerald glo dat Anatoliërs baie territoriaal kan raak, wat probleme kan veroorsaak. Indien die hond reg gelei word, kan sy instink deur die regte afrigting gevorm word om, soos vir sy trop, ook ’n goeie waghond vir mense te word. Maar sorg moet aan die dag gelê word, soos met enige ander waghond, dat hierdie instink nie naderhand in ongewenste aggressie ontwikkel nie.
    Gerald gebruik nou donkies in plaas van honde om sy vee te beskerm. Hy sê dat hulle baie minder instandhouding verg, aangesien hulle saam met die skape wei en nooit hulle kudde aanval of skade berokken nie; trouens, volgens hom is hulle meer suksesvol as honde. Gerald voer ’n goeie argument, maar ek is nie so seker dat die opskrif: “Die cheetahs teen die donkies” baie aftrek sal kry nie, of hoe? Die teenoorgestelde kan egter ook waar wees – kom ons hoor wat dink jy – sal jy graag meer wil uitvind oor die donkies wat wag hou in ’n volgende artikel?


 

Meer inligting:
Cheetah Outreach http://www.cheetah.co.za
(Naby Somerset-Wes – oop vir die publiek.) Kontak Dawn Glover 0828724007 of Liesl Smith 083 364 6278.
Deon Cilliers – Die cheetah-streek (Limpopo-provinsie)
 082 853 1068. This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
Cyril Stannard – Westelike cheetah-streek (Noordwes en Noord-Kaap) 082 927 2729 This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Oor die skrywer:
    Nikki Swanepoel is ’n professionele beeldende kunstenaar (haar werk verskyn onder die naam Nicolene C. Swanepoel).  Voor dit het sy gewerk as veearts en lesings aangebied in Engeland en by Onderstepoort in haar spesiale belangstellingsveld: dieregedrag, mens-dier-interaksie en diere-welsyn. Sy het ’n passie vir intelligente omgewings- en produkontwerp vir diere. Dit is dus vanselfsprekend dat diere deel uitmaak van haar eie kuns en skryfwerk. Sy hou van sport en het al met welslae deelgeneem aan nasionale veldbergfietswedrenne toe die sport maar nog in sy kinderskoene in Suid-Afrika was. Sy woon in Grabouw. Nooi haar om saam te kom perdry, motorfiets- of 4x4-ry, stap of vir ’n goeie maaltyd, en jy het ’n lewenslange vriendin.