Volg ons op Facebook

Tafeldruiwe en rosyntjies, korrel mooi

Written by  Laurel Cadle Barber
| in Landbou
| May 30, 2014

Hierdie maand het ons in Kakamas  in die Noord-Kaap gekuier.

Dit is nogal snaaks dat die dorp vernoem is na die Khoi-woord vir ‘swak weiding’ want hierdie dorp is geleë in die vrugbare Oranjerivier-vallei, en geseënd met vrugbare wingerde.

Rosyne en tafeldruiwe word wêreldwyd uitgevoer al is die Kakamasbedryf relatief jonk – hulle het in 1960 begin om druiwe vir rosyne te kweek, en eers in 1980 met tafeldruiwe begin.
    Maar hierdie dorp is g’n stiefkind nie – hierdie klein dorpie en sy omliggende plase verskaf 23,7% van die totale jaarlikse tafeldruif-oes van die Oranjerivier-distrik – en ʼn enorme 7,3% van die totale Suid-Afrikaanse tafeldruif-oes!
    Australië, Chili, Griekeland, Iran, Mexiko, Suid-Afrika, Turkye en die Verenigde State van Amerika oorheers die wêreldrosyntjie-uitvoermark. Suid-Afrika is die sesde grootste produsent van gehalterosyne vir die uitvoermark, waarvan die meerderheid (70%) in die Oranjerivier-vallei gekweek word. Die Verenigde State van Amerika en Turkye is die grootste rosyntjieprodusente in die wêreld – hulle gesamentlike produksie is omtrent  verantwoordelik vir  80 persent van die globale totaal.
    Volgens die 2013-verslag van die Verenigde State se Departement van Landbou (USDA), beloop totale produksie van rosyne 1,15 miljoen ton in die 2012/13 seisoen. Die VSA produseer na raming ongeveer 300 duisend ton, wat gelykstaande is aan 26% van die globale rosyntjieproduksie. Daar is 'n verhoogde globale vraag na rosyne wat gekoppel kan word aan verhoogde verbruik van rosyne in die wêreld, veral aangevuur deur die beweging na gesonder voedselkeuses.
    Groen druiwe bestaan uit ongeveer 22 tot 26 persent suiker, en die droog daarvan verminder die hoeveelheid water, en verhoog suiker tot 60 persent. Dit vat vier tot vyf pond groen druiwe om een pond rosyntjies te produseer.
    Thompson-saadloos maak die grootste deel van globale rosyntjieproduksie uit – ongeveer 90 persent van alle rosyntjies bestaan uit Thompson-saadloos. Thompson-saadloos is 'n wit, dunvel-druif wat die beste rosyne wat vandag beskikbaar is, produseer. Die klein bessies is ovaal en verleng, bevat nie sade nie, en het 'n hoë suikerinhoud.
    So vloei ons plaaslike bemarkingsketting: vanaf die boer na die sekondêre verwerkers en daarna na die kleinhandelbedryf en uiteindelik na die verbruiker. Die prys van die rosyne word bepaal deur die gehalte en grootte van die oes – byvoorbeeld, as die oes klein was, sal die prys hoër wees as gevolg van die lae aanbod. Rosyne word gegradeer as óf industriële graad wat plaaslik verkoop word aan die sekondêre verwerker (of direk aan die kleinhandelaars), en rosyne van ʼn beter gehalte word uitgevoer.
    Suid-Afrika is 'n netto-uitvoerder (meer uitvoer as invoer) van rosyne, omdat ons meer produseer as wat ons plaaslike mark kan gebruik. Suid-Afrika word beskou as die wêreld se sesde grootste produsent van hoëgehalterosyne vir die uitvoermark. Sowat 70% van die druiwe vir droogmaak, word  gekweek word in die Noord-Kaap langs die Oranjerivier.

Rosyntjieproduksie vind ook plaas in Namakwaland, en sommige dele van die Wes-Kaap.  Suid-Afrika se rosyntjieproduksie was gedurende die 2012/2013-seisoen ongeveer 37 826 ton, wat ʼn toename van 32% was in vergelyking met die vorige jaar. In 2010/2011 het produksie as gevolg van oorstromings met 43% gedaal.
    Suid-Afrika voer meer as 50% van sy rosyntjieproduksie uit na internasionale markte, met die Verenigde Koninkryk en die Europese lande ons belangrikste uitvoermark. Hierdie twee markte was verantwoordelik vir meer as 63% van ons totale rosyntjieuitvoer in 2012. Ander uitvoermarkte is Noord-Amerika en Kanada ( 20%), die Verre Ooste en die Midde-Ooste.

Tafeldruiwe
    Volgens die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf Industrie (SATGI), is  Suid-Afrika die Noordelike Halfrond se oudste en mees betroubare verskaffer van tafeldruiwe. Tafeldruiwe is druiwe wat bedoel is vir verbruik terwyl hulle vars is, in teenstelling met druiwe wat gekweek word vir die produksie van wyn, sap of om te droog vir rosyntjies. Tafelgewasse het gewoonlik ʼn laer suikerinhoud as wyndruiwe. Suid-Afrika produseer 'n wye verskeidenheid tafeldruiwe wat oor 'n tydperk van sewe maande geoes word – die oestydperk begin in Oktober en eindig in Mei. Die hoofdruiwekultivars is Thompson Seedless, Crimson Seedless, Red Globe, Prime Seedless en Sugraone.
    Die totale globale produksie van tafeldruiwe in die 2012/2013-seisoen was 17.15 miljoen ton.  China is die grootste produsent van tafeldruiwe in die wêreld. Turkye, die EU -27 en Brasilië is van die ander topprodusente van tafeldruiwe, en gesamentlik produseer hulle altesaam 5,4 miljoen ton, wat gelykstaande is aan 32% van die globale produksie.
    Die totale wêreldwye uitvoer van tafeldruiwe het 2,5 miljoen ton in die 2012/13 seisoen behaal. Interessant genoeg, alhoewel China die grootste produsent van tafeldruiwe in die wêreld is, voer hulle net 1,7% van hulle produksie uit. In 2012 was Chili die grootste uitvoerder van tafeldruiwe, met 'n globale aandeel van 31,2 %, gevolg deur die VSA met 'n 14,2 %-aandeel, en Suid-Afrika met 'n 11 %-aandeel.
    Tafeldruif-oesskattings vir die 2013/2014-seisoen in Suid-Afrika is tussen 52 en 54 miljoen kartonne (1 karton = 4,5 kg). Die voorspelling dui op 'n klein afname in vergelyking met die vorige seisoen, wat toegeskryf kan word aan onvoorspelbare weerstoestande en ander produksiefaktore.

Noord-Europa en die Verenigde Koninkryk is die belangrikste bestemming vir Suid-Afrikaanse tafeldruifuitvoere, met 56% wat uitgevoer word na noordelike Europa, en 23% na die Verenigde Koninkryk. Kleiner Suid-Afrikaanse uitvoermarkte  is Suid-Oos Asië en die Midde-Ooste.
    Die aanvraag na pitlose tafeldruifkultivars het stedelik toegeneem in die afgelope ses seisoene, en die produksie van swart pitlose variëteite het die meeste gestyg.  
    Aanvraag na pitdruifgewasse het steeds gedaal, en hierdie tendens kan toegeskryf word aan die verbruikersmaak in Noord-Europa en die Verenigde Koninkryk wat leun in die rigting van gerief.

In Suid-Afrika het ons vyf belangrike tafeldruifproduksiestreke, naamlik die Noordelike Provinsie, die Oranjerivier-streek, die Olifantsrivier-streek, die Bergriviervallei-streek en die Hexriviervallei-streek.
    Noordelike Provinsie: Hierdie streek se subtropiese klimaat kombineer ʼn vroeë somer en warm klimaat en is dus die ideale klimaat vir druifvariëteite wat vroeg ryp word (November tot middel Desember). Alhoewel hierdie streek die meeste produsente het (116), en die grootse area wat verbou word (5254 ha), produseer dit net 7,8% van die Suid-Afrikaanse totaal.
    Olifantsrivier-streek:  Die warm klimaat van die Clanwilliam- en Vredendal-omgewing beteken ook druiwe wat vroeg ryp word.
    Bergriviervallei-streek: Die Mediterreense klimaat help om mid-seisoen druiwe van hoogstaande gehalte te produseer -- Red Globe, La Rochelle, Bonheur, Thompson Seedless en Alphonse Lavellee. Hierdie streek is verantwoordelik vir 23,6% van Suid-Afrikaanse tafeldruiwe.
    Hexriviervallei-streek: Die Hexriviervallei het 74 produsente, wat altesaam verantwoordelik is vir 33,7% van Suid-Afrika se tafeldruifproduksie. Hierdie streek het ʼn unieke klimaat wat aanleiding gee tot middel-van-die-seisoen tot laat-seisoen-druiwe – La Rochelle, Crimson Seedless, Bonheur, Dauphine en Barlinka.
    Oranjerivier-streek: Hierdie streek is verantwoordelik vir die soetste druiwe as gevolg van die warm winters en warm, droë somers. Die grootse gewas wat hier aangeplant word, is die Thompson-saadloos. Meer as 30,8% van totale Suid-Afrikaanse produksie word deur 52 boere op net 998ha gekweek, met ʼn totaal van 1 823 797 wingerde.

Terwyl ons in Kakamas gekuier het, het ons met Kobus van Zyl van die plaas Loveren gepraat:
Hulle kweek ongeveer 60 hektaar tafeldruiwe vir uitvoerdoeleindes. Variëteite sluit in Thompson Seedless, Sugraone, Flame, Early Sweet, Prime, Crimson en Midnight Beauty.  Tagtig hektaar van die Thompson Seedless en Merbein word verbou vir rosyntjie-uitvoer. Hulle het die boerdery se oppervlak oor die laaste paar jaar vergroot omdat die druk op die landbousektor veroorsaak dat ʼn mens groter eenhede moet besit om mededingend te wees.  
Ongeveer 220 000 kartonne (4,5kg) tafeldruiwe word elke jaar na veral Europa, die Verenigde Koninkryk, die Verre Ooste en Rusland uitgevoer. Uitvoer van rosyntjies na die Verenigde Koninkryk beloop tans 600 ton. Oor die laaste vyf jaar het uitvoergetalle konstant gebly, en ongeveer vyf present van produksie word aan die plaaslike mark gelewer. Die wisselkoers het tans ʼn positiewe invloed op die pryse wat verhaal word.
Die grootse aanvraag is na pitlose kultivars soos die Crimson en hy voel dat pitkultivars besig is om uit te faseer as gevolg van die feit dat daar maar min aanvraag is vir hulle.
Die verbouing van rosyntjies en druiwe is dieselfde, maar deesdae plant hulle die druiwe aan op ʼn gewelkap (in die ou dae het hulle op ʼn teëkap gegroei) want dit maak die pluk van die druiwe makliker.
    Rosyntjiekultivars doen baie goed in Kakamas, en sultanas word spesifiek vir rosyntjiedoeleindes geplant want hulle is baie meer bestand teen die reën. Die sultana het ʼn klein korreltjie van so 6 tot 7 mm en vir uitvoer word dit met natuurlike stowwe (Jip gebreloniensuur) gespuit -- dan vergroot die sultana tot 18 mm.  Dit is baie arbeidsintensief want die sultana moet elke tweede dag gespuit word vir drie weke.
    Met die Meirbein-siklus kan ʼn mens ʼn konstante goeieproduksie handhaaf – ongeveer 40 ton per hektaar. Produksie van sultanas is bietjie meer wisselvallig – dit wissel tussen 8 tot 28 ton per hektaar.
Rosyne word op matte en sementbane onder sinkdakke teen ʼn temperatuur van 38 tot 42 grade vir sewe tot nege dae gedroog.
    Daar is verskillende druifvariëteite wat as rosyne gedroog word: Prime, Flame, die pitlose Festival, die Thompson Pitloos, die Red Globe, en die Midnight Beauty.
Die rosyntjiebedryf is op die oomblik die gesondste wat dit nog ooit was en pryse het na deregulering drasties gestyg. Hierdie jaar is die pryse vir Goue Jumbo baie goed – Goue Jumbo word geproduseer uit die oorskot uitvoerdruiwe wat dan geswael word.
    Die druiwe word verskaf aan aankopers wat dit onder hulle eie handelsname bemark. Ek kies aan wie ek wil lewer, pak dit in ʼn stoor, hulle gradeer dit en gee vir my ʼn skaalprys.
    Daar kan groot verliese met tafeldruiwe saamgaan: met die vroeë kultivars kan die voëls tot 40% skade in sewe dae veroorsaak. Die druiwe is ook baie sensitief vir ryp, en hael beteken ook groot verliese. Hulle verminder hul verliese deur die druiwe toe te maak.
    Die weer speel ʼn baie belangrike rol in rosyntjieproduksie, en die weerpatrone het baie verander in die laaste jare en die verpakkingstyd word stelselmatig later en later. Sestien jaar terug het ons op Nuwejaarsdag al die Thompson- saadlose druiwe verpak – hierdie jaar het ons eers op die 17de Januarie verpak! Reën het ook ʼn groot impak – net een reënbui sit rosyntjieverpakking nege dae terug. Die Midnight Beauty-druif is maar moeilik want hy hou nie van ʼn druppel reën nie.  
    “Daar is baie faktore wat ʼn invloed op die oes kan hê – ons vertrou maar dat dit ʼn goeie jaar sal wees. Boerdery is maar ʼn geloofsaak.”

Data bron (met dank): Suid-Afrikaanse Tafeldruif Industrie