Volg ons op Facebook

Gasvrye Karoo vir oulaas

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| May 30, 2014

Ons onthou almal toe skaliegas en fracking – oftewel hidro-breking – pal in die nuus was.

Ook dat die Minister van Mineraalsake in Februarie 2011 ʼn moratorium op fracking  afgekondig het, en dié weer ʼn jaar later opgehef het. Nou sien ek nog so af en toe ʼn verdwaalde T-hemp of karplakker, maar eintlik het die storie bietjie uit die nuus verdwyn. So, het die hele ding toe nou oorgewaai?

Allermins. Daar word juis verwag dat, nou met die ver-kiesing agter die rug, die Minister eersdaags gefinaliseerde Tegniese Regulasies (“Fracking-regulasies”) sal promulgeer, en dat skaliegas-eksplorasie in die Karoo kort daarna sal afskop.
    Vyf breë eksplorasiegebiede word voorsien, waarvan drie in die Groot-Karoo (dele van die 3 Kaapprovinsies) is. Hierdie 3 gebiede sluit Shell se 185 000 km2, die grootste en mees berugte van die vyf, in. Dorpe soos Fraserburg, Victoria-Wes en Hanover val binne eksplorasie-gebiede; Beaufort-Wes, Aberdeen en Graaff-Reinet net daarbuite. In die Oos-Kaap val dorpe soos Cradock, Somerset-Oos, Adelaide en Queenstown ook binne of net buite. Almal lekker dors plekke waar mens grootword om ʼn kraan toe te draai as jy tande borsel – vir dié wat krane en tan-deborsels het.
    Gegewe fracking se wêreldwye ongure reputasie, is dit nie dwaas en onverantwoordelik nie? Ek het gaan kyk na wat in ander lande aan die gang is, en tot die gevolgtrekking gekom dat
meningsvorming in baie lande tot ʼn beduidende mate in reaksie tot die voordeel van Amerika (die bakermat van fracking) was en is: die voorspoed en vergrype; dat wêreldwyd water as die nommer een kwessie na vore tree, nou ook vir wetgewers in die VSA.  
    In hierdie, die eerste van twee artikels, kyk ek na die revolusie wat ontwikkeling van die skaliegasbron in die energie-honger VSA sedert 2005 teweeg gebring het, asook na die jongste skattings oor die voorkoms van dié strategiese energiebron op die planeet.
    In die tweede artikel kyk ek na die historiese vergrype van die industrie in die VSA, en betoog dat die situasie in ons land in kardinale opsigte daarvan verskil, en dat ons regering se besluit nie uit pas met toonaangewende ander lande s’n is nie.  Maar hoe hou gas verband met water, en terloops…  
Wat is skaliegas? - En klink dit maar net so scaly?
Skaliegas is konvensionele aardgas – hoofsaaklik metaan – wat uit ʼn onkonvensionele bron – gasdraende skalierots – ontgin word. Skalierots kan ook oliedraend wees, maar kom ons hou dit by skaliegas en die metaan wat daaruit ontgin word.
    Met metaan kan mens in wese doen wat jy met olie kan – elektriese krag opwek, dit as brandstof gebruik, of as chemiese proses-voerstof om ander molekules en sintetiese stowwe te vervaardig. En natuurlik ook huishoudelik vir kook, verwarming en waterverhitting. Metaan is ʼn onvervangbare fossielbrandstof, maar verbrand aansienlik skoner as steenkool. Metaan-gedrewe kragstasies kan ook heelwat vinniger en goedkoper opgerig word, en dus flinker op strategiese kragtekorte reageer.
    Anders as in die noordelike halfrond speel gas – hoofsaaklik omdat die meeste ingevoer moet word – tans nie ʼn groot rol by ons nie. Volgens Sensus 2011 is byvoorbeeld slegs 0.3% van ons landelike huishoudings daarvan afhanklik vir beligting, en 3.7% vir kook. In teenstelling maak 55% van Amerikaanse huis-houdings van gas gebruik.
    Terug by metaan. Tensy mens dit verbrand, is atmosferiese metaan ʼn kweekhuisgas wat tot 25 keer meer effektief hitte as CO2 (koolstofdioksied) absorbeer. Stygende atmosferiese metaanvlakke is tans wêreldwyd ʼn groot bekommernis – en word verwag om net te vererger namate – tans die tendens – metaanryke ysgrond (“permafrost”) in Rusland, Kanada en Alaska verder nog ontdooi. Omdat klein en groot ongelukke gebeur, kan die ontginning, stoor en vervoer van aardgas potensieel ook ʼn beduidende bron van emissies wees.
    Konvensionele aardgasbronne soos sandsteenformasies word gekenmerk deur hoë deurlaatbaarheid (permeabiliteit) binne die rotsmatriks. Die rotsdeeltjies is relatief grof, onder minder druk, en dus nie so dig op mekaar gepak nie. Gas en vloeistof kan dus maklik deur gapings tussen die deeltjies vloei en deur die matriks beweeg. Boor ʼn gat in een plek, en gas migreer deur die matriks na die laer druk in die gat. Sogenaamde “blow-outs” (en onbeplande emissies) is dus ook ʼn beduidende risiko in konvensionele gate. Gate kan egter op konvensionele maniere geboor word, en het tipies ʼn lang produktiewe lewensduur. Van ons buurlande, soos Mosambiek (en Tanzanië), het beduidende gasvelde, maar ons eie bronne aan die Kaapse kus is beperk.
    Skalie is nes sandsteen ʼn sedimentêre gesteente, met ander woorde modder of sand wat onder druk en hitte (begrawe) weer klip geword het, ʼn poses wat etlike miljoene jaar duur. Petroleumryke sandsteen, skalie, kalksteen en ander bronne van aardgas en ru-olie, is eenvoudig sand en modder wat met groot hoeveelhede organiese materiaal in oer-omgewings soos riviermondings, mere, strande, ens. begrawe geraak het oor miljoene jare. Bakterieë en ander mikro-organismes was dan verantwoordelik vir die omskakeling van die materiaal na olie of gas.
Trae modderklip
    Maar anders as sandsteen bestaan skalie (sliksteen of moddersteen – die naam sê dit al) uit baie fyner rotsdeeltjies, wat baie digter in die rotsmatriks gepak is. Gasdraende skalieformasies lê tipies op ʼn diepte van so 4-5 km begrawe, en die hele, grotendeels homogene formasie is dus onder ontsaglike druk. Groot frakture, breuke, some of luggate waarin olie of gas kan versamel, kom nie as ʼn reël voor nie. In die Karoo is plaaslike intrusies (ondergrondse opwellings) van graniet en ander gesteentes egter gewoon, sodat gas en vloeistof wel uit die skalie na ander formasies hul pad kan vind, en dinge wat mens gewoonlik nie in skalie kry nie – byvoorbeeld natuurlike radio-aktiewe materiaal – van plek tot plek raakgeboor kan word.
    Die gevolg van skalie se lae deurlaatbaarheid, is dat gas en vloeistowwe baie traag en onwillig deur sy matriks beweeg. Waar gas voorkom, kom dit redelik wyd verspreid binne ontelbare fyn krakies en in matriksporieë voor, maar nêrens gekonsentreerd nie. Omdat die matriks so dig en ondeurlaatbaar is, sal gas nie op eie inisiatief soontoe migreer nie. Luidens die bevindinge van ʼn onlangse Nederlandse regeringsstudie, is “blow-outs” daarom ook nie ʼn wesenlike gevaar nie. Slegs die gas in die baie onmiddellike nabyheid van die wand sal ooit “uitlek”, ontgin kan word – in ʼn konvensionele, vertikale gat met ʼn gladde wandopper-vlakte, op daardie diepte eenvoudig nie lonend nie.  
    Deur egter oppervlakte-blootstelling (van die rotsmatriks aan die gatwand) te vergroot, kan ʼn gat meer produktief gemaak word. Dít deur horisontaal te boor (skalieformasies is tipies horisontale strata of geologiese lae), en dan die gat te “frack” - om deur middel van ʼn vloeistof onder hoë druk netwerke van krakies in die bros matriks naby die gat te “skok”, sodat meer gas kan “uitlek”. Om die krakies oop te hou, word groot hoeveelhede sand tipies as stutmiddel (proppant) saam ingespuit. Die kombinasie van horisontale sinking (dikwels in verskillende rigtings vanuit een vertikale gat) en ʼn spesifieke vorm van fracking, “slickwater”-hidro-breking, het dit vanaf die laat 1990’s tegnies-lonend geraak om skaliebronne op kommersiële skaal te ontgin. En hier lê ook die hele probleem, want soos in die tweede artikel beskryf word, is daar ernstige risiko’s aan die tegniek verbonde.
Skaliekoors
    Alle bronne is dit eens dat die kommersiële ontginning van skaliegas in minder as ʼn dekade tot ʼn spreekwoordelike revolusie in dié land se energievoorsiening gelei het. Volgens die VSA se aangeskrewe Energy Information Administration (EIA), is die VSA tans die wêreld se voorste (en naas Kanada, enigste) kommersiële produsent van skaliegas - tans 39% van sy algehele aardgas-produksie. Volgens die EIA kon die land sy aardgas-produksie met 18% binne 5 jaar opstoot, en in Maart 2012 Rusland as die wêreld se voorste produsent uit die kussings lig. Volgens die US Department of Energy (DoE) kan die land binne die volgende dekade selfs ʼn netto-uitvoerder van vloeibare gas word. Vir ʼn land wat so fossielbrandstofhonger is, en so senuweeagtig oor onbelemmerde toegang tot sy gewaande bronne, is dit natuurlik fantastiese nuus - vir wêreldvrede ook trouens.
    Volgens die Wêreldbank (2012) is skaliegas die hoofrede dat Amerikaanse gaspryse tans ʼn derde van dié in Europa is. Die voordeel vir verbruikers daar is ooglopend. Soos ʼn bekommerde Britse Hoërhuis-komitee in Mei vanjaar betoog het, baat ook die Amerikaanse ekonomie by die goedkoper krag. Goedkoper, skoner-brandende gas het ook ʼn lonender bron vir elektrisiteitsvoorsieners in die VSA bo tradisionele steenkool geword. So kon die VSA daarin slaag om sy kapasiteit en verbruik op te stoot sonder enige verhoging van sy kweekhuisgas-emissievlakke. Boonop word aansienlike ekonomiese belegging en werkskepping met skaliegas-ontginning verbind – Pennsilvanië, een van so vyf state met beduidende skaliegasbronne, raam byvoorbeeld (2012) dat die industrie 18 000 direkte nuwe werksgeleenthede in dié staat geskep het.
Die skaliegasbron
    Die VSA is nie die enigste land met beduidende bronne nie. Volgens ʼn wyd-aangehaalde EIA-ondersteunde studie (Junie 2013), word die globale bron tans op 7 229 triljoen kubieke voet (Tkv) geskat – ongeveer 32% van die tegnies-ontginbare aardgas op die planeet. Skaliegasbronne is gekonsenteer in 137 formasies in 41 lande. Na skatting het China die  grootste – ongeveer 15.5% van die wêreldtotaal. Die VSA het die vierde grootste (9.2%), en Suid-Afrika die agste grootste bron - 390 Tkv, oftewel 5.4% van die wêreldtotaal. Teen net meer as die helfte van die VSA se geskatte reserwe, is ons 390 Tkv dus aansienlik, veral in ag genome wat dit vir daardie heelwat groter land beteken het. Hoeveel is 390 Tkv? Meer as drie keer die totale wêreldproduksie van aardgas in 2010 (110 Tkv). Die EIA studie gee geredelik toe dat die skattings op hierdie stadium (by gebrek aan boorgatdata) nog baie voorlopig is. Die 390 Tkv skatting vir Suid-Afrika word dan ook vanuit sekere geledere bevraagteken, en 30 Tkv as ʼn meer realistiese syfer voorgestel. As mens egter in gedagte hou dat Mossgas (Petro-SA) in Mosselbaai – tans met 1 600 mense in diens - op grond van 1 Tkv opgerig is, dan is selfs 30 Tkv nie te versmaai nie.
    Om hierdie redes maak die jongste weergawe (November 2013) van Suid-Afrika se elektrisiteits-voorsieningsplan tot 2030 (IRP 2010-2030-3) nou voorsiening vir verskillende gas-scenaria. Een daarvan is die “Big Gas”-scenario, wat veronderstel dat aansienlike ontginbare gasbronne wel in die Karoo ontdek word, teen 2025 ʼn bydrae aan elektrisiteitsvoorsiening begin maak, en teen 2050 goedkoper (per eenheid krag) as ander bronne gaan wees, en aan soveel as tot 60% (62 480 MW – gelykstaande aan so 34 Koeberg-stasies) van ons elektrisiteitsbehoeftes sou kon voorsien. ʼn Drastiese afskaling van ons afhanklikheid van steenkool en kernbronne dus – in beide gevalle nie sonder duidelike voordele vir die omgewing nie.
    Myns insiens is dit daarom nie ontereg dat President Zuma na skaliegas as ʼn potensiële “game changer” in vanjaar se Staatsrede verwys het nie. ʼn Ekonomie geskoei op ons eie skoner, goedkoper, kernvryer krag, en die belofte van tandeborsels en moontlik heelwat meer vir almal in die Karoo… As alles maar so maklik was!
    In die tweede artikel (Julie-uitgawe van Plaastoe!) kyk ek na hoekom fracking so ʼn ongure reputasie gekry het, en vind dat dié grootliks aan die Amerikaanse industrie se vergrype te danke is, op sy beurt weer ʼn direkte gevolg van permissiewe wetgewing daar te lande. Ons kyk na die verskille ten opsigte van Suid-Afrika in hierdie verband. Ten slotte betoog ek dat ons regering se besluit om die frack van eksplorasiegate toe te laat nie onverantwoordelik of uitsonderlik is as mens kyk na wat op die oomblik in ander lande met beduidende skaliegasbronne aan die gang is nie.  


 

Die meeste bronne wat vir die skryf van hierdie artikel gebruik is, is as inligtingstukke, opsommings, verslae, en wetgewing op die webtuistes van die relevante regeringsinstansies in Suid-Afrika (Departemente Energie en Mineraalsake; Stats SA; Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake (DEA&DP), die VSA (EPA, EIA), en Nederland (Nederlandse Olie en Gas Portaal) beskikbaar. ʼn Baie leesbare artikel oor metaangas het in die Desember 2012 uitgawe van National Geographic Magazine verskyn, en kan gerus geraadpleeg word. Die BBC en ABC (Australië) se webtuistes is vir inligting in daardie lande geraadpleeg. Wikipedia-artikels is vir sekere algemene en sekondêre inligting geraadpleeg.