Volg ons op Facebook

Loop hier suurlemoensap deur?

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| June 25, 2014

Sitrusswartvlek en die Spaanse rampjaar 2014.

Laurel Cadle (“Sitrusverbod”) het in die Februarie 2014-uitgawe van Plaastoe! berig oor die verbod wat die EU in November 2013 op die invoer van ons 2012-2013 sitrus-oes (m.a.w. ons seisoen se produksie tot Oktober 2013) ingestel het.

Dít na aanleiding van die onderskepping van 35 vragte van ons sitrus vroeër verlede jaar wat met die swamsiekte sitrus-swartvlek (SSV) besmet was. Daar is ook berig oor hoe ʼn groot deel van ons uitvoere direk deur die verbod geraak is, hoeveel boere, arbeiders en ander mense se bestaan as gevolg daarvan hier in die gedrang gebring is. En ook dat die EU-mark (skaal) wesenlik vir ons uitvoerbedryf is, en in die praktyk nie in die kort- en medium termyne met uitvoere na China, die VSA of die res van Afrika vervangbaar is nie.

En soos ons weet, het die EU se staande Fitosanitêre Komitee in Brussel aan die einde van Mei vanjaar weer eens streng maatreëls met betrekking die invoer van vanjaar se oes (ons produksie tot min of meer Oktober 2014) afgekondig. Soos vantevore, geld basies dieselfde grondliggende reël: five strikes and you are out. En ons groeiers en die EU-invoerders van ons produkte word aan streng en duur maatreëls onderwerp.
           Dít terwyl ʼn paneel internasionale kenners oor SSV reeds vanaf 2013 daarop wys dat die oordrag van SSV deur middel van besmette vrugte tot op hede onbekend is, en – meer beduidend – dat die siekte wêreldwyd net in subtropiese gebiede voorkom (waarvan geen in die EU nie). Die paneel het deskundiges van die wêreld se mees toonaangewende spelers ingesluit – soos die VSA, Suid-Afrika en Brasilië (by verreweg die wêreld se voorste verbouer van lemoene).
           Ek het bietjie in die internasionale pers gaan rondsnuffel oor die jongste verwikkelinge, en ook met Mnr Hannes de Waal, die uit-
voerende bestuurder van die Sundays River Citrus Company (Pty) Ltd (SRCC), gesels. Die SRCC is gebaseer in Addo in die Oos-Kaap, en is die grootste sitrusverpakkers en –bemarkers in suidelike Afrika, en is ook nou betrokke by plantnavorsing en –ontwikkeling.

ʼn Swam wat veral vrugte ontsier en die drag verminder

Maar wat is SSV, en waarom is dit volgens die Europeërs so gevaarlik? Soos genoem, is dit ʼn swamsiekte. Die swam Guignardia citricarpa is skynbaar van onbekende herkoms. Dis vir die eerste keer in ʼn boord in Australië in 1879 ontdek, daarna in Suid-Afrikaanse boorde (Natal) in 1929. Met uitsondering van Europa, is die swam tans gevestig in sitrusproduserende streke op alle bewoonde kontinente (asook ʼn paar eilande). Swartvlek kom ook in ander plantsoorte (rose, mango’s en kwepers) voor, maar word elk deur ʼn verskillende spesieUntitled-1 swartvlek veroorsaak (dus nie G. citricarpa nie).
          SSV kom tot dusver net in boorde in subtropiese somerreënvalstreke voor – onder meer ʼn gevolg van sy komplekse verspreidingsmeganismes, waarby temperatuur, humiditeit en windfaktor alles ʼn rol speel. Die swam tas veral plante onder stres aan (dié wat reeds siek is; waterstres ondervind, ens.), en het ʼn besondere voorliefde vir suurlemoene en sekere gewilde lemoenkultivars soos Valencia, maar dit kan ook ander sitrussoorte (tot ʼn mindere mate) aantas.

          Untitled-3Spesifiek die plant se vrugte en blare word geaffekteer – die flavedo (buitenste laag van die vrugskil) word ontsier deur ʼn netwerk van vlekkies en/of krakies, en die vrugte is as ʼn reël ook kleiner. Aan-getaste blare verkleur en verdroog gewoonlik vinniger as ander blare op bome. Aangetaste bome se produksie kan beduidend minder word (20-30%).
         Die probleem is dat die swam ʼn voorliefde het om homself eers sigbaar te maak sodra vrugte geoes en verpak is – dus moeilik om betyds in die boord te diagnoseer en te behandel – en as dit eers verskeep is, is dit natuurlik te laat – só ʼn versending word terugge-stuur (met groot verliese vir die produsent).
Selfs ʼn puisie-meisie kan lekker vry?

          ʼn Aangetaste vrug is onooglik, maar hou vir die verbruiker geen gesondheidsgevaar of bedorwe smaak in nie. Europese verbruikers (maar ook dié in die VSA) is egter baie puntenerig: hulle is gewoond aan keuse, multinasionale aanbod, en veral gesteld op die visuele voorkoms van groente en vrugteprodukte – een van die groot redes waarom die Nederlandse tonnelgroente-bedryf sulke massale hoe-veelhede beeldskone smaaklose tamaties, paprikas, komkommers, ens. regdeur jaar kan verkwansel aan die res van Europa en die Midde-Ooste. Daarbenewens het Wes-Europeërs (Duitsers, Hollanders, Skandinawiërs en Britte) mos verskriklik ieppiekonners, en beur hul pers voort van die een industriële voedselskandaal na die volgende – waardeur traumatiese gebeurtenisse soos die massa-uitwissing van beeskuddes na aanleiding van BSE in die 1990’s; en meer onlangs die voet-en-mond-epidemie – in vele geheues ingeëts is.
          En dit wat die oog sien, is natuurlik alles in ʼn markplek wat ook grootliks een van selofaan-verpakte kos aan’t worde is – waardeur mense hulle neuse en ander sintuie dus begin afskeep in hul koskoop-oorweginge, en byna uitsluitlik met hul oë kies.
          Europese groeiers is dus in beginsel nie onredelik nie: as so-iets soos SSV nog nie by jou voorkom nie, wil jy dit natuurlik vermy. Niemand wil immers aan die gevaar dat hul toekomstige oeste erg geknou sou kon word, blootgestel word nie – of skielik met die bestryding van ʼn nuwe bedryfspes te make te moet hê nie.

          Maar soos heelwat internasionale kommentators opmerk, ʼn paneel internasionale deskundiges het verlede jaar reeds bevind dat die oordrag van SSV deur (ingevoerde) vrugte uiters onwaarskynlik is: alle navorsing dui daarop dat die swam net in boorde in subtropiese grondstreke vestig; en voorts lyk dit of die swam net deur middel van besmette blare of Untitled-4lewendige plantmateriaal versprei kan word.
          Soos reeds genoem, is al die EU se grondstreke in lande met ʼn Middellandse see-kilmaat geleë: Spanje, Portugal, Griekeland en Ita-lië. Produsente in Noord-Afrika (Egipte, Marokko, Algerië en Tunisië) en die Nabye Ooste (Turkye en Israel) kweek hul sitrus onder dieselfde groei-omstandighede. En só ook ons groot sitrusgroeiers in die Wes-Kaap (Olifantsriviervallei) – waar SSV nog nooit ʼn probleem was nie, desondanks dat vrugte met swartvlek vrylik in Suid-Afrika kan rondbeweeg.
         Voorts voer ons – ondanks aansienlike marknavraag uit die Midde-Ooste, waar kopers van so ʼn klossie blare saam met hul lemoene en suurlemoene hou – deesdae uitsluitlik vrugte uit, baie spesifiek sonder blare. Die vrugtekultivars wat uitgevoer word, is boonop almal steriel, en kan dus nie nuwe boompies voortbring nie.

So waarom die EU se hernieude verbod?

Outspan vs Outspain

          Brussel se onlangse besluit is voorafgegaan deur politieke druk vanaf veral die kant van Spaanse sitrus-groeiers (die EU se grootste sitrusverskaffers). Dié wil hê dat ook vrugte wat vir verwerking deur die EU ingevoer word (vir versapping, ens.) voortaan aan SSV-inspeksies blootgestel word – tot dusver nie ʼn vereiste nie. Wat het die ouens teen ons? Hemel, hul laaste Wêreldbeker hier by ons was immers die lékker een!
          Waar daar rook is, is daar gewoonlik ook vuur. So is dit byvoorbeeld insiggewend dat die Spaanse pers en groeiersverenigings onlangs berig dat die bedryf onder die ergste droogtes in 150 jaar deurloop (konyne begin glo boomklim agter die groen aan), dat hulle tans met ʼn oorskot klein lemoene (goed vir versapping) sit, en dat pryse vir hul produkte oor die afgelope jaar vir sekere variëteite met tot 50% gedaal het as gevolg van markfaktore – dít volgens ʼn persver-klaring van die Andalusiese Sitrusgroeiersvereniging Heulva (5 Junie), wat tans ongeveer 51% van Spanje se lemoenproduksie lewer (260 000 ton lemoene in die 2013/14 groeiseisoen). In hierdie verband wys ʼn groot Nederlands-gebaseerde invoerder vroeër vandeesmaand daarop dat veral Spaanse lemoene deurgeloop het – die 2013/ 2014-oes vir dié sektor het ʼn verlies van €531 miljoen beleef.
          Volgens Hannes de Waal word die Spaanse industrie boonop gekenmerk deur die groot hoeveelheid groeiers met klein plase – dít in ʼn globale konteks waar groter sitrusplase die produktiewe oorlewingsreël in wording is. Boonop het die EU-subsidies vanaf ongeveer 2011/ 2012 begin wegval – ongeveer die tyd toe SSV ook ʼn kwessie begin word het vir die EU. Jong Spaanse boere – soos die uiters vokale Asaja-Andalucía-groeiersvereniging – wat onder hierdie omstandighede nog probeer vestig, voel daarom veral die knyp.
          En dit lyk my is die wesenlike konteks wat mens in gedagte moet hou. ʼn Europese toepassing van die “precautionary principle” (dieselfde regsbeginsel waarvolgens “fracking” [skalie hidro-breking] tans in Frankryk verbode is) ja, maar een wat onteenseglik baie handig te pas kom vir ʼn beleërde Spaanse sitrusbedryf. ʼn Woordvoerder  van die Spaanse bedryf het juis verlede week toegegee dat kompetisie van “invoere van lande buite die EU” een van die redes vir vanjaar se swak vertoning was. En, soos reeds genoem, die Spanjaarde sit reeds met ʼn groot oorskot klein vrugte wat hul liefs bo ons s’n in die EU sal laat verwerk – daarom waarskynlik nou ook die aandrang op die insluiting van vrugte bestem vir verwerking by SSV-inspeksies (en die toepassing van die kwantitatiewe uitklopreël).

Addisionele kostes vir ons produsente

         Ondertussen word ons bedryf blootgestel aan allerhande addi- sionele onkostes en logistiek, ens. ten einde die EU en (ook die VSA) se voorskrifte met betrekking tot SSV na te kom. Ja, ook die VSA, want SSV is tans die hoofrede waarom verbouers uit ons somerreënvalstreke, ongeag die groot huidige sitrustekort in die VSA, steeds nie na die VSA mag uitvoer nie (hoewel daar tans aan ʼn opheffing van dié verbod gewerk word). Ja, die Amerikaners het vanjaar ʼn hengse tekort aan veral lemoene vir versapping – hoofsaaklik vanweë die bakteriese siekte HLB (“citrus greening disease”) beleef Florida vanjaar die kleinste oes in dekades. Brasilië, die VSA se normale verskaffer, waar die implementering van maatreëls om HLB te bekamp onlangs tot die uitwissing van 30 miljoen lemoenbome in die Misiones-provinsie gelei het, beleef ook vanjaar ʼn groot tekort.
          Volgens Hannes word die Sondagsriviervallei-groeigebied in die Oos-Kaap as van die beste suurlemoengroeigebiede ter wêreld beskou. Ons Valencias uit die noorde van die land groei in nagenoeg perfekte omstandighede. En Wes-Kaapse lemoene word gekenmerk deur hoë suikersure, en ʼn reputasie as soet vrugte.

          Ons het dus ʼn produk – oftewel sitrusprodukte – om die res van die wêreld te bied. Opvallend ook hoeveel EU-groothandel- vars-invoerders ons “Outspan” as banierhandelsmerk in hul bemar-
king gebruik (sien bv. die webtuiste van die Nederlandse/Belgiese invoerders en verspreiders Total Produce B.V., ʼn toonaangewende maatskappy wat reeds in 1850 gestig is, en tans een van die grootste van hul soort in Europa is).
          Tans kos addisionele maatreëls om SSV te voorkom ons bedryf veral in terme van addisionele kostes, mannekragbesteding en tyd. Volgens Hannes word daar bereken dat die toepassing van SSV in die Sondagsriviervallei hierdie seisoen die bedryf ʼn addisionele R17 miljoen slegs aan bykomstige landbouchemikalieë gekos het. En met inspeksies, laboratoriumtoerusting, ens., vat ʼn besending ook tot 2 dae langer (ʼn direkte verlies aan rakleeftyd) om die EU te bereik.

Gebelgd – maar andersins op ʼn gesonde voetstuk

          Untitled-2Met ons rug teen die muur – soos die Spaanse sitrusbedryf – sou ons waarskynlik nie veel anders opgetree het nie.
          En, sê Hannes, miskien is dit ook ʼn wake-up call vir ons hele in-dustrie. Dis tyd om ons produksiemetodes ook ten opsigte hiervan in pas met die res van die wêreld te kry. Andersins is die algemene vooruitsigte vir ons lemoensap soet en heerlik.