Volg ons op Facebook

Goedkoop gaskrag - maar mineraalwatersop

Written by  Schalk van der Merwe
| in Landbou
| June 25, 2014

Laas maand se artikel het gekyk na die skaliegas-suksesverhaal in die VSA, en dié bron het die land binne 5 jaar in staat gestel het om sy energiepryse te verlaag

, sy ekonomie meer mededingend te maak, groter energiesekerheid te geniet en werk te skep – en dit alles sonder om sy kweekhuisgasvlakke te verhoog.
Ons het ook gekyk na die voorkoms van die skaliegasbron, en gesien dat ons land self moontlik oor ʼn “game changing” hoeveelheid aardgas mag beskik. Dat die regering in 2012 die moratorium op fracking opgehef het, en dat die promulgering van die Fracking-regulasies wat die pad vir eksplorasie – en  uiteindelik ook fracking – wetlik sal open, eersdaags verwag word. Is dit wys? Wat gebeur in ander lande?  
        Maar waarom ʼn moratorium in die eerste plek, en hoekom het fracking dan so ʼn slegte naam? Soos in die eerste artikel, is dit weer eens insiggewend om na Amerika, die bakermat van fracking te kyk, en spesifiek na die “slickwater”-boortegniek wat daar ontwikkel en danksy uiters industrie-vriendelike wetgewing op maniere toegepas word wat ander nasies met reg laat ril.

“Slickwater drilling”

         “Slickwater drilling” is ʼn tegniek wat dit vanaf die einde van die 1990’s tegnies lonend gemaak het om skaliegas te ontgin. “Slickwater” verwys na ʼn fracking-medium wat hoofsaaklik uit groot volumes water en ʼn ellelange lys gepatenteerde chemiese toevoegsels en sand (proppant) bestaan. “Slickwater” kan byna twee keer vinniger as ander bestaande media in ʼn gat afgepomp word, en dus heelwat meer effektief (en duursaam) breking bewerkstelling. Desnieteenstaande bly die rots wat so blootgestel word steeds beperk – tipies die gedeelte binne ʼn radius van ʼn aantal meter rondom die gat. Dit beteken dat heelwat meer gate as vir konvensionele ontginning benodig word, met korter produktiewe lewensduur. Bestaande gate moet meer dikwels (deur addisionele hidro-breking) gestimuleer word om produktief te bly – tipies so elke 2-5 jaar.
        Die gebruik van water hou ooglopende bekommernisse in. In die eerste plek is die tegniek baie waterintensief. Volgens die bevindings van ʼn Nederlandse regeringstudie (September 2013), kan waterverbruik op gemiddeld 20 000 m3 per gat gereken word. Afhangende van ʼn aantal faktore kan verbruik egter so laag as 9 000 m3 of so hoog as 29 000 m3 wees.
        Dié verslag wys ook daarop dat elke gat gemiddeld tot 10 keer tydens sy leeftyd gefrack sal word. Hoeveel water moet mens jou daarby voorstel? Volgens die verslag is 20 000 m3 gelykstaande aan 1000 tenk lorries vol water. Om 24 eksplorasiegate elk tien keer te frack, sal meer water benodig as wat Beaufort-Wes in ʼn jaar verbruik. Sou produksie egter op dreef kom, praat ons van heelwat meer gate, en aansienlik groter hoeveelhede water.
         Dis egter nie al nie. Die water word met ’n groot hoeveelheid chemiese middels gedokter om allerhande wenslike funksies te vervul – tipies ongeveer 2% per volume. Die middels sluit breker-jels, friksiewerende middels, stabiliseerders en etsmiddels in. Op hierdie stadium is ʼn groot deel van die probleem juis dat ons nie mooi weet wat dit alles insluit nie, en dat die moontlike interaksie tussen die middels en plaaslike formasies swak bestudeer en verstaan word. Tot op hede is patentreg – die beskerming van intellektuele eiendom in die VSA die groot struikelblok.

Untitled-14

        Na afloop van die frack-episode bly so 25-90% van die gedokterde water ondergronds oor, afhangende van elke individuele gat en tegniek (US EPA). Hier kan die water via verskillende meganismes uiteindelik moontlik na boliggende rotsformasies en uiteindelik uit die drinkwatertafel ontsnap. Die 10-75% balans – sê maar so 1 300 m3-23 000 m3 - word as terugvloei (“flowback”) herwin. Die water is nie net besmet met fracking-middels nie, maar ook met stowwe in die rots waarmee dit in aanraking was. In skalie-formasies kan dit giftige suur-vormende metale, swaar metale, en natuurlike radio-aktiewe materiaal (NORMs) insluit, en moet dit as potensieel skadelik beskou word. In die Karoo is die moontlike aanwesigheid van natuurlike radio-aktiewe materiaal wat versteur sou kon word spesifiek ʼn bekommernis.
        Die terugvloei wat herwin word, kan tot ʼn beperkte mate vir die frack van verdere gate gebruik word, maar verloor weldra sy ontwerpereienskappe. Groot volumes afvalwater moet dus uiteindelik ook mee weggedoen word – in die VSA is die inspuiting in uitgediende gate algemene praktyk. In lande soos Suid-Afrika, waar uitsluitlik na bogrondse beskikking gekyk word, wys die Wes-Kaapse skaliegas-taakspan se interimverslag  daarop dat plaaslike kapasiteit en kundigheid tans ontbreek om die terugvloei te suiwer.  
      Daar is ook ander maniere waarop fracking moontlik drinkwater kan beduiwel, byvoorbeeld deurdat die gas (op verskillende moontlike maniere) in die ondergrondse watertafel kan beland. Om nie te praat van die moontlikheid van lekkasies en ongelukke nie.
       Op hierdie stadium staan elke verantwoordelike Suid-Afrikaner se nekhare natuurlik orent, want ons bid te gereeld vir reën, en die Karoo is baie van ons se hartland. So, wat kan hoegenaamd sulke – skynbaar roekelose – watervermorsing regverdig? Hier is dit insiggewend om na Amerika te kyk.  

Die Halliburton-skuiwergat

        In die VSA praat ons van ʼn behoorlike skalie-stormloop na 2005. In Pennsilvanië met sy Marcellus-skalie (die VSA se rykste bron – na raming 140 Tkv), het skaliegas permit-aansoeke van 122 in 2007 tot 3 249 in 2011 toegeneem. Volgens Halliburton (die Texas-maatskappy wat in die 1940’s die wêreld se eerste kommersiële gate gefrack het) was daar teen 2013 reeds ongeveer 1.1 miljoen hoë-volume skaliebreking-booroperasies in die VSA voltooi, en word 90% van alle gasboorgate in die VSA tans deur middel van hidro-breking gesink.
        Die spoed en skaal van ontginning, gekoppel aan ʼn permissiewe Federale reguleringsraamwerk kon egter beswaarlik anders as om tot ernstige vergrype te lei. Omdat mineraalregte in die VSA tipies aan bogrondse regte gekoppel is, was die inkoop van individuele grondeienaars wat vir ontginningsregte genader was, aanvanklik baie groot. Die algemene gejubel en wedersydse gerugkloppery het egter spoedig versuur namate die vergoedingstjeks begin verskraal het, en etlike gemeenskappe in verskillende state ernstige kommer oor die beweerde besoedeling van hul drinkwaterbronne, oor hul gesondheid, en kwynende eiendomswaardes begin uitspreek het.
        Hierdie toedrag van sake – en die industrie se skurkagtige, onbeholpe reaksies daarop – is op treffende wyse deur Justin Fox in sy Oscar-genomineerde dokumentêr Gasland (2010) aan die kaak gestel. Ek dink die invloed van die film kan beswaarlik onderskat word. Juis op ʼn tydstip toe kommersiële eksplorasie buite Noord-Amerika op dreef begin kom het, het dit gehore regoor die wêreld op die gevare van “slickwater drilling” bedag gemaak.

Untitled-14

          Ek dink egter Gasland hou ʼn misleidende prentjie vir ons as Suid-Afrikaners voor. Mens moet in gedagte hou dat dit in die VSA ʼn stormloop was, en verder veral let op die permissiewe wetskonteks wat die Energy Policy Act (2005) daar geskep het. Benewens omvattende belastingsvoordele vir die mineraal- en energiesektore, is hidro-breking van ʼn rits bestaande Federale omgewingswetgewing vrygestel – insluitende bepalings van die Clean Air Act, die Clean Water Act, die Safe Drinking Water Act, sowel as die sogenaamde “Superfund”-wet (waarvolgens besoedelaars vir die kostes van besoedeling aanspreeklik gehou kan word). Dít is die berugte “Halliburton-skuiwergat”, na aanleiding van eertydse Vise-president Dick Cheney, vanaf 1995-2000 die HUB van Halliburton,  se beweerde aandeel aan die wetmakery.  
        In die praktyk beteken dit dat omgewingsimpakstudies (OIS) en publieke deelnameprosesse selde in die VSA onderneem word. Permitte is wel nodig, maar afhangende van die staat kan selfs plaaslike owerhede die nodige grondgebruikspermitte uitreik. Die Environmental Protection Agency (EPA) se oorsigsfunksie is ook ernstig aan bande gelê deur sy beperkte mandaat. Hidro-sensusse en ander “baseline”-studies van bestaande plaaslike waterbronne is nie ʼn vereiste nie, en moniteringsprogramme is dus beperk. Boorders is ook nie verplig om die chemiese samestelling van hul “slickwater” bekend te maak nie. Hulle mag ook van hulle afvalwater in uitgediende gate ontslae raak. Federale wetgewing spreek ook nie juis die operateur se aanspreeklikheid om uitgediende gate in stand te hou aan nie.
         Tot tyd en wyl bly dit die geval. ʼn Besorgde Kongres het wel in die 2010 die EPA afgevaardig om ʼn omvattende studie met betrekking tot hidro-breking en die risiko’s ten opsigte van waterbronne te onderneem. Die finale bevindinge van die studie word later vanjaar verwag, en mag dalk weer nuwe lewe in ʼn wetsontwerp uit 2009, 2011 en 2013 blaas wat operateurs sal verplig om “slickwater“-bestanddele ten volle bekend te maak, ongeag van patentregte.

Hoe lyk dinge by ons?

shutterstock 143249806a

        By ons lyk die prentjie aansienlik anders. Fracking sal in die eerste instansie aan die Fracking-regulasies onderhewig wees. Die Konsep-regulasies (Oktober 2013) gee ʼn aanduiding dat oorweging aan aspekte rondom waterbronne gegee is, en sluit “no go”-areas, omvattende moniteringsprogramme, verpligtinge in terme van uitgediende gate, die uitsluitlike bogrondse beskikking van afvalwater, en die verpligte volle  bekendmaking van alle “slickwater”-bestanddele in.
         Daarbenewens sal fracking ook onderhewig wees aan die bepalings (en magtigings/ permit-vereistes) van die Omgewingswet (NEMA), afval- en lugkwaliteit se NEMA-wette (NEM:WA en NEM:AQA), die Nasionale Waterwet, en provinsiale soneringswetgewing. Verdere permitte mag ook met betrekking tot radio-aktiewe materiaal en gevaarlike (“hazardous”) stowwe benodig word. Omvattende moniteringsprogramme, ook nadat gate uitgedien is, sal ʼn groot rol in sleutelmagtigings speel. Boonop het die Minister onlangs aangedui dat die eksplorasiefase beperk sal wees, en dat geen gate binne die eerste 2 jaar van die eksplorasiefase daadwerklik “gefrack” sal word nie. Die hoop is dat dit implementeringskapasiteit ʼn kans sal gee om die nodige voorbereidings te tref.
         Soos etlike regeringsverslae bevind het, kan ons eers betekenisvol gesels sodra basiese dinge beter verstaan word. Soos byvoorbeeld hoe groot die ontginbare bron werklik is, wat onder die grond op vondsplekke in terme van geologie en geo-hidrologie aan die gang is, ens. Dít lê ten gronde aan die ophef van die moratorium in 2012, en ʼn besluit om op gefasseerde wyse beperkte eksplorasie vir die volgende aantal jaar toe te laat, totdat data meer duidelikheid gee.
         Volgens my is dit die mees verantwoordelike besluit moontlik – geen selfrespekterende regering kan met so ’n groot strategiese bron sit sonder om ten minste nadere ondersoek in te stel nie. En, soos my navorsing aandui, is dit min of meer ook die huidige toedrag in Europese lande en Australië.

“Frack off, but not too far”

        Teen 2012 was fracking in ongeveer 190 jurisdiksies (lande, state, streke, ens.) óf verbode óf onder moratorium. Frankryk is die enigste land met beduidende bronne waar ʼn algehele verbod op fracking heers, en Vermont die enigste VS-staat. Kortliks gestel het die meeste lande egter ons pad gevolg: ʼn moratorium, gevolg deur die aanstel van amptelike studies, regulasies, en ontluikende eksplorasie.
        In die VK, Nederland en Duitsland heers daar tot tyd en wyl vir alle praktiese doeleindes nog ʼn moratorium. Die integriteit van drinkwaterbronne en ondeursigtige gesondheids-risikofaktore is veral kwessies van kommer in kontinentale Europa. In die VK speel vrese dat die tegniek plaaslike aardbewings kan induseer, verder mee. In die VK was daar reeds verskeie openbare protes-aksies – waaronder verlede somer se vier maande lange Balcombe-aksie in Wes-Sussex, wat na raming die Britse belastingbetaler £4 miljoen se polisiëringskoste uit die sak gejaag het. In al drie lande is amptelike studies sedert 2010 met betrekking tot die omvang, haalbaarheid en risiko’s van skaliegas gelas.
         Die Nederlandse studie is in September verlede jaar bekendgemaak, en die regering oorweeg tans toetsgate, onderhewig aan individuele impakstudies en publieke deelnameprosesse. Vrese met betrekking tot ekonomiese mededingendheid ten opsigte van die VSA, en energie-sekuriteit met betrekking tot ʼn onrustige Rusland speel ook tans ʼn rol. In die VK het ʼn invloedryke komitee in Mei vanjaar aan die Hoërhuis daarom aanbeveel dat die Britse moratorium so spoedig moontlik opgehef word.
         Konsep-regulasies is in 2013 in Duitsland bekend gestel, maar onder openbare druk het die koalisieregering later in die jaar aangedui dat onkonvensionele gasbronne nie binne sy ampstermyn ontgin sal word nie. In Pole, die Europese land met die grootse skaliegasbron, word daar tans aggressief voortgegaan met ontwikkeling van die sektor. Daar heers egter kommer oor die volumes water wat nou aan die landbou onttrek word.
         Wes-Australië, die streek in Australië met na raming die leeue-aandeel van Australië se geskatte 437 Tkv, het in Februarie vanjaar sy Konsep-regulasies die lig laat sien. Die hidro-breking van die eerste toetsgate in die yl bewoonde Kimberley-streek in die noorde van die land is laas maand van stapel gestuur, en volgens ABC News word daar verwag dat Wes-Australië binne die afsienbare paar jaar ʼn kommersieel-beduidende produsent sal word.

ʼn Geloofsprong?

         Die Suid-Afrikaanse Regering se huidige posisie met betrekking tot skaliegas is dus deeglik in tred met dié van die meeste progressiewe lande, en nog onredelik of onverantwoordelik. Nou moet ons net hoop en bid vir die wysheid om op grond van eksplorasiedata uiteindelik steeds ʼn nugtere keuse te kan maak, en te kan aanvaar dat die kool miskien nie die sous mag werd wees nie. Of is ek hopeloos naïef? Moontlik nie, nie as genoeg van ons steeds ons oog op die bal hou nie.
        Die meeste bronne wat vir die skryf van hierdie artikel geraadpleeg is, is as artikels, inligtingstukke, opsommings, verslae, en wetgewing op die webtuistes van die relevante regeringsinstansies in Suid-Afrika (Departemente Energie en Mineraalsake; Wes-Kaapse Departement van Omgewingsake (DEA&DP)), die VSA (EPA, EIA), en Nederland (Nederlandse Olie en Gas Portaal) beskikbaar. ʼn Baie leesbare artikel oor metaangas het in die Desember 2012 uitgawe van National Geographic Magazine verskyn, en kan gerus geraadpleeg word. Die BBC en ABC (Australië) se webtuistes is vir inligting in daardie lande geraadpleeg. Wikipedia-artikels is vir sekere algemene en sekondêre inligting geraadpleeg.