Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Kampeer rondom Bredasdorp

Written by  Charles J. Fourie
| in op Reis
| August 4, 2014

Die omgewing rondom Bredasdorp bied ʼn verskeidenheid van kampeerplekke waar jy of op die voorstoep van die see jou tent kan opslaan, of jou karavaan kan staan maak wyl die wild en ander natuurlewe verbydrentel.

Met die jaarlikse Agri Mega Week stroom besoekers na die omgewing van heinde en verre met hul tente en karavane, en in die vakansieseisoen is dit ʼn ouwêreldse vakansieparadys waar jy soos in die ou dae terugkeer van jou vakansie met nuwe vriende en bande wat gesmee is. Ons loer vandeesmaand na ʼn paar van die gewildste kampeerplekke in die omgewing met die hulp van ons lesers wat ook hul bydraes lewer.

Kampeerwenk: Maak seker die kampeerplek het skaduwee anders moet jy maar jou gazebo of sambreel saamvat. In die somer kan die omgewing lekker warm raak en sorg dat die kinders met sonbloksmeergoed beskerm is. Neem altyd jou eie braairooster saam as jy by die see gaan kampeer want die wat daar is, is gewoonlik lekker geroes, en mens wil nie jou vleisie bederf met anderdag se braaisousie gemeng met roeskrummels nie.

STRUISBAAI-VAKANSIEOORD

Untitled-4Hierdie lieflike munisipale oord is ʼn klipgooi van die see geleë en ook binne die dorpsgebied wat jou maklike toegang tot beide gee. As jy jou tent of karavaan hier kom opslaan, kan jy die see sien, ruik en saans rondom die braaivleisvuur in die vêrte die branders hoor klots. Dis ook naby genoeg om besoeke af te lê aan die pragtige Pearly Beach, Franskraal, Waenhuiskrans en ook Hermanus as jy wil gaan walvisse kyk. Die oord is netjies en die geriewe word op standaard gehou deur die jaar vir besoekers. Verder bied Struisbaai ook ʼn aantal van sy eie lekker restaurante, ʼn gerieflike winkelsentrum en die plaaslike hotel waar jy vissermanstories kan gaan afluister.

Kampeerfasiliteite

Die kampeerterrein omslaan ʼn enorme 270 staanplekke vir tente en karavane wat dit binne seisoen soos ʼn regte vakansie-oord van ouds laat voel. Elke staanplek het ʼn braaiplek en  kragpunt. Die kampeerterrein is met gras bedek maar daar is nie skadubome nie, so vat maar die gazebo of sambrele saam vir koelte en beskerming teen die hitte. Daar is netjiese opwasgeriewe en ablusieblokke vir mans en dames met storte en baddens. Hulle bied ook luukse en standaard-chalets as jy vergeet het om jou karavaan aan te haak of die hond wat moet tuisbly het die tent opgeskeur.

Aktiwiteite

• See en nogmaals see • Visvang en ander watersport • Verskeie staproetes strandlangs • 4x4-roetes op nabye plase • Walviskyk en ander natuurlewe.

Lesersmening

Struisbaai-karavaanpark! Reg oppie strand!!!! – Riëtte Nieuwoudt
Struisbaai beslis! – Karen Nortier
Struisbaai karavaanpark! Die mooiste plekkie met skoon geriewe by die see. – Charoldene Mars
Struisbaai want dis lekker by die see ou maat! – Jóvan Rivaldo Carolus
Struisbaai ! Geen beter plek! Brand vuurtjie brand dat ons kan lekker vroegoggend ʼn koppie moerkoffie kry ! – Chris Botha
Lekker ou Struisbaai! – Janette Wright

GPS: S 34.7966 E 20.048
Vir besprekings skakel - 028 435-6538 of besoek - www.capeagulhas.gov.za


VLOEDBOS

Untitled-8Hierdie vakansieoord op ʼn werkende plaas is geleë in die hartjie van die Overberg tussen Caledon en Bredasdorp en slegs sowat 45 km vanaf Hermanus. Dis werklikwaar soos ʼn outydse familie-vakansieoord met genoeg aktiwiteite vir oud en jonk om jou die hele vakansie besig te hou. Die kinders kan met die plaasdiere speel en op die trampolien baljaar, ouma en oupa kan in die son sit en oor die ou dae mymer, en pa en seun kan mekaar die stryd aansê op die ‘paintball’-baan terwyl mamma die skuitjie roei, en almal lekker die waatlemoen in saligheid saai.

Kampeerfasiliteite

Daar is ’n 47 staanplekke wat op grasperk gevestig is. Daar is ongelukkig nie skadu onder bome nie so neem die gazebo en sambrele saam. Elke staanplek het ’n kragpunt en braaigeriewe. Daar is ablusieblokke vir mans en dames wat netjies en skoon is en ʼn gedeelde opwas- en kook-area. Buiten die kampeerterrein is daar ook ʼn verskeidenheid ander akkommodasie vanaf ’n hoofhuis tot kleiner huisies wat gehuur kan word.  Kyk uit vir die hasies wat die wêreld vol rondhop en met Paasnaweek word die terrein letterlik ’n paashaasparadys.

Aktiwiteite

• Winkel vir aankope van kos en hout • Lekker warm en koue swembad en speelpark • Tafeltennis, verfbal, pool-tafel, trampolien • Bergfiets- en 4x4-roetes om van te kies • Karp en ander vissoorte hengel • Staproetes en plaasdiere.

Lesersmening

Vloedbos beslis. Baie mooi en baie te doen vir kinders. – Marietjie Prins; Vloedbos verseker! – Naomi Janetta Coetzee; Vloedbos! Of
Struisbaai! – Louise Van Rensburg Giliomee; Vloedbos dankie! – Sonica en Hendrik Coetser; Vloedbos...al die pad! – Paul Prinsloo

GPS: S 34.332488 E 19.694723
Vir besprekings skakel -  083 359-1505 of besoek – www.vloedbos.co.za


 WAENHUISKRANS-OORD

Untitled-10Waenhuiskrans, ook bekend as Arniston, is een van daardie juweelkusdorpies en om hier te kan kom kampeer, is ʼn bonus vir enige buitelugmens. Boonop is die bekende Skip Skop van David Kramer-faam ook hier naby. Hier is jy weer naby die see met die kampeerterrein wat in die dorpsgebied geleë is maar bloot stapafstand van die see en klein sleephellinghawe waar die manne hul skuite en ski-bote see toe vat vir die groot vangs. Die plaaslike hotel bied ook heerlike etes met ʼn uitsig wat geld nie kan koop nie. So pak jou tent of karavaan en gaan kuier.

Kampeerfasiliteite

Daar is ’n 110 staanplekke, almal op gras en meeste het skaduplek. Elke staanplek het sy eie kragpunt en braaiplek maar vat maar jou eie rooster saam. Die ablusiegeriewe is netjies en skoon vir mans en dames met warm water. Hulle bied ook 11 standaard en 11 luukse chalets aan vir ander verblyf. Daar is ook ʼn winkel en drankwinkel binne stapafstand waar jy jou aankope kan doen.

Aktiwiteite

• Winkel en drankwinkel vir aankope • Swem in die see maar kyk uit vir strome • Staproetes langs die see en duine • Bergfiets- en 4x4-roetes naby • Hengel vanaf die strand.

Lesersmening

Waenhuiskrans vir seker!!! – Pamela Orton Durand; Definitief Waenhuiskrans! – Angie Knight; Waenhuiskrans ... dit is maar die plek!
– Naomie Tol Meyer; Ek dink die heel mooiste en lekkerste plek in Waenhuiskrans. Fantasmagories! – Vernon Van Rensburg; Waenhuiskrans verseker! – Pierre Le Roux

GPS: S 34.66911 E 20.22928
Vir besprekings skakel -  028 445-9620 of besoek – www.capeagulhas.gov.za


L’ AGULHAS-KARAVAANPARK

Untitled-11Bekend as die mees suidelike vakansie-oord in Afrika en geleë binne die dorpsgebied van L’ Agulhas is hierdie kampeerplek seker een van dié met die mooiste uitsigte op die see in die land. Hier is jy ook letterlik ʼn klipgooi van die strand en ook gerieflik naby die dorpsgebied waar jy inkopies kan gaan doen en die plaaslike restaurante ondersteun wanneer pappa moeg is om die braaivleisvuur aan te steek. Jy is ook binne trefafstand van nabye dorpe soos Bredasdorp, Waenhuiskrans en Napier waar jy die landelike omgewing kan gaan verken.

Kampeerfasiliteite

Dis nie ʼn baie groot kampeerterrein nie met slegs 40 staanplekke vir tente en karavane. Elke staanplek het sy eie kragpunt en braaiplek maar neem maar jou eie rooster saam, die see speel nie mooi met braai roosters nie. Daar is opwasgeriewe en netjiese ablusieblokke vir mans en dames met warmwaterstorte. ʼn Stiltydreël geld na 22h00 saans. Hulle bied ook luukse en standaard-chalets indien jy meer gerieflike verblyf soek.

Aktiwiteite

• Supermark slegs 50 m van terrein • Swem in die gety-poel by die see • Staproetes langs die see • Bergfietsroetes • Hengel.

Lesersmening

Daar is min plekke wat die mees suidelike punt van Afrika kan "match". – Adriana Heiberg; Agulhas - die ou kampplek.
– Izaak van Aarde; Agulhas vir my! – Marchelle du Toit

Vir  besprekings skakel – 028 435-6015 of
besoek www.capeagulhas.gov.za


 

DIE DAM-VAKANSIEOORD

Untitled-12Hierdie vakansie-oord is veral gewild onder die hengelaars wat selfs van ver in die binneland hierheen kom om ʼn lyntjie te kom natmaak. Die oord wat deel vorm van ʼn kus-bewaar-area word ook deur die plaaslike munisipaliteit bedryf. Dis gerieflik naby Gansbaai, Stanford en Hermanus geleë wat jou toegang tot ʼn verskeidenheid van toerisme aktiwiteite bied, en as jy ʼn entjie verder ry kan jy gaan wynproe in die Hemel en Aarde vallei duskant Hermanus. Maar as jy hier tent opslaan hoef jy eintlik nêrens anders te gaan nie want hulle het alles, en natuurlik die visvang wat die grootste lokaas is.

Kampeerfasiliteite

Daar is 86 gerieflike staanplekke vir jou karavaan of tent binne die kampeerterrein, elk met sy eie braaiplek en 220 volt-kragpunt. Meeste staanplekke het skadu met enkeles waar jy maar jou gazebo kan saamvat. Die hele kampeerterrein is op grasperk. Verder is daar gedeelde ablusiegeriewe vir mans en dames met warmwaterstorte en baddens asook gedeelde opwasgeriewe. Die strand is ʼn klipgooi ver en jy kan saans ook die branders in die vêrte hoor klots.

Aktiwiteite
• Kioskwinkel vir inkopies • Swembad en speelterrein vir kinders • Staproetes langs die strand • Nabye 4x4-roetes • Hengel en nogmaals hengel.

Lesersmening: Die Damme! – Dirk Dico Lourens; Die Dam beslis! – Marina Lourens

GPS: S 34° 45' 45.3"  E 19° 41' 18.8"
Vir besprekings skakel - 028 482 1710 of e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.


SUIKERBOSSIEKARAVAANPARK

Untitled-13Die welbekende kampeer-oord wat in die dorpsgebied van Bredasdorp geleë is, is baie gewild onder die plaaslike vakansiegangers en toeriste wat in die omgewing wil kom kuier. Buiten dat dit gerieflik naby ʼn winkelsentrum en talle restaurante is, bied dit ook die ideale wegspringplek om die res van die omgewing te verken. Die kampeerterrein word deur die plaaslike munisipaliteit bedryf en voldoen aan netjiese en skoon standaarde.

Kampeerfasiliteite

Hier is 45 staanplekke vir tente en karavane wat met gras bedek is en waarvan meeste staanplekke boonop lekker onder skadu is. Daar is 220 volt-kragpunte by elke staanplek, en gedeelde opwasgeriewe en ablusieblokke vir mans en dames met storte en baddens. Die staanplekke is beperk tot ses persone per kampplek, en geen luide musiek word toegelaat nie. Hulle bied ook alternatiewe verblyf in luukse en standaard-chalets.

Aktiwiteite

• Swem en visvang vanaf die strand (slegs 24 km) • Verskeie nabye bergfietsroetes • Natuurlike wildbesigtiging en voëlkyk • Perdry en staproetes • Nabye 4x4-roetes.

Lesersmening

Ek twyfel of mens ʼn mooier kampeerplek kry in die land as Suikerbossie-karavaanpark. Hemel op aarde! – Selwyn Crotz
Suikerbossie karavaan park in Bredasdorp! – Tanya Oosthuizen

GPS: S 34.54155 E 20.04566
Vir besprekings skakel  - 028 425-1919 of besoek - www.capeagulhas.gov.za