Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Hier kan mens braai

Written by  Charles J. Fourie
| in op Reis
| September 4, 2014

Septembermaand is braaimaand en so met die lente wat aan’t bloei is en die somerson wat al nader staan om weer heerlike sonskyn,

braaivleis en lekker kuierweer terug in ons winterlewens en koue lywe te bring, kyk ons vandeesmaand na ʼn paar kampeer- en sommer ook luukse verblyfplekke met selfsorgeenhede waar jy lekker saam met jou vriende en familie kan vertoef, wyl die vuurtjie knetter en die vleisies of krefie braai. Ons gaan loer langs die Weskus, Noord-Kaap, Oos-Kaap en die Wynlandkontrei duskant Somerset-Wes.

Braaiwenke: Indien jou vleis vassit op jou rooster, maak dit skoon met ʼn draadborsel terwyl dit warm is en smeer ʼn gehalveerde ui oor die rooster. Gebruik die onderste helfte van 'n eier-boksie gevul met ou kookolie as ’n vuuraansteker. Plaas neer, en bou jou vuurtjie daarop. Onthou om die vuur behoorlik te blus wanneer jy buite braai.

SLANGHOEK-BERGOORD

kamp-sep-1Die lieflike oord is geleë in die Slanghoek-vallei naby Rawsonville. Hier kan jy kom braai met wonderlike uitsigte oor die vallei en fynbos wat jou met heimwee sal vul wyl die rustige waters van die Slanghoekstroom oor die klippe vloei, en die kinders op die gras-perke baljaar.
        Dis ook ʼn gewilde bestemming vir troues, konferensies, en daardie familieverjaardagpartytjies waar jy al die ooms en tantes en oumas en oupas nooi. Slanghoek-oord spog ook met ʼn voortreflike restaurant met ʼn volledige dranklisensie, en indien jy nie self wil braai nie, kan jy met jou gesin ontspan in die ruim lapa waar die vleisies vir jou oor die kole gegooi sal word.
        Die kampeerterrein is reg langs die pragtige Slanghoekstroom op grasperke gevestig met staanplekke vir tente en karavane waarvan die meeste onder skadubome is. Daar is kragpunte, opwasgeriewe en netjiese ablusieblokke vir mans en dames met warmwaterbaddens en -storte. Hulle bied ook alternatiewe verblyf aan in ’n verskeidenheid luukse chalets en kleiner houthuisies, asook in die gewilde safari-tente wat vir paartjies geskik is wat op soek is na ʼn romantiese naweek weg. Jy kan blykbaar in die nabygeleë kerkie sommer voor die kansel gaan staan en trou ook – maar bespreek hiervoor maar vroegtydig en laat weet jou familie!
        Om by Slanghoek-oord uit te kom volg die N1 en draai af na Rawsonville en volg dan die aanwysingsborde verby Goudini Spa, die Slanghoek-kelder en Opstal-landgoed.

Aktiwiteite

• Restaurant met kroeg en lapa • Perdry en staproetes na waterval • Mini-gholfbaan en trampolien  • Swem in stroom of swembad • Hengel in rivier en plaasdam • Verskeie nabygeleë wynkelders • 4x4-roetes op nabygeleë  plase

Vir besprekings skakel – 023 344 3138 of besoek - www.slanghoekresort.co.za 


THORNBAY-AKKOMMODASIE

kamp-sep-2        As die Weskus jou lok vir ʼn braai en kuier dan is Doringbaai die een plek waarvoor jy maar kan mik vir die naweek of vakansie. Thornbay Accommodation se trotse eienaars Michelle en Peter Slott-Nielsen se netjiese verblyf-eenhede is in die hartjie van Doringbaai geleë, met pragtige uitsigte oor die see, hawe en ou vuurtoring in die verte.  
        Hulle voorsien agt luukse en billike   selfsorgeenhede met seefront-uitsigte, elk met sy eie patio en braaigeriewe waar jy kan kuier en vleis of seekos oor die kole looi. Die eenhede het elkeen sy eie stoof, yskas en mikrogolfoond asook alle eetgerei. Kinders onder twaalf woon gratis. Bring jou eie strandhanddoek en sambrele saam aangesien hulle dit nie voorsien nie.
        By die Thornbay Fisheries wat ook deel vorm van die verblyfoord kan jy omtrent enige seekos aankoop, asook hengelgerei. Die strand is ook binne stapafstand vanaf jou voorstoep waar jy kan sonbrand, hengel, swem en branderplank ry.
        Om hier uit te kom volg die N7-Noord en neem afrit na Doringbaai via Vredendal.

Aktiwiteite

• Verskeie winkels en restaurante in die dorp • Branderplankry en ander watersport • Hengel en kreefvang binne seisoen • Walviskyk (Julie tot November) • Staproetes en fietsry

Vir besprekings skakel -  027 215 1333 of besoek – www.doringbaai-accommodation.co.za


 EUREKA-AKKOMMODASIE

kamp-sep-3        Lambertsbaai is nog een van daardie Weskusdorpies waar jy kan kreef en Nama-kwalandse tjoppies braai tot die son wegsak in die weste. Die Eureka-selfsorgeenhede is in die hartjie van die dorp geleë met trekpleis-ters vir die hele gesin. Daar is talle wyn- en seekosroetes om van te kies en die gewilde Muisbosskerm- en Bosduifklip-strandkombuise is maar 5km daarvandaan, waar jy aan die heerlikste seekosdisse kan smul wyl jy saam met vriende kuier.
        Die netjiese selfsorgeenhede bied twee en meer slaapkamers wat ten volle toegerus is vir die vakansieganger wat niks behalwe sy klere en speelgoed wil saambring nie. Elke eenheid het DSTV kanale en daar is ook ʼn Laundromat vir jou wasgoed. Hulle spog ook met sewe onderdak braai-eenhede waar jy saam met die gesin of jou vriende kan kuier.
        Groter groepe van tot 400 mense kan geakkommodeer word, en daar is ook konfe-rensiefasiliteite vir faks-, kopieer- en internettoegang indien jy op besigheid is of deel is van ʼn groep. En as jy lus het vir ʼn potjie gholf, visvang of ʼn bootrit kan die vriendelike eienaar Yan Smit dit vir jou reël; hy is ook ʼn groot voorstander van Weskusgasvryheid.
        Volg die N7-Noord en draai af na Lambertsbaai.

Aktiwiteite

• Verskeie winkels en restaurante • Swem in die see en ander watersport • Bergfiets- en 4x4-roetes naby • Hengel vanaf die strand • Strandkombuise • Kreef Derby

Vir besprekings skakel -  027 432 1211 of besoek – www.eureka-accommodation.co.za


PEARSON PARK-KARAVAANOORD

kamp-sep-4        Die oord is geleë op die oewer van die Sondagsrivier naby Port Elizabeth en bied braaigeriewe met elke kampeerplek waar jy om die vuurtjie kan sit en na die gedruis van die see kan luister. As jy ʼn watersportentoesias is, sal Pearson-oord aan al jou verwagtinge voldoen. Dis veral ʼn gewilde vakansieplek vir gesinne met kinders. In die wintermaande kan jy die walvisse en dolfyne vanaf die strand besigtig.
        As jy hier kom kampeer, hoef jy omtrent net jou tent of karavaan saam te bring want die oord het al die geriewe en toegang tot wat ook al jy nodig het om aan te koop. Daar is 150 lekker groot staanplekke vir karavane en tente waarvan 48 elk sy eie kragpunt het, en daar is ook talle waterpunte. Die netjiese ablusie-geriewe maak voorsiening vir die hele gesin met warmwaterstorte en ook baddens vir gestremdes.
        Ry uit P.E. op die N2 na Grahamstad en draai af na Colchester.

Aktiwiteite

• Garage met petrol en diesel • Verskeie nabygeleë restaurante • Swembad en speelraam • Speletjieskamer vir die kinders • Huur van waterponies en kano’s

Vir besprekings skakel -  041 468 0040 of besoek – www.pearsonpark.co.za


 

 

 

 

 

RIEMVASMAAK-WARMWATERBRONNE (RIEMVASMAAK)

kamp-sep-5        As jy in die Noord-kaap se uitgestrekte en dorre gebied wil gaan braai, is Riemvasmaak se warmwaterbronne net die plek. Hier waar die Oranjerivier ook sy gang see toe vind, sal jy in stilte en rustigheid om die vuurtjie kan sit en sterre kyk tot die einders toe. Dis nou ’n plek vir saligheid en rus met ʼn koedoe- of gemsbokvleisie op die vuur en yskoue bier.
        Die omgewing beslaan ‘n allemintige          75 000 hektaar van berg- en woestyn-landskap maar dit kan ook as een van die mooiste en alleenste landskappe in Suid-Afrika beskou word en daarom is dit so geliefd onder kampeerreisigers.
        Kom kampeer jy hier, moet jy maar alles saamvat, van die hout tot die vleis, want selfs drinkwater is skaars. Daar is verskeie boskampeerplekke om van te kies op ’n aantal roetes en die meeste kan net met ʼn 4x4 bereik word. Staanplekke by die warmwaterbronne is meer gerieflik, maar skaduwee is min. By die bronne is daar ook chalets wat elk ’n stort en braaiplek het.
        Riemvasmaak is sowat 57 km vanaf Kakamas geleë.

Aktiwiteite

• Warmwaterbronne • Verskeie 4x4-roetes • Wild en natuurlike plante-groei • Rotsklim en Boesmantekeninge • Begeleide staptoere in berge

Vir besprekings skakel – Clarisa Damara by 083 873 7715


HELDERBERG-PLAAS

kamp-sep-6        Helderberg-plaas is ʼn welbekende piekniek en braaiplek waar gesinne gereeld bymekaar kom in die natuurskoon om ʼn vleisie te braai. Wat lekker van die oord is, is dat dit naby aan Stellenbosch, Somerset-Wes en Kaapstad en ander omliggende gebiede is en ook ʼn dagbesoek werd is. Hier kan jy ook in die natuurskoon kom fietsry, perdry, en in die ‘ouma woud’ rondstap met die kinders. Hulle bedryf ook ʼn heerlike teetuin en kiosk en maak voorsiening vir konferensies, troues en ander onthale.
        Daar is ook ʼn avontuurlike oornaghut beskikbaar op een van die staproetes met verblyf vir ʼn groep van 6 persone, jy moet egter jou eie beddegoed en kos en water saamneem. Die oornaghut kan aangepak word as deel van die staproete. Maar die eintlike rede hoekom jy hier sal kom braai saam met jou gesin, toergroep of spanboumaats, is die verskeidenheid van aktiwiteite wat hulle aanbied vanaf kanovaart tot visvang en knortjor-ry.
        Ry met die R44 en volg aanwysings via Sir Lowry’s Pas na Helderberg-plaas.

Aktiwiteite

• Onthale, troues, konferensies en spanbougeriewe • Avontuurkampe, knortjorre, verfbal en teikenskiet • Verskeie berg-fiets-, perdry- en staproetes • Potjiekoskompetisies en lapa-braai • Teetuin en kiosk

Vir besprekings skakel  - 021 855 4308 of besoek – www.helderbergplaas.co.za


KANGOBERG-OORD

kamp-sep-7        Die Kango Berg-oord net buite Oudtshoorn is die ideale wegbreek-berg-vakansieplek in die hartjie van die Klein-Karoo. As jy wil braai in ʼn lieflike vallei omring deur die majestueuse Swartberge en dit naby die Koos Raubenheimer-dam waar jy ook kan hengel, dan bring die Kango Berg-oord jou nader aan die natuur as die meeste ander kampeer-en-braaiplekke.
        Hulle bied 70 ruim, egalige, grasbedekte staanplekke wat geleë is op die oewer van die rivier waar die natuurskoon jou omvou. Elke staanplek is toegerus met sy eie kragpunt en waterpunte is nabygeleë. Daar is silwerskoon ablusiegeriewe vir mans en dames met ʼn wassery en opwasplek wat spesiaal opgerig is vir vakansiegangers se gemak. Daar is ook altyd voldoende warm water en ʼn nagwag verseker besoekers se veiligheid. Hulle bied ook luukse chalets en ander verblyf aan indien jy nie lus het om te kampeer nie. Bespreek vroegtydig vir vakansietye want die oord raak dan stampvol met vakansiegangers.
         Die oord is geleë net 25km vanaf Oudts-hoorn en 10km van die welbekende Kango-grotte.

Aktiwiteite

• Swembad, vlugbal • Mini-gholf en trampolien • Besoek die Kango-grotte • Rust-en-Vrede-waterval • Swartbergpas en Die Hel • Volstruis- en krokodilplase • Nabygeleë 4x4- en staproetes

Vir besprekings skakel  - 044 272 4506 of besoek - www.cangomountain.caravanparks.co.za


KOGELBAAI-KAMPEERTERREIN

kamp-sep-8Die Kogelbaai pad tussen Gordonsbaai en Rooi-Els is een van die mooiste paaie in Suid-Afrika. En dis hier by Kogelbaai se strand waar jy van die mooiste braaiplekke gaan vind met uitsigte op Valsbaai wat enige besoeker se asem wegslaan. As jy hier wil braai, moet jy ook in die oord kampeer. Maar wees gerus daar is ook baie lekker braaiplekke al langs die pad asook ʼn gety-swembad waar jy as dagbesoeker kan gaan braai.
        Die kampeerterrein is al langs die strand op grasperke geleë en die meeste staanplekke het skadubome. Die toiletgeriewe is skaflik en drankgebruik is streng verbode. Oor naweke kan dit lekker bedrywig raak so kom kampeer liewer as jy seemeeue bo kleuters en raserige musiek verkies.
        Wees versigtig vir die seestrome en wees altyd op die uitkyk vir die troppe bobbejane wat sommer gou-gou weghol met jou kos en eetgoed, en moenie die bobbejane voer nie!
Kogelbaai is sowat 15km suid van Gordonsbaai op die Clarens-rylaan na Rooi-Els.

Aktiwiteite

• Swem en visvang vanaf die strand • Walvis- en dolfynkyk (Julie tot November) • Bobbejane, dassies en ander natuurlewe • Stap-roetes langs die strand en berg • Branderplankry by Dapat se Gat • Besoek nabygeleë Rooi-Els en Pringlebaai

Vir besprekings skakel  - 021 850 4262 of besoek -  www.capetown.gov.za