Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Ontdek die Weskus

Written by  Charles J, Fourie
| in op Reis
| November 7, 2014

As jy vir mense sê jy gaan langs die Weskus kuier, vra almal altyd jy moet vir hulle ’n krefie en ’n bokkom saambring. Hierdie gesogte vakansiebestemming met sy vele kontraste wat oor die 400 km al langs die koue Atlantiese Oseaan strek, bied die toeris egter veel meer.

Kuslangs kry jy die ongerepte natuurskoon, lang stapstrande, allerhande fiets en 4x4-roetes, ’n see vol lekkernye vir seekos-smulpape, dolfyne en walvisse en genoeg watersport-aktiwiteite om jou heeljaar besig te hou.
Vat jy koers na die binnelandse streke van die Weskus, bevind jy jou in ’n wonderwêreld van blomme, berge, wynroetes, geskiedenis, sendingstasies en ’n unieke kulturele skat. Dink maar aan die rieldans, blik-kitaarmusiek en die brei-klanke wat so lekker op die tong val wanneer die mense hier aan die gesels raak.

Swartland-streek

Die Swartland is die poort na die Weskus en bestaan uit dorpe soos Malmesbury, wat bekend is as die broodmandjie van Suid-Afrika. Die omgewing is ook ʼn gewilde agri-toerisme-bestemming. Koring is in 1709 al hier aangeplant en ʼn besoek aan die Moorreesburg-koringmuseum neem jou op ʼn geskiedenisreis van die landbou-bedryf in die omgewing. Besoek ook die Duckitt -kwekery wat die grootste orgideë-kwekery in Suid-Afrika is.

opreis-3
Die Riebeek-vallei-streek is nou weer bekend vir sy wynroetes, en hier kan jy kampioenwyne gaan proe en aankoop, en sommer ook ʼn geselsie met van die wynmakers aanknoop.

Die Darling-wynroete is welbekend vir sy biodiversiteit, met bekende wyne van landgoedere soos Cloof, Groote Post en Darling Kelders teen bekostigbare pryse. Die Swartland wynroete strek weer vanaf Paardeberg tot so ver as die Bergrivier in die noorde, en lewer wyne wat so divers soos die landskap self is.

Ander besienswaardighede in Darling is Evita se Perron van die bekende Pieter Dirk Uys. Dan is daar nog dorpe soos Riebeek-Kasteel en Riebeeck-Wes waar rustigheid en kalmte die opreis-5wagwoord is. Nader aan die kus by die bekende Yzerfontein pryk die veldblomme in al hul glorie, en kom kuier die walvisse gedurende Junie tot November. Gaan maak ook ʼn draai by Jacobsbaai waar jy heerlike seekos kan nuttig by die Weskusplek-restaurant wat deels deur Steve Hofmeyer besit word.

opreis-7

Kusstreek

Die kusstreek is die hartklop van die Weskus en is bekend vir sy gasvryheid. Hier kry jy regte vissersdorpies rondom Saldanha, Vredenburg, Langebaan en St Helenabaai en dit sluit ook die Weskus- nasionale park en die gewilde Langebaan-meer in.
Fossiele is in die laat 1950’s by Langebaanweg gevind, en die fossiele by die Weskus-fossielpark word so oud as 5 miljoen jaar geskat. In 1995 is daar by Kraalbaai voetspore van ’n vrou in die rotsformasies gevind wat vandag bekend staan as Eva se spore en is glo nagenoeg 117 000 jaar oud.
opreis-nov-1Die Langebaan-meer wat ook deel van die Weskus- nasionale park is, is geregistreer as deel van die RAMSAR-konvensie wat voëls en ander vleilandspesies beskerm. By die broei-kolonies by die Malgas-, Jutten-, Schaapen- en Marcus-eilande naby Saldanha se mond sal jy duisende voëls gedurende die broeiseisoen sien. Jy kan die eilande per boot of saam met die wildbewaarders van die park besoek.
Paternoster is ook ʼn gewilde vakansiedorpie met ʼn tradisionele vissermankarakter en die baie gewilde Paternoster-hotel is ʼn heerlike kuierplek. Net om die draai is die Kaap Columbine-natuurreservaat wat ook die gewilde Tietiesbaai-kampeerterrein insluit. Die Castle Rock-lighuis wat jy hier aantref, is in 1936 gebou, en is ook die eerste vuurtoring wat skepe wat vanaf Europa na Suid-Afrika vaar, sal sien.
Die Langebaan-meer is natuurlik ʼn watersportentoesias se paradys. Hier kan jy visvang (volgens die 'locals' gedurende al die maande wat ʼn 'r' in het), branderplankry, duik, kano’s ry, swem, en die wind en see aandurf met jou seil- of vlieërplank. Kompetisies word ook gereeld gehou vir vlieërplank- en seilplankentoesiaste. Dis ook hier waar die seiljagte wat vasgemeer lê by Mykonos en die Langebaan-seiljagklub jou sal laat voel asof jy iewers langs die Mediterreense see kuier.

opreis-8

Bergrivier-streek

Die streek het sy naam te danke aan die Bergrivier wat al van Stellenbosch af na die see kronkel tot by Velddrif se mond. Die rivier is nie net ʼn lewensaar vir die talle landboubedrywe aan sy oewer nie, maar ook ʼn voëlparadys waar jy tot 183 verskillende spesies kan besigtig - besoek gerus die skuiling by Velddrif wat oor die moddervlakte en vleiland uitkyk.

opreis-4
Velddrif is natuurlik ook ʼn hengelparadys. Kuswaarts langs kry jy die pragtige Port Owen marina wat ook ʼn watersportmekka is en veral gewild by seiljagvaarders is wat van hier teen die Bergrivier op vaar.
Binneland toe is Goedverwacht, die Morawiese sendinggemeente wat destyds gestig is. Daar kan jy selfs oornag en die kunsmark besoek waar plaaslike inwoners hul ware verkoop. Ander Morawiese missies sluit dié in by Wittewater en Wuppertal.
Porterville is die valskermsweef-entoesias se droom. Die weers-omstandighede is hier perfek vir die sportsoort en daar word ook elke jaar kompetisies gehou wat besoekers van oorsee lok. Een swewer het in die verlede ʼn wêreldrekord opgestel toe hy ʼn afstand van 55 km ver gesweef het en sy sweefvlug 2.5 uur geduur het.
Ander dorpe om te besoek is Redelinghuys en Piketberg.

opreis-9

Cederberg-streek

opreis-2      Vrugtevalleie en asemrowende bergreekse verwelkom die besoeker by hierdie Weskusstreek. Dis ook Rooiboswêreld met dorpe soos Citrusdal en Clanwilliam, en die Olifantsriviervallei met sy sitrusvrugteboorde. By Clanwilliam is daar ʼn Rooibos roete vanwaar jy die Rooibosplase kan besoek asook die talle produkte wat van Rooibos gemaak word kan aankoop. Wees op die uitkyk vir die Rooibos teehuis in Clanwilliam waar jy ʼn koppie vars lafenis vir die siel en gesondheid kan drink.
      Die 71 000 hektaar Cederberg Wildernis reservaat na die ooste toe is veral bekend vir sy asemrowende rotsformasies en bied ʼn verskeidenheid staproetes wat jou na aan die natuur sal bring. Hier is daar diverse fynbos, en jy sal ook wilde boegoe en rooibos in sy natuurlike omgewing teëkom. Meer as 100 spesies voëls en ander wilde diere soos bobbejane, grys reebokke en klipspringers word hier aangetref. Luiperds is ook al in die omgewing gesien. By Algeria en Kliphuis kan jy in die natuur kampeer.
      Met die kus op is daar die bekende vakansiedorpe van Lambertsbaai en Elandsbaai, wat ryk is aan see en voëllewe. By Elandsbaai kan jy op ʼn begeleide vier-wiel-motorfietsfossieltoer gaan. Die duine duskant Elandsbaai het ʼn ryk fossielneerlaag wat so ver terug as die Steentydperk dateer. Dis ook in die geweste waar jy daardie grootmeneer-krewe uit die see kan haal.

opreis-10

Namakwa-kusstreek

      Die gebied sluit die Sandveld, Knersvlakte en Matzikamma bergreeks in met Vredendal, Klawer, Lutzville, Koekenaap en Vanrhynsdorp, asook die imposante Gifberg-, Maskam- en Kobeebergspitse wat uitkyk oor die vlaktes.
      Met die koms van die lente word die omgewing omgetower in ʼn kaleidoskoop van blommeprag en kleure wat ’n sterk kontras vorm met die ruwe landskap, en besoekers van heinde en verre lok om die blommeprag te kom besigtig. Die beste maande vir die blomme is van September tot vroeg November.
      Die Olifantsrivier vind ook sy pad tot hier met nog ʼn bekroonde wynroete waar jy van die streek se beste wyne sal vind. Vredendal is die hoofaar van die Weskus-wynroete tesame met Klawer en Lutzville.
      Die talle sending-dorpies wat ook in die streek voorkom, is ʼn besoek werd. Gaan maak gerus ʼn draai by Ebenhaezer om die Nederduits Gereformeerde sendingkerk te besigtig, en ʼn entjie verder is daar Papendorp. En dan kan jy blykbaar ook nog met ʼn platbodemboot al die pad vanaf Papendorp tot by Lutzville op die Olifantsrivier roei.
      Die streek grens in die weste ook aan die Atlantiese Oseaan by gewilde vakansiekusdorpies soos Strandfontein en Doringbaai waar die Weskuslewe sy eie trant neem en jy ook walvisse en ander seelewe kan besigtig. Die ligtoring by Doringbaai vorm ook deel van die ligtoring-kusroete aan die Weskus en is seker een van die mooiste vuurtorings langs ons kus.

opreis-11


 

ONS FACEBOOK LESERS STEM:

opreis-6