Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Seevakansie - pret en plesier vir almal

Written by  Staff
| in op Reis
| December 12, 2014

Na 'n lang jaar in die veld en op die trekker bied die Overstrand kusarea 'n welverdiende lafenis vir liggaam en gees.

Die tyd het aangebreek om die warm stewels uit te trek en die moeë voete in die koel water van die oseaan te dompel. Hermanus het met reg oor die dekades bekend geraak as 'n gesogte vakansie-mekka met min gelyke. Dis 'n kusdorp met soveel uiteenlopende besienswaardighede en topgehalte aktiwiteite wat ontspanning, vermaak, pret en plesier vir die hele gesin bied.
Hermanus se verhaal begin in 1815 toe 'n Hollandse onderwyser, Hermanus Pieters, voet aan wal gesit het aan die Kaap. Pieters het opgeëindig as onderwyser by Boontjies-kraal, naby Caledon. Skoolvakansies bevind Hermanus Pieters hom egter by 'n fontein langs die kus, daar waar hy sy trop skaap laat wei het. Die area het bekend begin staan as "Hermanus Pieters se Fonteyn". Volgens oorlewering het die plaaslike posmeester die naam in 1902 afgekap na bloot "Hermanus" en in 1904 verwerf Hermanus amptelike munisipale status.

opreis-dec-1

Die ryk geskiedenis van die dorp kan vandag nog besigtig word by die Ou Hawe Museum. Die Ou Hawe is in 1970 verklaar tot monument toe die nuwe hawe in gebruik geneem is. Die geskiedkundige landmerk bestaan uit twee komponente; die opelugmuseum waar bote besigtig kan word, asook die Kothuis waarin 'n permanente fotografiese uitstalling gehuisves word met rare foto's uit die 19de eeu en vroeg 20ste eeu.
Hermanus is internasionaal bekend vir die walvisse wat elke jaar tussen Junie en Desember naby die land besigtig kan word. Toeriste van regoor die planeet sak toe op die dorp om die fantastiese natuurverskynsel te kom beleef. Drie bootbesig-tigings-toere vertrek elke dag uit die hawe om toeriste en fotograwe tot so na as vyftig meter van hierdie oseaanreuse te bring! Die dorp het selfs sy eie "whale cryer" wat op sy uitgeholde seebamboes blaas om walvisposisies uit te wys. Die walvisse kan ook uit die lug beskou word met die African Wing maatskappy wat vlugte op 'n daaglike basis onderneem. Verskeie ander watersporte word beoefen soos vlieërplank ry, visvang en kanovaart. Varswater en see kyakke is beskikbaar vir kranige kanovaarders. Hermanus spog met 'n paar puik strande waarvan die blouvlag "Grotto Beach" seker die bekendste is. Die strand strek vir 'n indrukwekkende 18 km tot by De Kelders naby Gansbaai. "Grotto Beach" het in vakansietye lewensredders en verskeie opvoedingsaktiwiteite, asook speletjies wat in seisoen tye aangebied word. Die strand is boonop honde-vriendelik, mits die honde met halsbande hanteer word. Verder is daar nog Kammabaai Strand en  Onrusstrand vir diegene wat bietjie verskeidenheid soek.

opreis-dec2

Op land is daar 'n menigte aktiwiteite wat aangepak kan word soos yoga, boogskut, wandelroetes, bergfietsroetes en selfs vierwiel-motorfiets paaie. Avontuurlustiges kan deelneem aan valskermsweef en boomtop foefieslaaids met Hermanus Forest Adventures. Die golf klub spog met 'n pragtige gholfbaan wat kan kersvashou met die bestes in die wêreld. Terwyl pa gholf speel kan ma en die kinders een van die vele markte besoek. Die "Hermanus Country Market" verkoop hoofsaaklik 'n verskeidenheid van organiese produkte soos tuisgegroeide groente, vrugte, kruie en konfyte. Die mark vind elke Saterdag plaas op die Hermanus krieketgronde. Die daaglikse "Fisherman's Valley Market" by "Leem's Corner" sorg vir 'n interessante mengelmoes van uiteenlopende produkte wat die meeste smake en sakke sal pas. Enigiets van klere, juweliersware, leerwerke, tot by kunswerke en algemene "bric 'n brac" kan hier gekoop word.    Die dorp en onmiddellike omgewing spog ook met dosyne eersteklas restaurante en kuierplekke. Lewendige musiek word gereeld uitgevoer in gewilde kuierplekke en restaurante soos  "The Gecko", "Tapas" en "Cocos". Kunstenaars soos Rocco de Villiers en die Gautengse vroue-rockgroep, "Saarkie", is van die kunstenaars wat optree in Hermanus oor die feesseisoen.

opreis-dec3

Die asemrowende natuurskoon rondom Hermanus is welbekend en welbemind. Die Fernkloof Natuurreservaat wat in 1957 gestig is bied tot 60 kilometer se stap en bergfietsroetes.  Fernkloof bied natuurtonele soos spruite en watervalle asook uitkykpunte soos Lemoenkop, Drie Damme en Galpinhut. Die reservaat bevat ses van die sewe endemiese plantspesies wat deel maak van die "Kaapse Flora Koningkryk". Voëlkykers kan hulself ook verlustig in die sowat 130 voëlspesies wat te siene is. Fauna is ook volop in die vorm van Kaapse grysbok, klipspringers, bobbejane en dassies. Die reservaat bied ook nou die Fernkloof Tuin, 'n spesiale fokustuin, wat al die reservaat se plantspesies in 'n rolstoel-vriendelike omgewing ten toon stel. Indrukwekkende natuurskoon en pragtige wynplase is net om die draai in die Hemel en Aarde-vallei. Die vallei word so genoem omdat dit lyk asof die berge letterlik aan die "hemel" raak. Die R320 roete deur die vallei is gepeper met wynplase, deli's, stalletjies en restaurante wat 'n wye verskeidenheid kos en wyn bedien. Buurdorpe soos  Stanford  is ook die besoek werd. Die Birkenhead brouery is 'n gewilde bestemming waar die varsgebroude biere op die perseel geproe kan word. Die "Stanford Evenings Market" wat op die laaste Vrydag van elke maand plaasvind is ook 'n gesogte item op die Stanford kalender. Verder Noord kuslangs is die skilderagtige visserdorpie Gans-baai. Liefhebbers van seekos kan hul verlustig in die wye verskeidenheid vars seekosse wat gesmous word by die hawe. Gansbaai huisves ook die internasionaal bekende withaaiduik ekskursies, waar brawe kykers van aangesig tot aangesig met die gevreesde grootwithaaie gebring word. Suidwaards met die kus vind mens die vriendelike gemeenskap van  Kleinmond. Die ou hawe is 'n baie gewilde kuierplek en bied verskeie aktiwiteite, restaurante, winkels en stalletjies vir die hele gesin. Die "Old Harbour" feeskomitee en die Kleinmond Toerisme Buro bied 'n propvol vakansieprogram aan vir die hele gesin. Hoogtepunte in die Old Harbour Theatre sluit in produksies soos "The Girls of Rock Tribute Show" met kustenaars soos J.Q. Joopiter en "The Happy Holiday Island Show" met Dirk Ace and Da Faith Machine, wat lekker reggae en ander dansbare eilandklanke vir die vakansiegangers bring. Verder Suid is die lieflike Harold Porter Botaniese Tuin, bekend vir die 90 hektaar ongerepte, en 10 hektaar gekultiveerde fynbos. Sowat 60 voëlspesies baljaar in hierdie lusoord en die gelukkige stapper mag dalk selfs 'n luiperd gewaar. Die restaurant is 'n gewilde verversingspos en bied ook 'n kwaliteit vermaaklikheidsprogram aan gedurende die feesseisoen. Hoogepunte sluit in The Gugulethu Tenors, Anthonie Bougas asook Carols by Candlelight.

opreis-dec4

Stony Point, digby die rustige  Bettiesbaai, is veral gewild onder buitelugliefhebbers en voëlkykers. Hier kan die spektakel van ongeveeer 3600 komieklike pikkewyne dopgehou word. Met die berg om, verby  Rooi Els, is daar juwele soos die glashelder "Crystal Pools", in die ongerepte Steenbras Natuur Reservaat. Die silverskoon bergpoele in die Palmietrivier is ideaal vir swem en sorg vir 'n onvergeetlike gesinsuitstappie. Permitte is verkrygbaar by die Sunbird Lodge, sowat 7km buite Gordonsbaai en kos slegs R60 per persoon.

opreis-dec5

Die aangrensende Kogel Bay Resort is 'n ideale afkoelplek met uitstekende braaigeriewe en ablusiefasiliteite. Langtermyn kampers sowel as dagbesoekers is welkom by die oord. Die asemrowende 4km strand met sy spierwit seesand maak vir 'n ideale luilekker strandstappie. Branderplankry is veral 'n gesogte watersport wat hier beoefen word. Die oorvloed klei in die nabye grotte is ook 'n trekpleister en veral jongmense en kinders geniet dit om mekaar van kop tot tone met die verskillende kleure klei te beverf. Die prentjiemooi hawe van  Gordonsbaai  is 'n oop geheim vir die ingeligte vakansieganger. Die hawemuur is 'n gewilde visvangplek en gesog onder fotograwe. Die seilbootklub en omliggende restaurante verskaf wêreldgehalte disse en uitsoekwyne in 'n skilderagtige atmosfeer. Die Thirsty Oyster Tavern bied ook lewendige musiek aan in die aande. Bikini Beach is 'n treffer onder swemmers en sonliefhebbers en is ook ideaal vir 'n wye verskeidenheid strandspeletjies. Gordonsbaai strand is veral gesog onder ouers met jong gesinne. Die vlak water, veilige atmosfeer en die Spur restaurant wat letterlik op die strand sit, maak dit ideaal vir kleuters en kinders om te baljaar terwyl ouers rustig iets te ete kan nuttig. Berties Mooring, 'n entjie met die kuslyn af sorg vir uitstekende vermaak met lewendige musiek regdeur die jaar, verskaf deur S.A. se top musikante.