Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Mistieke land van die silwer mis

Written by  Nikki van Coller
| in op Reis
| March 3, 2015

Tzaneen: Limpopo se paradys ontdek. In die hartjie van die Mopani-distrik in die Limpopo-provinsie van Suid-Afrika lê die prentjiemooi dorp Tzaneen.

As jy nog nooit besoek afgelê het in hierdie subtropiese paradys nie, kan jy gerus die moeite doen om ten minste een keer in jou lewe soontoe te gaan, want spyt sal jy beslis nie wees nie.

Tzaneen is die tweede grootste dorp in Limpopo (naas Polokwane), en is geleë aan die blougroen voetheuwels van die noordelike Drakensberge. Die omgewing het sy noemnaam ‘land van die silwer mis’ te danke aan die mistigheid wat so gereeld daar oor die berge hang. En as jy net een enkele rede soek om daar besoek af te lê, is dit die ongelooflike prag net waar jy kyk. Die dorp is bekend vir sy oorvloed en spog met ʼn kaleidoskoop van inheemse en uitheemse plante en word omring deur welige landerye waar daar neute, avokado’s, papajas, sitrusvrugte, mango’s, lietsjies, piesangs, koffie, tee, katoen en ʼn groot verskeidenheid groete verbou word. Die nabygeleë Wolkberge se hange is oortrek van denne- en bloekomplantasies. Daar is berge, riviere, watervalle, damme, uitgestrekte bosveld en wildernis; ’n versmelting van alles wat die natuur ʼn mens kan bied.

op-reis-march-1Waar mense bymekaar kom

        Volgens skriftelike dokumente en ook stories wat deur die geslagte heen oorgelewer is, het Tzaneen oorspronklik bekend gestaan as Tsaneng, afkomstig van die Sepedi-woord wat “bymekaarkomplek” of ‘Tsana’ (mandjie van heuwels) beteken.  
        Nadat die Engelse en Nederlanders in Suid-Afrika aangekom het, het Tzaneen ʼn smeltkroes geword van allerhande volke en kulture, wat nog groter betekenis aan die naam verleen. Volgens oorlewering het Duitse kartograwe die “ts” in die naam na “tz” verander en het die  naam mettertyd verander na Tzaneen.
        Die dorp het baie te danke aan die ontdekking van minerale in die oostelike deel, aangesien dit deel gevorm het van die verraderlike koetspaadjie op die roete tussen Pietersburg (nou Polokwane) en Phalaborwa. Destyds was Pietersburg die afspringplek van talle koetsroetes:  die een het na Bulawayo geloop deur Rhodesdrif en die Tuli-blok; nog een het geloop deur Haenertsburg en die Kloof na die vroeë plaas-nedersetting Krabbefontein (nou Merensky-skool); of deur Munnik na Westfalia en ander setlaarsgebiede. Een roete het gelei na Leydsdorp deur Haenertsburg en Agatha.  Dele van hierdie ou koetspad bestaan nog.
        Een van die eerste nedersettings in die area was ʼn stilhouplek vir poskoetse wat in 1892 gevestig is. Die Zeederberg-koetsmaatskappy het die pos gebruik om hulle spanne muile en osse te ruil voordat hulle die finale stuk aangedurf het met die kronkelende paadjie langs na Thabina, Leydsdorp en die Laeveld.
        Dit het egter eers die status van ʼn dorp verwerf toe die spoorwegstasie in 1912 geopen is. Die stasie is in 1928 weer gesluit en as ʼn plaasopstal gebruik. Die nuwe koetshuis is in 1983 opgerig in ʼn poging om die wonder en romanse van daardie vroeë dae terug te bring. Dit is gebou op die fondasie van die ou Strachan-hotel en ʼn paar van die ou mure en gietystervensters is vandag steeds in plek.

op-reis-march-2

ʼn Leeftyd van legendes

        Die area is deurspek van Afrika-mites, ondermeer die legende van die Reënkoningin – geslagte van vroue wat glo die eeue oue mag het om reën te bring.  
       Net noord van Tzaneen is die setel van Suid-Afrika se enigste matriargale dinastie: die koninklike kraal van Modjadji, die Reënkoningin van die Balobedu-volk. Volgens die verhaal het ʼn prinses in Zimbabwe vier eeue gelede aan haar vader se woede ontsnap nadat sy swanger geraak het. Haar ma het haar gehelp om haar pa se reënmaakmedisyne te steel en sy het saam met ʼn paar volgelinge suidwaarts gereis en haar eindelik in die berge van die broodboomwoud gevestig. Hier het Modjadji (die naam wat aan reënkoninginne gegee word) haar reënmakery beoefen en het sy al hoe meer invloedryk geraak. In April 2003 is die sesde Reënko-ningin en heerser van die Balobedu-volk, Reënko-ningin Modjadji VI, ingehuldig. Op die ouderdom van 25 was sy die jongste koningin in die geskiedenis van Balobedu. Ongelukkig het sy chroniese meningitis opgedoen en in 2005 gesterf. Sy word oorleef deur haar seun, Prins Lekukena, en ʼn dogter, Prinses Masalanabo, wat op haar 21ste verjaarsdag die nuwe Reënkoningin sal word.
        Die Tzaneen-museum het vandag verskeie uitstallings wat met die geskiedenis en kultuur van die streek te doen het, ondermeer wapens, kralewerk, pottebakkery, houtsnee-pale, heilige tromme en selfs die Reënkonin-gin Modjadji se koninklike tromme en ander artefakte, wat gewoonlik verbrand word wanneer die koningin sterf. Die museum het ook ʼn goeie versameling van houtsneewerk wat ʼn tydperk van 100 jaar dek, asook ʼn pottebakkery versameling wat ʼn tydperk van byna 2 000 jaar dek.
        Ander legendes van die gebied sluit ondermeer die inboorling verhaal in wat vertel van die God Thora wat nie daarvan gehou het dat die baobab in sy paradystuin groei nie. Hy het dit ontwortel en op die aarde neergegooi, daar het dit onderstebo geland en aangehou groei.  Volgens oorlewering moet ʼn mens ook water drink waarin baobabsaad geweek is, as jy nie deur ʼn krokodil aangeval wil word nie. Nog ʼn verhaal vertel dat indien jy dit sou waag om ʼn blom van die boom te pluk, dit besete kan wees – in welke geval jy deur ʼn leeu opgevreet sal word!

op-reis-march-3

Moeder Natuur woon hier

        Tzaneen bied die besoeker ʼn nuwe toneel om byna elke hoek en draai van die pad. Die bergagtige landskap, subtropiese klimaat, weelderige inheemse plantegroei, golwende plantasies en grootliks ongerepte natuurlike omgewing, maak dit een van die aantreklikste toeriste-areas in Suid-Afrika.
        Vanaf Tzaneen is dit ʼn maklike rit na Magoebaskloof, bekend vir sy unieke kombinasie van berge en bos, asook talle ontspanningsaktiwiteite in die buitelug. Oos is die wêreldbekende Kruger Nasionale Park en in suide die Laeveld met onvergelykbare wildbesigtiging by verskeie wildreservate.
        Die area is ook ʼn voëlkykersparadys en die tuiste van ongelooflike, beboste gebiede en natuurreservate met volop voëls. Die Lekga-lameetse-natuurreservaat spog met kristalhelder riviere, watervalle en pragtige poele. Woudpapegaaie, Lawaaimakerjanfredrikke, Oranjelysters, Groenkolpensies, Swartoog-boslaksmanne en Ruigtesangers kan gereeld gesien word. Die brullende  Debengeni-waterval is ook bekend vir rare voëlspesies, wat die Gryskwikkie en die Boslaksman insluit.
        Verskeie skoenlapperspesies is ook vernoem na die Wolkberge en die area is een van slegs twee ter wêreld waar die kritiek bedreigde skoenlapper Lepidochrysops Lotana aangetref word.
        Die Modjadji-broodboomreservaat is ook in die omgewing. Die reservaat, wat in 1936 tot nasionale monument verklaar is, het die grootse konsentrasie van ʼn enkele broodboomspesies ter wêreld en is beslis ʼn besoek werd. Hierdie majestueuse plante is van die oudste en grootste van hulle soort op die planeet, en die unieke natuurlike woud is nog ongerep en baie soos dit was in prehistoriese tye toe soogdieragtige reptiele hier rondge-swerf het.
        Die area is ook die tuiste van die Platland-baobab, een van die grootste oorlewende baobab bome ter wêreld. Die boom is glo 6 000 jaar oud met ʼn deursnee van 46.8m. Wanneer baobab bome die ryp ouderdom van 1 000 jaar bereik, begin hulle binnekant hol raak – en daar is toe in 1993 ʼn klein kroeg ingerig in die holte van die boom. Sedertdien is besoekers welkom om ʼn drankie in hierdie holte te geniet, in wat moontlik die enigste “lewende” kroeg ter wêreld is.  

op-reis-march-4

Die heerlike buitelug

        Die verkenning en fotografering van die omliggende natuurtonele is nie al wat daar is om in Tzaneen te doen nie; die dorp bied ʼn oorvloed van aktiwiteite vir smulpape, gesinne, sowel as adrenalienvrate.  
        Daar is talle asemrowende watervalle, piekniekplekke en staproetes, ondermeer die Rooikat-staproete, ʼn 11 kilometer lange roete deur ʼn mooi denne-, Matumi-, rooiessenhout- en  boskiepersol-woud.
        Die Mangela-hansdiereplaas nooi oud en jonk om talle vriendelike diere te vryf en te voer, ponieritte te geniet en in die teetuin te ontspan en verkwik te raak.  
        Die Agatha-krokodilplaas op ʼn prentjiemooi avokadoplaas net buite Tzaneen bied ʼn uitgebreide toer wat die geskiedenis, gedrag, bewaring en teel van die Nylkrokodil dek, asook ʼn voersessie en begeleide toer van die teeldam en kampe.
        Vir avonturiers is die Magoebaskloof-blaardaktoer  ʼn absolute moet – woorde kan nie die gevoel beskryf wanneer ʼn mens oor die canyon sweef en die pragtige tonele van George's Valley geniet terwyl die adrenalien behoorlik pomp nie. Canyonklim, vierwielmotorfiets-roetes, abseil, rotsklim, binnebandry, vlotvaart, reptielparke en olifantsafari’s is alles binne maklike bereik en kan te midde van skouspelagtige landskappe geniet word.
        Tzaneen is waarlik ʼn uiteenlopende en ryk gebied. Die dorp, wat bekend is vir sy skoon strate, vriendelike en gasvrye inwoners en mistige, magiese natuurlike skoonheid, moet beslis op die wenslysie van die kieskeurigste en mees gesoute reisiger kom.


op-reis-march-5

Where in Tzaneen and the surrounds do you like to camp?

Anita Visagie: ATKV Eiland definitely worth it.

Judy Henning Rademan: Ons kamp al sedert 1997 by die Eiland.... die beste nuus was dat ATKV oorgeneem het en die plek "gered" het! Ons gaan ons kleinkinders ook aan die plek voorstel!

Anel Fourie: Selwane Nature Reserve. You can bring your own tent and pick a spot to camp on our 4100ha farm. All the needed facilities available. 18km from ATKV Eiland.

Charles Sonet Tosen: Verseker Eiland en Swadini. Vir natuurskoon niks beter as Swadini.

Michelle Coetzee: Magoebaskloof Getaway... Great view

Sekhwela Edmorget Tebele: Mount Maroboni in Makhwibidung Village.

Eugene Bobo Odendaal: Eiland (Letsitele) & Swadini (Hoedspruit). Great camping sites.