Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Skrander vroue boer in Grabouw

Written by  Nicolene Swanepoel
| in op Reis
| April 7, 2015

Vroue wat boer is niks snaaks in die Grabouw/Elgin gebied nie.  Ons het ’n geskiedenis van vroue wat kan uithaal en wys.  Vroeg in die twintigste eeu het ene Kathleen Murray al uitgeblink, teen al die mans se verwagtings, en teen die algemene sosiale opinie dat vroue nie behoort te boer nie.

Die Grabouw/Elgin gebied is bekend vir vrugte, veral appels en pere. Die laaste paar dekades word al hoe meer wyn hier gemaak. Rose en ander plante blom ook gretig hier.
Die dinamiese Jeanne Groenewald produseer die bekende Elgin Free Range Chickens -  daar is ’n hele artikel aan haar toegewy, so ek fokus hier op ses van ons ander vroue boere.
Kathleen Murray was die niggie van twee jong broers, Ted en Harry Molteno, wie in 1903  in die Elgin area met vrugte begin boer het.  Sy moes in 1914 terugkeer vanaf Elgin na Engeland om haar studies in landboukunde voort te sit, toe die uitbraak van die Eerste Wêreld Oorlog daartoe gelei het dat sy langer moes aanbly op die familieplaas.  In plaas van geduldig wag,  het sy besig met bye begin boer, toé nog ’n leemte in die vrugte produksie siklus.   Haar heuning het gou pryse begin wen en sy het uitgebrei na vark- en hoender boerdery.  Die vrugtebome, eers appels en pere, later ook perskes en pruime, wat sy geplant het (aanvanklik vir heuningproduksie) was so gewild dat sy in 1920 gevra is om van hulle oor te stuur vir ’n groot Suid-Afrikaanse uitstalling in Engeland. Die Molteno boeties het blykbaar nogal gefrustreerd geraak met die niggie, wie se oënskynlik gemaklike sukses soveel meer aanloklike vrugte opgelewer het.  
april-op-reis-1-1Haar vrugte was mooi toegedraai in sagte papier wat met haar eie bye motief verfraai was - dalk ’n meer vroulike benadering tot subtiele maar effektiewe bemarkingstaktieke.
Kathleen se terrastuin op die Palmiet Rivier Plaas,  is nog te sien tydens die gewilde jaarlikse Elgin Open Gardens. Kathleen het self die baksteenhuis gebou. Sy het niks van tuinmaak geweet nie.  “In Venezuela (waar sy groot geword het) het ons nooit tuin gemaak nie, ons het net slange verwyder,” het sy gesê. Daar was baie rose geplant, en rose pryk nog steeds in oorvloed in Elgin.  
Die  kwekery, Elgin Roses, het begin toe Jean Kuiper ’n appelboord laat omploeg het om rose te plant.   Deesdae kweek hulle verskeie ander blomsoorte ook.
Rose is rose, maar Elgin is natuurlik mees bekend vir appels.  Barbara van den Bossche produseer uitvoer appels, pere en druiwe uit die Elgin/Vyeboom omgewing. april-op-reis-1-2Elgin se bekende appels word ook hier tot sap en drank verwerk.
Appletiser hoort hier in ons vallei, en verskeie siders word hier vervaardig - insluitende die besondere  MCC-tipe sider, ’n bottel gefermenteerde vonkel sider, Terra Madre, van  Nicole Precoudis. Sy noem dit “methode pommes classique”.  (MCC staan vir “Methode Cap Classique", ons lokale manier van sjampanje maak.)
april-op-reis-1-3Nicole is ’n vooraanstaande sjef, en het haar eie restaurant in Johannesburg gehad voordat sy die mooi “platteland” van Elgin ontdek het. Deesdae fokus sy ewe op boer en kos voorberei.  Sy kweek ook groente wat sy so vars moontlik inlê.  “Ons pluk soggens vroeg, lê dadelik in, en kry dit by die winkel so gou moontlik - ideaal moet die koper dit nog dieselfde dag kan gebruik,” sê sy.  Haar produkte is by die gewilde Peregrine Plaasstal  op die N2 net buite Grabouw te koop.  Haar ma, Koula, en hulle Griekse agtergrond is die inspirasie van baie van haar disse, daarom ook die naam “Terra Madre” - my moeder se aarde.
Met die Elgin Open Gardens en sommige ander geleenthede stel Nicole haar klein plasie oop, dan kan die publiek aan haar produkte smul terwyl hulle piekniek hou tussen haar appelboorde.
april-op-reis-1-4Buiten appels en appeldrankies, raak die Elgin streek al hoe meer bekend vir wyn.  
Marion Smith bestuur die Elgin Ridge plaas waar haar eggenoot, Brian Smith, die wyn maak.  Die plaas is jonk.  Die Elgin streek is hoog geleë, nie ver van die kus nie, met koue winters en warm somers.  Die lente word ingelei deur koel Atlantiese kuswinde wat ’n lang rypword periode van die druiwe verseker. Marion noem dat die klimaat soortgelyk is aan dié van Boergondië, wat die produksie van soortgelyke sagte, subtiele wyne moontlik maak.
Die grond waarop hulle wingerde begin plant het in 2007, was nog nooit bewerk nie, so dit is skoon van chemikalieë reste.april-op-reis-1-5  Hulle behou die suiwer grond kwaliteit deur gifstowwe  te vermy. 'n Trop dapper eendjies patrolleer die wingerde bedags om die goggas weg te hou, en slaap snags op hok; so mooie eendeiers is ook vanaf die plaas te bekom. Kyk mooi na die “R” in hulle naam - daar is ’n eendjie wegge-steek! Gebruik van motors word verminder deur ’n Percheron trekperd vir werk in die wingerde in te span, en beurtelings gaan sy mis in die komposhoop. 
april-op-reis-1-6Hoewel hulle klein hoeveelhede wyn maak is dit geensins onbekend nie. Elgin Ridge se ongehoute Chardonnay is veral gesog, paslik met appel en peer ondertone.  Marion reken hulle Pinot Noir is hulle mees hoogsaangeskrewe wyn.  Later in die jaar sal hulle organiese MCC,  ’n Pinot Noir / Chardonnay versnit, vrygestel word.
Marion het ook die grootste kudde geregistreerde Dexters  in die Wes-Kaap.
Melissa Nelsen produseer ’n delikate Chardonnay MCC, genaamd Genevieve.  Melissa was gek oor sjampanje en vonkelwyne, en het besluit om haar eie MCC te begin produseer.  Die eerste bottels is in 2008 bemark, en sedertdien verfyn sy heeltyd aan haar beperkte oplaag (omtrent 10 000 bottels per jaar).   Sy koop haar versigtig-gekeurde druiwe in.  Sy laat die wyn effe langer verouder in die bottel, wat ’n subtiele heuning smaak gee.

april-op-reis-1-7april-op-reis-1-8

Die flinke vroue in die artikel is die aanskoulike portrette van sukses.  Hulle verskaf werk aan baie ander mense, baie ander vroue, van wie mens nooit moet vergeet nie. Dis die vroue wat dikwels ongeken, stilweg, sonder enige fanfare, die vrugte wat ander kan geniet in die boorde versorg.  Dis hulle, die sout van die aarde, wie die uitblink van die paar ander moontlik maak.  So sluit ek dan graag die artikel af met ’n huldeblyk aan al die werkers van die plase, en hoop dat menige van die vroue en hulle dogters ook in die toekoms sal kans kry, en die kans reg benut, om ook bo uit te kom.


Vir meer inligting:
http://www.moltenofamily.net
http://www.iol.co.za/lifestyle/home-garden/garden/an-old-world-garden-of-abundance-1.1422470#.VQRQf2YgrQQ
http://www.elginridge.com
http://www.genevievemcc.co.za/