Volg ons op Facebook

Die Langkloof - ’n Vallei tussen twee wêrelde

Written by  Nikki van Coller
| in op Reis
| June 2, 2015

Tussen die stowwerige, droë hitte van die Klein-Karoo en die welige, beboste kuslyn van die Tuinroete lê daar ʼn klein, vrugbare vallei wat hierdie twee diverse landskappe op volmaakte wyse bymekaarbring.

As jy van Kaapstad af PE toe moet ry, of van George af Jeffreysbaai toe, is dit dalk net makliker om op die N2 te klim en die afstand so vinnig as moontlik af te lê; en in vandag se gejaagde lewe is dit natuurlik heeltemal verstaanbaar. Maar as jy die tyd en die lus het, kan jy gerus daardie ander pad aanpak en al langs die deel van Roete 62 ry wat deur die Langkloofvallei loop. Met die majestueuse berge, watervalle en strome in die agtergrond, en die talle wingerde en oorde langs die pad, sal jy agterkom dat hierdie roete moontlik een van die mooiste (al vergeet ons dit soms) dele van die gewilde R62 is. Dit is ʼn heeltemal ander soort ervaring as die kusroete tussen Kaapstad en Port Elizabeth, en hierdie nuwe panorama is beslis die moeite werd.

Die Langkloofvallei is genestel tussen die Kougaberge na die noordelike binneland en die Tsitsikammaberge in die suide. Dit is ʼn strook vrugbare land wat die Klein-Karoo van die Tuinroete skei, en sluit dorpies en nedersettings in soos Avontuur, Haarlem, Misgund, Louterwater, Krakeel, Joubertina, Kareedouw en Twee Riviere.

Die Langkloofvallei is onder jurisdiksie van die Cacadu-distriksmunisipaliteit van die Oos-Kaap provinsie van Suid-Afrika.

“Die Langkloof-gedeelte van die R62, wat dikwels die ‘Vrugteroete’ genoem word, is net 160km lank.”

Die Langkloof-gedeelte van die R62, wat dikwels die “Vrugteroete” genoem word, is net 160km lank. Hoewel dit ʼn kort roete is, kan jy maklik ʼn hele dag daar bestee, veral as jy die soort persoon is wat pragtige landskaptonele en plaaslike kultuur geniet. Doen by ʼn paar van die plase in die omgewing aan, neem na hartelus foto’s, hou iewers stil vir ʼn piekniek, loer in by ʼn paar dorpies en plekkies en geniet die volop voëls en dierelewe by ʼn hele aantal natuurreservate wat aan die vallei grens. In die lente bied die Langkloof jou ʼn kleurvolle, helder en aromatiese ervaring, maar met die meer as 2000 soorte Fynbos hier, bly die gebied regdeur die jaar ʼn lus vir die oog.

Stel jy belang in plaaslike geskiedenis? Dan sal jy beslis daarvan hou om die talle geskiedkundige geboue, kerke, landmerke (en stories, natuurlik) al langs die roete te verken.

Die plattelandse rustigheid van die omgewing maak die Langkloof net die regte plek om vars plaaslug in te asem, werklik te ontspan en weer een te word met die natuur. En tog het hierdie rustige plekkie ook ʼn hele rits avonture wat op jou wag, as jy net weet waar om daarvoor te soek. ʼn Daguitstappie deur die Langkloof kan sorg vir ʼn abseil-avontuur in die Kougaberge, ʼn moordende 4x4-roete in die Baviaanskloof of ʼn epiese, onvergeetlike staproete deur die Formosa-natuurreservaat.

Natuurreservate in en om die Langkloof sluit in die Kouga-, Baviaanskloof- en Sustersdal-natuurreservate in die noorde en die Formosa-natuurreservaat en Tuinroete Nasionale Park in die suide.

june-2015-opreis-1Appelwêreld

Die vallei wat 2500vt bo seevlak lê en slegs 15km van die Indiese Oseaan af is, het ʼn droë, koue klimaat. Die wind blaas in vanaf die see, styg oor die berge en sak dan in die vallei af, en bring só koue, vogtige lug in, wat die Lang-kloof afkoel tot ʼn matige 20 tot 30 grade in die somer (terwyl die nabygeleë Karoo in ʼn versengende hitte van 40 grade of meer grade bak). Die klimaat is perfek vir die aanplant van heuningbos en ʼn aantal vrugte, soos pere, appelkose, druiwe en veral appels; die Langkloofvallei is die tweede grootse vrugte verbouingstreek in Suid-Afrika.

ʼn Vrugbare begin

Die Kloof, wat eens die tuiste was van Boesmans en Gonagua-hottentotte, het sy naam te danke aan ʼn ekspedisie in 1689 deur Isaq Schrijver. Landbou word ongeveer sedert die 1700’s hier bedryf, en die vallei is ook vir baie dekades gebruik as jaggrond deur die wildjagters vanuit die kus dorpe wat in die winter hier sou uitkamp om hulle vleisvoorraad aan te vul. Die diervelle is gesout en die vleis gedroog en dan oor die Outeniquaberge na die klein nedersettings langs die kus geneem.

Teen die 1800’s het skaap- en beesboere hulle ook in die vallei begin vestig, en dit was nie lank voor vrugteboerdery ook kommersieel begin raak het nie.

ʼn Spoorweg is op publieke aanvraag tussen 1890 en 1906 deur die regering van die Kaap-kolonie gebou om die groeiende Langkloof-vrugteverbouingsbedryf met die nuwe hawe by Port Elizabeth te verbind. As gevolg daarvan is al hierdie dorpies oorspronklik om ʼn spoorwegstasie gevorm, met huise, ʼn kerk en skool wat weldra deel van die nedersetting uitgemaak het.

ʼn Hedendaagse besoek aan hierdie dorpies gee jou werklik ʼn gevoel van hoe dinge ʼn honderd jaar gelede was. Party van die dorpies het groter geword, maar ander het gebly byna nes hulle destyds was, met van die oorspronklike geboue wat steeds staan, en baie min moderne ontwikkelings of argitektuur is daar te sien.

Die spoorlyn tussen die Langkloof en Port Elizabeth is voorheen deur die Suid-Afrikaanse nasionale spoorwegmaatskappy, Spoornet, bedryf. Toe padvervoer in die 1940’s algemener geraak het, is passasierstreine op hierdie roete afgeskaf. En toe die regering die padvervoerbedryf in 1989 gedereguleer het, is ʼn groot hoeveelheid vragvervoer van die spoorweg na die pad verskuif. Slegs die toeristetrein, “The Apple Express” het nog daar geloop, totdat dit ook in 2011 tot ʼn einde gebring is..

DIE ROETE

Uniondale

june-2015-opreis-2

Hoewel Uniondale nie heeltemal deel van die Langkloof is nie, is dit die moeite werd om daar in te loer, veral om die diverse natuurtonele en pragtige flora te geniet. Die Kammanassie- en Kougaberge hou wag oor hierdie plaasdorpie, terwyl die magtige Swartberg in die verte gesien kan word. Daar is ʼn aantal geskiedkundige geboue en nasionale monumente. Uniondale het ook heelwat restaurante, koffiewinkels en galerye, en die plaaslike inwoners vertel graag die storie oor die spoke van Uniondale.

Uniondale is ook ʼn gewilde fietsrybestemming, en die 100km lange Karoo-tot-Kus-bergfietsrit vanaf Uniondale tot in Knysna is vinnig besig om ʼn hoogtepunt op die bergfiets kalender te word.

june-2015-opreis-3

Haarlem

Haarlem is ʼn klein dorpie in die Langkloof wat glo sy naam gekry het by Hollandse setlaars was huis toe verlang het. Duitse sendelinge het die sendingstasie Anhalt-Schmidt in 1860 gestig en die nedersetting het verder gegroei toe die spoorweg aangelê is..

Haarlem het ʼn ryk en kleurvolle geskiedenis, soos gesien kan word aan die talle geskiedkundige geboue en nasionale monumente. Maar die ware bekoring lê by geselsies met die plaaslike inwoners, van wie talle nog hulle produkte met donkiekarre aanry. Die meeste families bly al geslagte lank in die dorpie en het ʼn hele paar fassinerende stories om oor die omgewing te vertel.

“Maar die ware bekoring lê by geselsies met die plaaslike inwoners, van wie talle nog hulle produkte met donkiekarre aanry.”

june-2015-opreis-4

Misgund

Misgund is ʼn dorpie met ʼn bevolking van ongeveer 450. Besoek gerus die Nederduits Gereformeerde kerk en die Kliphotel Country Store, ʼn plaaswinkel 5km buite Misgund, wat vanuit ʼn gerestoureerde hotel bedryf word, wat oorspronklik in 1931 van klip gebou is.

Louterwater

Louterwater is basies ʼn plaasopstal, die tuiste van ʼn groot appel- en peerplaas bekend as die Louterwater-landgoed. Die plaas is in 1961 deur die destydse Minister van Landbou- en Watersake, P.K. le Roux gekoop, en is vandag steeds in die besit van sy nasate. Sy kleinseun Pieter le Roux en sy gesin woon en werk op die plaas, wat nou nie net ʼn groot vrugteverbouingsbedryf is nie, maar ook wonderlike verblyfopsies en hartlike plaasgasvryheid insluit.

june-2015-opreis-5

Joubertina

june-2015-opreis-6Joubertina is die grootste dorp in die streek en is gevestig op die oewer van die Waboomrivier, wat noordwaarts na die Kougarivier vloei. Die nedersetting, met ʼn bevolking van ongeveer 6 000, is in 1907 gevestig en vernoem na W.A. Joubert, wat tussen 1878 en 1893 die predikant van die Nederduits Gereformeerde kerk in Uniondale was. Omdat Joubertina die grootste (en die grootste appelverbouings-) dorp in die Kloof is, verwys baie mense in die dorp met geneentheid daarna as die “Die Groot Appel van die Vrugteroete”.

Dit is sedert die vroeë 1900’s die tuiste van appelboere en die kerkgebou is reeds in 1911 opgerig. Die sand-steenbakstene waarmee dit gebou is en die unieke geelhout-binnekant, maak dit ʼn moet-sien as jy deur die Langkloofvallei ry.

Daar is ook ʼn monument ter herdenking aan die eerste trekker in die Langkloof – ʼn 1928 Wallis. Die teken langs die geroeste ou trekker sê gepas: “Rus in vrede.”

Joubertina is ook bekend vir die Kouga-mummie – ʼn 2 000 jaar oue gebalsemde mummie wat in April 1999 20km noord van die dorp ontdek is. Johan Binneman, ʼn argeoloog van die Grahamstadse Albany-museum, het die mummie, wat toe Moses gedoop is, op die plaas van Fanie Gerber gevind en vanweë die manier waarop dit begrawe was, word daar aangeneem dat dit ʼn voorouer van die Khoisan-volk is.

“Die teken langs die geroeste ou trekker sê gepas: ‘Rus in vrede’.”

june-2015-opreis-8

Kareedouw

Die lewendige dorpie Kareedouw word as ʼn deurgangsdorp beskou, aangesien dit gerieflik geleë is op ʼn kruispad wat dit met baie ander streke en paaie verbind. Die N2 is slegs 8km daarvandaan, oor die Tsitsikammaberge; Jeffreysbaai is ongeveer 45 minute daarvandaan; en Plettenbergbaai net ʼn uur se ry. Dit is ook die enigste ingang vanaf die suide na die Baviaanskloof Reservaat.

“Die dorp, wat sy naam verkry het van die Khoi-frase wat ‘gaan by die Kareebome verby’ beteken.”

june-2015-opreis-9Die dorp se inkomste het nog altyd hoofsaaklik van boerdery en bosbou gekom, en Kareedouw is die tuiste van die bekende Rensilfier meubelfabriek. ʼn Beeldhouwerk van ʼn houtkapper bring hulde aan die houtkappers van die verlede en die hede – wat nog altyd ʼn groot rol in die dorp se nywerheid en ekonomie gespeel het.

Die dorp, wat sy naam verkry het van die Khoi-frase wat “gaan by die Kareebome verby” beteken, spog ook met ʼn pragtige Nederduits Gereformeerde klipkerk met ʼn gedenktuin langsaan, wat die laaste rusplek is van John Vorster, die voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika (1966-1978).

Daar is talle 4x4-roetes, staproetes en motorfietspaadjies in en om Kareedouw vir avontuurlustiges, en daar is ook ʼn hele aantal verblyf- opsies beskikbaar, ondermeer buitelodges en gasteplase, waar jy ongetwyfeld soos ʼn ou vriend behandel sal word.

Of jy jou dus in die droë, warm Klein-Karoo bevind, of in die lowergroen Tuinroete, dink gerus daaraan om die 160km lange pad te vat wat deur die vallei loop wat hierdie twee uiters uiteenlopende landskappe skei. Bekorende, beskeie, ouwêreldse vallei.