Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Die wonders van die Wilde Weste

Written by  Nikki van Coller
| in op Reis
| July 3, 2015

Bekroonde wyne, veldblomme en walvisse is maar net ʼn paar van die wonders wat van laat Julie tot laat September op jou wag wanneer jy ʼn rustige reis deur die Namakwa-Weskusstreek aanpak.

Die Namakwa-Weskusstreek grens aan die Atlantiese Oseaan in die weste en strek van Bitterfontein in die noorde tot net anderkant Klawer in die suide, met Vanrhynsdorp en Lutzville in die middel daarvan.

“Met ongerepte wit sandstrande, ruwe berge, ʼn vrugbare groen vallei, en uitgestrekte dor vlaktes, wat laat in die winter en vroeg in die lente in kleurvolle plate blomme omskep word.”

Die natuurverskynsels in die streek vorm sterk kontraste, met ongerepte wit sandstrande, ruwe berge, ʼn vrugbare groen vallei, en uitgestrekte dor vlaktes, wat laat in die winter en vroeg in die lente in kleurvolle plate blomme omskep word. Die gebied spog ook met ʼn ongelooflike biodiversiteit, insluitend ʼn groot aantal endemiese plantspesies.

Die kultuurgeskiedenis van die Namakwa-Weskusstreek strek honderdduisende jare terug, soos gesien kan word aan die eeue-oue handgereedskap en rotstekeninge wat hier ontdek is. Die San-volk het in die streek gewoon, en hoewel hulle nasate vandag nog in die gebied woon, het die meeste van hulle oorspronklike kultuur en tradisies oor die jare heen verlore geraak. In die 1700’s het Europeërs die intrek geneem en met vee geboer, waarna daar ook begin is om koper en diamante te ontgin.

Dorpe van die Namakwa-Weskus

Doringbaai

July-2015-opreis-1Doringbaai is 'n lieflike vissersdorpie net suid van Strandfontein, met ʼn bevolking van ongeveer 1 300. In 1925 is daar ʼn kreefverpakkingsfabriek opgerig. Dit het in die 1970’s gesluit en is nou ʼn sentrum met ʼn restaurant, wynkelder en onthaallokaal. Geen besoeker moet hierdie dorpie verlaat sonder ʼn besoek aan die Doringbaai-vuurtoring wat in 1963 die lig gesien het nie.

Ebenhaeser en Papendorp

Ebenhaeser en Papendorp is twee tipiese Weskus-vissersdorpies wat op die Olifantsrivier geleë is, en eersgenoemde het in 1834 as ʼn sendingstasie tot stand gekom.

Hardeveld

July-2015-opreis-2

Die Hardeveld lê noord van die Knersvlakte en is ʼn dor, yl bevolkte gebied, en hier kry jy die dorpies Molsvlei, Stofkraal, Nuwerus, Rietpoort en Putsekloof, met Bitterfontein as die handelsentrum van

die gebied.

Klawer en Trawal

Klawer het om die spoorwegstasie ontwikkel wat die Olifantsriviervallei bedien het, en het ʼn bevolking van ongeveer 6 000 en ʼn ekonomie wat grootliks op wynverbouing gegrond is.

“Die area om Lutzville het oorspronklik bekend gestaan as Vlermuisklip, weens ʼn rotsagtige oorhelling, of grot.”

Lutzville

Die area om Lutzville het oorspronklik bekend gestaan as Vlermuisklip, weens ʼn rotsagtige oorhelling, of grot, wat vroeër deur reisigers as beskutting gebruik is. Die dorp Lutzville is in 1923 gestig en vernoem na Johan Lutz, ʼn besproeiingsingenieur wat aan die Clanwilliamdam gewerk het. Daar woon ongeveer 5 000 mense op die dorp wat die omliggende landbougemeenskap bedien. Besienswaardighede in Lutzville sluit twee nasionale monumente in: Vleermuijsklip en die Melkboomsdrift-plaashuis. Dan is daar ook die indrukwekkende Sishen-Saldanha-spoorwegbrug.

Strandfontein

July-2015-opreis-3

Strandfontein is ʼn baie klein vakansiedorpie met minder as 200 permanente inwoners, en weerskante daarvan lê Papendorp in die noorde, en Doringbaai in die suide.

Vanrhynsdorp

Vanrhynsdorp word beskou as die poort na Namakwaland, die Hantam-Karoo en die Cederberg. Die dorp het ʼn bevolking van ongeveer 6 000. Die gebied, wat aan die Troe-Troe-rivier geleë is, was geskiedkundig ʼn uitspanplek vir reisigers en het as Troe-Troe bekend geraak. In 1881 is die naam verander na Vanrhynsdorp, na die plaaslike predikant Petrus Benjamin van Rhyn.

July-2015-opreis-5

Plekke wat ʼn besoek werd is, is die eerste kerk, wat bekend was as Het Gesticht, Truto-huis wat in 1751 gebou is, die ou tronk, perdemeul, die Latsky-radiomuseum, die Kokerboom-vetplant-kwekery en die Victor Smith-monument net buite die dorp.

Vredendal

Vredendal is die streek se grootse dorp met ʼn bevolking van 20 000 en ʼn ekonomie wat op die myn- en landboubedryf gegrond is. Die dorp het glo eers bekend gestaan as Bakkeley Plaats as gevolg van die July-2015-opreis-4konflik tussen die Hollanders en die Khoi-mense in 1668. Toe vrede verklaar is, is die naam verander na Vreedendaal – vallei van vrede – en is sedertdien verkort tot Vredendal. Vredendal, wat een van die land se grootste koöperatiewe wynkelders huisves, het ook ʼn florerende droëvrugte- en voedsel inmaakbedryf.

Weskus-blommeryk

Die Namakwa-Weskusstreek huisves fynbos, vygieveld, gannabosveld, renosterveld en strandveld. Hierdie unieke blomme-erfenis word in drie beskermingsgebiede bewaar: die Moedverloren-natuurreservaat, die Kapel-bewarea en die Lutzville-bewarea.

“Die Knersvlakte is een van die wêreld se rykste vetplantstreke en die tuiste van ʼn derde van die wêreld se dwergvetplante.”

Die Knersvlakte is een van die wêreld se rykste vetplantstreke en die tuiste van ʼn derde van die wêreld se dwergvetplante. Dit is nie so maklik om hulle raak te sien nie, en dis die moeite werd om agter die stuur uit te klim daarvoor.

Die gebied is ook ryk aan grondkorsmos, delikate swam- en alge-strukture wat ʼn laag plantmateriaal op die grondoppervlak vorm en die grond só teen erosie beskerm.

July-2015-opreis-6

Blommeseisoen

Na die winterreëns ontpop die Namakwa-Weskusstreek in ʼn dramatiese blommetapyt van kleur met helder stroke gousblomme en vygies, asook lachenalias, nemesias, bobbejaantjies en kalossies. Ry self of gaan op ʼn begeleide toer. Probeer gerus ook ’n besoek inpas van een van die twee groot blommeskoue wat tydens die blommeseisoen gehou word: die Clanwilliam-blommeskou (27 Augustus - 5 September) en die Darling-veldblomskou (18-20 September).

As jy van die idee hou om tussen die blomme te stap en te kamp, is daar twee staproetes wat byval sal vind; die Postberg twee-dag-roete van ongeveer 30km, waarvoor jy jou eie tent en voorraad moet bring, maar beloon word met die feit dat jy een kan raak met die veldblomme in die natuur. Vir diegene wat nie so fiks is en ook nie graag kamp nie, is daar die Steenbok een-dag-roete van ongeveer 14km.

ʼn Paar van die beste besigtigingsplekke is die Postberg-deel van die Weskus Nasionale Park, dan Darling en omgewing, ondermeer die Tienie Versveld-reservaat, die Cederberg-wildernis en in en om Clanwilliam, wat die Ramskop-natuurreservaat insluit.

July-2015-opreis-7

Wyn, wonderlike wyn

Die Namakwa-Weskus is ʼn uitstekende wynproduserende gebied en tuiste van Suid-Afrika se jongste wynroete, bekend as die Weskus-wynroete. Die magtige Olifantsrivier kronkel sy pad deur die Namakwa-Weskus van Klawer tot Lutzville, en voed die wingerde op sy oewer, wat dit ʼn vrugbare wynvallei maak. Dié vallei spog met ʼn aantal bekende en minder bekende wynlandgoedere. Die grond is vrugbaar, die klimaat matig en die streek het ʼn lae reënval. Koel seebriese, mistige oggende, en sonnige dae sorg vir groter kompleksiteit in die wyne.

“Probeer gerus ook ’n besoek inpas van een van die twee groot blommeskoue wat tydens die blommeseisoen gehou word: die Clanwilliam-blommeskou en die Darling-veldblomskou.”

Wynlandgoedere wat gerus besoek kan word (ook vir aankope), sluit in:

Namaqua-wyne, een van die grootste wynkelders in Suid-Afrika, met ʼn puik besoekersentrum, wonderlike proekamer en fantastiese restaurant.

Melkboomsdrift-wyne, naby Vredendal, is al met verskeie toekennings bekroon by die Young Wine Makers-skou van Suid-Afrika en lewer uitstekende wyne.

Die Bellpost-kelder, Wilgenhof, en Cape Rock-wyne is ook ʼn besoek werd. Laasgenoemde bied Rhône-styl rooiwyne en Portugese-styl Capa Roca.

July-2015-opreis-8

Lutzville-wingerde is geleë op die oewer van die Olifantsrivier, en vind baat by die unieke plaaslike klimaat. As een van die grootste wynprodusente in Suid-Afrika, het die wynkelder 2 300 hektaar wingerde en bied hulle drie reekse: Lutzville, François Le Vaillant, en die Diamond Collection.

In die dorpie Trawal, verder suid, tref jy die Stellar organiese wynkelder aan. Stellar het begin as ’n organiese wynprodusent om te voorsien aan ʼn nismark, en is nou die grootste wêreldprodusent van wyne sonder bygevoegde sulfate.

Tierhoek-wynlandgoed, Klawer-wynkelders en Vleilen-wyne is almal in en om die Klawerstreek en is beslis ook ʼn besoek werd.

July-2015-opreis-7

July-2015-opreis-10

ʼn Voorbeeld van ʼn reisplan van drie dae langs die Namakwa-Weskus

Die varsste seekos denkbaar, walvisse, die lenteblom-kaleidoskoop en ʼn magdom fantastiese wyne – dit alles kan deel wees van ʼn selfbestuurreis van drie dae deur die Namakwa-Weskusstreek in Augustus.

July-2015-opreis-11

Dag 1: Reis ongeveer 300km op die R27 vanaf Kaapstad tot by Lambertsbaai. Stilhouplekke langs die pad kan Darling en die Postberg-blomreservaat insluit, asook waar jy ook al gerugte gehoor het (of twiets gelees het), van walvisse wat gesien is by Bokpunt, Yzerfontein, Paternoster, Tietiesbaai of Saldanhabaai. As jy voor sononder by Lambertsbaai aankom, kan jy ʼn seekosfees by die Muisbosskerm geniet.

Dag 2: Ry ongeveer 200km van Lambertsbaai na Klawer. Verken die gebied se beste wynkelders, ondermeer Stoumann-wyne, Melkboomsdrift-boetiekwynkelder, Fryer’s Cove-wynkelder en Namaqua-wyne, in en om Vredendal. Bespreek ʼn wynproesessie by die Stellar-wynkelder, die land se grootste organiese wynprodusent, en die Lutzville-wynkelder wat in 1963 op die been gebring is en wat die tweede grootste enkelkelder in Suid-Afrika geword het. Sluit die dag af met ʼn besoek aan die Klawer-wynkelder en ʼn wonderlike maaltyd by Margo’s restaurant.

Dag 3: Ry ongeveer 320km vanaf Klawer terug na Kaapstad op die N7. Hou stil by Clanwilliam, waar daar nog geleenthede is om wynplase te besoek en blomme te besigtig. Die Ramskop-natuurreservaat, bokant die Clanwilliamdam, is die tuiste van endemiese veldblomsoorte en moet beslis gedurende Augustus en September besoek word.

Wenke vir blommekyk

• Aangesien die blomme na die son toe kyk, is dit ʼn goeie algemene beginsel om redelik vinnig noord te reis en dan die meeste van jou blombesigtiging in ʼn suidelike rigting te doen sodat die blomme altyd na jou toe wys.
• Die blomme is op hulle beste tussen 10vm en 3nm wanneer die son op sy hoogste is.
• Die blomme maak nie oop in ongure weer nie. Daarom moet jy jou reis vir ʼn sonnige dag beplan.
• Kry gerus vir jou ʼn blommegids by ʼn plaaslike toeristekantoor, wat jou sal help om die blomme uit te ken en meer daaroor te leer.

Maar wat jy ook al doen, moenie die blomme pluk nie.