Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Klein dorpie, groot hart

Written by  Nikki van Coller
| in op Reis
| August 7, 2015

Porterville, waar ek vrede, Porter-bier en ’n papegaai met die naam Poplap leer ken het.

Toe ek Porterville binnery, kon ek nie anders as om te voel dat daar iets baie spesiaals aan hierdie dorpie is nie.
En toe ek baie ure later met ʼn swaar hart vertrek, het ek geweet dat dit beslis die geval is.

Terwyl ek al langs die R44 in die rigting van Porterville ry, is dit asof die uitgestrekte blou lug my intrek, en ek wonder, net vir  ʼn wyle, of dit selfs nodig is om die stuurwiel vas te hou. Ek vergis my en ry deur Piketberg, wat my roete met so ʼn paar kilometer rek. Maar ek is bly dat dit gebeur, want dit beteken dat ek direk in die rigting van die Groot Winterhoek-berge ry – en die pers-grys rots, wat tussen die groen landerye en die blou lug genestel lê, slaan my asem behoorlik weg. Ek voel ligjare verwyderd van die stres, verkeer, misdaad en sterk wind wat ek agtergelaat het.

Ek besluit om eers so ʼn bietjie deur die dorp se strate met sy boomlanings te stap, en wat my dadelik tref is die afwesigheid van diefwering, hoë mure en elektriese heinings. Voordeure staan oop; mense waai vir my in hulle tuine; honde kom uit om te groet. Dit is ʼn plek van vrede. Dis lekker hier.

“Dit is ʼn plek van vrede. Dis lekker hier.”

Terug in my motor, ry ek deur Voortrekkerstraat, die hoofpad wat deur die middel van die dorp loop. Weerskante van die straat is daar winkels en sakeondernemings, nes jy van ʼn klein dorpie sal verwag: ʼn Spar, OK, Pep, kafees, meubelwinkels, banke, drankwinkels en ʼn inligtingsentrum, waar die vriendelike en kundige Nathalie my op die spoor van ʼn paar van die dorp se meer interessante plekke sit.

august2015-opreis-porterville-1

Die Koppikofi-restaurant lyk sommer na ʼn lekker plekkie, en ek maak ʼn knoop in my oor om langsaan, by Villa Cho-Co-Latt, oor te bly as ek ooit weer in Porterville is; ek loer vinnig daar in; die kamers is knus en die tuin het ʼn Provensale gevoel. Maar dis stil – tussen ontbyt en middagete – en ek beweeg aan, op soek na ʼn bietjie interaksie met mense.

Verder in die pad af vang iets my oog en ek draai af in die systraat en parkeer buite ʼn klein tweedehandse winkel wat lyk of dit toe is. “Ek kom!” hoor ek agter my, en die vroutjie met die kort donker hare en sagte oë kom vinnig aangeskarrel om die deur oop te maak. Tannie Omi, sê sy, moes gou OK toe want haar suiker was op en sy was lus vir ʼn koppie koffie.  Sy sien my kamera en sê ek moet ʼn foto van haar voëls kom neem.

“Hoewel ek voorheen al ʼn naweek by Beaverlac deurgebring het, is dit die eerste keer dat ek in die dorpie Porterville is. Tog groet die plaaslike inwoners my asof ons ou vriende is. En gedurende my kort, dag-lange, besoek hier, leer ken ek inderdaad mense wat ek met graagte vriende sal noem.“

Binne is die winkel vol snuisterye van elke geur en kleur, soliede meubels wat deur Tannie Omi se man gemaak is en ʼn klompie voëlhokke met parakiete, budjies en Poplap, ʼn helderrooi en blou Eclectus-papegaai. Tannie Omi haal hulle trots uit hulle hokke en wys vir my hoe die Indiese ringnekpapegaai daarvan hou om op die pennehouer te sit en die skryfgoed uit te gooi. Ons gaan sit en sy vertel my van haar man se oorplasing van Robbeneiland na die Voorberg-korreksionele fasiliteit nadat die vorige gevangenis gesluit is. Die eerste paar jaar was moeilik, sê sy. Dit was eensaam omdat sy ʼn “inkommer” was, maar vandat sy die winkel het, behandel die lewe haar goed en is sy gelukkig. Ek hou van hierdie Tannie. Sy is nog sout van die aarde en laat om die een of ander rede ʼn gevoel van nostalgie in my opwel.  Wanneer dit tyd is om aanstaltes te maak, gee sy my ʼn drukkie en sê sy ek moet kom kuier wanneer ek weer in die dorp is.

august2015-opreis-porterville-2

Buite keer ʼn Rastafari my voor met ʼn vriendelike glimlag en sê ek moet “foto’s van die dorpsmense neem”. Toe ek my kamera aansit, trek hy sy vriend nader en die twee poseer vir ʼn foto, en wens my nie net ʼn goeie dag toe nie, maar ook ʼn lang en gelukkige lewe.

“Die dorp Porterville is in 1863 gestig en vernoem na William Porter wat die destydse Advokaat-Generaal van die Kaapkolonie was. Maar lank voor die aankoms van ontdekkingsreisigers en setlaars het die San-mense reeds in die gebied kos gesoek en gejag, soos gesien kan word aan die groot aantal rotstekeninge wat in die berge aangetref word. In die vroeë 1700’s is die eerste plase toegeken, en teen 1762 was die wit boeregemeenskap goed gevestig en was hulle algemeen bekend as ‘Wijk Vier-en-twintig Rivieren’. In 1820 het die Britte ongeveer 4000 setlaars na die Kaap gebring in  ʼn poging om die Kolonie se oostelike grenspos teen die Xhosa-mense te verdedig. Een van hierdie setlaars was Frederick John Owen, wat die plaas Willemsvallei in 1860 gekoop het en die naam verander het na Pomona. Drie jaar later is daar ʼn dorp op die plaas uitgelê en die eerste sewe erwe is verkoop. Porterville het in 1881 munisipale status ontvang.”

My volgende stop is die dorp se museum. Hier groet Sonika my met ʼn glimlag, en sy wys vir my die klein en ietwat eklektiese museum. Die gebou is oorspronklik in 1879 opgerig as ʼn hof met tydelike selle. Dit is later deur die munisipaliteit gebruik, toe as ʼn melkery, en toe, 100 jaar later, in 1979, is die Jan Danckaert museum geopen wat vernoem is na die leier van die eerste ekspedisie wat in die 1600’s deur die gebied gereis het. Die gebou is ʼn nasionale erfenisterrein en is steeds soos dit was toe dit gevangenes gehuisves het. Die enigste verskil is dat dit nou die tuiste is van die bekendste rotskuns wat in die nabygeleë berge aangetref word, asook alles van ou musiekinstrumente tot plaastoerusting, hospitaalvoorraad en -slaapdrag, houtskoolysters, tikmasjiene en vleismeules van vergange jare. By die ou houtdorsmasjien vertel Sonika my dat sy in die dorp Porterville grootgeword het en dat haar bed gemaak was van goiingsakke vol kaf. Die kinders het destyds op die hoë beddens geklim en dan die volgende oggend naby die vloer wakker geword omdat die kaf gedurende die nag plat geraak het.

“ʼn Uiters gewilde plek vir valskermswewers en hangswe-wers van regoor die wêreld.”

Ek groet nog ʼn waarlik vriendelike siel en gaan dan na Flyer’s Lodge, ʼn moderne gastehuis en die basis van ʼn florerende valskerm-sweef besigheid wat in 1998 deur Rob Manzoni begin is. Weer eens word ek getref deur die grootsheid en blouheid van die lug. Lyk dit altyd so GROOT, wonder ek.

august2015-opreis-porterville-3

august2015-opreis-porterville-4

Terwyl ek by Flyer’s Lodge is, is ʼn gereelde gas besig om sy hangsweeftuig reg te kry in die fris windjie wat nou net begin waai het. Ek is ʼn bietjie jaloers; dit lyk na pret.  Ek gesels met Rob, wat vir my vertel dat die Porterville-omgewing ʼn uiters gewilde plek vir valskermswewers en hangswewers van regoor die wêreld is, en dat hulle gedurende die somermaande tjok-en-blok vol is van plaaslike mense en buitelanders, waarvan baie jaar in en jaar uit kom. Ek verstom my oor hoe groen alles is, maar Terina, wat die lodge bestuur, sê sommer gou dat dit nie so lyk gedurende die droë somermaande nie.

Ek is nogal gefassineerd deur hierdie mense wat by berge afspring en kilometers ver vlieg – enigiets van 15 tot 100km en meer! Rob sê dat party van hulle iewers land en dan self hulle weg na die lodge in Porterville terugvind – deur duim te ry, of met taxi’s, busse en treine. “Dis alles deel van die avontuur,” sê hy met ʼn glimlag. Die swembad lyk baie aanloklik en ek wens dit was somer (en ek maak nog ʼn knoop aan my oor vir die volgende keer as ek in die dorp is).

august2015-opreis-porterville-5

Ek hou stil by die enigste ander restaurant op die dorp, Rendezvous, waar die eenvoudige spyskaart met sy baie goeie pryse my mond laat water, maar ek het ʼn afspraak met ʼn bierbrouer, en daarom is ek maar tevrede met ʼn vinnige geselsie en toer met Tannie Riana, wat vir my ʼn broodnodige koppie koffie aanbied en my ʼn bietjie rondwys. Die gebou is in 1911 opgerig as die pastorie, en toe die restaurant oorneem, het die dominee se kantoor die kroeg geword. (Dit is sedertdien na ʼn ander deel van die gebou verskuif omdat die kroeg se geraas in Kamer 3 gehoor kon word, vertel Tannie Riana.) Sy is ʼn moederlike mens wat my aan my Afrikaanse tantes en oorlede ouma herinner, en weereens is ek oorweldig deur die gevoel van nostalgie.

“Maar Tannie Riana sê vir my die dorp is altyd bedrywig; die 22 watervalle lok heeljaar toeriste. “

Ek vra of die dorp regtig stil is in die winter, en neem aan die antwoord sal ja wees. Maar Tannie Riana sê vir my die dorp is altyd bedrywig; die 22 watervalle lok heeljaar toeriste. Dan is daar die valskermsweef, wat besoekers van oral in die wêreld bring. Die Kaap Agri Akademie, wat opleidingswerks-winkels vir boere en plaaswerkers bied en die ABSA-streekskantoor sorg dikwels vir besoekers uit die omliggende gebiede. Ek voel weer ʼn bietjie hartseer, maar dan onthou ek my laaste stilhouplek vir die dag en dit maak my sommer weer bly.

august2015-opreis-porterville-6

Ek bel Bernard Kruger en sê vir hom dat ek op pad is. Ek sien die bordjie wat sê: “Something is brewing…” en draai af en dan in by die plaas Kleine Liefde wat behoort aan Susan Kruger se ouers wat 10 jaar gelede uit Durbanville weg is om die plaaslewe te geniet. Bernard is ʼn vriendelike, slim outjie wat klaarblyklik passievol is oor sy bierbrou besigheid. ʼn Reuse boerboel sluit by ons aan terwyl Bernard vir my die mikro-brouery gaan wys en verduidelik dat die groter, beter toerusting kort tevore geïnstalleer is en dat dit die vorige, baie kleiner opset vervang. Sy vrou Susan sluit by ons aan met haar vyf maande oue babadogtertjie, Mia, en ʼn trop vriendelike honde. Ek proe die biere wat tans deur die brouery gemaak word – die Cochoqua Red Ale, die 24-River Blondeen en die donker, moutagtige Porter’ville Porter. Elkeen is heerlik en bied iets unieks; ek kan eerlikwaar nie besluit van watter een ek die meeste hou nie. Ek sit en gesels byna ʼn uur lank met Susan en Bernard en hoor hoe hulle mekaar ontmoet het (hy was die sanger in ʼn orkes en het Susan se oog gevang), die lewe op die plaas, hulle honde, hulle babadogter en natuurlik, bierbrou. Die son dreig om te sak in die verte, en ek weet dit het tyd geword om die pad terug Kaapstad toe aan te pak. Ek roep my nuwe vriende vaarwel en wens hulle voorspoed toe met hulle opening op 1 September.

Terwyl ek op die R44 in die rigting van Gouda ry met die son wat hier regs van my sak, sit ek ʼn CD in en sing ek saam met my nuwe gunstelingliedjie. Ek dink aan al die waarlik vriendelike mense wat ek leer ken het. Ek het lanklaas so ʼn gevoel van vrede ervaar en ek weet ongetwyfeld dat ek weer sal kom. En iewers, in my agterkop, wonder ek of hierdie vriendelike klein dorpie dalk die plek is waar hierdie meisie met die landelike bloed in haar are eendag haar skoene gaan uitskop…

august2015-opreis-porterville-7