Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Askham onder die loep

Written by  Hein Eksteen
| in op Reis
| December 15, 2015

“Oom kan nie onder die prop hier aankom met te min geld en dink ek gaan instaan nie!” grom taxi-bestuurder Johnny teenoor die bejaarde Oom Piet waar ons gebondel buite Upington se sport-stadion wag. Die pad na Ashkam begin hier.

Oom Piet kyk met twee geelbruin-moddergat oë na die hardnekkige Johnny. Ek verwag trane om enige oomblik uit die ouman se oë te bol, in die erosieslote oor sy wange af te loop en op die warm Kalaharisand te val. Verdamping hier is bykans onmiddellik.

“En ek wag nie vir Oom om te loop geld soek nie. Ek’s Johnny-Op-Tyd. Vieruur is vieruur!” Johnny se slotsom.

Oom Piet begin ’n rieldans. Altans, dit lyk so. Sy tingerige lyf beweeg soos een van daardie bemarkingsopblaas-en-afblaaspoppe. Een oomblik kiertsregop. Die volgende is hy ’n winkelhaak teen die horison – waar die son begin sak, en Ashkam
lê nog 180km noord.

Oom Piet kom weer orent. Tarentaalbors-en-assegaaigat fier. Dan word sy ganse lyf ’n waterval en stort neer in ’n plas van mismoedigheid.

Twintig-oor-vier blaf Johnny-Op-Tyd.  Die reisigers klim. Oom Piet word in ʼn sitplek gegiet.

Die man langs my agter in die bussie se dreads hang oor sy skouers. Geel tande, sporadies in hulle teenwoordigheid.

“Almal noem my Oupa Jan,” stel hy homself voor. Oupa Jan lyk duskant 40. “Ek’s ’n medisinale plantkundige en kry my doktorsgraad in November vir my navorsing oor die duiwelsklou. Die plant werk vir hoë bloeddruk. My huis staan hoeka oorkant die duin vanaf die Molopo Kalahari Lodge.”

Hoe weet Oupa Jan ek is op pad na die Molopo Kalahari Lodge? wonder ek stilletjies. Vorm dit deel van die Boesmans se ‘sien’?

Oupa Jan het hom egter onttrek en tokkel op sy foon met die vaardigheid van ’n Jean-Michel Jarre.

Johnny-Op-Tyd neem ons oor ysterertsrooi duine met hier en daar kameeldo-ringbome. Sout- en kleipanne flits verby. Wildehondspan. Norakeipan. Goerapan. Windmaker-lodges. Iewers langs die pad ʼn waarskuwing: Naaste brandstof 160km.

By die Molopo Kalahari Lodge wurm ek met sakke, kampeergoed en ʼn kameratas tussen die sardyngepakte insittendes deur. Uiteindelik met my voete op terra firma, voel dit asof die taxi aan my geboorte geskenk het. ’n Moeilike geboorte.

Om na ’n vermoeiende reis by die lodge aan te kom, voel altyd soos ’n vernuwing. Stof ’n geykte sêding af, en jy is waarlik by ’n oase in die woestyn. Vierster-kampering, chalets, ’n swembad,  restaurant en ’n kroeg.

’n Makgemaakte wildernis. Die eerste teken daarvan is die leeuvel teen die muur naby die kroeg. Die .22-geweer waarmee Sarel Koortzen die maanhaar in die middel-80s geskiet het, is saam met die trofee uitgestal. Oom Sarel ry op ’n dag tussen die ou Gemsbokpark en die lodge, toe hy die leeu reg langs die grensdraad tussen Botswana en die RSA vlak teen die pad sien lê. En die mannetjie se oë is juis op ’n trop beeste gerig. Oom Sarel haal die geweer oor en pot die leeu teen die kop. Vuilbaard skud bloot sy bolla reg, staan op en loop skynbaar ongedeerd weg. Oom Sarel lê weer aan. Met ’n koeël in die hart slaan die leeu neer. Die middel-80s mag wel ’n leeftyd gelede wees, toe vrouens, bewapen met ‘groot hare’ en skouerkussings, Tretchikov-trane in Bles Bridges se arms op plastiekrose gestort het, maar bly ’n herinnering dat die Kalahari tot redelik onlangs wild was.

“Jou motorfiets staan nog veilig agter in die stoor,” noem Reinhardt Lambrechts,
lodge-bestuurder en Northern Cape Famous Lodges se kroonprins, nadat ons blad-geskud het en elkeen met ’n koue bier in die hand teen die breë kroegtoonbank leun. Reinhardt is ook ’n kranige motorfietsridder en verstaan die ingewikkelde verhou-ding tussen ruiters en hulle ysterperde. Hunter S. Thompson som dit die beste op:   Liefde is daardie gevoel wanneer jy amper so sterk oor ’n ander mens voel soos oor jou motorfiets. Dus verstaan hy my gevoelens toe ek vyf maande gelede my geliefde Magenta Stofdonkie (Kawasaki KLR 650) moes agterlaat nadat ek my sleutelbeen tydens BikeSA se Desert Run op twee plekke ‘breekgeval’ het, soos hulle hierrond sê.

“Liefde is daardie gevoel wanneer jy amper so sterk oor ’n ander mens voel soos oor jou motorfiets.”

Soos Ruiter in Swart se perd, Satan, is Magenta ’n engel en die enjin slaan oor met die eerste druk van die knoppie. Weer ver-enig, kies ons koers na die ‘eindelose vlaktes, kameeldoringboom en sand, eensame, vreedsame wêreld ... ons Kalahariland’.

En vir ’n avontuurfietsryer is ons Kalahariland ’n speelplek propvol plesieriggeite (Trix Pienaar se verwoording). Sanderige kronkelpaaie oor duine en deur strate. Louwarm risserworwater in die koelte onder doringbome, skuinsgehang deur familievoëlneste. Wildsbokke wat afgeteken staan teen ’n randjie. ’n Stuk wêreld, afgesonderd en yl bevolk, ‘so wyd soos die Heer se genade’.

decjan2016 opreis askham 1

Maar dit is die Kalaharinare wat jou soos ’n haakdoring gryp en vashou. Vee- en wildboere. Stropers en smokkelaars.  Eerkommers geklee in two-tone hemde, PT-broeke, Ozzie-enkelstewels en Croc Dundee-hoede. Inkommers uitgevat in kop-tot-tone ontwerperskhaki-safari-uitrustings. Dier- en plantkundiges. Antropoloë. Boesmans. Jagters. Filmmakers. Drie skoonheidsko-ninginne. ’n Hedendaagse Swiss  Family Robinson. En selfs ’n eietydse bevryde slaaf.

“Behoede jou as jy ’n foto van my neem,“ grom Cilla, mede-eienaar van Diamond T Coffee & Gift Shop te Ashkam, waar sy ’n skottel vol gaar hoendervleis ontbeen.

“Hierdie jop maak nie vir ’n mooi prentjie nie.”

Cilla en haar man woon reeds nege jaar lank in die Ashkam-omgewing. Hy boer met skaap en sy en vriendin, Johanna du Toit, bedryf die koffiewinkel.

“Die besigheid loop goed,” verduidelik Cilla. “Baie toeriste werk hul pad hier deur op pad na die Kgalagadi-oorgrenspark toe. Laasweek is hier drie toerbusse verby.”

Hoe gaan dit met die boerdery? “Ashkam se wêreld is nou maar droog, maar daar’s nog genoeg veld.”

Johanna, ’n verfynde en mooi vrou, is óók nie ’n Kalahari-boorling nie en ek vra of die aanpassing uitdagend was.

decjan2016 opreis askham 2“Dit was moeilik, maar moontlik.” Haar glimlag verskans egter  ʼn gesigsuitdrukking wat van ander werklikhede vertel. “Hier,” voeg sy by, “moet ’n vrou f****n lief wees vir haar man, want hier’s f****l anders!”

Kruger du Toit, Johanna se man, is ’n jagter en ’n man met hande waarmee hy ysterklip tot stof kan laat vergaan.

”Ons het toentertyd wild met 650 cc-motorfietse gevang. Gemsbokke, springbokke en jong elandbulle.”

Hoe vang jy ’n jong elandbul met ’n motorfiets? Selfs ʼn jong elandbul is groter as ’n bees en bly ʼn monster vol testosteroon en houding.

“Maklik,” verduidelik Kruger. “Kyk, ek is die vanger en hou langs die bul met die fiets. My maat, op ’n ander fiets, druk die bul nader en nader aan my. Nou, ’n elandbul het die gewoonte om sy gewig in te span en teen die bedreiging te leun – ek’s die bedreiging. Wanneer die ou leun, gryp ek hom aan die naaste horing, trap briek, gooi die fiets neer en maak hom bymekaar!”

My mond hang oop. Ons praat hier van om blindelings met motorfietse volspoed in dik sand te jaag. Vra enige advontuur-fietsryer hoe moeilik dit is. En die wild hardloop nie in paadjies nie. Dit is oor duine, om bome, deur pendoringbestrooide veld en erdvarkgate wat jou mediese hulp en lewenspolisse in gedrang mag bring.

“Maar springbokvang was die grootste sports,” lag Kruger. “Ek en my maters kies elkeen ’n bok. En daar gaan ons. Aanvanklik gooi die bok draaie, maar jy hou by hom. Sodra springbok-se-kind sy ore plattrek, weet jy hy gaan nou reguit hardloop. Jy jaag tot langs hom, trap hom teen die agterboud. Terwyl hy bollemakiesie slaan, hou jy stil, smyt die fiets neer en gryp hom.”

Ek voel soos ’n groentjie en vlug na een van die Diamond T se ander stoepe. Daar loop ek my teen die formidabele filmmaker, Betta Steyn, vas. Sy woon sedert die 1990s aan en af in die Kalahari. As oud-joernalis was sy betrokke  by die !Khomani-san se grondeise, het ’n boek geïllustreer en was aan die spits van kuns- en kunsvlytprojekte onder die Boesmans.

“My kortfilm heet Die Groen Glasbottel.  Dit word alles hier op location geskiet en verbeeld ’n ware gebeurtenis. Verder sê ek niks!”

Oukei... Tog wonder ek hoekom Betta, as oud-joernalis, my nie met meer mededoë die stryd aansê nie. Straks het sy, tydens haar jare in die bediening, genoeg tande moes trek.

Veilig terug op die Molopo Kalahari Lodge se koel stoep, vertel Luce Steenkamp in die mooiste Kalahari-Boesman-Afrikaans omtrent die !Khomani-san Boesmans.

“Daar’s nie ’n ding soos ʼn !Khomani-san Boesman nie!” verklaar sy.

Wat van al die !Khomani-san kennisge-wings by die medisinale plantplaas, jag-plaas, oornaggeriewe en vele meer?

“!Khomani-san is eerder ’n projeknaam wat die prokureurs vir ons gegee het tydens die grondeise. Oom Petrus Vaalbooi begin hoeka elke raadsvergadering met die woorde, ‘Ons is Boesmans, uit en gedaan.’”

Die wanbenaamde !Khomani-san bestaan uit agt verskillende Boesmanfamilies met die Kruipers sekerlik die bekendste.

Dawid Kruiper (circa 1941 – 13 Junie 2012) was ’n tradisionele geneser en leiersfiguur onder sy mense. As uitgesproke aktivis het hy nie net Kaapstad toe geloop om Thabo Mbeki onder die tong te kry nie, maar het hy ook die grondeise van stapel gestuur. Uiteindelik is meer as 40,000 hektaar grond aan hulle toegestaan.

Natuurlik was Dawid ook beroemd vir sy rol in Jamie Uys se The Gods Must Be Crazy II.

’n Ander kunstige was die haaksbenaamde Vetkat Regopstaan Boesman Kruiper (1969 – 2007). In sy boek, Mooiloop, skilder en verwoord hy indrukke uit die verlede, vermeng hulle met die hede en bied selfs ’n toekomsblik.

“Die familiename was natuurlik vroeër anders, maar niemand kan meer die Boesmanwoorde uitspreek nie,” sê Luce. Sy kyk ver oor die vlaktes asof sy vernedering ervaar. “Daar’s nog net omtrent tien mense wat die Boesmantaal praat. Ná die Gemsbokpark se proklamasie in 1930 het onse mense op die plase gaan werk. En daar’t hulle moes Afrikaans praat. Ons probeer om vir die kinders hulle eie taal te leer, maar dit sukkel maar...”

“As jy nie jou eie taal kan praat nie, verstaan jy nie jou kultuur en erfenis nie.”

Ek wonder hoe voel dit voel om jou taal te verloor. Luce verskaf die antwoord: “As jy nie jou eie taal kan praat nie, verstaan jy nie jou kultuur en erfenis nie.”

Die mensdom se hoogste prestasie is sy vermoë om aan te pas en vir die Boesmans was daar geen ander uitweg nie. Baie van die 650 boer op gemeenskapsgrond, ander op meentgrond.

decjan2016 opreis askham 3

Luce verduidelik: “Boerdery is nie in die Boesmans se natuur nie. Almal mag boer en die meeste van ons het aan die begin probeer. Gebrekkige bestuur het gelei tot oorbeweiding en toe’s die veld tot niet. Maar nuwe bestuur gaan dinge nou regruk.”

Johannes Vaalbooi deel die plaas, Uitkom, met vyf ander Boesmanboere. ’n Troppie beeste staan op kraal. Bokke en hoenders dwaal oor die verwaarloosde werf. ’n Bakkie met pap wiele en ’n oop enjinkap lyk soos ’n siek dier wat om hulp smeek. Twee dogtertjies staan op die stoep.

“Hoe noem hulle ons nou weer?” Hierdie is duidelik ’n retoriese vraag en ek wag vir Johannes om self te antwoord. “Opkomende boere! Sien jy enigiets opkomend hier?”

Johannes en sy vyf medeboere het elkeen ongeveer 1000 hektaar tot hulle beskikking.

“Dis net te min grond. Vir my om ’n ordentlike lewe te maak moet ek ten minste vyfhonderd stuk vee aanhou. Twaalf hektaar per skaap gee vir jou sesduisend. Wat maak ek met eenduisend? Ek boer nie opkomend nie. Ek boer afnemend.”

Johannes se lappie grond lê 15 kilome-ter van die huis af. “Dit kos diesel vir die bakkie. Dis nou die dag as hy loop. Toe doen ons aansoek vir ’n dieselpomp vir die water, maar die Raad sê ons moet vir ’n jaar wag.  Maar die vee kan nie vir langer as ’n dag wag nie. Hulle moet kan suip. Ek sê jou, die man wat in hierdie wêreld wil vooruitgaan, word teruggehou. En ’n man kan nie vooruit met sulke tome aan jou nie.”

Op pad terug hou ek by Tant Koera se Plaaskombuis stil. Die grasdakgebou was voorheen die !Khomani-san Inligtingsentrum, maar volgens Tant Koera was die gebou te afgesonder: “Een van die dames wat hier gewerk het, is aangeval en ... ’n liederlike storie.”

Tant Koera vertel sy het die gebou in 2008 oorgeneem en opgeknap. “En ek bedien ‘huiskos’. Dis nou vaalvleis, afval (ook vaal), skaap- en springbokpotjies. Maar jy moet bespreek. Ek maak nie ou kos warm nie!”

Dit is in die Kalaharinare se aard om ’n onderhoud om te swaai. Voordat jy dit agterkom, skets die onderhoudvoerder sy herkoms en bestaan. En die vrae is op die man af. Het jy darem ’n vrou? Jy wat met ’n mouterbaaik die wêreld platry en met vrae aan ander mense krap? En kinders? Hoeveel en hoe oud? En waar is hulle as jy nie by die huis is nie? Hoekom is jy nie by die huis nie?

decjan2016 opreis askham 4

Tant Koera se man, Andries Steenkamp, sit eenkant geklee slegs in ʼn 1970s blink PT-broek. Hy kom tot my redding. Andries is voorsitter van die Boesmanraad en dien op vele ander komitees.

“Maar moenie dink ek het geleerendheid nie,” blaf hy amper. “Standerd vyf op Noenieput behaal. Maar ek het kleintyd geleer as jy iets in die lewe wil bereik, moet jy daarvoor werk. Die jong Boesmantjies weet dit nie meer nie. Hulle lê rond. En wil nie op die plase werk nie. Wat anders is hier?”

Tant Koera weier óók volstrek dat ek ’n foto van haar neem, maar in ruil daarvoor vertel sy: “Die unieke ding van die Boesmans is, ons drink koffie as dit warm is. Dan sweet ons en voel nie die hitte nie.” Ek besweer eerder die hitte met ’n koue bier op die Molopo Kalahari Lodge se stoep. Eenkant sit nege jong dames, so tussen agt en twaalf jaar oud, eerbiedig gebuig oor hamburgers. Treffend: elkeen dra aandklere.

“Hulle is die wenners van die skool op Ashkam se Mejuffrou Lente Skoonheidskompetisie,” lig Juffrou Lannice Coetzee my in.

Die koninginne en prinsesse word getakseer op persoonlikheid, selfvertroue en kleredrag, maar die oorhoofse doel is fondsinsameling vir die skool. “Hierdie jaar was ons eerste kompetisie, maar nou gaan dit elke jaar wees. Met ʼn Meneer Ashkam Kompetisie daarby!”

Ek eet die aand seker die geurigste springbokpastei ooit in die kroeg en drink vir veespekulant, Sampie, raak.

“Ek verkry my lewende hawe by die opkomende boere,” begin hy. “Van die diere koop ek, ander vorm deel van ruilhandel. Die arme boere verkoop vee weekliks om ’n bietjie kontant in die hande te kry. Meestal het hulle nie geld nie en daarom ry ek vragte lusern en onderdele aan in ruil vir bees, bok en skaap. Dis nou as hulle vee het.”

Sampie vertel dat van die boere tot 25 saam op een plaas boer: “En die vreemdste ding is: elke man het ’n veekraal, maar be-dags loop die diere deurmekaar. Vanaand as hulle huis toe kom, loop elkeen op sy eie by die regte kraal in.”

Sampie verkoop die vee in Upington aan middelmanne en op hulle beurt weer aan mindergegoedes wat die slagwerk sommer self by die huis doen. En dit terwyl my
stadskinders glo skaaptjops word in plas-tiekomhulsels in slaghuise gebore.

decjan2016 opreis askham 5

Ongeveer 35 kilometer suid van die park vind die teenoorgestelde plaas. Meerkatte wat in aanhouding grootgemaak, of gebore word, vind ’n wildernistuiste onder die ervare hand van Professor Anna Rasa. ’n Etoloog (gedragskundige) van beroep, het Anna onlangs haar natuurreservaat, Kalahari Trails, tot die Noord-Kaap se amptelike Meerkatreservaat laat verklaar.

“Die owerhede lê beslag op meerkatte wat onwettig makgemaak word en bring hulle hierheen,” verduidelik die mooi vrou, reeds in haar sewentigs, terwyl sy ’n sigaret aansteek. “’n Voorbeeld: hier daag onlangs ’n mannetjie op. Hy was vir jare in ’n klein hokkie aangehou en die gevolg was dat hy omtrent geen spierontwikkeling ervaar het nie. Ons het hom weer op die been gekry, selfs sy kop reggeruk. Helaas, hy is geneig om vreemdelinge te byt, omdat hy deur mense mishandel is. So, oppas!”

Meerkatte slaap, speel en maak mooi die vertrek vol. Toto (seuntjie in Swahili), Tigger en BB (Baby Boy). Tigger kom lê gemaklik op my skoot. ’n Ander een sit op my rystewel.

Nadat die nuuskierige diertjies gereed is om Elsa van Born Free se pad te loop, begin Anna hulle leer om weer in die wildernis te oorleef.

decjan2016 opreis askham 6

“Ek wys hulle waar om te grawe. Ons vang insekte en voer hulle sodat die meerkatte weet watter hulle kan eet en watter nie. Daar is nie nog ’n dier wat so vinnig leer wanneer dit by oorlewing kom nie.”

Skielik voel ek ’n teenwoordigheid teen my knie bokant die rystewel. Een van die meerkatte is op pad noord. Ek hoop nie dis die nommertjie met sielkundige krake nie.  Meneertjie steek my Steenbokskeerkring oor en mik doelgerig vir die ewenaar. Anna sien die vrees op my bakkies en lag.

“Staan stadig op en skud hom uit,” beveel sy aan.

Die legendariese Molopo Kalahari Lodge is een van ses oorblyplekke wat deur Jean Lambrechts en sy Northern Cape Famous Lodges bedryf word. Vischgat, ’n wildsplaas, vorm deel van die groep, en dit is waarheen ek en Reinhardt nou op pad is.

Die pad tussen Ashkam en Vanzylsrus is ‘bakkiebreek sleg’. “Ons verkies die pad so,” sê Reinhardt met ’n duiwelsblik in die oë. “Daar’s geen afdraai op die stuk pad nie en daarom kan vee- en wilddiewe maklik op hok gejaag word. En die slapgatte wil nie met hulle voertuie deur al die poeiergate ry nie.”

Waar anders as in die Kalahari word ’n sleg pad as ’n bedekte seën beskou?

Ons hou eers op Elandspoor stil. Hierdie is ʼn 5000 hektaar-veeplaas en daar moet ‘water gery word’. Al die waterpunte word driemaal per week nagegaan. “As ’n dier hier vir ’n dag sonder water is, vrek hy,” noem my gids terloops.

“En dis nou droog,” verduidelik Reinhardt. “Sien jy daardie bos met die blommetjies? Dis ’n haakdoring. Party mense noem hom ’n swarthaak. Hulle blom net ten tye van droogte. En in my sewentien jaar hier, het hulle nog net twee keer geblom. Maar die goeie ding is: as die veld op is, vreet die skape die blomme en oorleef.

Ons volg ’n sanderige tweespoorpad oor duine, steil genoeg vir Reinhardt om die Hilux agteruit te laat loop, genoeg spoed bymekaar te maak, en weer te probeer. Ons hou langs ’n reuse-kameeldoringboom stil.

“Hierdie ou werk dieselfde. Kameeldo-ringbome maak net peule gedurende droogte en die wild vreet hulle as daar niks anders is nie.”

Na elke duin verander die landskap. Bosveld word grasveld. Maar die rooi duine en groen bome is immer teenwoordig. ’n Trop springbokke skrik vir die bakkie en hardloop onder die koeltebome uit en mik vir ’n duin. Twee blesbokke steur hulle nie juis aan ons nie.

decjan2016 opreis askham 7Op die wildplaas, Vischgat, ontmoet ek vir Wiele, die plaasvoorman. “Ek is eintlik ’n Kavango. Daar uit die Caprivi,” laat weet hy.

Hoe beland ’n mens wat water gewoond is hier in die dorre Kalahari?

“Ek was so tien jaar oud,” vertel die 48-jarige Wiele, “toe steel ’n boer – sy plaas was hier naby – my naby Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika. Toe word ek hier grootgemaak.”

Bedrieg my ore my? Hoe steel jy ’n ander mens en maak van hom ’n slaaf?

“Ek was baie hartseer en het my ouers gemis. Maar die boer het my alles geleer wat ek vandag weet.”

En die naam Wiele? “Die dag toe ek ’n lorrie man-alleen kon ry, het ek wielhoogte gestaan. Toe noem die ouman my Wiele.”

Die aand braai ons Karan-biefstuk en luister na die Kalahari se naggelui-de. Maar die harmonie word verpletter toe ons na Daardie Wedstryd - die mees opspraakwekkende in Rugbywêreldbeker-geskiedenis - op televisie kyk...

Hallusineer ons? Het die Brawe Bloeisels pas die Springbokke ’n drag slae gegee? Inderdaad.

Terug by die lodge maak ek gereed om die volgende oggend met Magenta Stofdonkie die pad aan te durf na waar ek ’n storie naby Norvalspont moet gaan doen.

Asof uit die niet verskyn ’n kaalkopman met ’n indrukwekkende boep voor my.

“Hallo Hein!” groet hy. En dit is niemand anders as die Duitse toergids, Tom, nie. Ons was jare lank bure. Is hy hier met ’n toergroep?

“Nee,” lig hy my in. “Ek is siek en sat van al die gerondryery. Toe koop ons vier hektaar grond naby Chavuma in die noorde van Zambië teen die Zambezi. En daar gaan ons nou ’n tiervisvang-lodge bou.”

decjan2016 opreis askham 8Is daar ʼn infrastruktuur?

“Olifante en krokodille. En natuurlik tiervis.”

‘Ons’ is Tom, sy vrou, Jo, ses kinders tussen twee en omtrent twintig jaar oud, ’n Great Dane en nog ’n brak wat soos ’n wolfhond lyk. ’n Bykans lewensgrootte plastiek- sebra is bo-op die treiler staangemaak. ’n Gelukbringer?

Tom en sy gevolg kry die konvooi die volgende oggend in die pad. Ek hou hulle dop totdat die laaste voertuig tussen die bome verdwyn.

Waar anders kry jy in ’n ylbevolkte gebied mense met soveel stories, avontuur-lustigheid wat grens aan die onhebbelike, deursettingsvermoë en doelgerigtheid, of hulle nou opkomend of afnemend is?