Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

'n Paar gewilde kampeerplekke op Roete 62

Written by 
| in op Reis
| March 14, 2014

Om jou eie tydelike dakkie in die buitelug op te slaan en die vars lug en saligheid van ’n kampeer-vakansie met die gesin ver weg van die mal stadsgeraas te beleef, is een van daardie plesiere wat ons as Suid-Afrikaners nog met oorgawe kan geniet.

Of jy nou tent opslaan, karavaan staan maak, of sommer net in jou slaapsak opkrul onder die sterre na ’n lekker braai en kuier: Bied die gewilde Roete 62 jou ’n verskeidenheid van gerieflike en veilige kampeerplekke vir alle smake.
    Ons het ons lesers gevra om te stem vir van hul gewildste kampeerplekke, en sommer ook ’n lys van elkeen van hierdie gewilde kampeerplekke se geriewe en aktiwiteite vir jou saamgestel voor jy self Roete 62 gaan ontdek met jou tent of karavaan.

Skurwekop

    Skurwekop-karavaanpark is geleë op die bekende Vinefera-wynplaas in die hartjie van die Robertsonvallei, met pragtige uitsigte op die Breederivier. Dis ’n natuurliefhebber se kampeerplek hierdie, en die omliggende bergreekse bied toegang tot ’n verskeidenheid van wild- en voëllewe. Hier gaan jy nog ’n visarend in sy natuurlike glorie teëkom. Volg die R60 vanaf Robertson in Worcester se rigting, en draai af by die aanwysingsbord sowat 8 km verder.

Kampeerfasiliteite
Die staanplekke op lowergroen grasperke onder koeltebome het uitsigte op die pragtige Breederivier, en is geskik vir tente, karavane en motorhuise.  Elke staanplek het sy eie 20 amp-kragpunt, en daar is ook krane, opwas- en braaigeriewe. Die netjiese ablusie-fasiliteite het warmwaterbaddens, storte, en toilette.
Dis ook ’n hengelparadys; so vat jou visstok saam. Onthou ook om die Tabard saam te neem, die muskiete kan lastig wees so naby die water.
    Aktiwiteite (ook in Robertson)
• Twee omheinde swembaddens • Hout, ys en ander ware te koop
• Bergfietsry, kanovaart (ook te huur)
• Verskeie natuurlike staproetes • Visvang, perdry en 4x4-roetes
• Wyn- en brandewyntoere • Verskeidenheid voël- en wildlewe
• Veilige speelterrein vir kinders

Lesersmening
Skurwekop se ablusieblok is fantasties. Dis mooi en silwerskoon. Hier is digte gras en koeltebome by die staanplekke en dis teenaan die rivier. – Mickey Coetzee
    Beste uitkamp- en visvangplek! – Sarel en Marie Van Zyl.
Vir meer inligting besoek - http://www.skurwekop.co.za

Warmwaterbergspa

Hierdie warmwaterbron is seker een van die rustigste en bekendste op Roete 62. Die oorspronklike Victoriaanse badhuis dateer uit 1908, en is deur die oorspronklike eienaar as ’n sanatorium opgerig. Warmwaterbergspa is net so duskant Barrydale op pad na Ladismith geleë; jy vat die afdraai net na die bekende Ronnies Sex Shop; waar mense van heinde en verre al stilgehou het vir ’n koue lafenis.

Kampeerfasiliteite
Die kampeerterrein is op grasperke onder bome gevestig, met kragpunte, braaifasiliteite, en opwasgeriewe. Daar is aparte dames- en mans ablusiegeriewe, elk met sy eie Romeinse bad - waar jy die helende krag van die bronwater in privaatheid kan geniet. As jy nie lus het vir kampeer nie, is daar ook ’n verskeidenheid van houthuisies, en gerieflike kamers in die ou badhuis wat gehuur kan word. As jy rustigheid soek vermy naweke en vakansies.
    Aktiwiteite
• Restaurant met gelisensieerde kroeg • 2 warmwaterbron swembaddens • Koue water swembad • Verskeie kort afstand staproetes
• Tafeltennis, veerpyltjies en biljart • Bekende Sanbona-wildplaas naby geleë
• Besoek Ronnies Sex Shop • Poue en nogmaals poue

Lesersmening
    Warmwaterberg kom definitief eerste! Deur die dag is daar lekker koue swembaddens, en saans die warmwaterbron met die helende waters. As jy gaan stort hoef jy net 1 kraan oop te draai want die water kom uit die bron, net die regte temperatuur. Die poue maak dit ook spesiaal wat so tussen die huisies en kampeerterrein deurloop. – Rina en Kurt McBride
    Lekker rustig, mooi, min mense, nie oorontwikkel nie, en het als wat nodig is vir lekker kamp (met skoon ablusies en krag by die staanplekke). Pryse is ook baie redelik! – Willie en Elsona Matthee. Vir meer inligting besoek - http://www.warmwaterbergspa.co.za

Montagu Guano Cave

    Die gewilde gesinsoord is veral bekend vir sy ghwano-grot met vlermuise, asook ryk argeologiese geskiedenis. Besoekers kan die grot gaan verken, asook die talle ander natuurskone staproetes - wat die nabygeleë Cogmanskloof insluit. Om by die Montagu Guano Cave-oord te kom neem jy die afdraai-aanwysing sowat 5km buite Montagu op Roete 62, na Barrydale.
    Kampeerfasiliteite
Hulle bied beskutte staanplekke onder bome, elk met ’n kragpunt en eie kraanwater. Die aparte dames- en mansablusiegeriewe is onlangs ook opgegradeer. Daar is ook bestaande 4- tot 6-persoon tenthuisies, ’n gerieflik  ingerigte ‘backpackers’-hostel met 7-bed-slaapkamers, en ook ʼn outydse klipsteenhuisie wat gehuur kan word as jy ’n romantiese wegbreek soek.

Aktiwiteite
• Koffiewinkel en lapa met braaigeriewe • Trekker- en perdry na die ghwano-grotte • 2 warmwater swembaddens • Kouewaterswembad
• Natuurlike rotspoel-swemgate • Verskeie lang- en kortafstand-staproetes • Plaaservaring en hase vir die kinders

Lesersmening
Montague Guano Cave kom eerste - net die beste herinneringe!
– Theo Pieterse
    Guano Caves is beslis die lekkerste en beste plek! Buiten dit wat jy kan besigtig op die plaas en in die grotte, het hulle heerlike warmbaddens, en daar is nie te veel mense nie. – Yvette Jafta
    Vir meer inligting besoek - www.montaguguanocave.co.za

Eagle Falls Country Lodge

     As jy op soek is na ʼn kampeerterrein wat gerieflik geleë is om die geskiedkundige Oudtshoorn en omgewing – soos die Kangogrotte, die volstruisplase, krokodilplaas, wynroetes, en vrugteplase in die Langeberge te besoek - is Eagle Falls net die plek om jou tent of karavaan te gaan staan maak. Eagle Falls lê tussen die pragtige Outeniqua- en Kammanassieberge, sowat 70km vanaf Oudtshoorn op pad na Union Dale. Van hier is jy ook sommer ʼn katspoeg oor die Outeniqua-pas van die see af.
    Kampeerfasiliteite
Hier is staanplekke vir tente en karavane op grasperke onder Wilgebome wat skadu bied teen die warm Karoo-son. Daar is ook kragpunte by elke staanplek, toegeruste braaigeriewe, opwasgeriewe, en aparte ablusie vir dames en mans. Jy kan ook die lekker inheemse lapa se braai- en ‘potjie-maak’-geriewe gebruik as die weer onguur raak. Hulle bied ook akkommodasie in ʼn verskeidenheid van hout-huise wat uitkyk op die asemrowende waterval.

Aktiwiteite
• Restaurant met gelisensieerde kroeg • Rivier en waterval met natuurlike swemgate • Viertrek-motorfietse, perdry, en donkiekar- toere • Verskeie stap- en ook avontuurlike 4x4-roetes • Plaaservaring met diere vir die kinders • Huweliks- en konferensiefasiliteite
• Groot-skermtelevisie vir sport

Lesersmening
Eagles Falls is heerlik met lapa, waterval en swem. Dis privaat en veilig. – Nadia Eksteen
    Gaan kuier daar, die plek spreek vanself! – Sebastian Burger
Vir meer inligting besoek - http://www.eaglefalls.co.za

River Goose Camp

    Hierdie rustige kampeerterrein is geleë op die oewer van die Breederivier, en is ’n gewilde wegbreekplek vir kampeerders wat net die buitelug en rustige plaaslewe wil geniet. Dis ook naby Robertson as jy ’n potjie gholf wil speel, asook die Marloth-natuurreservaat by Swellendam.  Neem die R317 vanuit Bonnievale op pad na Stormsvlei N2, en draai na 5km links af by die aanwysing na Drew. Nog 3.8km verder is die afdraai na die kampeerterrein.

Kampeerfasiliteite
Gaste kan kies uit agt verskillende kampeerareas wat almal op grasperke staan, en die meeste is onder bome geleë. Ablusiegeriewe word gedeel; wat storte, toilette, en warm water insluit. Neem maar ook die ou Tabardjies saam vir die muggies en muskiete want dié kampeerterrein is ook naby die water.
    Aktiwiteite
• Winkel vir hout en ander ware • Visvang, swem, en kanovaart in rivier • Groot verskeidenheid voëllewe • Verskeie staproetes langs rivier • Speel gholf in Robertson

Lesersmening
River Goose is netjies, rustig, beeldskoon en kos vir my siel!
– Shelly Lourens
    The sites are not on top of one another, the river is safe for swimming, fishing or just cruising along. It’s really the place to be to get away from it all. – Michael Hughes
Vir meer inligting besoek - http://www.rivergoosecampsite.co.za

Montagu-karavaanpark

     Hierdie gewilde karavaanpark en oord is in die hartjie van Montagu geleë wat jou maklike toegang tot die ouderwetse dorp met sy talle winkeltjies, padstalletjies en lekker restaurante bied. Montagu-karavaanpark is ook gelys as een van die top 100 kampeerplekke in Suid-Afrika, en bied ’n rustige plaasatmosfeer tussen boorde, rivier en dam – met asemrowende uitsigte op die Cogmanskloof-bergreeks in die verte.
     Kampeerfasiliteite
Skaduryke staanplekke vir tente, karavane en motorhuise op gras-perke maak van hierdie kampeerterrein ʼn ideale wegbreekplek. Elke staanplek het ’n kragpunt met toegang tot opwasgeriewe. Daar is ook skoon ablusiegeriewe vir dames en mans. Indien jy nie wil kampeer nie, bied hulle ook gerieflike selfsorg-chalets en houthuisies vir enkel-reisigers of paartjies.

Aktiwiteite (ook in Montagu)
• Warmwaterbronne en swembad • Wynroetes en historiese museum • Tennis, gholf, visvang en perdry • Staproetes by Cogmanskloof  • Verskeie nabygeleë 4x4-roetes • Voëlkyk by Montagu-leidam

Lesersmening
Montagu-karavaanpark is skoon en netjies met ’n warmwaterswembad, en nog baie meer om te bied! Dis ook langs die rivier en in my pragtige dorpie, Montagu. – Roxane Van der Merwe Smee
    Vir meer inligting besoek - http://www.montagucaravanpark.co.za

Caltizdorp-spa

   Calitzdorp-spa is nog ’n baie gewilde warmwaterbron op Roete 62, met helende waters wat mense van heinde en verre lok wat al genesing vir hul kwale hier gevind het. Die oord is heel jaar deur besig, en bied jou maklike toegang tot die hartjie van die Klein Karoo en Calitzdorp wat ook bekend is vir sy wyne en bekroonde port-wyne. Vat die afdraai van die R62 sowat 5km buite Calitzdorp, en volg aanwysings op die DR 1668-pad.

Kampeerfasiliteite
Jy kan hier kies tussen karavaanstaanplekke met krag, of kampeerplek-ke sonder krag. Daar is toegeruste en skoon ablusiefasiliteite vir dames en mans. As jy meer gerief as ’n kampeerstaanplek soek, bied hulle ook ’n groot verskeidenheid luukse tot bekostigbare selfsorg-chalets. Bespreek egter vroegtydig, die plek is gewild in vakansietye.
    Aktiwiteite (ook in Calitzdorp)
• Buitelug-warmwaterbronswembad • Romeinse
warmwaterbronbad • Kouewaterswembad • Verskeie omliggende staproetes • Gamkaberg-natuurreservaat • Restaurante, winkels en wynplase • Nabygeleë 4x4-roetes • Tennis, gholf en visvang • Boesmantekeninge

Lesersmening
Calitzdorp-spa is heerlik. Die warm en koue swembaddens is albei baie lekker. Oral tussen die huisies stap wildsbokkies en ander diere rond. Voel of jy op ’n plaas is. Dan is dit nog baie naby Calitzdorp met sy heerlike vrugte en wyne. – Jacoba Potgieter Le Grange
    Vir meer inligting besoek - http://www.calitzdorpspa.co.za