Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Op soek na sleeping beauty

Written by  Hein Eksteen
| in op Reis
| February 5, 2016

Daai berg daar se naam is Sleeping Beauty, "sê Anton Bredell, terwyl ons Riversdal uitry met die Nissan Nivara en koers kies na sy bees- en - wild- en gasteplaas, Aasvoëlsvallei, geleë in daardie strook fynbos en renosterveld wat soos 'n voorslag tussen Roos- en Langeberge lé."

Watter berg?

“Jy kan hom nie nou sien nie, maar op ʼn mooi dag lê dit daar agteroor met die wimpers, neus en lang hare duidelik. Nogal goed bedeeld óók!”

Wolke hang soos nat komberse oor die onsigbare berge, of soos my oorlede Ouma Malie sou beskryf het: “Pap snoeke oor ‘n onderdeur.”

“Jy kry twee soorte Riversdallers,” lag Anton terstond.

Anton, die reus. Voormalige Maties-slot. Gerekende wynmaker. Die legendariese Koos Bredell, maker van daardie Portugese gefortifiseerde wyn wat nie op die naam genoem mag word nie, se kroonprins. En voornemende witblitsstoker.

 “Daar’s die Riversdallers wat hotel toe gaan, en dié wat kerk toe gaan. Die twee spulletjies meng net op begrafnisse.”

february 2016 op reis 1

“Daar’s die Riversdallers wat hotel toe gaan, en dié wat kerk toe gaan. Die twee spulletjies meng net op begrafnisse.”
Buite Sleeping Beauty se dorp verander die omgewing onverwags. Waar die landskap naby Riversdal ‘gemaak’ (soos Breyten Breytenbach dit verwoord) is, word dit weer ongemaak soos die pad teen die Langeberge se steiltes kronkel. Fynbos-oortrekte kranse troon uit oor die pad. Boomryke klowe verdwyn ver na benede.

“Die Garcia pas is deur Italiaanse krygsgevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou,” lig Anton my in. “Hulle is seker die enigste gevangenes wat hulle eie tronke óók met klippe moes pak.”

Ons ry verby die bouval van een van die talle tronke waarin die krygsgevangenes aangehou is namate hulle met die bou van die pad gevorder het. Stel jou voor: die werkplek is op ʼn gegewe dag te ver van die naaste tronk af; nou bou jy ʼn nuwe een wat jy genoegsaam moet beveilig om jou as gevangene binne te hou!

february 2016 op reis 2Ons hou eers op Langeberg Halt stil.   Hierdie was oujare ʼn spoorwegbushalte waar mense, goedere en veral melkkanne opgelaai is. Anton besit 400 hektaar grond hier tesame met ʼn gedeelte van die dorpie. Die skooljuffrou se huis. ʼn Winkeltjie. En sy en vroulief, Lynn, se woonhuis.

“Is jy nie al gatvol vir die see nie?” vra buurman, Thys Beukes, toe ons stilhou. “Ek en die vrou was net vir ʼn paar dae op Stilbaai by die skoonmense, toe’s ek op. Nou’s ons terug.”

Anton antwoord: “Redelik, maar op Pringlebaai is daar darem nog ʼn bietjie kreef en vis om te skiet.”

“En daai platvisse?”

“Dis mos onwettig om perlemoen uit te haal.”

Thys snorklag. Anton gaan haal eerder die plaasbakkie onder ʼn afdak.

Ek en Thys praat oor die hitte, reënval en slange soos ʼn Bybelse plaag.

“As ʼn pofadder jou byt, smeer lampolie aan. Vir ʼn geelslang is dit petrol,” verduidelik Thys op só ʼn intense manier dat ek die gras en klippe om my voete begin deursoek.  Gaan ek die raad vandag nodig kry?

Anton hou by ons stil met ʼn ou Nissan Patrol.february 2016 op reis 3

“Ons sal maar mooi moet ry. Die ou se turbo is deur die Jordaan.”

Anton en Thys besit omtrent ewe veel grond en beeste en daarom wei albei se diere op beide plase. Daar is egter ʼn kuttel in die suiping. ʼn Gedeelte van die heining tussen hulle en ʼn ander
buurman is deur vloedwater ‘platgemaak’ en nou loop van hulle beeste op verbode grond. Die kwasterige buurman het gegrom. Daar moet plan gemaak word.

“Ek klou vas en onderdruk gilletjies van ‘n hoë toonhoogte wat my maklik toegang tot die Drakensbergse Seunskoor sou kon verkry het.”

Ons betrek die probleemdiere vanaf die Rooiberge se kant. Die beeste wei vermoedelik langs die Grootrivier en om daar uit te kom, ry ons bykans reguit teen die berg af, tot op ʼn hoogte naby die
rivierloop. Ek klou vas en onderdruk gilletjies van ʼn hoë toonhoogte wat my maklik toegang tot die Drakensbergse Seunskoor sou kon verkry het.  Die bakkie steun oor diep slote, oor rotse en klipplate. Die enjin brul en beur in lae-strek sonder die turbo en Anton moet ‘dabbelklats’ en die rat-hefboom roer soos een wat witsous maak.

february 2016 op reis 4

“Vir wat lyk jy so vaal?” grom Anton.  “Hierdie is niks. Thys het die einste pad van onder af opgery met ʼn ou 2x4 Mazda- bakkie!”

Ek het die Matroosberg uitgery in my bakkie. Van Zyl’s pas af. ʼn Bakkie toegerus met ʼn bykans onbekostigbare veringstelsel, ʼn turbo wat werk en drie-laag veldrybande. Maar in my dag des lewens het ek nog nooit sulke paaie – indien jy hulle so kán noem - ervaar nie. En dié paaie is alledaags vir plaaslike boere. Ek beoefen my reg om stil te bly.

Uiteindelik spoor die manne die rondloperbeeste op en vyf plaaswerkers word afgelaai om die aanjaagwerk te doen.

february 2016 op reis 5Ons klim terug in die Patrol bo-op die baie knap hoogtetjie. “Kyk hoe lekker staan die bakkie hier op die knop. En die ou het nie eens ʼn handbriek nie!”

Op pad terug na Langeberg Halt toe, noem Anton: “Onder daai wolke is nog twee besonderse stukke berg. Die een heet Doodskisberg, want hy lyk so. Die ander is kompleet Tafelberg, maar met Leeukop aan die verkeerde kant.”

Óók nie vir my beskore nie.

“In dié stuk wêreld kry jy die beste brandewyndruiwe,” verduidelik Anton. “Amper in die klas van konjak in Frankryk.”

In haar boek, Swartberg en sy mense, wy Sue van Waart ʼn hoofstuk aan die maak en geskiedenis van Kango-brandewyn, of boerebrandewyn. Óf, in die volksmond, wanneer die vuurwater die tong verrinneweer: witblits.

“En een van die ou witblitssmokkelroetes loop hoeka vanaf Langeberg Halt oor die berg deur daai poort (óók onsigbaar) tot in Riversdal.”


“Loop sê jy nou vir ‘n man in Napier hy bly in Nypeer, en hy sal nie ‘n moer weet waar hy woon nie!”

february 2016 op reis 6So terloops: Die naam ‘Riversdale’ sit dwars in die Riversdallers se monde. Amper soos ʼn stuk hoenderboudbeen in ʼn hond se bek. Alhoewel die naam só in die oorspronklike dorpsproklamasie en op menige naambord verskyn, woon Riversdallers in Riversdal. Thys Rahl stel dit later onteenseglik in die Royal Hotel se kroeg: “Loop sê jy nou vir ʼn man in Napier hy bly in Nypeer, en hy sal nie ʼn moer weet waar hy woon nie!”

Anton lei my langs ʼn skelm na-paadjie (kortpad in die omgangstaal) deur ruigtes tot by ʼn vervalle klipgeboutjie, versteek onder bloekombome.

“ʼn Ou stokery. Daar’s die parskuip. Hier binne was twee rooikoperketels op daai vuurherte. Daar, die afkoeltenk.”

Sue van Waart verduidelik dat die KWV-wet van 1924 gepoog het om orde in die stookbedryf te skep en sodoende standaarde in brandewynproduksie vas te lê. Slegs ʼn beperkte hoeveelheid permitte is uitgereik.

“Een ding moet jy onthou,” gaan Anton voort. “In die voorjare was stook baie van die boere se enigste behoud tydens droogte en menige ander rampe. Met ander woorde, hulle’t bly stook, maar effens teen die grein van die wet. Op my titelaktes staan dit duidelik dat geen witblits in glas- en plastiekhouers, emmers, blikke, kanne, selfs kose, aangehou mag word nie. Maar die
owerhede het een houer nie gelys nie. Sweepstokke! Toe haal die manne die stokke se krone uit, maak hulle vol en verkoop die dop per jaarts! En dis presies wat ek nou gaan doen sodra ek my stookpermit kry en ons padstal regstaan.”

Op pad terug na die opstal toe, stap ons verby drie klein lappies wingerd. Is dit stookdruiwe? wonder ek hardop.

february 2016 op reis 7“Vir my port. Daardie boord is Tinta Barroca. Hulle maak 50% van die vermenging uit. Oorkant staan die Touriga Nacional en Souzãu, onderskeidelik 30% en 20%.”

Anton verduidelik dat hy wyndruiwe elders aankoop en die befaamde Bredell-wyne óók hier maak.

“Maar port se druiwestokke maak jy van kleins af met die hand groot. Jy moet seker maak hulle stres. Hoe swaarder die plante kry, hoe meer gekonsentreerd is die vrug se sap. Amper soos mense: Hoe meer hulle suffer, hoe sterker die karakter!”

“Amper soos mense: Hoe meer hulle suffer, hoe sterker die karakter!”

Terug op die dorp (Sleeping Beauty het nog nie haar sluier gelig nie), neem ek my intrek by Anton en Lynn se Riversdale Travel Lodge, voorheen bekend as die President Hotel, of die Pres soos gerespekteerde kantiengangers dié instelling vanmelewe geroep het.

Volgens die heilsleer van die gevierde reisverhaalskrywer, Dana Snyman, is kroeë die toegangsplekke tot enige dorp se binneste. Die Shangri-La waar die paaie geplavei is met innemende karakters en hulle stories.

“My pa was  ʼn wyse man,” vertel Thys Rahl in die Royal Hotel se wydse kroeg. “Hy’t altyd gesê: ‘Glo net die helfte van wat jy sien, en niks van wat jy hoor nie!’”

“In die tjoekie leer ken jy twee goed.
Nederigheid. En jou Heiland.”

Thys spog met ʼn charismatiese glimlag, breë skouers en ʼn geskiedenis as SWD-rugbyspeler en tronkgevangene.

“In die tjoekie leer ken jy twee goed. Nederigheid. En jou Heiland.”

Daar was egter nóg ʼn helder lig wat daardie donker tye binnegedring het.

“Ek het ʼn klomp van my medegevangenes in ʼn rugbyspan staangemaak.  Rowwe skepsels. Tot ʼn paar lede van die gevreesde nommerbendes. Maar ons het vir Oudtshoorn getrap. Mosselbaai. George. Die lot. Daai jaar vat ons toe sommer die klubliga-koppie!”

ʼn Lang, maer man met voorarms soos skaapboude en ʼn paar hande waarmee hy die mure van Jericho eiehandig sou kon verwoes, kom leun teen die kroegtoonbank langs ons. Hy dra ʼn byewerk-oorpak waarvan die bostuk om sy middellyf vasgeknoop is.

“Dis Arnold Oosthuisen,” stel Thys hom voor. “En hulle is van die grootste byeboere in die land. Seshonderd korwe.”

Soos dit met boere gaan, gooi die gesprek ʼn draai by ongedier-tes. Maar nie rooikatte en rooijakkalse nie.

“Visarende wei tog te lekker onder my volstruiskuikens,” verklaar Thys. “Die bewaringsmense wil my nie glo nie, maar ek’t al gesien hoe die voël met ʼn kuiken in elke klou die lug vat!”

“Ja. Ek’t ook al lekker skade gehad,” noem Arnold.

Vang die visarende jou bye? wil ek vra, maar bewaak my onnoselheid agter slot en grendel.

“Ratels. Die vuilgoed steel my heu-ning!”

Maak sin.

february 2016 op reis 8“Toe’t ek my korwe op pale gesit, maar ratel klim op, hang met een hand aan die korf en met die ander een maak hy skoon.”

“En ratels staan ook nie terug as dit by skaapvang kom nie,” mor Thys. “Hy vreet vir hom dik aan die lewendige skaap se agterent en dan loop hy en los vir my om die verminkte dier tot niet te maak.”

Dawid en Leon bedryf die Royal Hotel.

“Die gebou behoort aan ʼn Rus van Constantia, maar hy’s ʼn goeie mens,” noem Dawid tersluiks, asof hy hiérdié Rus moet verontskuldig van enige lepel-lêery met die Rooigevaar.

“In 1920 het Slim Jannie hier gekuier. Daar’s ʼn foto in die voorportaal. En die Britse koning en Prinses Elizabeth het hier teetjies gedrink tydens hulle besoek in 1947. Én met Koningin Elizabeth se kroning het die hotel ʼn ete ter ere van haar gehou. Alhoewel sy natuurlik nie hier was nie, was daar steak and kidney pie op die spyskaart. Very British!” voeg Leon by.

Ander beroemdes wat in Riversdal gewoon het, is onder andere Jan Rabie, Breyten Breytenbach, Alba Bouwer en Dalene Matthee.

Louis Botha, Louis Trichardt en generaal Koos de la Rey se voorsate het óók hier wortelgeskiet.

ʼn Ander berugte was ene Gilbert Hays. Hy het sy ma met ʼn hamer doodgeslaan vir drankgeld en is die enigste veroordeelde wat in Riversdal tereggestel is. 1899. Die Ou Tronk (nou ʼn koffiewinkel) huisves ʼn namaaksel van die galg. Die oorspronklike is op ʼn veiling verkoop!?

Maar dit is Maria Roux wat die meeste prikkel. Sue van Waart skryf breedvoerig oor Ria, die beroemde, of berugte, spookvrou van Uniondale. Volgens Van Waart het sy in Porterstraat 2 gewoon.

Ek begin soek. Die ‘Maps’ op my foon kry nie die adres nie. Ek vra hier en daar. Niemand weet van só ʼn straat nie. Is die straat óók soos ʼn spook, en verskyn net aan uitverkorenes?

Ek gaan eet by die Green Lime en gesels met Johan, die eienaar en sjef.

“Ek’t my slypwerk in Mosambiek gedoen,” verduidelik hy.

Dit beteken mos dat hy ʼn peri-peri hoender kan gaarmaak soos daar net in dié buurland gefatsoeneer kan word.

Johan beaam my vermoede.

Terwyl ek wag, loer ek in Sleeping Beauty se rigting. Sy versuim steeds. Plotseling, voel ek soos een van Anton se sufferende win-gerdstokke.

Maar Johan se voortreflike peri-peri hoender verniel my nuut-versterkte karakter met ʼn ratel se oorgawe.