Volg ons op Facebook

Hoe later, hoe Tankwa(ter)

Written by  Hein Eksteen
| in op Reis
| March 3, 2016

Skitterykloof. Bloukranspas. Oubergpas. Gannagapas. Die Ou Posroete. Verlatenkloofpas. Karoospoort.

Almal poorte tot die Tankwa Karoo, ʼn prehistoriese meer waar reuse hardegat akkedisse tot onlangs (in kosmologiese tyd) die stert oor mindere sterflinge geswaai het.

Die reptiele het uitgesterf. Die water verdamp. En vandag is hierdie, ironies, die streek met die laagste reënvalsyfer in die land (180mm tydens ’n goeie jaar). En die eerste van die Tankwa Karoo se Groot Ses.
Nommer Twee: Met sy 260km is die R355 die langste ononderbroke pad in Suid-Afrika.

“Met sy 260km is die R355 die langste ononderbroke pad in Suid-Afrika.”

Nommer Drie: Die ry vyebome by Karoospoort, ’n nasionale gedenkwaardigheid, is die langste van sy soort in die suidelike halfrond. Kennisgewings waarsku mense om nie die vye te pluk nie. Bobbejane veins egter ongeletterdheid en vreet lustig aan die ryp vrugte.

Nommer Vier: Karoospoort, vanmelewe ’n uitspanning vir transportryers, is die enigste gastehuis in die land waar jy (tegnies) verniet kan oorslaap.

Nommer Vyf: Die eerste teregstelling van ʼn vrou van Europese herkoms in Suid-Afrika was hier in die Tankwa.

Ten laaste, maar verreweg die indrukwekkendste: die Tankwapaaie is die nasio-nale buitebandvreter kampioen (en straks ’n aanspraakmaker op die wêreldtitel). Hierdie asembenemende grondpaaie is saamgestel uit fyn (en nie so fyn) leiklipgruis. Van die nie-so-fyn klip-lemme sny nie net buitebande aan flarde nie, maar is ook eertyds deur ons eerste nasionale burgers gebruik om wildsbokke mee af te slag.

Die denkende reisiger hou by enige van hierdie toegangspunte stil om tydens ’n oomblik van gewyde stilte ’n ietsie te vat en sodoende die kwaadwillige gode te paai. Maar, soos met alle vorms van beswering, word jou offer soms aanvaar ... ander kere weer nie.

opreis march 2016 tankwa 1

Ek en my beminde Giselle beproef die paaie in haar Nissan Qashqai (aka Kaskar) met lae-profiel stadsbande, nie drielaag veldry-nommers nie. Daarom ry ons deur die Bokveld (Koue Bokkeveld) via Op-Die-Berg en bekruip die Tankwa vanaf Skitterykloof.
Ry met die onmoontlike steil pas uit en verbeel jou jy is ’n ossewa-touleier en jy verstaan presies hoe die stuk pad aan sy naam gekom het.

Maar, Skitterykloof was eens al die pad gesonde opelyf vir Dirk Ligter, sekerlik een van die Tankwa se mees geliefde en terself-dertyd gehate boorlinge.

opreis march 2016 tankwa 2

Troebadoer. Rympiemaker. Ramkiespe-ler; ʼn ramkie is ʼn viersnaarkitaar gemaak van ʼn Pegasus-olieblik, ’n olienhoutnek en gespan met snare gefatsoeneer uit skaapderms. Dirk Ligter (circa 1860 – 1930) was ’n maaifoedie wat nie net sy buurman se vrou begeer het, en met ongekende sukses kon verlei nie, maar ook buurman se vet lammers met selfs groter sukses kon herverdeel.   

Sy verrinnewering van die agste en tiende gebod het van die nimlike Dirk ’n le-gende gemaak. Óók omdat hy plaaswerkers oortuig het dat hy die paljas (toorgoed) dra. Ligter was van Boesmanherkoms en het op hierdie manier genoeg vrees by plaaswer-kers ingeboesem om nooit sy skuilplekke aan die polisie te verklap nie.

Een van Ligter se gunsteling dele van die Tankwa was die plaas De Vloeren, so genoem vanweë die vele kleipanne wat daar voorkom. Op hierdie kleipanne kon die polisie nie sy spoor sny nie. Vloere waarop die ou jakkals kon verdwyn soos matesis in die kop van ons glorieryke volksleier.

 “Vloere waarop die ou jakkals kon verdwyn soos matesis in die kop van ons glo-rieryke volksleier.”

Ek en Giselle loop op die skaapslagter se spore, want De Vloeren is ook die tuiste van die legendariese Tankwa Padstal.

Eer ons daar aankom, hou ons op die hoogte stil vanwaar ons die Tankwa kan bekyk soos die kraaie hom sien. Giselle verras deur ’n nuwe koelsak te voorskyn te bring wat sy by Kaap Agri op Ceres gekoop het. Elk bewapen met ’n yskoue G&T, óók by die drankwinkel daar aangeskaf, stuur ons gebede op na die iesegrimmige een wat buitebande vir brekfis verslind.

Met die sakrament afgehandel, vaar ons die Tankwa Karoo (‘plek van dors’ in die Khoi-taal) neffens Pramberg binne.

“Is daar dan iets soos boerdery in die Tankwa Karoo?” het André Dumas, Kaap Agri te Ceres se bestuurder, met ’n stout laggie bespiegel toe ek hom vroeër uitgevra het oor die gebied. Dan word hy ernstig.  “Natuurlik is daar, maar nie soos in die verlede nie. In die ou-jare was die Tankwa, of Ceres-Karoo, mos die Bokvelders se winterweiding. Dis vir wanneer die wêreld bo-op die berg te koud word. Deesdae loop jy een skaap op twintig hektaar. En met die lae reënval... Vandag is daar meer wildplase en lodges. Naweekboere. Leefstylplase. Wat jy wel daar kry is mens-mense. Die Karoo-nare is mos ’n ander spesie. Eenvoudig. Plat op die aarde. G’n fieterjasies nie.”

Vandag se bona fide Tankwa-boere kom te staan voor die meedoënlose rooigevaar. Rooijakkalse en rooikatte. Juju voltooi die onheilige drie-enigheid.

opreis march 2016 tankwa 3

Oom Jan Theunissen vertel: “Jakkals en rooikat! Laat ek jou met ʼn draai vertel. Ek’t in my dag des lewens nog nooit kreef geëet nie (mos ook ’n rooi ongedierte!). Toe bring my skoonseun ʼn klompie saam. Ek kon die goed nie eens aanskou nie, wat nog te sê my mond daaraan sit. Toe stel ek hulle in die hok en vang drie rooikatte!”

Die Tankwa Padstal. ’n Hoogtepunt op enigeen se reisplan wat hierdie dorre vlaktes betree. Nou groter en genotvoller nadat ’n heerssugtige-godsdienstige-fundamentalistiese-piromaan hierdie tempel van 4x4-entoesiaste en avontuurfietsryers ’n jaar gelede afgebrand het en dit herbou is.

Mede-eienaars, Wally Lange en Henriëtte Vlooh-Lange, is lewenskunstenaars. Deur Dalí ontwerp. Ingekleur met Frida Kahlo se kwas. Gegeur met Etienne Leroux surrealisme en mildelik gegarneer met Tretchikoff.

“Ons versamel designer kitch,” som Wally hulle belangstelling op. Ouma se drie eentjies - waarvan die voorste een met ’n koeëlgat deur die bors aarde toe mik.   En dan die Barbieque: Barbie poppe wat voet-aan-kop op ’n braairooster gerangskik is. ’n Nuwe toevoeging is ’n Zapiro-geïnspi-reerde bobbejaanskedel op ’n houtvoetstuk gemonteer met ’n stortkop wat daaroor troon. Die Ware Jakob, roep Wally dié skepping.

Wally is die kroegman. Henriëtte die boerin. Oor naweke dien sy ook as bar-moe-der agter die kroegtoonbank.

By hulle plaasopstal loop jy jou in bykans ongeëwenaarde eksentrisiteit vas. Veel-kleurige porselein hoenderhane pryk op elk van die huis se vier hoeke. Een het onlangs afgeval. Wally som die verlies op as, “waarna g’n haan weer sal kraai nie”.
Op die werf: beeldhouwerke, pluimvee, skrootmetaal, katte en honde.

“Koekblik is die skaaphondmannetjie (so mooi hy sou op outydse koekblikke verskyn het).”

Die diere se name vertel alles. Koekblik is die skaaphondmannetjie (so mooi hy sou op outydse koekblikke verskyn het). Donnatella Visagie, die wyfie (vra liefs nie). Paris, die papegaai, is op dieselfde dag as haar menslike naamgenoot uit die tronk vrygelaat. Sy is  deur gewelddadige misdadigers met die hand grootgemaak om hulle menslikheid aan te leer. Kaballa, die gemmer kat, stook minderwaardigheidskomplekse onder die skaapramme aan...

Papegaai Hennie, ook ’n ou tronkvoël, is ’n televisiester (Interrogation Room 4) en soos menige beroemdes, seksueel verward.

“Papegaai Hennie, ook ’n ou tronkvoël, is ’n televisiester (Interrogation Room 4) en soos menige beroemdes, seksueel verward.“

Hy is verlief op Henriëtte en glo hy is ’n mens. Dus versuim Hennie, soos enige normaal-denkende homo sapiens, om met ’n papegaaidoedie te paar. Hy voer ’n oujongkêrel bestaan in ’n ruim hok en het onlangs geprewel: “Dis sóóó koud!”

opreis march 2016 tankwa 4

Interlude: Tydens die skryf van hierdie storie bel Henriëtte. In trane. Hennie is deur ’n geelslang aangeval en het aan ’n hartaanval beswyk. R.I.V. (kinderlose) Hennie Pappagaai-Vlooh-Lange.

Henriëtte boer met kwartels, skaap en bok, maar word geroem as die enigste papegaaiboer in die Tankwa.

“Mense wil almal African Greys hê, maar Timnehs is beter. Die twee lyk baie dieselfde, maar Timnehs sal na meer as een mens toe gaan,” is haar raad aan voornemende papegaaikopers.

Wally se broer Hein, en sy vrou Susan, boer langsaan op Klein De Vloeren en is mede-eienaars van die padstal. Hierdie eie-tydse uitspanning ontvang twee soorte besoekers. Die hedoniste wat aktief deelneem aan die gevolge van die eerste-Messiaanse-wonderwerk. Teenoor dié wat geheelonthou. Wally se kroeg, Die Werkswinkel, bedien die gelowiges. Hein en Susan se koffiewinkel en restaurant vermaak die afstigters en eters. Hein is ook ʼn veelsydige boer.

“Ek verkies uitdagings,” grom hy, stook sy pyp en druk  ʼn indrukwekkende dreadlock-haardos reg. “’n Plant wat jy net in die grond druk en hy groei, staan my nie aan nie.”

Wat van al die turksvyplantasies op sy plaas?

“Hulle is anders. Kyk na die produkte wat daardie nederige gewas lewer.”

Hy noem hulle op:  “Koeldrank. Konfyt. Blaarskelette vir trourokke. Versuikerde vruggies. Vars vrugte van verskeie kleure.   Ek het onlangs tien ton blare laat wegry vir bees- en bokvoer.

“Nou kruisbestuif ek vir ’n nuwe spesie. Een sonder dorings aan die vrugte. Daar bestaan reeds twee, maar hulle wortelstelsels is te swak vir hierdie wêreld.

“En dan my vyebome. Probleem hier is: dis óf te warm, óf te koud. Boonop die brakwater. Én ek moet die grond verbeter. Maar daai’s ’n storie waaroor jy boeke kan skryf!”
Ek ry met Wally se Tata en gaan kuier by André Vermeulen op Sadawa, ʼn 8500 hektaar plaas met gemengde boerdery.

Wild. Vee. Vye. Granate. Beet-, uie- en wortelsaad. Gasvryheid. Geskiedenis. ʼn 1923-Caterpilar-skraper wat nog aktief in die juk staan. En ’n verlore graf.

opreis march 2016 tankwa 5André vertel: “Wild en baie streng beheerde jag is die  winsgewendste deel van ons boerdery.”

Die helderdenkende boer verduidelik: “Wildboerdery werk volgens ’n driehoek. Die groot, onderste deel van die driehoek is die jong wild. Jy skiet hulle nie. Die middelste gedeelte is teelwild. Hulle word ook nie gejag nie. Die boonste en kleinste deel is die ou bokke. Trofee-diere. Hulle teel nie juis meer nie en bring die geld in.”

Die plaas is ook die laaste rusplek van Maria Magdalena Jooste. Haar graf is egter verlore, maar haar nalatenskap bly staan soos die flaminke in Inverdoorn se sneeuwater-dam nie ver daarvandaan nie.

Volgens oorlewering het die guitige Maria probeer om Dirk Ligter se owerspelige weë met ’n slaaf te volg en op die koop toe die heer Jooste in die Kaap te vergiftig en op vlug te slaan. Die gereg het egter sy lang arm om hulle gevou en so is die slaaf sonder veel seremonie naby Hottentotskloof dood-geskiet. Maria is by Saamsuip vasgetrek, onder ’n boom skuldig bevind en terstond aan die naaste tak opgehang. Circa 1795.

Ek en Giselle gaan kyk Heyneke se laaste rugby wêreldbeker flater by die Sothemba Lodge.

’n Senior burger belowe (of dreig): “As die Bokke vandag die All Blacks trap, trek ek vir my kaalgat uit en spring in die swembad!”

“As die Bokke vandag die All Blacks trap, trek ek vir my kaalgat uit en spring in die swembad!”

Gelukkig bly Heyneke nou eenmaal Heyneke en word ons die ontbloting ge-spaar.

Woestynpadda is Wally se 1982-Mercedes 300D en die tuig waarmee ons die volgende oggend die diep Tankwa gaan verken. ’n Sonderlinge vier-man-en-vrouskap. Ons mik in die rigting van Stonehenge. AfrikaBurn vind jaarliks daar plaas. En die tuiste van die ewe legendariese Tankwa Tented Camp.

Geen ander voertuig op die R355 nie. Donkies se ore hang in die stof. Hier en daar ’n volstruis. Die oorskot van talle buitebande. Oopte. Langbeen boesmansgras. Skoorsteenberg hou wag oor ons, alhoewel die berg baie soos Pramberg lyk, het die naamgewers van ouds nie hierdie spits óók na die vroulike soogklier vernoem nie. Smoorhitte. Kameraadskap. En vrede.
Plaasname: Damskraal. Gansfontein - Dirk Ligter het hier sy laaste jare as TB-lyer geslyt. Die Mond. Wittewalle. Papenkuil. Zyfering.

Ons draai by Klein Tandskoonmaak links. Giselle wil nog ’n keer vir Shorty, die reus, gaan dankie sê. Shorty en Corrie boer met groente.

“En muskiete!” is Corrie se toevoeging.
Giselle is 5’8” en troon oor Shorty. Maar hy bly ’n reus. ’n Jaar gelede verdwaal Giselle in die Tankwa. En Kaskar kry ’n pap wiel.  Sy stap om en by 30km. Die laaste 11 in die donker, totdat sy ’n dowwe liggie (amper soos in ’n Van der Merwe-grap) in die verte sien. Om middernag klop sy by Shorty aan.   Hy help haar.

“Die nederige Shorty skiet vlieë met ʼn kort rekkie. Dit hou jou besig as daar niks anders is om te doen nie.”

opreis march 2016 tankwa 6Die nederige Shorty skiet vlieë met ʼn kort rekkie. “Dit hou jou besig as daar niks anders is om te doen nie.”

Elandsvlei se verwaarloosde geboue is reeds gedurende die 1700’s deur slawe staangemaak, maar al wat instandgehou word, is die poskantoor en die skooltjie.

“Hier is veertig Graad R tot Sewes,” vertel die aantreklike en kaalvoet Juffrou Nicholette. “Ons is ook die mees afgeleë skool in die land (die Tankwa Karoo se Nommer Sewe?). Die naaste dorp is 120km hiervandaan.”

Nasionale Boekhandel skenk boeke aan die skool. “En ons bibliotekie is oop vir almal.”

“AfrikaBurn betaal weer die kinders se koshuis- en skoolgeld wanneer hulle hoërskool toe moet gaan. En die kinders doen goed. Een het Boland Atletiek gekry. ’n Ander B-Rek.”

 “Woestynpadda se bande hou nog, maar sodra ons van die R355 wegdraai na Stonehenge en die Tankwa Tented Camp, is die ou strydros se agterstewe effens laag.”

Woestynpadda se bande hou nog, maar sodra ons van die R355 wegdraai na Stonehenge en die Tankwa Tented Camp, is die ou strydros se agterstewe effens laag. ’n Helse geween en gekners van tande soos die onderstel oor die klippe sleep.

“Ek sien nog g’n olielekke nie. So als is oukei,” is Wally se diagnose.

Reuse-beeldhouerstukke op die dorre koppies. ’n Seilskip, lewensgroot, beur deur klipgolwe. Verkeersligte - wat werk - begroet besoekers. ’n Verlate tiekieboks met MTN ontvangs!

Welverdiende yskoue G&T’s by die Onverklaar Bar - haaksbenaming hou duidelik nie by die Padstal op nie - en ons sit die tog voort na die Tankwa Nasionale Park. Sommer met die intrapslag word ons met maklik ’n honderd gemsbokke beloon. Met ongekende lewenslus, ten spyte van die hitte, galop hulle die vlaktes in.

En dan vrek Woestynpadda. Sommer net so.

Ons reageer soos ervare veldryers wanneer teenspoed hulle in die gesig staar.  Elkeen drink ’n bier. Dit laat geen indruk op Woestynpadda nie. Nog biere. Woestynpadda bly hardkoppig. Na die derde dop slaan Woestynpadda se enjin oor asof daar niks skort nie.

“Miskien was sy effens moeg,” reken Henriëtte. Miskien.

Hoe nader ons aan Hammelhoek Privaat Wildreservaat kom, hoe slegter word die pad. ’n Boer lig ons in, “hier’s twee weke gelede 56 millimeter water in ’n halfuur verby”.

G’n wonder nie. Die pad volg ’n rivierbedding. Maklik vir voertuie met hoogte tussen terra firma en hul pense. Maar Woestynpadda?

Ons haal Hammelhoek. Maar sonder rys vir vanaand se breyani en ys vir die bykosse.
Saartjie is in tjaarts. “Rys en ys, dié het ons. Maar nie meer baie ander goed nie. Mense kom koop op die boekie. En sal môre kom betaal. Dan’s dit oormôre. Volgende week is daai skepsel se stem mos lekker weg!”

Saartjie bring later die proviand (sommer toekappies van beide daarby) op die kwaadbaaik, soos sy die vierwiel-motor-fiets noem.

Oornag is in die Kliphuis. Twee elegant-versorgde slaapkamers. Teen die bult is nog ’n kliphuis en met netjiese kampgeriewe.   Safari-tente. ’n Lawende swembad en ’n lapa.

opreis march 2016 tankwa 7Ons sit om die stoepvuur. ’n Naguil roep. Sebras is geruite skimme teen die aand-gloed.

“Kraalbos is ’n bewys van oorbeweiding,” verklaar Wally onverwags later die nag nadat die dames gaan slaap het en poelieskoffies ons tot op breekpunt buig.

Dit is seker waar. Mense gaan egter nie die Tankwa maklik sosiaal oorbewei nie.
Hier’s genoeg hartsplek en sielskos vir almal.