Volg ons op Facebook

Kaptein Vrystaat!

Written by  Hein Eksteen
| in op Reis
| April 7, 2016

“Die dag as jy 'n boerbok moet begin voer, weet jy dis droog en jy’s in jou [dit rym met ‘voer’],” grom biker/boer/motorfietsverkoopsman, Christo Snyders.

operis april 2016 vrystaat 1

Ek is oorweldig deur seuntjies-sal-immer-seuntjies-bly wiele-wellus in Bloemfontein Harley-Davidson se glinsterende gebou. Streetbobs, Softails, Cruisers en 'n horde van Harley se ander beroemde modelle staan gesardyn. En ek is hier om een van hierdie ongediertes tydelik in besit te neem.

Ten spyte van my pubertynse oorgretigheid, is daar formaliteite. Eer die spel, moet die voorspel afgehandel word. Amper soos die All Blacks se Haka: gevul met dieselfde seksuele suggestie, alhoewel minder homo-eroties.

“Amper soos die All Blacks se Haka: gevul met dieselfde seksuele suggestie, alhoewel minder homo-eroties.”

Benedine bevrou die Merchandising afdeling. Adembenemend. Blond. Kurwes en rondings. 'n Herbevestiging dat die Vrystaat geseënd is met die land se mooiste meisies. Vergoeding vir die gereelde droogtes? Plaasaanvalle? Volgens 'n plaaslike koerant, 29 in 30 dae.

Benedine vertel: “Harley-klere is nie motorfietsuitrustings nie. Eerder fashion statements. Hierdie is DKW-outfits. Mense dra hulle kerk toe, werk toe en om te kuier”.

Lourens Coetzer, Harley se depot prinsipaal, het dit eweneens: “Harley is suksesvol, omdat die brand 'n leefstyl beter as enige van sy teenstanders verkoop.”

Met die voorspel afgehandel, is ek terug by Christo. Sy kapsel, snor en kenbaardjie herinner aan een van die Drie Musketiers. Ek voel tuis.

“Lae heupe, hoë skouers, amper soos ʼn sexy hiëna; indien so iets bestaan.”

“Droër as in 1930,” grom hy weer. “Ek boer met melkbeeste. Voer jy die goed een maal, verseg hulle om hul bekke weer aan weiding te sit. Maar ek moet voer gee. My produksie is klaar met vier-en-sestig persent suid!”

Ons stap buitentoe.

“Ek gee jou 'n demo Streetbob.”

Lae heupe, hoë skouers, amper soos 'n sexy hiëna; indien so iets bestaan. Ape-hangers (bykans U-vormige handvatsels). 1700cc. Pikswart. Chroom en leer.

operis april 2016 vrystaat 3

Hoe, wonder ek terstond, gaan ek hierdie monster beheer, oorleef en weer in een stuk terugbring?

“Klein, maar geniepsig.” Die eufemisme waarmee Christo my kwylende selfvertroue verder verrinneweer.

'n Gedreun van apokaliptiese formaat verbreek my bepeinsing.

'n 1400cc Suzuki Intruder hou op die sypaadjie voor Harley-Davidson se vertoonlokaal stil.

'n Reus klim van die fiets af. Letsels van 'n neus wat telkemale gebreek is. Sleg gelap. Tande wat lyk asof hulle met 'n angle grinder in 'n asimmetriese boog gesny is. 'n Akute Ritalin-tekort in die oë. Die verweerde leerbaadjie met tossels. Agterop sy colours. Rystewels waarvan die ritssluiters nie meer rits of sluit nie. 'n Silwer koos vir 'n valhelm. Hy pluk 'n .44 Smith & Wesson uit 'n saalsak, die soort waarmee Dirty Harry sy woorde, "make my day" beaam. Druk dit in sy gordel. Agter die fiets se windskerm is die handvatsel van 'n Excalibur-kaliber swaard sigbaar.

“Verbeel jou goudvissies: amper soos ʼn musiekvideo van ʼn Kovsies-studentekoor met jou vinger op die pauseknoppie.”

Die Harley-personeel se monde hang oop (verbeel jou goudvissies: amper soos 'n musiekvideo van 'n Kovsies-studentekoor met jou vinger op die pause-knoppie).Die Mad Max-eweknie stap die gebou met lang, dreigende hale binne.

Dit is Undertaker. My nuutgevonde vriend en ry-genoot vir die volgende twee dae.

“Ek moet 'n mechanical cruise control vir my bike kry. My throttle-hand kan dit nie meer vat nie,” sê hy met 'n nasale stemtoon. As s‎y hand nie die fiets se versneller kan hanteer nie, wie s’n kan?

operis april 2016 vrystaat 2

Twee dae gelede het Undertaker hom in die Sarie Marais Hotel se kroeg op Reddersburg aan my voorgestel as 'n "old school, hardcore biker".

“Ek ry vir die Southern Riders MC, Pretoria-Noord Chapter. Jy roep my Undertaker.”

Hy’t gevis oor hoe ek 'n bestaan maak. Undertaker wil weet met wie hy praat.

Ek verduidelik dat ek met my motorfiets (nou olik en agterop my vriend Christo Maartens se bakkie) rondrits, met interessante mense gesels en stories oes.

Die blik in sy oë vra: Amper soos 'n aasdier? Of 'n bloedsuier?

“As jy stories soek, het ek hulle vir jou,” bied Undertaker aan. “Jy kom ry vir 'n paar dae saam met my!”

Ek staar na die verpletterde neus, die tande, oë en die enorme skedelbeen-ring aan een van sy vingers. Is ek opgewasse?

Voordat ek tot verhaal kon kom, tref hy my weer: “Jy weet daar’s 'n verskil tussen 'n motorfietsryer en 'n biker?”

Duidelik retories. Undertaker se vrae vuur af soos militêre bevele. 'n Stalin-orrel.

“ 'n Motorfietsryer is 'n boks (hy gebruik 'n kragtiger woord, óók 'n vierletterknetter) wat op 'n motorfiets ry. 'n Biker leef vir sy bike. Hy ry nie 'n ding met 'n dakliggie nie. Karre is prams in biker-speak, my kwagga, prams!”

“Maagdelik opgedollie in verleidelike Pep nighties, in ʼn Amerikaanse B-gegradeerde film, wat in ʼn Route 66 biker motel onvrywilliglik tog verruklik langs ʼn bruidsbed pronk?”

My kwagga? Kinder-stootwaentjies?

Hoekom voel ek onverwags soos 'n Bloem-Barbie? Maagdelik opgedollie in verleidelike Pep nighties, in 'n Amerikaanse B-gegradeerde film, wat in 'n Route 66 biker motel onvrywilliglik tog verruklik langs 'n bruidsbed pronk? Gereed vir ontbloeming?

Maar dit is presies wat daar in die Sarie Marais Hotel aan die gebeur was. Ek het voor die drumpel gestaan. Bewend. Gereed om die verbode vrug te proe. Een tree vorentoe en ek sou my onskuld verloor. In plaas van swart satynlakens, wynrooi fluweelgordyne, plastiekrose en La Toes (laatoeswyn), was daar bikes, bike clubs, en old school, hardcore bikers.

Bokkie, maak my joune!

Terug in die hede, wonder ek wat met Undertaker se hand skort.

“’n (Vierletterknetter) het my met 'n mes aangeval. Toe blok ek die lem, maar die (vierletterknetter – hierdie keer die anglisistiese weergawe) looi my tussen die duim en die wysvinger. Maar toe (stoelgang) die (knetter) big time!” Undertaker se gematigde beskrywing van die voorval.

Interlude: Old school, hardcore bikers se woordeskat is eie aan dié van Tarrantino-karakters. Ek smeek om vergifnis, maar as jy die ry wil ry, moet jy die praat kan praat.

“My tande is met 'n pool cue uitge(weerligstraal). Maar jy weet, ek onthou nie fights wat ek gewen het nie.”

Dalk het Undertaker nie genoeg gigagrepe in sy 10-terragrepe-geheueskyf nie.

“Net dié waarin ek tweede gekom het, bly in my kop.”

Om uit sy foute te leer? Paraat te bly?

Ek klim op die Streetbob.

Interlude: In die film, Easy Rider, staan die Peter Fonda-karakter se Harley bekend as Captain America. Ek doop my Streetbob; Kaptein Vrystaat.

'n Onbevoegde sirkus-aap is 'n gepaste beskrywing van hoe ek op die fiets lyk. Ek hang aan die ape-hangers en sukkel om met my voete die forward controls (die rem en ratte sit dáár voor) by te kom. Maar dit traak nie. Ek ry op 'n Harley. En ek is cool!

Die pad tussen Bloemfontein en Reddersburg is eentonig. Die landskap tragies. Die aarde dor, die vee vermaerd.

“As jy nie nou hier was nie, het ek getjank,” het vrind Christo 'n week gelede gebieg toe ons op sy plaas aankom. “Kyk hoe lyk daai beeste. Hulle vrek stadig van die honger. Jy kan maar voer gee. Dit vertraag bloot die proses.”

operis april 2016 vrystaat 4

Pakiso is Christo se plaasvoorman. Ná 'n paar doppe kan jy nie onthou of hy Pakiso of Picasso heet nie. Om verdere verwarring te voorkom, het ons op die volgende besluit: gedurende die dag is hy Pakiso. Ná 21:00, Picasso.

Pakiso se perd moet noodgedwonge op Christo se grasperk wei.

“Een van die koeie lê al vir vier dae. Sy kan nie meer opstaan nie. 'n Ander een het 'n jong kalf. Dié suip die ma dood,” het Pakiso die nuus gebring.

Christo het die lêende koei geskiet. Die karkas slag skaars 'n 100kg uit. Die ander koei en die kalf word huis toe gebring. “Dalk druk ekstra voer en my grasperk haar deur.”

Undertaker en sy aapagtige Sancho Panza maak hulle eerste uitspanning in die Sarie Marais Hotel.

Die ewe adembenemende Amor hou ons glase gevul (met nie-alkoholiese verversings, natuurlik).

Attie, polisieman/slagter, vertel Reddersburg se geskiedenis: Eendag, lank-lank gelede, was daar net Edenburg. 25 Kilometer - of 'n dag se trek per ossewa - weg. Dit klink nou naby, maar daai dae was dit ver, want die Reddersburgers wou soveel moontlik golwende heuwels tussen hulle en die Edenburgers plaas. Edenburg was 'n Gatjieponner-dorp. Die Doppers het afgestig en gevlug, en hulle vestig Reddersburg. Vir die Edenburgers was hulle dorp toe waarlik Eden sonder die Filistyne. Die Reddersburgers was oortuig hulle is insgelyks gered van die Filistyne.

“Oor die jare heen speel die twee dorpe gereeld rugby teen mekaar. Daar’t omtrent nooit 'n wedstryd die eindfluitjie gehaal nie soos die twee spanne om geloofsredes baklei het.

“En die ou Reddersburgers was streng en konserwatief. As jy in die openbaar gevloek het, is jy uit die dorp verban. Tel jy nie jou perd se mis in die strate op nie, daar gaan jy!” skilder Attie die prentjie.

Hennie Beyl, Reddersburg-Dopper en oud-koster, neem my later op 'n toer deur die kerk en die dorp se geskiedenis.

“Twak, man!” lig Hennie my in terwyl ons die kerk se meesterlike afwerking bewonder. “Daai’s kroegstories!”

operis april 2016 vrystaat 5

Volgens Hennie werk dit so: Die Gereformeerde Kerk word op 11 Februarie 1859 onder 'n seringboom te Rustenburg gestig. Met 'n steggie van daardie einste seringboom in die hand, stig 'n Ds. D. Postma Redderburg se Dopperkerk, ook die Vrystaat se Moedergemeente. Die steggie word geplant en staan vandag nog daar beskerm deur 'n palissade.

“’n Tyd terug wou iemand die boom afkap oor dit die son van sy huis af weghou, maar hy’t sy Moses teëgekom,” vertel Hennie met 'n selfvoldane grinnik.

Die kerk word egter vinnig te klein en die huidige een word deur Gerard Moerdijk ontwerp (hy was ook verantwoordelik vir die ontwerp van die Voortrekker Monument).

Die hoeksteen is gelê op 27 Junie 1925, en Totius lewer die intree-rede. Een van min kerke in die land met twee torings. Terloops, die Gatjieponner-kerk op die dorp het net een toring...

“Sien jy daardie vlekke teen die mure?” vra Hennie.

Inderdaad.

“Eendag, met die bediening van die sakrament, haak die diaken se voet agter daai trappie en hy smyt die nagmaalwyn teen die sandsteen-muur uit!”

“Eendag, met die bediening van die sakrament, haak die diaken se voet agter daai trappie en hy smyt die nagmaalwyn teen die sandsteen-muur uit!”

Straks die enigste kerk ter wêreld met wynvlekke teen die mure?

Ek vis oor die vyandigheid tussen die Doppers en die Gatjieponners.

“Man, dis ook snert. Met ons kerk se honderdste bestaansjaar was al die ander kerke se mense ook hier. Hulle het net so hard soos ons feesgevier.

“En daardie dag het Randall Wicomb opgetree. Hy sing mos Psalms. Toe hy klaar is, noem ons hoofouderling dat Randall nie kan oppak sonder om Dans Met Die Rooi Rok te sing nie. Dis die eerste keer en seker die laaste wat hy die liedjie in 'n kerk gesing het!”

Ek en Undertaker skop ons ysterperde (spreekwoordelik – ons druk net knoppies) met 'n magtige dreuning aan die gang en ry verder deur die omgewing se geskiedenis.

Die Slag van Mostertshoek was die laaste noemenswaardige veldslag wat die Boere tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog gewen het.

Interlude: Die naam, Suid-Afrikaanse Oorlog, is haaks. ‘Anglo-Boereoorlog’ is geskrap en vervang deur eersgenoemde. Maar, sê kenners, dit is 'n wanbenaming. Suid-Afrika het toe nog nie bestaan nie. Ons weet egter almal van watter oorlog ons praat.

Nietemin, tydens die veldslag het generaal De Wet en 400 manskappe 'n oormag Britse soldate met strategie en verkeerde inligting oorwin. Die slinkse De Wet het die teenstanders oortuig dat daar vyf Krupp-kanonne oppad is. Die Britte het hul wapens neergelê, die wit vlae gehys en ons oorlogsheld ry die avondsgloed binne met 'n buit van om en by 500 Lee-Metford gewere.

Terloops, Bloemfontein is verryk deur 'n standbeeld van generaal De Wet. Op sy perd. Sweep in die hand. Die legende is dat wanneer 'n maagd verby die standbeeld loop, die ou strydros sy sweep klap.

Buite Smithfield word watertenkers volgemaak om in die dorp se behoeftes te voorsien.

“Elders sit mense met beurtkrag. Hier’s dit beurtwater,” som Buckley’s se kroegman die noodtoestand op.

Ditto Bethulie. Ons lawe eerder ons dors by Die Ou Kar.

Terug by die bikes noem Undertaker: “Ek’t vir ons toebroodjies gekry”.

Hoe gulhartig van hom? Undertaker stop 'n botteltjie Coke in my hand.

“Daai is die toebroodjie. ʼn Bikers-toebie. Vodka en Coke pre-mix, tjomma!”

“Waar’s die toebroodjie?”

“Daai is die toebroodjie. 'n Bikers-toebie. Vodka en Coke pre-mix, tjomma!”

My oorle Ouma Malie het tydens oomblikke van hogere nood geprewel: “Vader, vol van mededogen, zie op mijn ellende neer.” Ek teem saam.

Die pad na Norvalspont bestaan uit Benedine-gehalte kurwes en rondings en ek besluit om Kaptein Vrystaat se oor te draai (‘voet-in-die-hoek’ in pram-praat). Die agterstewe sak. Die skouers verbreed. Die gebrul! Dit voel asof ek op 'n parende leeumannetjie se rug ry. Toe Kaptein Vrystaat se spoedmeter 180km/h aankondig, kan ek nie meer aan die ape-hangers vasklou nie. Enige oomblik gaan die bike my afgooi en word ek deur Undertaker doodgery. En wie verdien om onder sulke ironiese omstandighede sy Heiland te ontmoet?

Die Gariepdam is 'n onaardige prentjie. Ons hou op die damwal stil.

“Dit lyk asof die watervlak met 15 meter gedaal het,” som Undertaker die haglikheid op.

operis april 2016 vrystaat 6

Tog is daar vele besproeiingsplase langs die rivier. Lusern. ‘Groen goud’ vir die verbouers. Óók die harde kontant waarmee droogtegeteisterde boere voerskuld aangaan.

'n Klompie dae gelede kom help Oom Hansie, sy seun Hansie, en kleinseun Estiaan vir vrind Christo om agt ton lusernbale af te laai.

“Hierdie bale is eintlik net vir uitvoer,” verduidelik Oom Hansie. “Maar hulle gewig moet 450kg wees. Hierdie is uitgegooi omdat hulle net 420kg weeg. Ons was baie gelukkig om hulle in die hande te kry.”

Hoekom word lusern uitgevoer wanneer daar so 'n skreiende tekort in die land is?

“Vra jy!” brom Oom Hansie. “Die regering soek buitelandse valuta. Die boere soek reën en staatshulp. Ons kry nie een van die twee nie. Nie eens onbekostigbare voer nie!”

Later, nadat die lusern in die skuur gepak is, bekyk die boere die bale amper asof dit 'n nes vol pofadders is. Voer is die vee se oorlewing, maar gereeld die boer se ondergang.

Sê Hansie: “Ná laasjaar se goeie jaar, het ek geglo nou’s ek in die groen.” Sy oë dwaal oor die dorre lande. “Maar toe klop hierdie meneer aan my deur.”

Ek vra later aan Christo hoekom boere ten spyte van die terugslae aanhou?

“Die liefde vir die grond. Familiegrond. En is jy die eerste van jou bloedlyn wat teëspoed het? Gaan jy die een wees wat van die grond af wegloop? Gelukkig is my plaas nie familiegrond nie. Daarom woon ek in Pringlebaai, verhuur die meeste van die grond, en hou 'n klomp beeste aan saam met 'n vennoot wat hier bly.”

Die hotel op Norvalspont is die hart van die dorp, 'n lewensbelangrike orgaan wat nog klop, terwyl die res van die liggaam lank reeds dood is.

“Ten spyte van die geskiedenis-belaaide aarde onder ons, wat harder brul as die 1700cc-enjin tussen my bene, ervaar ek ʼn onblusbare gevoel van vryheid.”

In die nabygeleë konsentrasiekamp het 412 van die 3000 vroue en kinders in 1901 binne ses maande aan ontbering gesterf. Emily Hobhouse het die kamp as "the best women-camp" beskryf.

Ek en Undertaker klim vir oulaas op ons ysterperde en jaag deur dié sonderlinge landskap.

Bloed. Droogte. Armoede. Lyding. Verskroeide aarde. Geloofs-onmin. Boerehelde en verraaiers. Rebelle. Plaasmoorde en -aanvalle. Die soeke na vryheid en onafhanklikheid.

Ek draai die Harley se oor. Ten spyte van die geskiedenisbelaaide aarde onder ons, wat harder brul as die 1700cc-enjin tussen my bene, ervaar ek 'n onblusbare gevoel van vryheid. Amper asof Kaptein Vrystaat die verlede se kettings losruk en mens en masjien 'n ongebonde toekoms binne jaag.