Volg ons op Facebook

Kom kampeer in Clanwilliam

Written by 
| in op Reis
| April 14, 2014

Clanwilliam is nie net bekend vir sy rooibostee nie.

Dis ook ’n gewilde wegbreek-vakansiebestemming met van die beste kampeerplekke wat aan almal se smaak sal voldoen.

Jeens sy ligging sowat 240 km van Kaapstad op die N7 roete, is jy ook ’n hanetreetjie van die Weskus af, asook die asemrowende Sederberge wat al langs die Olifantsrivier lê.

    Ons lesers het help stem vir hul gewildste kampeerplekke in die gebied; en ons gee jou ook sommer ’n voorsmakie van wat om te verwag sodat jy jou volgende buitelugvakansie in dié geweste kan beplan.
    Kampeerwenk: Al is dit somer vat maar altyd warm klere en ’n ekstra kombers of twee saam, dit kan veral saans geniepsig koud rondom ’n braaivleisvuurtjie raak.

BULSHOEKDAM-OORD

Bulshoekdam-oord net buite Clanwilliam is ’n baie gewilde kampeerplek vir watersportentoesiaste en hengelaars. Langkloofplaas waarop die oord geleë is, is ook ’n werkende plaas met heelwat boerdery-aktiwiteite vir oud en jonk. Dis ’n booteienaar se droom-kampeerplek. Volg die R364 vanuit Clanwilliam, draai af na Klawer, en volg aanwysings na die oord sowat 12 km.

Kampeerfasiliteite
    Die gerieflike en groot kampeerterrein se staanplekke het elk sy eie kragpunt en braaigeriewe. Die ablusie-geriewe is netjies en skoon met warmwaterstorte. Hulle bied ook ’n verskeidenheid akkommodasie in kliphuise, houthuisies en die gewilde ‘Kloofhuis’. Hier kan jy die skaars Witkruisarend vanaf jou voorstoep dophou. As jy kom kampeer, bring jou eie braairooster saam.

Aktiwiteite
•    Boot- en kanovaart en ander watersport
•    Perdry en trekkertoere
•    4x4 en verskeie staproetes
•    Voëlkyk en ander natuurlewe
•    Verfbal-skietbaan.
•    Spanbou-geriewe.

Lesersmening
Clanwilliam-dam, daar kan jy waterski dat die biesies bewe! – Ronell Stone
Clanwilliam Dam is a great place to camp and enjoy watersport. – Carleen Ackers

Vir meer inligting besoek - www.bulshoekdamresort.co.za


JAMAKA ORGANIESE PLAAS

Jakama Organiese Plaas is gesertifiseer as die enigste organiese sitrus- en mango-plaas in die Sederberge. Die kampeerterrein is geleë op die oewer van die Rondegat-rivier, en bied pragtige uitsigte op die omliggende bergreekse. Vat die Cederberg/Algeria-afrit sowat 28 km anderkant Citrusdal. Na 18 km neem jy die afdraai na Clanwilliam, en volg die aanwysingsbord.

Kampeerfasiliteite
    Hier is beskutte staanplekke onder skaduryke bome aan beide kante van die rivier. Daar is kragpunte en braaigeriewe. Die drie netjiese ablusieblokke het warm water, en geriewe vir mans en dames. As jy staanplek op die oewer van die rivier wil kry, bespreek vroegtydig. Daar is ook huise met kaggels vir die winter wat gehuur kan word.

Aktiwiteite
•    Verskeie skilderagtige staproetes in die berge en langs die rivier
•    Kanovaart en natuurlike swemgate in die rivier
•    Donkiekarritte en perdry vir oud en jonk
•    Mango-, sitrus- en rooibos-oes deur die jaar
•    Lambertsbaai is sowat 1½ uur se ry hiervandaan.

Lesersmening
Die stilte, die donkiekarritte! Wonderlike plek!
– Geraldine Grobler
Baie lekker gekamp, lieflike plek, sal weer en weer gaan! – Sonja van Rhyn

Vir meer inligting besoek – www.nieuwoudt-farm.com


LEBANON SITRUS-VAKANSIEOORD

Hierdie rustige kampeerterrein is geleë op ’n werkende uitvoersitrusplaas op die oewer van die Clanwilliam-dam. As jy wil ontvlug van die stadslewe, en ’n plaasatmosfeer wil geniet, is dit die plek om te kom kampeer. Ook gewild by watersportentoesiaste. Vat die Citrusdal-afrit en na 28 km die Cederberg/Algeria-afrit. Draai links ná die laagwaterbruggie, en ry nog 12 km verder na ingang.

Kampeerfasiliteite
    Die lowergroen kampeerterrein se skaduryke staanplekke is op die oewer van die Clanwilliam-dam geleë, wat jou gerieflike toegang tot die water gee. Elke staanplek het ’n kragpunt, en daar is ablusiegeriewe vir mans en dames. Hulle het ook ’n verskeidenheid huise wat gehuur kan word.

Aktiwiteite
•    Watersport, bote en ski
•    Hengel van verskeie vissoorte
•    Natuurlike bergfietsryroetes
•    Perdry en lesse vir kinders
•    Verskeidenheid voël- en wildlewe
•    Vliegtuiglandingstrook (bespreek vooraf.)

Lesersmening
Lebanon Sitrus-vakansieplaas is die beste!
– Zena Burger
I vote Lebanon Citrus! – Patrik Steens

Vir meer inligting besoek – www.lebanon.co.za


BUSHMAN’S CAVE

Bushman’s Cave is ’n unieke kampeerplek op die plaas Oude Muur. Die bekende sanger Danie Niehaus het destyds koppe bymekaar gesit met die eienaars, en so is ’n opelugteater gebore waar van die land se voorste sangers optree. Hier kan jy ook etes vanuit die gewilde opelugkombuis geniet terwyl jy vermaak word. Volg die R364 en roeteaanwysings na Oude Muur sowat 40 km buite Clanwilliam.

Kampeerfasiliteite
    Die kampeerterrein is op lekker grasperke met skadubome gevestig, en het volledige ablusiegeriewe. Jy kan ook in die opelug tussen die rotse gaan stort. Elke staanplek het ’n kragpunt en daar is opwasgeriewe. Hulle voorsien ook selfsorgakkommodasie in chalets en in die gastehuis, as jy na groter gerief soek.

Aktiwiteite
•    Restaurant met gelisensieerde kroeg
•    Verskeie staproetes en 4x4-roetes
•    Boesmantekeninge
•    Plaaservaring vir kinders
•    Huweliks- en konferensiefasiliteite.

Lesersmening
Bushman’s Cave is die beste! – Ian De Villiers

Vir meer inligting besoek  - www.bushmanscave.co.za


ALGERIA

As jy die Sederberge in al sy glorie van naby wil ervaar, is Algeria wat deel van die Cederberg-wildernisgebied is, net die plek. Dis veral populêr by stappers wat op soek is na ’n natuurlike buitelugervaring. Die skoonheid van die berge en stilte is hier die wagwoord en geen musiek, radio’s of televisies word toegelaat nie.

Kampeerfasiliteite
    Die kampeerterrein is ook aan die oewer van die Rondegat-rivier geleë met lekker skaduryke staanplekke. Elke kampeerplek het ’n kragpunt en die ablusiegeriewe het warmwaterstorte, en -baddens vir die dames. Vat maar jou sonbrandmiddel saam want jy gaan heeldag in die helder swempoele wil spandeer.

Aktiwiteite
•    Verskeie lang en kort staproetes
•    Natuurlike swemgate in die rivier
•    Boesman-rotskuns
•    Stilte en rus.

Lesersmening
Ons het heerlik gekuier. Algeria is my gunsteling. Rustig. – Amelda Winterbach

Vir meer inligting besoek - www.capenature.org.za