Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Kampeer rondom Upington

Written by  Charles F. Fourie
| in op Reis
| May 13, 2014

Met die magtige Oranjerivier wat deur dié landskap vloei, en die pragtige Kalahari verder noord met sy imposante rooi duine, bied die omgewing rondom Upington ʼn hele aantal lekker kampeerplekke.

Die belangrikste hiervan is seker die Kgalagadi- nasionale park wat ook die meeste reisigers se eindbestemming op die pad noorde toe is; en waar jy jou tent na aan die natuur en wild in ʼn hele paar gerieflike kampe soos dié by Twee Rivieren en
Nossob kan opslaan.

ORANJERUS

Ons kyk vandeesmaand dan ook sommer na ’n paar kampeerplekke op die pad noorde toe rondom Upington en die Oranjerivier waar jy kan oornag of vakansie hou op jou reis. Ons lesers het ook weer help stem vir van hul gunstelingkampeerplekke in die omgewing; en ons lig jou ook in oor wat om te verwag by van die gewildste kampeerplekke.
    Kampeerwenk:  As jy gaan stap, vat altyd water saam, die hitte van die Noord-Kaap dehidreer jou sommer vinnig.  En as jy op die walle van die Oranjerivier kampeer, vat maar die Tabard saam vir lastige muskiete en muggies.

Oranjerus is ’n baie gewilde kampeer-oord op die walle van die Oranjerivier, en word as ’n topklasoord beskou deur menige reisiger wat al hier kom tent of karavaan staanmaak het. Om hier uit te kom volg die N14 vanaf Upington na Keimoes, neem die Kanoneiland-afdraai ná ongeveer 25km. Ry hier oor beide die brûe oor die Oranjerivier, en draai links op die R359. Oranjerus is ongeveer 1.8km verder geleë.

Kampeerfasiliteite

    Die kampeerterrein het ’n 4-ster-gradering, en die meeste van die kampplekke is onder bome en/of langs die rivier geleë. Die ablusiegeriewe is luuks en word netjies in stand gehou. Elke staanplek het sy eie kragpunt, kraan en braaiplek. Die oord bied ook ander gerieflike akkommodasie soos luukse tente, chalets met lugversorging, asook enkelkamers vir besigheidsmanne wat wil oornag na ’n lang dag se reis.

Aktiwiteite

• Restaurant en kroeg • Grootskerm-TV vir sport • Hengel en kanovaart
•  Voëlkyk en staproetes • Banketsaal vir troues

Lesersmening

Heerlik by Oranjerus, net buite Upington, reg langs die Oranjerivier! -Karlien Kuhn
Oranjerus bly maar die top spot vir tent-opslaan! -Suzanne Meyer
Definitief by Oranjerus - beeldskoon! -Karen Moolman-Lewis
Beslis Oranjerus! – Johann Wentzel

Vir meer inligting besoek - www.oranjerus.com


 

DIE EILAND VAKANSIE-OORD

Die Eiland vakansie-oord is seker die bekendste kampeerterrein in Upington, en ’n welkome hawe vir die talle reisigers wat jaarliks die lang pad na die Kalahari aanpak. Die oord is gerieflik naby die midde-dorp op die walle van die Oranjerivier geleë. Jy kan dus lekker kampeer, en as jy nodig het om in die dorp aankope vir jou reis te doen, is alles binne stapafstand, wat jou ook die geleentheid bied om Upington te verken.

Kampeerfasiliteite

Die lowergroen kampeerterrein het heelwat staanplekke met die meeste daarvan onder skaduryke bome, en ’n hele paar kampeerplekke reg op die walle van die rivier as jy ’n lyntjie van jou voorstoep af wil natmaak.
Elke staanplek het ’n kragpunt en daar is verskeie ablusieblokke vir mans en dames wat deur die munisipaliteit in stand gehou word. Daar is ook gerieflike chalets en kleiner kothuis-eenhede wat gehuur kan word.

Aktiwiteite

• Kafee kiosk en restaurant • Swembad (ook vir kinders)
• Tennisbaan en tafeltennis • Gholfbaan naby • Rivier-bootritte

Lesersmening

Op die Eiland in Upington is die beste! – Thabiso Marabi
Die Eiland is die heel beste plek in Upington. – John Hayes
Is daar dan ander plekke as Die Eiland in Upington? – Christi Strydom

Vir meer inligting besoek – www.kharahais.co.za


SAKKIE SE ARKIE

Sakkie se Arkie is sinoniem met Upington sedert die eienaar Sakkie Smith al in 1997 sy rivierbootritte op die Oranjerivier begin aanbied het. Sedertdien het Sakkie se Arkie uitgebrei met talle rivieravonture, en ook vierwielmotorfietstoere vir die meer avon-tuurlustiges. Die kampeerterrein op die walle van die rivier is dan ook ʼn gewilde kuierplek vir watersportentoesiaste en soos
Sakkie self sal sê – ‘jy noem dit en ons doen dit’.

Kampeerfasiliteite

Die gerieflike kampeerterrein is op lekker grasperke met talle skadubome gevestig, en het ook netjiese skoon en volledige ablusie-geriewe vir mans en dames. Elke staanplek het ’n kragpunt en kraan, en daar is ook opwasgeriewe.  

Aktiwiteite

• Riviertaxi en sonsak-bootritte  •  Vierwielmotorfiets-avontuurtoere • Kanovaart en ander watersport
•  Visvang in die Oranjerivier • ’n Waaghalsige 275m foefieslaaid

Lesersmening

Op die Eiland in Upington is die beste! – Thabiso Marabi
Die Eiland is die heel beste plek in Upington. – John Hayes
Is daar dan ander plekke as Die Eiland in Upington? – Christi Strydom

Vir meer inligting besoek – www.kharahais.co.za


SPITSKOP-NATUURRESERVAAT

As jy die Kalahari in al sy natuurlike glorie net ’n paar kilometer vanaf Upington wil ervaar, dan is hierdie jou droom kampeerplek. Die Spitskop-natuurreservaat se ingang is ook net oorkant Monate Lodge geleë, en gerieflik op die roete na die Kgalagadi in die noorde. Die naam Spitskop kom dan ook van die reuserotsformasie wat naby die ingang staan. Om hier uit te kom neem die hoofroete noord vanuit Upington, en sowat 13km buite die dorp sal jy die aanwysingsbord sien.

Kampeerfasiliteite

    Die kampeerterrein omvat 43 netjiese grasbedekte staanplekke, elk met sy eie kragpunt. Daar is ’n gerieflike en skoon ablusieblok vir mans en dames, en ook braaiplekke. By Monate Lodge, wat as deel van die reservaat bedryf word, kan jy ook akkommodasie teen billike pryse verkry wat luukse chalets insluit, asook ’n veldhut (met geen elektrisiteit) en basiese voorsiening.

Aktiwiteite

• Kiosk en swembad • Verskeidenheid voëllewe
• Teleskopiese uitsig oor die landskap
• 3 verskillende staproetes • 37km wildroete deur reservaat • Gemsbok, eland en ander wild

Lesersmening

Braai nommer 2 by Spitskop is die plek! – Gerald Kock
Spitskop is na my mening die ideale kampeerplek! – Mantoa Makoti

Vir meer inligting besoek – www.spitskopmonate.co.za


RIVA RESORT

Die populêre vakansieoord is op die walle van die Oranjerivier geleë. Dis ook ’n gewilde konferensie- en onthaalplek vir troues met ’n restaurant en kroeg met ’n heerlike dek-area, asook ’n buite-braaiboma waar hulle saans lekker groot vure stook voor daar gebraai en gekuier word. Die oord is sowat 9km buite Upington.

Kampeerfasiliteite

Riva Resort bied twee kampeerterreine aan waarvan die een se staanplekke onder skadunette op grasperke is, en die ander nader aan die rivier. Daar is ablusie-geriewe vir mans en dames. Hulle bied ook luukse chalets, en kamers in die Riva Resort Lodge indien jy jou tent of karavaan by die huis vergeet het.

Aktiwiteite

• Restaurant en kroeg • Verskeidenheid voëllewe
• Plaasaktiwiteite vir kinders
• Swem en kanovaart in rivier

Lesersmening

Riva Resort! – Herbert Meyer;
Riva Resort eerste! – Lizle Van Tonder.

Vir meer inligting besoek –www.spitskopmonate.co.za


WITSAND-NATUURRESERVAAT

As jy op pad vanaf Johannesburg of die Kaap verby Kimberley die pad noorde toe ry, is Witsand-natuurreservaat ’n besliste oornag of paar dae se uitkamp die moeite werd. Hier kry jy die wit duine van die Kalahari wat soms tot sestig meter hoog bo die rooi sand uittroon en dis die tuiste van die bekende Kalahari-‘brulsand’. Vanaf Johannesburg draai jy weg na Kathu en Olifantshoek en vanaf Kimberley vat jy die R64 na Griekwastad en Groblershoop om hier uit te kom.

Kampeerfasiliteite

Hier sal jy slegs tien kampeerplekke vind wat elk sy eie water, kragpunt en braaiplek het. Die ablusiegeriewe is eersteklas en skoon en daar is opwasgeriewe. Hulle bied ook akkommodasie in luukse chalets. Bespreek vroegtydig as jy gaan kampeer.

Aktiwiteite

• Verskeie staproetes deur die hele reservaat • Swembad en piekniekterrein • Fietse en sandglyplanke kan gehuur word
• Van die beste sterrekyk in SA • Groot verskeidenheid voël- en wildlewe

Lesersmening

Witsand (brulsand). – Marietjie Ackermann Visagie

Vir meer inligting besoek - www.witsandkalahari.co.za