Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Kampeer in Kakamas se wereld

Written by  Charles J. Fourie
| in op Reis
| May 30, 2014

Ons kyk vandeesmaand na ʼn paar lekker kampeerplekke rondom Kakamas in die Noord-Kaap waar die Oranjerivier verder sy gang deur die ruwe landskap see toe vind.

Dis ʼn natuurliefhebber en ook watersportentoesias se droomwêreld.

Van die kampeerplekke het meer gerief as ander, en selfs iets so basies soos drinkwater kan ʼn probleem word. So as jy die reis na jou kampeerplek vat, maak vooraf seker hulle het wat jy gaan nodig kry, of vat dit self saam. Een ding is seker, jy sal die aandjies rondom die braaivleisvuur onder die sterrehemel saam met jou gesin terdeë geniet want dis veilig en stil, en boonop baie bekostigbaar.

Kampeerwenk: ʼn Goeie GPS-sisteem in jou voertuig is nie te versmaai nie, want as jy eers in Riemvasmaak se landskap kom, verdwaal jy sommer maklik.


DIE MAS-BOERDERY

Die Mas is die oudste en bekendste plaas in die Kakamas-omgewing. Die pragtige kampeerterrein vorm dan ook deel van ʼn werkende plaas. Die eienaar Vlok Hanekom wat ook bekend staan as die ‘Mas van Kakamas’ het hier langs die Oranjerivier ʼn terrein gevestig wat aanvanklik vir familie en vriende bedoel was. Sedertdien het dit ʼn gewilde vakansieoord geword, en is daar later ook enkele chalets opgerig. As jy die rustige vloei van die Oranjerivier en ʼn kampeerplek soek wat naby al die besienswaardighede in die omgewing is, is dit net die plek om jou tent of karavaan op te slaan. Neem die R359 en volg aanwysingsborde sowat 4km buite Kakamas om by hierdie natuurskone oase uit te kom.

Kampeerfasiliteite
    Die kampeerterrein strek ʼn hele 2 hektaar al langs die rivier af, en die staanplekke is op lowergroen grasperke en onder groot koeltebome geleë. Ablusiegeriewe is netjies en word daagliks in stand gehou. Daar is kragpunte, krane, en braaiplekke. As jy jou tent by die huis vergeet het, bied die selfsorgchalets gerieflike akkommodasie teen baie bekostigbare pryse. Die grasdak-lapa en kroeg wat tot 400 gaste kan huisves, is ook ʼn gewilde lokaal vir troues en verjaarsdagpartytjies.

Aktiwiteite
• Lapa-restaurant met kroeg • Perdry en donkiewa-ry • Hengel en kanovaart • Voëlkyk en staproetes • Vierwielmotorfietse

Lesersmening
By die Mas staan my tent! – Marcus van Niekerk; Die Mas van Kakamas waar die waters rustig vloei. – Ina Swanepoel
Die Mas van Kakamas. Vlok is bobaas! – Deon Terblanche

Vir meer inligting besoek - www.diemasvankakamas.co.za


AUGRABIES-VALLE NATUURRESERVAAT

Die kampeerterrein by die Augrabies-valle Natuurreservaat is stapafstand van die waterval waar die Oranjerivier 56 meter ver in die 18km lange rotsravyn wegspoel. Hierdie wêreldbekende natuurverskynsel maak dan ook dié kampeerterrein een van die mees gesogte in Suid-Afrika. Hier kan jy rondom die braaivleisvuur sit en saans na die magtige dreuning van die valle luister terwyl ʼn sterrehemel oor jou kop dans. Die oord vorm ook deel van SANParke, en bied jou toegang tot die res van die reservaat indien jy ʼn 4x4-voertuig het, anders kan jy ʼn begeleide toer bespreek. Augrabies-valle is sowat 40km vanaf Kakamas geleë.

Kampeerfasiliteite
    Enkele jare gelede het die kampeerterrein tydens ʼn vloed weggespoel, maar dit is sedertdien hervestig, en bied nou 40 staanplekke onder skaduryke bome. Elke staanplek het sy eie kragpunt en braaiplek. Die ablusiegeriewe is netjies en funksioneel. Daar is ook wasgoed- en strykgeriewe, en soos by die meeste SANParke is daar ʼn gemeenskaplike kombuis met ʼn stoof, warm water, en opwasgeriewe.

Aktiwiteite
• Kafeekiosk en restaurant • Swembaddens (ook vir kinders)  • Dag- en oornagstaproetes • Bergfietsgrondpadroetes • Voëlkyk en ander natuurlewe  • Konferensiegeriewe

Lesersmening
Augrabies-waterval- Nasionale Park! – Di Za Za Feris; In die karavaanpark by Augrabies-waterval. – Anna Presley
Augrabies- Nasionale Park – Josua Visser.

Vir meer inligting besoek – www.sanparks.org


KHAMKIRRI

In hul bemarking noem die eienaars van Khamkirri dat dit ’n plek is waar avontuur en die natuur byeenkom. Die luukse oord is geleë op die noord-oewer van die Oranjerivier en spog met ’n verskeidenheid aktiwiteite vir almal se smaak. Hulle organiseer ook die jaarlikse Groen Kalahari-kano-marathon wat besoekers landwyd lok. Verskeie televisieprogramme is ook al by Khamkirri verfilm. As jy egter nie lus het vir die avontuurbedrywighede nie, is dit ook ʼn rustige ontspanningsoord waar jy rus vir jou siel kan vind. Volg die N14 vanaf Upington na Kakamas. Net voor Kakamas, neem die Riemvasmaak-afdraai na regs.

Kampeerfasiliteite
    Die kampeerterrein is op grasperke onder skaduryke Kameeldoringbome gevestig met uitsigte op die Oranjerivier. Elk van die 22 staanplekke het kragpunte en ʼn braaiplek. Die ablusiegeriewe is netjies en het ook badkamers en punte vir haardroërs.  Hulle bied ook ander meer luukse akkommodasie in permanente tente, chalets, gesinseenhede en houthuise.

Aktiwiteite
• Kafeekiosk met hout, ens. • Vierwielmotorfietsroetes • Oop voertuig wildkyktoere
• Kanovaart en watersport • Visvang en perdry • 4x4-roetes • Konferensiefasiliteite

Lesersmening
Khamkirri vir my! – Anena Burger; Khamkirri is die beste! – Hennie Vermeulen

Vir meer inligting besoek - www.khamkirri.co.za


LAKE GRAPPA

Dié gewilde vakansieoord is ook ʼn watersportentoesias se droom en hulle bied waterski-klasse vir oud en jonk onder leiding van die bekende Springbokskiër G.J. Visser. Die oord se kampeerterrein is ook op die walle van die Oranjerivier geleë en maak deel uit van ʼn werkende plaas waar jy jou eie tafeldruiwe kan gaan pluk. Die Augrabies-valle is slegs 20km daarvandaan. Om hier uit te kom volg die N14 vanaf Upington na Kakamas, en neem dan die R64 na Marchand.

Kampeerfasiliteite
    By Lake Grappa kan jy jou tent op die oewer van die Oranjerivier opslaan. Daar is braaigeriewe en kragpunte asook ablusiegeriewe vir mans en dames. Hulle bied ook ʼn aantal selfsorgchalets aan indien jy meer gerief soek. Die hoofgebou het ook ʼn restaurant wat bedags en saans oop is, en ook geskik is vir onthale en troues.

Aktiwiteite
• Watersportaktiwiteite soos ski • Verskeidenheid voël- en natuurlewe • Plaasaktiwiteite vir oud en jonk • Swem en kanovaart in rivier • Nabye 4x4- en staproetes

Lesersmening
Lake Grappa, ja! – Marian van Vuuren; Besoek Lake Grappa! – Johan van Eeden

Vir meer inligting besoek – www.lakegrappa.co.za


AUGRABIES BACKPACKERS

Nog ʼn bekende avontuurlushof vir die jonger geslag op die Oranjerivier is die Augrabies Backpackers-oord wat bekend is vir hul rivierkano-vaart ekspedisies en die warmlug-ballontoere waartydens jy oor die Groen Kalahari kan sweef en ʼn arendsoog op die wonderskone landskap kry. Hulle is ook maar slegs 10km van die Augrabies-valle geleë wat jou ook verdere toegang tot ander omliggende besienswaardighede bied.

Kampeerfasiliteite
    Die kampeerterrein het grasstaanplekke vir tente en karavane, elk met sy eie kragpunt. Daar is ʼn gerieflike en skoon ablusieblok en ook braaiplekke. Die hostel bied ook dubbel- en enkelkamers teen billike tariewe.

Aktiwiteite
• Kiosk en swembad • Lapa met kroeg en DStv • Visvang en vlieghengel
• Kano- en witwatervaarte • Lugballontoere

Lesersmening
Augrabies Backpackers! – Andrew Hockly; Augrabies Backpackers is nommer een! – Ryno Swart

Vir meer inligting besoek – www.augrabiesbackpackers.co.za


RIEMVASMAAK SE WARMWATERBRONNE

Riemvasmaak is ’n uitgestrekte en dorre gebied wat in die suide ook begrens word deur die Oranjerivier, en dis hier waar jy die warmwaterbronne sal teëkom.  Wees gewaarsku dat as jy die omgewing wil verken, gaan jy ʼn 4x4-voertuig benodig, en mense verdwaal gereeld in die ruwe landskap. Om hier uit te kom ry jy vanaf Kakamas en Augrabies via Blouputs.

Kampeerfasiliteite
    As jy hier kom kampeer, moet jy maar alles saamvat, van die hout tot die vleis, want selfs drinkwater is skaars. Daar is verskeie boskampeerplekke om van te kies op ’n aantal roetes en die meeste is net met ʼn 4x4-voertuig toeganklik. Staanplekke by die warmwaterbronne is geriefliker, maar skaduwee is min. By die bronne is daar ook chalets wat elk ’n stort en braaiplek het. Hierdie is kampeer op sy natuurlike beste.

Aktiwiteite
• Warmwaterbronne •    Verskeie 4x4-roetes • Wild en natuurlike plantegroei • Rotsklim en Boesmantekeninge

Lesersmening
Die warmwaterbronne by Riemvasmaak! – Johny Blaauw

Vir meer inligting skakel – Clarisa Damara by 083 873-7715