Volg ons op Facebook

Jy maak my lam

Written by  Lekker Bekkig | August 5, 2014

Dis winter en ons kuier in Bredasdorp, en wat is nou ’n beter geleentheid om lam te kook?

Ek spring op die foon en begin wild en wakker rondbel om waterblommetjies in die hande te kry. Tot my teleurstelling moet ek hoor die onlangse sneeu het al die waterblommetjies gekelder, en dat daar geen voorraad is nie. Nou wat nou ou vrou?
         My kop galop na ’n Ierse bredie wat mens met meer aartappels as lam voorberei, en ek dink, “Nee! Daar is genoeg lam- en aartappel-resepte in hierdie wêreld. Ek gaan liewerster skaapboud, waarvan daar ’n duidelike tekort is, opdis.” Veral so vir ’n Sondagete, en dan tower ons  met dit wat oorbly.
         As kind het ons Sondae by my ouma en oupa gaan kuier in Heidelberg, in die ou Transvaal. Die hele familie (al tesame so tien grootmense en dan nog al die niggies en nefies daarmee saam) het om ’n groot tafel vergader om die skaapboud, geroosterde hoender of twee, en ʼn lekker varkboudjie te verslind. Gepaard met al die groentes soos net die boeremense dit kan maak. Dan was daar nog die poeding ook, en dis g’n wonder die mans moes gaan inlê vir die middag terwyl die vrouens die vrag skottelgoed was nie.     

lam3

        Dis ’n euwel, want tot vandag toe nog sit my boetie nie sy hande in skottelgoedwater nie. Mind you, ek is ook nie mal daaroor nie.
Nou ma’ toe, laat ons daai potte begin swaai wat jou lam gaan maak.

Lamsboud met roosmaryn, suurlemoenskil en knoffel

lam4Koop ’n lekker lamsboud, groot genoeg vir die aantal mense wat jy wil onthaal. Kyk vir ’n lekker lagie vet. Net ’n dwaas sal die been loop uithaal. Dit gee die boud smaak en geloofwaardigheid, anders dink almal jy kom van die stad af en koop als by daai fênsie winkels waar als meer verpakking op het as inhoud.

Bestanddele

1 Lamsboud
Skil van 2 suurlemoene - fyn gerasper
Sap van een suurlemoen
’n Paar ordentlike spriete vars roosmaryn - fyngekap
1 huisie knoffel (skille af en diagonaal gesny sodat jy dit in die boud kan druk, moet dit nie opkap nie)
Gemaalde gemmer
Sout
Wit peper
Olyfolie

Metode

        Druk gate in die vleis van die boud met ’n skerp mes en stop hom met die knoffel wat jy mos nou plat gesny het om daar in te pas. Maak seker jy versprei die knoffel eweredig oor die hele boud, bo-op en onder hom.
Braai dan die boud met ’n bietjie olyfolie op die stoof in die oondbak wat jy gaan gebruik. Seel hom aan alle kante tot ligbruin, sodat die sappe nie ontsnap nie. Haal af en laat verkoel totdat dit nie jou hande brand wanneer jy hom invryf nie.
 Terwyl hy braai, meng die suurlemoenskil, suurlemoensap, roosmaryn en olyfolie in ’n bakkie.
        Smeer jou hande vol van die doepa en masseer daai lam se boud in! Maak seker jy kry van die doepa in elke hoekie en gaatjie.
 Sit die gesmeerde boud terug in die oondpan en strooi mildelik met grof gemaalde sout, gemaalde gemmer en wit peper. Bo en onder.
        Maak toe met foelie en druk hom in ’n warm oond op so 180 grade vir ’n uur. Wanneer jy hom begin ruik, moet jy kyk wat gaan in die oond aan. Dis nou tyd om aartappels in te sit of enigiets wat jou hart begeer. Maak weer toe met die foelie vir nog so 30 tot 45 minute, afhangende van hoe groot die boud is.
         As jy wil toets of hy reg is, druk ʼn vurk in die dikste deel, en as daar vreeslike bloe-derigheid uitkom, is hy nog te rou. Indien die vloeistof wat daar uitkom baie lig is met ’n effense rooierigheid is die boud gaar. Ek hou van vleis sappig en nie droog soos lams-kougom nie.
        Haal die foelie af en sit jou oond op braai. Druk die boud en aartappels onder die rooster vir so paar minute totdat die vet mooi bruin en die aartappels lekker krakerig is.

Boerelam-Sjwarma

Hierdie dis is perfek vir ’n groot groep mense wat vir ete kom. Jy kan als die dag voor die tyd kook en net warm maak. Mense bou hulle eie Sjwarmas, so jy kan agteroor sit en klets soos die uitmuntende gasvrou of gasheer wat jy is.
Die dis bestaan uit vele elemente en is tradisioneel ’n Turkse dis wat die Grieke ook gek oor is. Mense regoor Europa bedien dit in vele vorme. Vandag maak ons ’n boere-Sjwarma uit die lam wat oorgebly het van die Sondagmiddag-lamsboud.
        Ons bedien dit met tzatziki (’n komkommer-, knoffel- en joghurtsous), tamatie en rissiesous, hummus, geroosterde eiervrug, kool met gemmer en vinkelsaad en geroos-terde groen-, geel- en rooi-soetrissies in olyfolie.

lam2

1. Die lam

Sny die lam in baie dun skywe van die boud af. Sny vars kruisement baie fyn, en meng met die lam-skyfies. Drup die sap van een vars suurlemoen daaroor, gooi mildelik met fyn komyn en laat staan vir so 10 minute.
         Maak ’n pan baie warm en braai die gemarineerde lamsvleis vinnig daarin.
Maak seker dit bly sappig en dat jy dit nie te droog braai nie. Maak dit basies net warm.

Tzatziki met feta en joghurt

1 Engelse komkommer
1 knoffelhuisie - fyngekap
400g dubbel vet Griekse jogurt
60g sagte Deense fetakaas - gekrummel
2 eetlepels suurlemoensap
1 teelepel fyngekapte dille
2 teelepels appelasyn
1 teelepel sout

Metode

Sny die komkommer in die helfte met sy lengte af. Krap die saadjies uit en gooi hulle weg. Rasper die res aan die growwe kant van die rasper.
        Versprei die gerasperde komkommer oor ’n lappie en gooi ’n kwartteelepel van die sout daaroor. Laat staan vir 10 minute. Vat die lap se hoeke bymekaar en druk soveel van die water uit die komkommer uit as wat jy kan.
        Sit die uitgedrukte komkommer, joghurt, suurlemoensap, appelasyn, knoffel en dille in ’n medium bakkie. Krummel die fetakaas daarin. Gooi so bietjie sout in, en proe eers voordat jy die res van die sout bygooi na smaak.
        As jy haastig is, gooi die hele lot in ’n voedselverwerker totdat alles gemeng is en proe voordat jy al die sout bygooi.

2. Hummus

Bestanddele

1 blikkie keker-ertjies
1/4 koppie vars suurlemoensap
1/4 koppie tahini
Halwe huisie knoffel - fyngekap
2 eetlepels olyfolie
1/2 teelepel fyn komyn
Rooi peper

Metode

Sit die Tahini in ’n voedselverwerker. Meng die Tahini alleen vir so minuut of twee om ’n meer gladde hummus te kry. Voeg die suurlemoensap by en meng vir nog ’n minuut of twee. Voeg nou die olyfolie, komyn, gekapte knoffel en ’n knypie sout by. 
        Meng vir nog ’n minuut. Dreineer en was die keker-ertjies deeglik onder water. Jy kan hulle nou ook in die menger gooi. Meng totdat die hummus glad en satynsag is. Indien jy dink die mengsel is nog bietjie grof voeg ’n bietjie water by totdat dit glad genoeg is na jou smaak.

lam1

3. Krakerige kool

Bestanddele

6 koppies fyngesnyde Savoy-kool
1/2 koppie sprietuie
1 eetlepel gekapte knoffel
1 eetlepel gekapte vars gemmer
1 eetlepel hoender of groente-aftreksel
1 1/2 eetlepels sojasous
Halwe eetlepel rysasyn
Sout en wit peper na smaak
Geroosterde vinkelsade

Metode

Sny die kool en knoffel en laat dit vir so vyf minute staan om die smaak meer intens te maak. Verhit die aftreksel in ’n groot pan en soteer die kool, sprietuie, gemmer en knoffel oor ’n lae hitte vir so 5 minute. Voeg die sojasous en rys asyn by, en geur met sout en peper na smaak.

4. Tamatie- en rissiesous

Bestanddele

6 lekker ryp tamaties – skille afgetrek en opgekap
1 bos Italiaanse pietersielie - die met die plat blaartjies
1 groot rissie - twee as jy van sterk kos hou
Titseltjie suiker
’n Drukkie suurlemoensap

 Metode

Gooi die oortollige sap van die tamaties af nadat jy dit opgekap het.
        Sit al die bestanddele in ’n voedselverwerker en meng op ’n hoë spoed. As die sous te loperig is, kan jy ’n bietjie broodkrummels daarin gooi om dit te verdik.
        Proe en gooi by wat jy dink kortkom.  Dit moet ’n lekker vars soet-suur-brandsmaak wees.

5. Gebraaide eiervrug

Bestanddele

2 - 4 Eiervrugte (hang af hoeveel mense jy verwag)
Olyfolie

Metode

Sny die eiervrug in 1cm-stukke (sny hom dwars soos ʼn brood) en pak die skywe op ’n lappie.
        Gooi heelwat sout daaroor en laat staan vir 10 minute. Draai hulle om, gooi weer sout oor en staan vir nog 10 minute. Jy sal sien daar kom baie water by die vrugte uit. Jy doen al die moeite om die bitterige smaak uit die vrug te haal wanneer jy hulle rooster.
        Verwyder alle oortollige water en sout van die skywe deur dit af te droog met ’n lappie. Pak die skywe op ’n bakplaat en gooi mildelik olyfolie daaroor. Sit jou oond op rooster en druk die eiervrugskywe in die oond vir so 5 tot 10 minute aan elke kant. Rooster totdat hulle ’n mooi bruin kleur het.
         Verwyder en gooi weer mildelik met olyfolie. Bedien warm of koud.
Die vrugte hou ook taamlik lank in die yskas, so jy kan gerus ekstra maak.

6. Geroosterde groen-, geel - en rooi-soetrissie in olyfolie.

Bestanddele

2 x Groen, rooi en geel soetrissies (green, red and yellow pepper in Ingels)
Olyfolie

Metode

Sit die rissies op ’n warm plaat of oor ’n direkte vuur. Skroei hulle tot die vel pikswart is aan alle kante.
        Vryf die geskroeide vel af (doen dit onder koue water as die rissies nog warm is of sit almal in ʼn plastieksak en vryf die velle af).
        Sny in repies en gooi mildelik met olyfolie.
Bedien. (Die skroei van die vel verander die smaak van die rissies heeltemal. Jy sal nooit weer soetrissies anders wil eet nie).
        Dit als klink na baie werk maar dit kan binne die bestek van so ’n uur na ’n uur-en-’n-half gedoen word. Wanneer jy klaar is, kan jy die tafel dek en almal bou hulle eie Sjwarmas soos wat hulle daarvan hou. En dan kan jy maar die Griekse musiek opsit en as almal lekker klaar geëet het, kan hulle sommer die borde in regte Griekse styl breek saam met ʼn glasie yskoue Ouzo. En soos die Grieke sal sê… kali orexi!