Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Op hete kole

Written by  Lekker Bekkig | September 10, 2014

        Vir die een of ander rede word mans meer mannerig rondom 'n vuur. Miskien is dit die jagter in hulle wat uitkom. Vrouens weer word meer vrouerig, hulle soek slaaibakke en sellofaan en begin onmiddellik braaibroodjies maak as mens die woord “braai” noem.

 Selde sal jy 'n man in die kombuis kry by 'n braai. Nee, sy plek is voor die vuur. Tensy hy amper omval van te veel voggies vat, sal jy ook nie daai braaivurk uit sy hande kry nie. Al verbrand hy die vleis en steek gate in die wors. Jy kan maar net gelate staan en kyk. Almal is 'n braaimeester en weet net hoe. Ek het al baie kaiings geëet by 'n braai. Kaiing-beeshaas. Kaiing-tjoppies. Kaiing-wors. Die arme diere het verniet gevrek. Mens kan net sowel kole kou. Of miskien vleis-kougom. Dit wil net nie sluk nie.
        Wat jy ook al braai, moet dit nie te veel braai nie. Hou dinge sappig en smaaklik.
        Dis ook 'n goeie idee om jou kos in sarsies gaar te maak sodat mense aanhoudend 'n peuselhappie het terwyl hulle kuier. Jou gaste hoef nie om te val van honger teen die tyd wanneer alles voorgesit word nie. Onthou ook om jou vleis te laat rus wanneer dit van die vuur af kom. Net vir so vyf minute of so. Dit verhoed dat die bloederigheid soos beetsous oor al die ander disse uitloop.

sep-kos-1

Versnaperings

        "Ek sal met jou trou, maar kan jy braaibroodjies maak?" het ek 'n ou al hoor sê. Hier is 'n paar alternatiewe wat net so lekker is en aan die begin van die braai gemaak kan word saam met die spek- en pynappel-happies.

Platbroodjies

        Koop sommer klaargemaakte deeg en gebruik dit met verskeie lekkernye wat bo-op gaan. Elkeen kan sy eie een maak as jy al die bestanddele net op die tafel sit. Ek het groen olywe, rissies, knoffel, roosmaryn, spek, Peppadews en mozzarellakaas gebruik. Trek die deeg plat of rond of langwerpig, net soos jy lus is die dag. Smeer met 'n bietjie olyfolie en sit op die vuur vir so tien minute totdat die kaas gesmelt en die deeg gaar is.

sep-kos-2

Spek skiet

        Vat repies spek en draai dit om 'n stukkie pynappel met 'n paar blaartjies vars koljander. Steek 'n tandestokkie deur. Mense kan dan sommer hulle tanne skoonmaak voor die volgende gang. Braai totdat die spek gaar is en bedien warm. Ek jok, dis glad nie lekker nie.

Laat waai Skaapstertjies

        Die mense in die Kalahari vat sommer die stertjie as hy van die skaap af kom en gooi dit net so heel, wol en al, in die vuur. Daai stertjie waai nog hy's so vars. Hier nader aan die stad het ek myne by die Groenland-slaghuis gekry.  Overberg-lam daar van Deon Vleis af. Lekker lam!

        Ek het die stertjies op twee maniere gemaak. Een gemarineer en die ander net so. Verskeie artikels op die Internet beveel aan dat mens die stertjies kook in 'n stoompot en dan net op die vuur klaarmaak. Ek hou van my vet baie krakerig so ek verkies om die stertjies in die oond gaar te maak en dan op die vuur te looi net voordat ek hulle bedien.
        Dié sonder marinade sit ek vir so ʼn uur oop in die yskas. Gooi sout op voordat jy dit insit sodat die vet lekker uitdroog. Dit help om die stertjies meer krakerig te maak. Daarna gooi ek net 'n bietjie wit peper, vars roosmaryn en gerasperde suurlemoenskil oor en hy's reg vir die oond. Vir die ander laat ek die stertjies vir so drie ure in die marinade lê voordat ek hulle in die oond gaarmaak. Smeer gereeld met die marinade, veral wanneer jy hulle op die vuur klaar maak.

sep-kos-3

Marinade

        Ek maak 'n mengsel van die volgende bestanddele en proe-proe maar so tot hy vir my reg proe.

Worcestersous
Ponzo
Teriyakisous
Suurlemoensap
Soet Indonisiese sojasous

Dan kan jy maar laat waai.

Hele lamsrak

        Vir 'n bietjie van 'n verandering kan jy jou tjoppies as 'n hele lamsrak koop. Vra jou slagter om dit 'n "French trim" te gee. Dit beteken hulle maak die beentjies mooi oop. Dan braai jy vir hom heel. Ek smeer net gerasperde suurlemoenskil, gekapte roosmaryn, sout en wit peper op. Braai hom net totdat die vet gaar is; hy moet nog lekker sappig in die middel wees. Hoe gaarder jy hom maak, hoe taaier maak jy hom. Laat hom ook 'n bietjie rus voordat jy bedien. Nie te lank dat hy koud word nie. Net genoeg om hom te laat 'settle'.

Heel filet

        As ek my nie misgis nie noem mense dit beeshaas. Waar hulle aan daardie naam gekom het sal net hulle weet. Miskien was hulle haastig of iets. Mens moet nogal wees wanneer mens 'n filet maak, want jy moet hom nie te veel gaarmaak nie. Hy moet nog lekker pienk binne in wees, anders sit jy weer met die vleis kougom-storie. Vir 'n bietjie afwisseling het ek die filet op twee maniere gaargemaak. Die een baie plein en simpel en die ander een met alles en nog wat. So twee uiterstes.

sep-kos-4Filet met Gorgonzola-sous

        Braai die filet heel en sit net sout en peper op. Sny in dik skywe en bedien met die heerlike sous.
        Die roomsous is net so eenvoudig. Neem drie bakkies room en kook dit in 'n pan totdat dit dik word en so met die helfte verminder het. Koop 'n lekker sagte Gorgonzola-kaas of enige blou kaas waarvan jy hou. Breek dit in die room en laat smelt. Daar het jy dit. Eenvoudig maar liplek-lekker.

Filet met 'n rooiwyn-, koffie- en sjokoladesous

        Laat die filet in rooiwyn en lourierblare lê vir 'n paar uur. Haal hom uit en sny die filet in die lengte oop en stop met opgekapte groen olywe, Peppadews en buffel-mozzarellakaas. Maak hom weer toe met 'n toutjie sodat sy binnegoed nie uitval wanneer jy hom braai nie. Rol nou die filet in moerkoffie en sewe Thaise speserye. Braai heel op die vuur. Laat rus en sny dan in dik skywe.

Die sous

         Vat die rooiwyn waarin die filet gelê het en kook dit totdat die wyn met die helfte verminder het. Voeg 'n koppie filterkoffie by. Swart, geen suiker nie ’seblief. Kook vir nog so rukkie totdat dit verder verminder het. Jy kan dan 'n blok donkersjokolade daarin breek. Moet tog nie gewone sjokolade probeer nie, dis 'n nagmerrie en heeltemal te soet. Bournville maak 'n lekker donkersjokolade wat perfek is vir kook. Dis ook orals beskikbaar. Meng laastens 'n bietjie gekapte rissies by en bedien.
        Beide filette kan bedien word met kapokaartappels, gestoomde aspersies en jong groenboontjies. Jy wil nie te veel fancy goed by die vleis maak nie anders gaan hulle baklei vir aandag. Die vleis moet die held wees.

Boere “bant” vir dié kool

        Tim Noakes se Banting-dieet het die hele land op hol. Ek persoonlik dink dis 'n komplot wat gesmee is om meer blomkool te verkoop. Jou mond sal oophang van al die variasies van blomkool wat op die dieet aanbeveel word. Daar is blomkoolrys, 'mash', gestoomde blomkool, blomkool gebruik as 'n pizza-deeg. Die lys hou net nie op nie. Hier is 'n lekker resep vir 'n hele kop blomkool. Iets anders as om hom net te stoom.    

Bestanddele

1 hele kop blomkool
1 eetlepel olyfolie
1 koppie Griekse joghurt (ek stem saam met Tim Noakes, as jy iets gaan eet, eet dit ordentlik, niks se ge-lae vet nie. Kry sommer dubbel-dik joghurt)
2 lemmetjies se sap en gerasperde skille
2 eetlepels rissiepoeier
1 eetlepel fyn komyn
1 eetlepel knoffelsout
1 teelepel kerriepoeier
2 teelepels sout
1 teelepel swart peper

Metode

• Verhit jou oond tot op 200 grade en smeer 'n bakplaat met die olyfolie sodat die kop nie vassit nie.
• Verwyder al die blare, indien jy so gelukkig is om 'n ordentlike blomkool te bekom wat vanoggend gepluk is.
• Meng al die ander bestanddele met die joghurt en smeer mildelik oor die blomkool. Maak jou hande vuil dan kan jy hulle aflek wanneer jy klaar is.
• Kry van die sous ook onder die blomkool se dakkie in.
• Sit op die bakplaat in die oond vir so 40 minute, totdat die oppervlak van die blomkool droog en bruin is.
• Laat hom afkoel vir so vyf minute en bedien.

sep-kos-5

        So, daar het jy nou 'n lekker braai vir smulpape. Dis hope kos en die hele familie kan vir dae lank nog daaraan smul. Geniet Braaidag en waar jy ookal braai, onthou om die vuur dood te gooi wanneer jy klaar is sodat die wind nie met hom kan loop en groot skade aanrig nie.
        Ek was gelukkig genoeg om 'n wonderlike gasbraai van Weber te kon gebruik. Ek bly waar die wind gebore is langs die see. En 'n vuur en wind en braai is nie altyd lekker maatjies nie. Dit veroorsaak gewoonlik 'n gelollery. Dit is boonop moeilik om brood en snitte in hul geheel net so oor die kole te braai. 'n Tipe oond werk beter. Daar is ook die verdere voordeel dat mens nie hoef te wag vir kole of jouself te bekommer dat die kole gaan uitbrand en met jou tydsberekening foeter nie. Mens kan altyd 'n ou vuurtjie langsaan maak net om die hout te ruik.

Daarsy! Gee gas.