Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Appels en pere vir Smulpape

Written by  Lekker Bekkig | February 25, 2014

As kind het ek altyd so vir my een oom gekyk en gewonder hoekom hy so ’n groot knop in sy keel het. Later het my ma vertel dit word ’n mens se ‘Adamsappel’ genoem. In my kop het snaakse dinge gebeur. Ek het die storie van Adam en Eva en die appel sommer so aanmekaar gelas, en gedink dis mos nou dié einste appel wat daar in my oom se keel gaan vassit het.

Die feit dat sy naam nie Adam was nie, het nie eintlik by my geregistreer nie. Sê maar net ek was katvoet vir hom daarna.
Later jare besef ek toe ook, my eie appeltjie het toe nie só vêr van die boom geval nie. ‘Adamsappel’ is afgelei van die appel wat kwansuis in Adam se keel agtergebly het na daardie fatale happie wat hy van Eva gevat het.
En wie kan hom nou kwalik neem? Be-slis nie Sneeuwitjie nie.  Selfs Plato het gesê; “I throw the apple at you, and if you are willing to love me, take it and share your girlhood with me; but if your thoughts are what I pray they are not, even then take it, and consider how short-lived is beauty.”
Die wat ek besluit het om julle vandeesmaand te verlei met ’n paar heerlike appel-resep-te wat jou en vroulief hopelik nie in dieselfde moeilikheid sal kry as onse voorvaders nie.  Vark en appels gaan saam soos vark en Palestina, en as daar nog bietjie kool bykom dan het ons ’n maal vir smulpape. Dit is mos nou appelseisoen, so kies dié appels  wat vir jou die lekkerste lyk, en kraakvars in jou mond sit.

VARKROL MET APPEL EN SJINESE “FIVE SPICE”

Dit kan ’n gedoente wees om so varkrolletjie in die hande te kry. Gaan na jou slagter en vra hom om vir jou ’n varkrol te rol met die vel aan. Hy moet glad nie die vel “score” nie en seker maak daar is genoeg vet aan die buitekant van die rol om soos my ouma gesê het -
lekkerbekkige “crackling” te maak.  
Die geheim van ’n perfekte varkrol crackling is eenvoudig. Sout trek vog uit enigiets uit. So vat die rol en verwyder enige nattigheid met kombuispapier. Gooi baie sout oor die hele rol en laat staan dit oornag in jou yskas. Moenie die varkrol toemaak met enigiets nie, hy moet blootgestel wees aan die lug. Verwyder die rol die volgende oggend en berei hom verder so voor. Gebruik weer kombuispapier om enige klammigheid te verwyder.

Bestanddele
Een varkrol
Sjinese “five spice”
‘Granny Smith’-appels
Vincoto en/of  Verjuice
Crème Fraiché of gekultiveerde room
Sout of gerookte Maldon-sout
Wit peper

Bestanddele

  1. Sny die appels in klein skywe, maak seker jy verwyder die pitte, maar los die skil aan.
  2. Vat die skywe en stop die rol. Jy sal sien daar is klein gleufies vooraan die rol waar die slagter dit gerol het. Druk nou soveel as moontlik gesnyde appels daarin sonder om die rol te breek. Moet ook nie gaaitjies in die vel van die varkie maak nie, anders is jou crackling in sy peetjie. 
  3. Gooi die sout, five spice en wit peper liberaal reg rondom die rol.
  4. Sit op ’n rakkie in jou oondbak en in ’n vooraf-verhitte oond van so 180 grade.
  5. Bak vir ’n uur en ’n half, afhangende van hoe groot die rol is.
  6. Kyk altyd wat in die oond aangaan wanneer jy die rol begin ruik. Sny ’n snit af, dit moet nog bietjie pienk wees maar nie bloederig nie. Die vark sal nog verder gaar word terwyl jy hom laat rus, vir ongeveer tien minute. 
  7. Terwyl die varkrolletjie nou rus kan jy solank die sous maak wat daarmee saam bedien sal word. Gooi al die vet van die sappe af wat onder in die oondbak agtergebly het. 
  8. Jy kan die sous sommer op ’n stoofplaat in dieselfde oondpan waarin jy die vark gaargemaak het, verhit. MOET DIT NIE WAS NIE.
  9. Gebruik VinCoto of Verjuice, of beide; voeg dit by die aftreksel saam met ’n bietjie water of lekker witwyn. Dis belangrik om al die bruinerige aanbrandsel van die pan af te krap. Dis waar die smaak lê. Hou die sous aan roer terwyl dit reduseer. Proe! Jy kan nou nog ’n bietjie five spice of sout bygooi na gelang van smaak. Voeg laastens so eetlepel Crème Fraiché of gekultiveerde room by, en roer dit in. Dit sal ook help om die sous te verdik. 
  10. Die sousie is reg wanneer jy jou houtlepel deur die sous trek, en die twee kante stadig na mekaar invloei, amper soos gesmelte sjokolade. 
  11. Maak jouself reg vir komplimente of dalk ’n nuwe bynaam, Crackling Queen!

TOFFIE-APPELTJIES

Wanneer ek aan toffie-appels dink, dink ek aan die kerkbasaar in Ogies van my kinderjare. Die tannies wat so staan en sweet met druppende appels in die bloedige son. Die wonderlike karamel wat die appel omring, en dan met jou stopsels stoei wanneer jy daardeur byt. Kom ons vat hierdie smaaklike herinnering en verander dit in ’n krakerigheid wat saam met die crackling van die varkrolletjie sal gaan. Hierdie keer gaan ons net klein toffie-appels maak wat saam met die varkrol en die sous, en kant-disse bedien kan word vir ’n soetigheid.

Bestanddele
’n Paar lekker ‘Golden Delicious’-appels (yskoud)
Lang sosatiestokkies
1 Vanieljeboon
1 1/2 koppie ligte stroop
300 g botter
2 koppies wit suiker
Seesout of gerookte Maldon-sout
’n bak yswater

Metode

  1. Los die appels oornag in die yskas sodat hulle lekker koud kan word.
  2. Gebruik ’n balletjie-maker om die appels in klein balletjies te skep. Los die skil aan en moenie die appels naby water bring nie. Hoe droër hulle is, hoe beter. Druk die stokkies in die middel deur en maak seker die onderkant is lekker plat sodat die balletjies vanself kan staan.
  3. Sit een koppie stroop, die botter, en suiker in ’n medium pot, oor matige hitte.
  4. Roer tot al die bestanddele goed gemeng is en laat dit begin kook. Jy sal sommer sien klein borreltjies begin vorm rondom die rand van die pot.
  5. Moet nou glad nie weer roer nie. Kook vir so tussen 8 en 10 minute, en maak seker dit brand nie. As jy ’n branderige reuk begin kry, draai die plaat af sodat dit net lekker prut. Jou toffie-appeltjies sal net bietjie meer bitter smaak as jou mengsel begin brand het. 
  6. Die karamel is reg wanneer jy ’n druppel daarvan in water gooi en dit verhard of  ’n taai bolletjie maak. Haal dit nou van die hitte af, en roer die ander halwe koppie stroop en die vaniljeboon by. 
  7. Los dit nou vir so rukkie om af te koel. So vyf minute behoort genoeg te wees.  Rol die appeltjies nou deur die karamel en druk hulle onmiddellik in ’n bak yswater om hulle te help set.
  8. Sit op ’n bord of iets wat jy met waspapier bedek het.  Sprinkel met sout en siedaar,  jou appeltjies is reg. Plaas jou toffie-appeltjies sommer reg langs die krakerige varkrol, en sien hoe mense dit geniet.

Kool met vinkelsaad (fennel) en appel

Verlede maand se koolresep het behoorlik die wêreld aan die gons gehad. Hierdie maand sal nie terugstaan vir die vorige een nie, ek belowe. Dié kool kan warm of koud bedien word. As ’n slaai of ’n bygereg vir ’n varkdis of dit kan gebruik word om Schwarma’s mee te maak. Dis amper iets soos ’n koolpekel, maar ook nie. Probeer dit, jy sal nie spyt wees nie.

Bestanddele
Een halwe koolkop
Halwe koppie  sprietuie
1 eetlepel gekapte knoffel
1 eetlepel gekapte vars gemmer
1 eetlepel hoender of groente-aftreksel
1 tot 1 en 1/2 eetlepels Mirin (Japanese asyn)
1 tot 1 en 1/2 eetlepels rysasyn (ook Japanees)
1 tot 1 en 1/2 ‘Granny Smith’-appels, gerasper
Sout en peper na smaak
Geroosterde vinkelsaad (“fennel”)

Metode

  1. Sny die kool en kap die knoffel. Sit dit in ’n taamlike groot plat pan op die stoof. Laat staan vir so vyf minute om die natuurlike eienskappe van die groente uit te bring. 
  2. Gooi die sprietuie, gemmer, hoender-aftreksel en sout by, en sit ’n deksel op terwyl alles vir so 5 minute lank stowe. Meng die gerasperde appels in en stoom vir nog so 3 minute.
  3. Voeg laastens die rysasyn, Mirin, en peper na smaak by. Kook vir nog so vyf minute. Rooster die vinkelsaadjies apart in ’n droë pan, en gooi hulle oor net voordat jy die kool bedien. 

PERE GESTOWE IN CHAI-TEE

Geen maaltyd is voldaan sonder ’n ou ietsie soets om alles af te rond nie. Pere, gestowe in Chai-tee is ’n eenvoudige, tog smaaklike afronding. Dis ook nie sieklik soet nie.

CHAI-TEE

Jy kan ’n pakkie Chai-tee koop, maar ek stel voor jy maak sommer jou eie.  Dis baie een-voudig en jy kan net water aanhou bygooi totdat die speserye uitgekook is. Hierdie tee het ook allerhande gesondheidsvoordele waarvan jy nie in ’n dokter se spreekkamer sal hoor nie. Maar so seg hulle...

Bestanddele
2 liter water
15 heel naeltjies
20 swartpeperkorrels
3 stokkies kaneel
20 komynsaadjies
8 snye vars gemmer (sommer so met die skil)
1 tot 1 en 1/2 teesakkies
Heuning na smaak

Metode

  1. Kook die water en voeg die naeltjies by. Kook vir ’n minuut.
  2. Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die tee, en kook vir ’n half uur op ’n hoë hitte. Draai die hitte af en prut vir ’n uur. Voeg water by indien jy dink dis nodig.  Haal van die hitte af en sit die tee sakkies by. Laat dit lekker intrek.Voeg heuning by na smaak.  

Pere

  1. Sit 4 pere in die Chai-tee, maak seker hulle is heeltemal gedompel. 
  2. Kook vir ’n halfuur totdat die pere lekker sag is. Haal hulle uit. Skep twee koppies van die Chai tee uit die groot pot en sit dit in ’n taamlike groot plat pan op ’n hoë hitte. Moet nie te ver weggaan nie want so ’n reduksie brand vinnig
  3. Haal dit af wanneer die Chai stroperig word, en in ’n sousie verander. 
  4. Gooi oor die gestoofde pere en bedien met ’n lepel Crème Fraiché of room.