Volg ons op Facebook

Lappetrap en lippeklap

Written by  Lekker Bekkig | November 6, 2014

Ek luister ander aand na die radio en toe-vallig is ‘Siele-op-Wiele’ oppie lug. Ek luister hoe die manne lekker met mekaar klets so in die laatnag. Dis net “lappetrap” soos hulle daar verby Vredenburg en noordwaarts deur die middernag se mis omhels word.

Teen vroeg-oggend is hul weer vort om verby plase te ry waar jong tollies soos rooi en swart visioene opduik uit die mis en skielik voor jou staan. Hulle is moeg van al die bier drink en masseerdery snags om hul vleis met vet “marbling” te deurtrek. Ja shame, dis nou die lewe van so ’n ou bees in die veld. ’n Angus nogal. So wanneer jy jou hande op een van daai filet’s kry wat van ’n Angus bees se karkas kom dan moet jy vir hom eers ’n bietjie masseer want dis waaraan hulle gewoond is. Jy hoef nie te bodder met die bier nie, teen die tyd is bees oor sy limiet. Doen jouself ’n guns en eet hom rou, want daar is niks wat vleis so skade aandoen as hitte nie.
Jy kan die bene ook maar eet met bietjie witpeper en sout. Boere-kaviaar noem hulle vir hom, daai lekker murgie. Hou maar net ’n pilletjie byderhand vir die jig want soveel vet kan ’n toon trek dat hy vir dae lank krul, en ’n toonplakkie sal jy nie aan hom kry nie.


Laventelhaan filet

aartappelsDis nou geparfumeerde filet met knoffel, ansjovis en suurlemoen.
Hierdie dis het ’n vlymskerp mes nodig sodat jy die filet in papierdun repies kan sny. Bedien dit saam met lekker brood wat jy kan gebruik om die sousie mee op te mop.
 
Bestanddele

1,5 Koppies goeie olyfolie
4 Groot knoffeltoontjies
4 Ansjovis-filette
2 Heel rissies
450g Beesfilet
Sout en gemaalde swartpeper
Sap van 2 suurlemoene

Metode

Verhit die olyfolie maar maak seker dis net onder kookpunt. Jy wil die smake van die ander bestanddele in die olie laat intrek sonder om dit te laat brand.
Sit die ansjovis, knoffel en rissie in die olie en laat vir so 20 minute intrek, net onder kookpunt.
Sny nou die filet en pak dit uit op ’n bord.
Geur met sout en peper en druk die suurlemoensap daaroor uit. Die sap sal die filet stadig maar seker “kook”.
Verwyder die olie van die hitte en verkoel.
Haal die knoffel en die ansjovis (die wat nog heel is) uit die olie, jy kan maar die rissie daar binne los.
Gooi oor die filet en verkoel die hele dis vir so 6 ure.
Bedien met lekker vars brood.


Boere-kaviaar

aartappels-2Vra jou slagter om die murgbene in die lengte te sny, nie dwars nie. Die bene en
filet hierbo is lekker voorgeregte wat mense kan geniet voordat hulle by jou tafel aansit. Goeie brood vervolmaak dié watertand lekkerny.  

Bestanddele

Murgbene - reken op so een groot been per persoon. Dis baie ryk, so mens wil nie te veel daarvan eet voor ’n groot maaltyd nie.

Metode

Sout die bene.
Druk in ’n oond van so 180 grade vir 10 minute.
Geur met witpeper en bedien dadelik.
 
Variasie

As jy nie van groot bene op jou bord
hou nie, kan jy die volgende doen. Dis ’n wonderlike alternatief vir ’n sous saam met ’n steak. Maak die bene gaar soos hierbo genoem. Krap dan die murg uit en geur. Kap pietersielie baie fyn en meng met die murg. Pak dit nou op ’n houtbord en rol soos ’n polonie. Maak seker jy pak en rol hom lekker styf. Sit in die vrieskas en sny so 2 cm stukke af wat jy dan oor die gaar steak laat smelt. Liplekker!


Beesbredie met lemoen

aartappels-3Jy kan hierdie dis tot twee dae voor die tyd maak, en saggies verhit wanneer jy hom wil bedien. Koop ’n goeie rooiwyn, dit maak die wêreld se verskil aan die dis. Wanneer mens met swak bestanddele begin, is jou dis gou-gou van die pad af. Hoe beter die bestanddele en moeite wat jy in die dis insit, hoe beter die eindproduk.  
 
Bestanddele

1 kg Beesbredie vleis “chuck” gesny in kleiner hap-stukkies
50 ml Olie
Sout en swartpeper
30g Botter
24 Klein uitjies
8 Knoffeltoontjies
2 Eetlepels Maizena
1 Bottel swaar rooiwyn. ’n Shiraz of Merlot kan werk (kook apart in ’n pan tot dit met die helfte verminder het)
500ml Hoenderaftreksel
100g Swart olywe, pitte verwyder
1 Bouquet garni (2 lourierblare en 1 groot spriet tiemie)
Skil van 1 lemoen (nie gerasper nie, net geskil)

 Metode

Verhit die oond tot 110 grade . Jy moet hierdie bredie lank en stadig kook. Die resultaat is ’n dis wat lekker sappig, sag en vol geur is. Hoe vinniger jy dit probeer kook hoe taaier gaan die vleis wees.  
 
Verhit die olie in ’n groot pan wat jy later in die oond kan druk. Gooi die sout en peper op die vleis en braai totdat dit bruin is aan al twee kante. Dit vat so 5 minute.
Verminder die hitte en sit nou die botter in. Karameliseer vir ’n verdere 10 minute. Sit die uitjies en knoffel in en laat dit sweet vir so ’n minuut. Verwyder die oortollige vet van die pan en voeg die Maizena by. Roer dit goed deur die dis, en maak seker daar het nie klontjies gevorm nie. Voeg nou die gereduseerde rooiwyn stadig by. Begin eers met ’n bietjie, roer dit deur, en sodra die sous begin verdik, kan jy die res bygooi. Voeg laaste die hoenderaftreksel, bouquet garni, en lemoenskil by. Sit in die oond en kook vir 2 ure. Wanneer die vleis lekker sag is, haal uit die oond, gooi die olywe by en bedien saam met rys of kapokaartappels.


Thaise beesslaai

aartappels-4Ek sê altyd daar moet ietsie groen op ’n bord wees. Veral noudat die somer en die Suid-ooster hier in die Kaap begin pomp en die dae paap oog warm word, dan is so ou slaaitjie mos altyd lekker. Die geheim is in die slaaisous en om veral mirre te gebruik.  Ek sien dit in meeste supermarkte, indien jy dit nie by joune kan kry nie, vra iemand wat op pad lughawe toe is om dit vir jou te koop gedurende hul reis. Dis die moeite werd en sal die wêreld se verskil maak aan vele disse. Hier is hoe jy hom gebruik.
 
Bestanddele

’n Pakkie “Asian Mix” groen blare
1 Komkommer
1 Pakkie vars koljander
1 Pakkie sprietuie
“Mungbean” spruite
Klein Rosa-tamaties
Handvol vars basielkruid
Handvol vars kruisementblare
Beesfilet, medium rou - gebraai op die kole
en dan in dun repies gesny  
 
Sous

1,5 Eetlepels lemmetjiesap
1 Eetlepel palmsuiker fyngekap
1 Eetlepel vissous
2 Teelepels sesamolie
2 Teelepels gerasperde gemmer
1 Knoffeltoontjie gekap
2 Vars rissies fyngekap
1,5 Eetlepels mirre
1,5 Eetlepels rysasyn
 
Metode

Pak die blare en die res van die bestanddele mooi op ’n bord. Braai die steak, sny in dun repies en sit bo-op die slaai. Meng al die bestanddele van die sous saam en gooi oor die slaai. Meng lekker deur en bedien.
Gepaard met die wonderlike beesvleis maak ons aartappels op ’n paar maniere. En dis nie sommer enige aartappels nie. Dis Sandveld-aartappels! ’n Verskaffer het onlangs gaande geraak oor dié aartappels, blykbaar kan jy maar vergeet om êrens anders so een in jou mond te sit.
Beide disse is vinnig en maklik en doen nie te veel aan die aartappel nie. Wanneer mens wonderlike produkte kry, is dit ’n goeie idee om hulle so natuurlik moontlik te bedien, en nie te veel met die smaak te sukkel nie. Mens moet dit net uitbring.


Aartappel gebak

aartappels-5Almal soek altyd so ’n aartappel dis by ’n braai. Hierdie een het net ’n paar bestanddele en jy kan hom maak, van begin tot einde in 20 minute.
Sny jou aartappels super dun. Los die skil aan maar maak net seker die aartappels is mooi gewas of geborsel voordat jy hulle sny. Jy kan jou rasper gebruik waar die gleufie is, of soos die Ingelse sê ’n Mandolin.
 
Bestanddele

5 Aartappels super dun gesny
350ml Room
250g Gruyere-kaas of verouderde cheddar
Sout en witpeper  
 
Metode

Verhit jou oond tot 180 grade.
Sny jou aartappels en kook vir 10 minute in gesoute water.
Kook die room in ’n aparte pan, hou jou oog daarop dat dit nie brand nie. Haal dit af net wanneer die room begin verdik. Dit vat so 10 minute.
Dreineer die aartappels en pak in ’n oond-vaste bak.
Gooi die room oor en rasper die kaas. Strooi dit mildelik oor. Maak seker jy het jou aartappels goed gesout en met witpeper bestrooi.
Druk in die oond vir 10 minute of tot die kaas gesmelt het.
Bedien warm.


Gebakte aartappels

Wanneer jy die aartappels koop, kies die wat alleen sal staan en bietjie plat is onder. Hulle moet nie in die oond rondrol soos albasters nie.  

aartappels-6
 
Bestanddele

Aartappels
sout en peper na smaak
Olyfolie
 
Metode

Sny die aartappels in dun skyfies, elk so ’n milli-meter dun. Maak seker jy sny hulle nie heeltemal deur nie, sodat die aartappel amper heel bly. Trek die skyfies van mekaar af weg en gooi sout en olyfolie tussen die snytjies. Bak in ’n vooraf verhitte oond van so 180 grade. Jy kan besluit hoe crispy  jy die aartappels wil hê. Hoe langer jy dit inlos hoe meer crispy  raak die snytjies.    
Bedien warm.