Volg ons op Facebook

Lekkerder as Staal - Burger

Written by  Lekker Bekkig | February 10, 2015

Wanneer die tawwe tienies die dag sag raak en Staal Burger sy murg verloor dan weet jy dis nou tyd om ‘n pattie te braai.

Jy kan hom van bees maak, of lam of hoender. Die Ozzies maak hom sommer van kangaroe, kalkoen en wie weet wat nog als.

Ek hoor soms mense praat oor hoe hulle in die gopse bly. “Daar is nie eers ‘n McDonald’s nie,” sê hulle. Ek sê; wanneer die dorp waarin ek bly só winkel kry, én ‘n robot, dan trek ek.
So, as jy gelukkig genoeg is om nie die winkelgekoopte Plat-Annas tot jou beskikking te hê nie, dan word jy ‘n jillende jagter en maal bietjie vleis sodat jy op daai dowwe dolla van jou ‘n blywende indruk kan maak.
En wees tog bietjie kreatief, die wêreld bestaan nie net uit vleis en brood nie. Ek het al patties geëet wat so vol brood is mens kan dit net sowel ‘n vleisbrood noem. Nee man! Pak hom lekke dik met uie, agurkies, speserye en dan nog so paar ander lekkernye totdat, wanneer jy jou oë toemaak, jy dink dat jy in ‘n ander wêreld is. Iewers op ‘n eksotiese eiland of iets. Allesbehalwe in jou motor met ‘n goedkoop weergawe van iets wat so lekker kan wees.
Indien jy vegetaries is hoef jy ook nie terug te staan nie. Jy kan ‘n burger bou met eiervrug, tamatie en buffelsmozzarella kaas. Dit is mos in ‘n rolletjie!

feb-kos-1Malle Meule

Alles begin by die tekstuur van vleis. Maalvleis het die vermoë om ander smake vinnig te absorbeer, dis hoekom dit so lekker is om mee te werk. Dit lê soos ‘n ongeploegde veld voor jou, winkend en gretig vir jou idees.
Werk met jou hande wanneer jy die maalvleis hanteer en die speserye inwerk. Jy wil nie die tekstuur fyner sny met ‘n vurk of mes nie, dan sit jy met ‘n diskus waarmee jy iemand disnis kan gooi. Nee, jy wil hom lekker dik pak sodat hy sappig bly en die aparte stukkies vleis bind met mekaar, en wat jy ook al ingooi.
Ruik hom. Proe hom. Voel hom. Sommer so rou. Dan weet jy, jy het ‘n bielie van ‘nburger nog lank voordat jy hom gebraai het.

Ek is baie sleg met afmetings en spesifieke kooktye. Mens kook met jou instink en jou neus en jou tong. Afhangende van hoeveel vleis jy het moet jy maar die mates aanpas, en soos ek sê, ruik en proe.

Bestanddele

Gemaalde beesvleis - jy kan bietjie vark ook bysit as jy lus is
Worcester sous
Witpeper
Heelwat gewone sout
Knoffel sout
Koljander - gemaal
Komyn - gemaal
Lemoenskil gerasper
Bietjie broodkrummels net om als te bind, nie te veel nie
Soet en suur agurkies
‘n Titseltjie wit asyn
Balsemiekasyn
Fruitlips pruimedantesous

Metode

Kombineer alles behalwe die Fruitlips pruimedantesous - jy gaan dit opverf aan die buitekant van die pattie wanneer jy hom braai.

Werk die bestanddele goed deur totdat alles eweredig versprei is. Bou jou patties deur ‘n handvol maalvleis te vat en dit in ‘n bondeltjie te rol. Druk liggies met jou regterduim bo en wysvinger onder terwyl jy die pattie omskuif in jou linkerhand. Gebruik die area tussen jou linker wysvinger en duim om die pattie se kante mooi glad te vorm. Ek hou van my patties lekker dik, want ‘n droë besigheid staan my nie aan nie.

Verf die Fruitlips pruimedantesous op en braai hom op ‘n medium hitte vir so vyf minute aan elke kant.


feb-kos-2Gekarameliseerde uie

‘n Burger sonder hierdie uie is soos Staal sonder sy Doedie. Hy werk nie lekker nie. Dis taamlik maklik om te maak, mens moet net geduld hê en jou oog daarop hou. Maar dit vat tyd om uie te verander in hierdie hemelse soet marmelade.

Bestanddele

So vier groot uie - jy kan gewone uie gebruik of daai rooies. Hulle is, volgens my, meer geurig.
Balsemiekasyn
Sout
Olyfolie

Metode

Verhit die olie in ‘n warm pan. Voeg die uie by dat hulle so “sizzle” en gooi die sout op. Sit ‘n deksel op die pan sodat die water uit die uie getrek word. Gooi die balsemiekasyn op na so vyf minute en braai stadig vir so twintig minute na ‘n halfuur, of totdat dit in ‘n marmelade verander. Jy kan hier weereens so kreatief wees soos jy lus is. Voeg rissies, gemaalde gemmer, knoffel of enigiets by wat jy in jou marmelade wil proe. Ek gooi so bietjie vars suurlemoensap oor heel aan die einde. Dit trek al die smake saam en rond die marmelade af.

Sampioensous

Vars room - so liter as jy vir vier mense kook
‘n Pakkie vars sampioene
Vars Italiaanse pietersielie (daardie met die plat blare)
Gemaalde neutmuskaat - net so titseltjie
Fyngekapte knoffel
Growwe peper
Sout

Metode

Verhit die room oor ‘n medium hitte en laat dit kook totdat dit effens begin verdik. Hou jou oog daarop, hy draai skielik en vinnig.
Braai jou sampioene in botter in ‘n aparte pan. Voeg die knoffel by net voordat die sampioene gaar is. Wees versigtig om die arme sampoen- tjies nie dood te kook nie. Hulle moet nog lekker sappig wees en in volle blom.

Wanneer die room verdik het voeg die sampioene by, rasper bietjie neutmuskaat, sout en peper by en roer totdat alles mooi gekombineer het.

Bou nou jou burger. Begin met die rolletjie, dan ‘n bietjie uie marmelade, die pattie, blaarslaai, tamatie en rond dit met lekker baie sampioensous af. Smul.


feb-kos-3Lamburger om voor te mê

Eksoties, smullend, lipaflekkend, fenomenaal. Ek kan nie aan nog byvoeglike naamwoorde dink wat hierdie burger kan beskryf nie. Maak hom, jy sal nie spyt wees nie.
 
Bestanddele vir Pattie:

Lamsmaalvleis
Vars kruisement - 1 pakkie
Vars Italiaanse pietersielie - 1 pakkie
Vars Koljander - 1 pakkie
Donker Sojasous
Worcester sous
Teelepel kerriepoeier
Bietjie broodkrummels
Witpeper
Sout

Metode:

Sit alles in ‘n voedselverwerker behalwe die maalvleis. Maal fyn en meng dan met die maalvleis totdat alles goed gekombineer is.

Bestanddele vir Marmelade:

Vars gemmer, ‘n groot vinger
Lemoengras, so stokkie
Galanghal (dis Thaise gemmer, jy kan dit by sommige winkels ingelê koop. As jy dit nie kan kry nie gebruik meer vars gemmer)
Salotuie
Knoffel
Thaise rissies, of gewone rissies
Kaffir lemmetjieblare - mens koop hulle gedroog - laat hulle vir so vyf minute in kookwater lê om sag te word. Gebruik vars lemmetjieblare as jy so gelukkig is om ‘n boom te hê.
Vars lemmetjiesap

Metode:

Sit alles in ‘n voedselverwerker en maal tot fyn.

Sous:

Griekse jogurt
Italiaanse pietersielie
Vars koljander
Vars kruisement
Lemmetjiesap
Thaise rissies
Worcester sous
Sout

Meng al die bestanddele saam en bedien bo-op die burger.


In plaas van blaarslaai kan jy hierdie lamsburger bedien met ‘n vars geurige slaai wat die wonderlike smake van die pattie en sous komplimenteer.

feb-kos-4Pikante Slaai

1 Mango - in fyn repies gesny
1 Groen appel - in fyn repies gesny
Bietjie vars kool - in repies gesny
Vars rooi uie - in fyn ringetjies gesny

Meng als en bedien op die burger in plaas van blaarslaai.

Ama kiep-kiep

‘n Ou hoendertjie is ook nie te versmaai wanneer dit by burgers kom nie. Die groot verskil is dat mens nie die hoendervleis maal nie. Dan sit jy met ‘n baie digte tipe “mousse” wat nie lekker is nie. Glo my. So koop ‘n pakkie hoender filette, die sonder vel of been en sny hom oop totdat hy so sentimeter dik is. Nou kan jy vir hom stop en dan weer toemaak. Dis hoe mens dit doen.

Bestanddele:

Hoenderfilette
Songedroogde tamaties -
Ina Paarman sin werk goed
Mozzarella kaas
Spek
Sout en growwe swart peper

Metode:

Sny die filet oop soos wat ek vroeër genoem het. Pak ‘n taamlike dik sny mozzarella kaas in die middel.
Sit die songedroogde tamatie-stukke op die kaas. Geur met sout en peper en vou die kante toe.
Draai die hoender toe in spek stukke sodat hy mooi styf gedraai is. Jy kan ‘n tandestokkie gebruik om als mooi bymekaar te hou.
Bak hom in ‘n oond van so 180 grade vir 20 minute of totdat die spek aan die buitekant net begin bros raak.

Bloukaas sousie

Bestanddele:

Sagte bloukaas
Room

Metode:

Kook die room in ‘n pan totdat dit net begin verdik. Breek die kaas in die room en druk fyn of wag totdat dit gesmelt het. Bedien warm.

Jy kan nou die burger begin bou. Gebruik óf blaarslaai óf van die geurige slaai wat hierbo by die lamsburger beskryf word. Bedek met bloukaassous en geniet. Jy hoef nie tamatie en ander fensy dinge by te voeg nie, alles is klaar in die hoender gerol.


feb-kos-5

Burger sonder die Staal

(Vir vegetariërs)

Bestanddele:

Eiervrugte (in plaas van vleis)
Tamaties
Vars rooi uie - in klein repies gesny
Vars basilieblare
Buffelsmozzarella kaas

Metode:

Sny die eiervrug lekker dik in 1,5 cm diktes. Pak hulle op ‘n vadoek uit en strooi mildelik met sout. Laat hulle vir so tien minute staan. Draai om en gooi sout aan die anderkant. Jy sal sien daar kom heelwat water uit die eiervrug uit. Druk al die water van die eiervrugte af. Mense teem altyd dat eiervrug bitter is en dink dit is die skil wat dit veroorsaak. Dis eintlik die water wat dit doen, so indien jy hierdie metode volg sal jy nooit ‘n bitter eiervrug eet nie.
Nadat jy die eiervrugte droog gemaak het sit hulle in ‘n mengbak en strooi mildelik met olyfolie. Maak seker elke snytjie is bedek. Druk hulle in ‘n warm oond van so 200 grade totdat hulle mooi bruin en “charred” is.

Sny die tamaties en buffelsmozzarella kaas ook in egalige 1,5cm skywe.
Nou kan jy jou burger begin bou.

Sit eers die eiervrug op, dan tamatie, dan kaas en finaal ‘n paar basilieblare. Herhaal totdat hy so dik is as wat jy hom wil hê.

Bedien.

Daar is nou ‘n paar lekker opsies vir burgers. Moet tog ook nie die arme pattie wat jy nou so mooi gebou het plat druk wanneer jy hom braai nie. Los hom lekker dik en sappig. En moet hom ook nie dood kook nie. Jy kan met jou vinger voel wanneer die vleis ferm is. Dan is hy reg en die smaak proe darem nog soos die dier waarvan hy gekom het.

Kom nou julle jillende jagters, bou brullende burgers!