Volg ons op Facebook

’n Speenvarkie met slap hakskeentjies

Written by  Lekker Bekkig | March 3, 2015

Ek ken sekere mense wat verskriklik gril wanneer hulle iets eet wat lyk soos die oorspronklike dier. Hul sit nie hul monde aan 'n hoendervlerkie, of 'n paddaboudjie of 'n heel vis nie.

        Van 'n heel hoender kan jy maar vergeet. Alles moet opgebreek en verdoesel word dat dit glad nie naastenby lyk soos die bron van die lekkerte nie. Ek dink dis dan ook dié mense wat dink dat vleis, hoenders en vis op winkelrakke groei. Hul wei daar tot hulle reg is vir ons potte en dan klim hul snoesig snags in die verskriklike verpakking in wat verseker dat dit "vars" in ons yskaste opeindig vir nog so paar dae. Wel, hierdie is nie die tipe gaste wat mens nooi na 'n heel speenvarkie braai toe nie. Nee, jy los vir hulle by die huis want vir 'n geteem terwyl jy swoeg oor die kole of voor die stoof vir vier ure is nou regtig nie waarna enigiemand uitsien wanneer hulle in die oggend opstaan nie.

“Daar is iets omtrent 'n hele speenvarkie maak wat die middeleeuse in mense uitbring.”

        Daar is iets omtrent 'n hele speenvarkie maak wat die middel-eeuse in mense uitbring. Daardie oer instink van samekoms, dans, feesvier en hoë vure brand. Dis dan ook 'n spesiale geleentheid wat vir so offer roep. Soos 'n troue of 'n inisiasie van een of ander aard.
        Eers moet jy so speenvarkie in die hande kry. Dit kan nogal 'n gesukkel wees en in 'n duur affêre uitdraai. Ons was gelukkig genoeg om so 'n varkie vir ons te laat slag deur Winelands Pork, daar in Stikland. Dan is daar ook mense wat sê die varkie moet vir 'n dag of twee gehang word sodat, wanneer jy hom wil braai, hy nie meer rigor mortis het en stokstyf staan nie. Hoe dit ook al sy, na 'n paar oproepe en 'n paar dae word die mooi varkie van so 15kg skoon, slap en sonder enige hare by my afgelaai.

March-kos-1

"Dit lyk mos of die vernedering hom laat loop asof hy slap hakskeentjies het.”

        Vader alleen weet hoe lank mens braai aan 'n olifant of 'n leeu. In die ou dae het ek gehoor van 'n kameelperd braai. Ek wil nie weet hoeveel kole daai manne moes stook daarvoor nie. Ja nee, vleislus is 'n lelike ding. En nou daar in die Noorde sien ek braai hulle 'n leeu! Dit gee 'n hele nuwe betekenis aan "Braai the beloved Country". Ons bly maar by ons eie varkie in die verhaal. En ons braai hom heel.
        Ons het eintlik bietjie gekroek, ons het hom heel in die oond gedoen om die mooi foto van die varkie wat so half kniel te kry. Ek werk saam met Lappies Labuschagne van Somerset Wes. Hy besit Pork Roast Professionals asook Lappies Braaisouse. Hierdie man weet van 'n spit en 'n braai en volgens hom moet jy 'n speenvarkie oopsny, amper soos 'n ‘flattie’, om hom op die spit te doen. "Anders gaan die vel brand en die binnekant nog rou wees," sê hy. Ons stop toe die vark se maag met uie, knoffel, seldery, groen appels, 'n suurlemoen of twee, vars pietersielie en naeltjies, voordat ons hom toewerk en in 'n groot bak in stoei. Lappies het sy voete so onder hom gesit en die rug laat buig om hom in die pan te pas. As hy nou al so twee ure in die oond is, dan gooi jy net 'n paar hande vol klein uitjies onderin die bak vir geur.

March-kos-2

Krakerige velletjie

        Om die vel krakerig te kry moet jy hom insmeer met growwe sout. Gebruik dit mildelik want dit is wat die krakerigheid teen die einde gaan gee. Verder het ons net die varkie met Thaise sewe speserye gegooi en 'n bietjie ligte sojasous gebruik om hom mee te smeer van tyd tot tyd. Dit gee die mooi bruin kleur aan die einde. En dan bak jy hom in 'n matige oond van so 160 tot 180 grade. Hoe lank hang af van hoe groot die varkie is. Die 15kg varkie het so vier ure gevat. Volgens Lappies twee ure as hy plat is op die spit. Jy kan van tyd tot tyd 'n hout stokkie gebruik en in die varkie indruk om te sien of die sous wat daaruit kom nog bloederig is. Die oomblik wat dit helder is moet jy die vark uithaal. Jy wil nie die vleis te droog hê nie.
        Wanneer die vleis gaar is kan jy die oond opdraai na ‘grill’ om die 'crackling' te maak. Jy kan eers die varkie uithaal en opsny en die ‘crackling’ apart doen of die hele vark onder die ‘grill’ sit. Hou net jou oog daarop en maak seker jy is nie nou besig om die vleis uit te droog nie. Sny al die vleis op en sit dit in 'n bak. Jy kan van Lappies se soeterige ribbetjiesous oorgooi om die geur bietjie te skop.

Slaphaakskeentjies

        Dit fassineer my waar die naam vir hierdie uie slaai vandaan kom. Ek lees op daaroor en kom toe af op hierdie mooi storie wat deur Pieter Spaarwater in die Burger geplaas is.
        Hier bel 'n kêrel en sê hy weet van slaphaakskeentjies en waar die naam vandaan kom. Maar hy praat eers om hierdie bos, en dan om daardie bos, en hy kan nie by die punt kom nie. Hy wil nie sy naam sê nie, maar sy stem sê hy's 'n Overberger. En hy sê ook hy't in Caledon se wêreld egte slaphaakskeentjies geëet. Lekker. Daar's mense wat dit nog eet, sê hy. ``Dis nou, hoe sal ek sê, iets wat die mense in die lamtyd eet,'' vertel hy. ``Ja, net in die lamtyd. Of kort ná lamtyd. Wanneer die ramlammetjies net lammetjies gemaak word. Kapatertjies. ``Dan kook hulle wat nou nie meer deel van die lammetjies is nie saam met uie. Dan het jy slaphaakskeentjies.'' Maar waarom nou juis slaphakskeentjies? ``Meneer, wat wil jy dit noem?'' is sy antwoord. Al ooit gesien hoe loop 'n ramlam kort nadat hy 'n lam geword het? Dit lyk mos of die vernedering hom laat loop asof hy slap hakskeentjies het. Die lesers van Robertson se mense het dus reg as hulle praat van uieslaai. Uieslaai word eers slaphakskeentjies wanneer ramlammetjies 'n bydrae daarvoor lewer en lammetjies word.
        Ons maak Adel, Lappies se vrou, se resep vir die haakskeentjies by die speenvarkie.

Bestanddele:

• 1 kg klein uitjies of sjalotte
• 1 koppie suiker
• 1½ koppies asyn
• 3 eiers
• 2 eetlepels mosterd poeier

Metode

Skil die uitjies af en kook hulle totdat hulle gaar is maar nog ferm. Jy wil nie hê hulle moet uitmekaarval nie.
 Meng al die ander bestanddele saam in 'n pot en kook op 'n lae hitte. Hou aan roer sodat dit nie skif nie. Die sous sal verdik wanneer dit gaar is.
Haal van die hitte af en gooi oor die uitjies. Hierdie sousie is ook baie lekker met aartappelslaai en enige ding wat 'n skerp sousie soek. Jy kan die uitjies in die yskas of in 'n verseëlde fles hou vir jare. Dit sal nie oudword nie.

March-kos-3

Boere patats

'n Patat is 'n lekker ding. Veral so saam met 'n varkie. Dis heel eenvoudig om te maak. Ek sit so variasie by wat hom net bietjie anders maak as my ouma s'n.

Bestanddele

• 6 Patats - geskil en in stukke gesny
• 1 koppie suiker - jy kan die hoeveelheid suiker aanpas na jou smaak
• 1 vinger vars gemmer - fyngekap
• ½ koppie lemoensap
• Botter

Metode

Braai die botter en suiker tot dit mooi bruin is
Voeg die patats, gekapte gemmer, lemoensap en so twee koppies water by
Laat dit stadig kook tot gaar. Moenie roer aan die patats sodat jy dit opbreek en fynmaak nie. Laat hom net so kook totdat die water afgekook en die patats mooi bruin is.

Gemengde groente

Bestanddele

• Pampoen
• Soetrissies of te wel groen, rooi en geel "peppers"
• Uie
• Boontjies
• Bietjie olyfolie
• Balsemiekasyn

Metode

Skil al die groente en sny in stukke
Sit in 'n groot bak en gooi die olyfolie en balsemiekasyn oor
Druk in die oond totdat die pampoen lekker sag gekook is

Klein tamaties

Hierdie tamatietjies is wonderlik saam met vark en so maklik om te maak. Sit dit in 'n warm pan met bietjie olyfolie en Vino Coto of balsemiekasyn. Rol hulle rond net totdat een of twee se velletjies bars. Bedien.

March-kos-4

Aartappels

Klein aartappeltjies gaan ook lekker saam met die varkie. Skil hulle en kook vir so tien minute in warm soutwater. Gooi hulle dan in warm olie dat hulle lekker krakerig word. Ek sit so bietjie roosmaryn by wanneer ek hulle bak, net vir smaak.

Nou ja toe. Daar het jy 'n fees vir ten minste twintig mense. As jy so gelukkig is soos wat ons was dan word jy onthaal deur gasvrye mense soos Lappies en Adel, wat hulle storie ken en wie se harte so oop is soos die wonderlike plattelandse mense waarvoor ons land so bekend is. Die grappe en stories wat rondom so ete uitkom is ook prysloos. Daar is niks soos om tyd te spandeer met goeie vriende en lekker kos nie. Kook hom en geniet hom. En dan praat jy oor hom vir nog 'n paar jaar.