Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

'n Vis is 'n anne dis

Written by  Lekker Bekkig | February 26, 2014

My Ouma Mackie het altyd daarop aangedring dat sy die viskop kry om te eet; “Dis die sappigste deel,” sou sy sê. Daar was in elk geval nooit regtig iemand anders wat daai blink ogies wou eet nie, so Ouma het lekker salig gesmul. Stadig en met groot genot. 

 "Vis is mos vis!"

Vis is ’n snaakse ding mense. Nie net om te vang nie, maar veral om gaar te maak. Ek was nog by min restaurante, en nog minder by mense se huise, waar hy reg gaargemaak word. Dis altyd ’n droë affêre, met grate en allerhande souse om die vis se smaak te verdoesel, en dit gaan my verstand te bowe dat mense vis wil eet maar die smaak wil wegsteek.

Vis is mos vis! Dis hoekom mens dit eet. Dis soos om witsous oor ’n kreef te gooi. Magtig man! Eet dan liewer ’n blomkool met witsous of iets, want eintlik eet jy net agter die sous se smaak aan.  
Delikate disse soos seekos verlang dat mens saggies daarmee werk. In die skoonmaak, voorbereiding en hante- ring daarvan. Dis hoe ’n vis is. Delikaat. So wanneer jy eendag gelukkig genoeg is om ’n geelbek self te vang, sal jy hom met sagte hande bewerk en skoonmaak.
Ek self hou daarvan om net die derms en skubbe af te haal en die vis heel gaar te maak. Dit behou al die sappe wat regtig die verskil tussen ’n ordentlike visdis en sommer net nog ’n droë vis maak wat jy skaars kan afsluk.  
As daar nou een ding is wat baie groot maatjies is met vis, is dit suurlemoen.  Dis ’n “marriage made in heaven”. So sit ’n paar snytjies suurlemoen in die vis se oop pens, met so ’n paar rou uie-ringe en ’n paar snytjies tamatie, en hande vol vars kruie (ek hou van oreganum of koljander).

"Gautengers hou mos so van garnale en kreef..."

Draai dit in foelie toe (ja, die blinkkant moet binne wees as jy nie weet nie) nadat jy bietjie growwe sout opgegooi het, en sit dit net so op die kole.  
So van kole gepraat. My pa het altyd gesê jy moet jou hand vir tien tellings daaroor kan hou sonder om te brand, dan is hulle reg. Dit werk nogal.  
En gebruik maar “brickets” saam met die hout, want jy wil ’n lang, egalige vuur hê vir daai vissie. Dis ook ’n goeie idee om twee vure te maak, een vir die braai en een vir die kole. Want een stel kole is gewoonlik nie genoeg vir ’n geelbek nie. Hang natuurlik af hoe groot hy is.

Gautengers hou mos so van garnale en kreef (al gooi hulle dit toe onder die witsous). So as jy hierdie vakansie nou ’n impak wil maak op daai Vaaljapies, dan sit jy ’n paar krewe en lekker groot garnale op die braai saam met jou vis.  
As jy nie weet hoe om garnale en ’n  kreef skoon te maak nie, gaan Google dit, of vra die man by wie jy dit gekoop het om dit vir jou te doen.  Ek sal liewer op die gaarmaak konsentreer.

Gebruik dieselfde kole vir die kreef en garnale as vir die vis. Sit die garnale en krewe net heelwat later op. En jy weet hulle is gaar wanneer hulle doppe lekker pienk-in-die-rooi word en die krewe se sterte begin krul. Wees versigtig dat jy hulle nie té gaar maak nie.  

"Ek glo nie in afmetings nie. Gebruik jou smaakpapille om vir jou te sê dit proe reg."

Die vis is reg wanneer jy hom begin ruik.  Jy kan die foelie so bietjie oopmaak om te toets. Jy sal dadelik voel die vis sag is wanneer jy jou vinger daarteen druk.  Sny maar so stukkie af langs die dikste deel van die ruggraat om seker te maak. Dit moet net-net wit wees. En daar moet nog baie vog in die vlees van die vis wees. Dan is hy reg!
As daar nou ’n sous saam met die vis móét wees, bly weg van kaas af. Daar is iets Joods in my wat glo vis en kaas meng nie lekker nie. Hier is ’n resep vir ’n sous waarvoor mense hulle voortanne sal gee (as hulle nog het).  
Ek glo nie in afmetings nie. Gebruik jou smaakpapille om vir jou te sê dit proe reg.