Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Kekkel-lé-kos!

Written by  Lekker Bekkig | April 2, 2015

Daar is soveel geregte wat mens kan maak met hoender. Ek het deur die biblioteek in my kop gesoek na al die uit-heemse disse wat ek van hou om te maak. Dinge soos dim sum, yakatori, bang-bang hoender.

Toe begin dit vir my heeltemal te pretensieus klink. Nee! Ek kry toe so snuffie in die neus van wegneemhoender daar van die kolonel af. My kat, Sidderasie, was heeltemal verslaaf daaraan. Ek het een maal ‘n week vir hom ‘n paar stukkies gaan koop. Hy het my bespring vandat ek uit die kar geklim het tot in die kombuis waar hy my al grommende aangespoor het om sy hoender vir hom te gee. Daar moet iets in wees wat selfs diere in verslaafdes verander - of Sidderasie in Sid Vicious.
Sidderasie het al ‘n paar jaar gelede die groot boom in die hemel gaan klim. Ek hoop die kolonel het ook ‘n tak daar. Dis met liefde dat ek toe besluit om die hoender wat ek vandag maak aan hom op te dra.

Sidderasie se Hoender

Bestanddele
8 stukkies hoender

Pekelwater
8 Koppies water
1/3 Koppie sout
2 Eetlepels vissous

april-kos-1Krummels
1 Koppie koekmeel
1 1/4 Koppies broodkrummels
1 1/4 Teelepels sout
2 Teelepels suiker
1/2 Teelepel wit peper
1/2 Teelepel paprika
1/2 Teelepel gedroogde salie
1/2 Teelepel gedroogde tiemie
1/4 Teelepel gedroogde gemmer
1/4 Teelepel gedroogde marjolein
1/4 Teelepel gedroogde uie poeier
1/8 Teelepel gedroogde knoffel poeier
1/8 Teelepel rooi peper (cayenne)

Degie
4 Eiers
2 Koppies melk
Spray & Cook kannetjie

Metode
Laat die sout in die water oplos en gooi die vissous by. Sit die hoenderstukke in en laat staan vir ten minste 2 ure. Verwyder die hoender stukke en spoel hulle af onder ‘n kraan. Druk droog.
Kombineer al die bestanddele en die krummels in ‘n groot bak. In ‘n aparte bak kan jy nou die eiers en melk saam klits. Sit die oond solank op 180 grade Celsius. Dompel elke stukkie hoender in die eiermengsel en dan in die krummels. Maak seker die hoender is heeltemal bedek met krummels. Laat lê elke stukkie hoender in die krummels vir so twee minute dat hulle goed deurtrek.
Sit op ‘n oondrak wat jy met Spray & Cook voorberei het. Wanneer al die stukkies hoender op die rakkie is kan jy vir oulaas almal bietjie spuit met die Spray & Cook voordat jy hulle in die oond sit. Bak vir 45 minute, of tot die krummels mooi bruin is.

april-kos-2april-kos-3

Foutlose kapokaartappels

Bestanddele
4 Groot aartappels
1 Teelepel bakpoeier
Bietjie sout en wit peper
Room en botter

Metode
Vul ‘n kastrol met warm water. Laat dit kook. Gooi nou die sout en bakpoeier in die water. Sit die aartappels in. Ek hou sommer die velletjies aan want ek glo daar is voedings-waarde in en hoekom nou die skil weggooi? Die bakpoeier doen iets aan die aartappels. Jy sal sien wat ek bedoel wanneer jy hulle fynmaak, daar is nie iets soos ‘n klont nie. Wanneer die aartappels gaar is haal hulle uit, en maak hulle fyn met bietjie room, botter, sout en wit peper na smaak.

Lekker sous!

Bestanddele
Hoendervlerkies
Vincotto
Hoenderaftreksel
Sout
Witwyn

Rooster ‘n paar hoendervlerkies in die oond op ‘n rakkie. Haal hulle uit die oond uit en gee vir die kinders as ‘n vinnige lekkerny. Krap nou al die bruin stukkies wat onder in die oondbak agtergebly het los. Gooi bietjie warm water daaroor. Maak seker jy het alles mooi losgekrap want dis waar die smaak lê. Sit nou die oondbak op ‘n matige plaat en voeg die wyn, hoenderaftreksel en Vincotto by. Roer aanhoudend terwyl die sous deurkook en verdik. Hy is reg wanneer jy ‘n lyn daardeur kan trek met ‘n houtlepel en weerskante van die sous hardloop nie onmiddellik terug na mekaar toe nie.
Gooi oor die kapokaartappels en geniet.

Ouma se koolslaai

Bestanddele

Gerasperde kool
Rosyntjies

Ouma se sousie

2 Eiergele
3 Eetlepels warm water
1 Eetlepel asyn
1 Teelepel sout
1 Teelepel suiker
1 Teelepel Dijon mosterd (gebruik Engelse mosterd as jy hom skerper wil hê).

Metode
Kombineer al die bestanddele in ‘n pot of ‘n bakkie as jy dit in die mikrogolf wil maak. Hou aan klits totdat die sousie verdik. Gooi nog water by as jy dink die sousie is te dik. Hy moet soos ‘n tipe mayonnaise lyk as jy klaar is met hom.
Kombineer met die kool en rosyntjies en bedien.

Schnitzel soort van :-)

Bestanddele
4 Stukkies hoender, sonder vel of bene
1/4 Teelepel sout
1/8 Teelepel wit peper
2 Eetlepels meel
1 Eetlepel botter
1 Eetlepel olie
1/2 Koppie wit wyn
1/2 Koppie hoenderaftreksel
1/4 Koppie vars pietersielie , opgekap
1 Groot eier, geklits
1/4 Koppie vars suurlemoensap

Metode
Sit die hoenderstukke in ‘n Ziplock sakkie en slaat vir hulle lekker plat. Gooi bietjie sout en peper oor elke stukkie en sleep elkeen deur die meel. Skud enige oortollige meel af.
Verhit die botter en olie oor ‘n hoë hitte totdat die botter net begin bruin word. Sit nou die hoender stukkies in en braai tot bruin, so vir 3 minute. Haal nou die hoender uit en sit opsy. Los al die bruin stukkies in die pan.
Voeg die wyn by die pan en kook vir nog 3 minute. Gooi die hoenderaftreksel by en laat dit kook.
       In ‘n klein bakkie kan jy solank die eier en suurlemoensap saam klits. Voeg dit nou by die kokende pan en roer aanhoudend totdat die sous bietjie dik begin raak. Sit nou die hoender terug in die pan en kook vir nog so vyf minute totdat die hoender gaar is. Voeg die pietersielie by en bedien. Jy kan hierdie hoender saam met pasta eet maar ek het dit in broodrolletjies bedien om gehoor te gee aan die kolonel se bevele.

april-kos-4

MacBramley nagereg

Dronk appels of te wel appels in ‘n bietjie rooiwyn. Hierdie gereg kan maar vir ‘n hele rukkie lê nadat jy dit gekook het. Die appels raak net lekkerder.

Bestanddele
4 Bramley appels - of enige appels wat jy verkies. Afgeskil en die stronk verwyder. Sny hulle in taamlike dun wiggies  
100g Suiker
40g Botter ongesout
250ml Goeie rooiwyn
1 Vanielje stammetjie
1 Stokkie heel kaneel
1 Lemoen in dun ringetjies gesny
Kaapse appelliefies (gooseberries)

Metode
Gooi die suiker in ‘n taamlike groot pan. Die panne wat “non-stick” is werk die beste.   Laat die suiker smelt oor ‘n hoë hitte totdat dit donker bruin word. Voeg die botter by en maak seker dit kombineer ordentlik met die suiker. Sit nou die appels by en karamelliseer vir so 3 minute. Die appels moet nog hul vorm behou. Verwyder van die hitte en sit dit eenkant.
Kook die rooiwyn in ‘n aparte pot vir so drie minute. Voeg die vanielje, kaneel, le- moenskyfies en appelliefies by. Wanneer die mengsel kook voeg dit by die pan waarin die appels is en maak seker jy meng alles mooi en dat die karamel opgelos is. Haal van die hitte af en laat staan vir so 2 ure. Bedien met lekker roomys en ‘n bietjie gemaalde kaneel.
         
Daar het jy nou ‘n hele maaltyd wat jy by die kolonel se wegneemplek kon gaan koop het. Wanneer jy dit eet sal jy weet hoekom tuisgemaakte kos net lekkerder is as enigiets wat uit ‘n winkel kom. Dis baie goedkoper, en beter vir jou liggaam. Nou ja toe. Waarvoor wag jy? Gaan kook daai Kekkel-lé-kos!

 april-kos-10