Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Suikerbossie ek wil jou hê

Written by  Lekker Bekkig | June 3, 2015

Binne elke maer meisie is daar ‘n vette-tjie wat skree vir ‘n chocolate. Dit sê ‘n goeie vriend van my. Wanneer ek so rondkyk na meisies, druppende van die goud, elegansie en stroperige woorde net om eweskielik in klein otjies te verander wanneer daar ‘n korreltjie suiker in die omtrek is, dan het hy nogal ‘n punt beet.

Moet maar nie die mans weggooi wat so langs die viswaters staan met ‘n soetigheidjie nie. Van kinders praat ek nie eers nie. Mens kan hulle omkoop om enigiets op aarde te doen net vir ‘n lekkertjie. Wanneer hulle so ruk en riel van die energie is dit tyd vir mammas om na die versterkdruppels te gryp of te begin saam dans.

Die suiker-duiwel loop diep. As kind het ek en my boetie spaarvarkies gehad. Die bank het etlike male belowe dat geen kind ooit dit sou kon breek nie. Soos vele beloftes het dit toe ook platgeval. My boetie was die suinige enetjie in die familie. Ek spandabelrig. Terwyl ek onmiddellik gaan swiets koop het met my sakgeld het hy dit in sy spaarvarkie gegooi, net om reg te staan vir die helfte van my lekkers. Tot op ‘n dag wat ek besluit dis nou genoeg.

‘n ‘Tweezer’ is ‘n wonderlike ding. Mens kan in die kleinste gaatjies inkom en opgerolde note daaruit trek, sonder dat die varkie skree. Mens kan dan ook vir suinige seuntjies winkel toe laat hardloop dat die stof so staan, indien mens vir die lekkers betaal. Ten minste kon hy hierdie keer die helfte van sy eie lekkers deel. En hardloop is mos goed vir ‘n kind.

Asof suiker nou nie genoeg motivering was nie, het my ma nog so sjokoladekoek gebak met geld in. Darem nie note nie, net muntstukke. Ma’s van vandag sal seker ‘n hartaanval kry as hulle dit hoor. “Wat van die kind se tanne?” is een kapsie wat ek my kan indink. In die ou dae het ons grond geëet en koeke met munte in. Ons lewe nog, en lekker ook.

So maak ‘n teetjie, sê ‘n gebedjie op. Die tyd om te brou, is nou!

Suurlemoen en naartjie tert

Hierdie tertjie is nie te soet nie. Die naar-tjie gee haar ‘n effense trek in die kiewe. Dis soos lepels vol sonskyn wat jou vroegoggend saggies op jou wang soen. Jy kry ‘n huppel in jou stap omdat die klein haartjies in jou neus nie onmiddellik vries wanneer jy jou kop by die deur uitsteek nie.

Bestanddele - vulsel

100 ml Suurlemoensap
50ml Naartjiesap
100 ml Heuning
6 Groot eiergele
8 Teelepels botter in blokkies gesny
1 Teelepel gelatien

Kors

Sjokolade (bitter) sponskoek
Of pakkie van jou gunsteling koekies fyngekap
botter

Italiaanse meringue

2 Koppies suiker
1 Koppie water
8 Eierwitte teen kamertemperatuur
2 Suurlemoene se sap

Metode - vulsel

Bring die suurlemoen en naartjiesap tot kookpunt in ‘n klein potjie.
Kook totdat dit begin stroperig raak. Voeg die gelatien by die warm stroop en kook vir nog so minuut.
Sit ‘n ander potjie met water in solank op die stoof en laat dit kook.
Klop die heuning en eiergele saam tot glad.
Vou nou die warm sappe wat jy gekook het geleidelik in die eiergele in. Klop vinnig om te verseker dat die eiergele nie ‘scramble’ nie.
Sit die bak op die potjie met water wat kook en hou aan klits totdat die mengsel begin verdik.
Verwyder van die hitte en klits die botter stukkie vir stukkie in die mengsel in.
Laat dit afkoel terwyl jy die meringue en kors maak.

Metode meringue

Kombineer die suiker en water in ‘n potjie.
Kook op ‘n hoë hitte vir so vyf minute.
Terwyl die stroop kook, klits die eiergele en suurlemoen saam totdat sagte pieke vorm wanneer jy die klitser uithaal.
Hou aan klits, groei vinnig nog ‘n arm om die stroop in die potjie nou stadig by te voeg, of sit jou voedselverwerker op hoë spoed terwyl jy sommer self die warm stroop stadig byvoeg. Hou aan klits totdat die meringue die vereiste dikte is.

Metode kors

Spuit ‘n tertpan met Spray ‘n Cook.
Sny die sponskoek in klein stukkies en druk plat op die bodem van die pan.
Indien jy ‘n pakkie koekies gebruik, maak hulle fyn, smelt die botter en kombineer.
Druk dit dan stampvas onder in die tertpan.

Noudat jy al die elemente het, kan jy die tert begin saamflans. Gooi die suurlemoen- mengsel oor die kors. Sit nou die Italiaanse meringue mildelik bo-op. Laat dit in die yskas staan vir so halfuur. Haal uit en gebruik ‘n sjef se blaasvlam om die meringue mooi te skroei.

Pampoen, gemmer en lemmetjie brûlée (maak agt porsies)

Bestanddele

250 g Pampoen (opgekook met heel gemmer- stukke. Jy kan dit ook in ‘n bietjie lemoensap kook)
1/2 Koppie suiker
1/2 Koppie goue bruinsuiker
5 Groot eiergele (hou die witte vir die meringue later in die artikel)
2 Teelepels vanielje-ekstrak
1 Teelepel gemaalde kaneel
1/4 Teelepel gemaalde kardemom
1/4 Teelepel “all spice”
1/4 Teelepel gemaalde naeltjies
1/4 Teelepel sout
3 Koppies room
8 Eetlepels bruinsuiker
1 Vinger vars gemmer
4 Vars lemmetjies

Metode

Verhit die oond tot 160°C.
Kook die pampoen en gemmer tot sag. Sit dit in die voedselverwerker en blits totdat dit ‘n puree vorm. Voeg die lemmetjiesap by.
Meng pampoenpuree met 1/2 koppie suiker en 1/2 koppie bruin suiker in ‘n groot bak.
Klits die eiergele, vanielje, speserye en sout by.
Bring die room tot kookpunt in ‘n groot pan. Wanneer dit kook, voeg dit geleidelik by die pampoenmengsel.
Verdeel die mengsel tussen 8 ramekins en sit hulle in twee groot oondbakke. Vul die oondbakke met kookwater tot so halfpad teen die ramekins.
Kook vir 35 minute, of tot jy dit begin ruik. Hulle moet ferm in die middel wees.
Sit hulle nou in die yskas om verder te stol vir so ses ure.
Wanneer jy reg is om hulle te bedien strooi so ‘n eetlepel bruinsuiker bo-oor almal en gebruik ‘n blaasvlam om die suiker te skroei. Indien jy nie een het nie, druk die ramekins onder jou oond se rooster. Hou hulle net mooi dop, hulle draai vinnig. Sit hulle dan vir so 15 minute in die yskas om die doppies te laat verhard.

Lemoenkoek

Bestanddele

Spray ‘n Cook
1 1/2 Koppies koekmeel
1/2 Teelepel bakpoeier
1/2 Teelepel sout
1/4 Teelepel koeksoda
1 1/2 Koppies suiker
2 Teelepels lemoenskil fyn gerasper
1 Teelepel suurlemoenskil fyn gerasper
1/2 Teelepel lemmetjieskil fyn gerasper
3/4 Koppie botter teen kamertemperatuur
140g Goeie roomkaas
3 Groot eiers
1 Teelepel vanielje-ekstrak
1/4 Koppie vars lemmetjiesap

Metode

Verhit die oond tot 180 grade.
Spuit jou pannetjie met Spray ‘n Cook - ek het een van hierdie nuwe fensie plastiek panne-tjies gebruik.
Sif al die droë bestanddele saam en sit een-kant.
Kombineer 1 en 1/4 koppies suiker met al die gerasperde skille en sit eenkant.
Gebruik nou ‘n elektriese klitser en kombineer die botter en roomkaas totdat dit glad is - so twee minute.
Klits nou die suikermengsel stadig in. Klits op ‘n hoë spoed totdat die mengsel lekker lig en donsig is - so 3 tot 4 minute.
Verminder spoed tot laag en voeg nou die eiers een vir een by.  
Skraap die kante van die mengbak tussenin om seker te maak alles meng mooi.
Voeg nou die vanielje by. Maak seker alles is goed gemeng voordat jy die droë bestanddele bysit.
Sit nou jou menger op ‘n lae spoed en voeg die droë bestanddele stadig by. Moet die mengsel nie te veel klits nie, dit sal jou koek baie swaar en dig maak.
Gooi nou die mengsel in jou pan en bak in die oond tot bruin vir so 60 tot 70 minute. Die oomblik wat jy die koek begin ruik, moet jy hom toets deur ‘n stokkie in die middel in te druk. As hy skoon uitkom is die koek gebak.
Haal uit die oond en laat verkoel op ‘n rakkie vir so 30 minute.

Stroop

Verhit die suurlemoensap en 1/4 koppie suiker oor ‘n medium hitte totdat die suiker gesmelt het.

Wanneer die koek koel is druk gaatjies orals in met ‘n stokkie. Gooi die stroop oor en sit in die yskas vir ‘n rukkie sodat die stroop ook afkoel. Bedien met ‘n lekker koppietjie tee.

Trifle

Hierdie trifle is anders as die een wat ek onthou as kind. Ek het dit in aparte glasies gemaak en sommer meringue wat van die suurlemoentert oorgebly het bo-op gesit, want ek het gedink dit lyk mooi. Dit proe toe nou ook nie te sleg nie.

Bestanddele

(4 porsies)
100g Sjokolade-sponskoek (ek het sommer by my plaaslike winkel gekry)
50ml Cointreau
4 Naartjies gesegmenteer

Vir die vulsel

250ml Vars naartjiesap
70g Strooisuiker
1 Eier
2 Eiergele
2 Teelepels mielieblom
2 Teelepels gelatien
65g Botter, verkoel en in blokkies gesny
1 Teelepel lemoenbloeiselwater 

Metode

Verhit die Cointreau, moenie dat dit kook nie.
Sny die sponskoek in klein stukkies en gooi die Cointreau daaroor.
Pak dit onder in jou glase.
Pak nou die naartjie-segmente rondom die kant van die glas.

Vulsel

Kombineer die naartjiesap en die suiker in ‘n klein potjie. Verhit tot warm.
Klop die eier en eiergele met die mielieblom.
Voeg ‘n derde van die warm sap by die eiers om te verhoed dat dit skif. Meng.
Gooi nou die mengsel by die res van die sap in die pan en kook oor ‘n medium hitte vir so 3 tot 4 minute. Moenie dat dit kook nie.
Smelt jou gelatien en lemoenbloeisel water in ‘n bietjie warm water en voeg by die mengsel.
Laat dit verkoel vir so 3 minute en gooi dit in die glase.
Sit in die yskas vir so uur of twee totdat die vulsel gestol het.

Maak solank ‘n jellie, ek het lemoen gebruik om by die lemmetjie smaak te pas. Laat dit ook stol in die yskas.

Skep die jellie in die glasies en sit die Ita-
liaanse meringue bo-op voordat jy dit met die blaasvlam bykom.

Ek moet sê dis die eerste keer wat ek ‘n blaasvlam in die hande kry, en boetie, het ek hom laat werk!Met al die soetigheid raak die keel bietjie droog. Hier is twee resepte vir lekker sitrus- drankies.

Limonade

Bestanddele

1 Glas naartjiesap
1 Eetlepel suurlemoensap
1/4 Teelepel growwe sout
2 Teelepels geroosterde, fyngemaakte
komynsaadjies
1/4 Teelepel swart peper
1/4 Teelepel gemmersap
Saffraan

Metode

Laat die saffraan in ‘n bietjie warm water
staan vir so twee minute totdat die water begin verkleur.
Gooi al die ander bestanddele in ‘n glas en voeg die saffraanwater by.
Bedien met ysblokkies.

Hot-toddie

Wanneer die windjie koud is en skraal, en jou keel voel krapperig en kaal, dan gaan hierdie winterdrankie jou hart verwarm soos wat Eugène Marais se Winternag die volk se harte aangegryp het.

Bestanddele

2 Koppies Rooibostee
‘n Paar snytjies suurlemoen
So ‘n vinger vars gemmer
Heuning
Vars tiemie

Metode

Gooi al die bestanddele in ‘n potjie en laat hom prut totdat die tiemie en gemmer lekker ingetrek het. Bedien. Ek laat so potjie sommer die hele dag prut en ek voeg net die hele tyd vars suurlemoen, gemmer en tiemie by, en tee wanneer dit nodig is.

Daar is nou ‘n gros soetgoed om van te kies. My hele kombuis en yskas loop oor van koeke en terte, soveel so dat ek nie eers weet waar om die kaas te begin soek nie. Geniet die soete sitrus, en stroop jou dieet van skuld om ‘n happie te vat wanneer die kalorietellers nie kyk nie.