Volg ons op Facebook

Negester KK Website banner 600x163px proef2

Verfrissend lig en lekker vir somer

Written by  Jacques van Zyl | February 26, 2014

Vir baie jare nou al vind ek myself oormatig krities teenoor Suid-Afrikaanse witwyn.

My voorbehoud kom daarop neer dat dit bloot te warm hier is om goeie wit wyn te maak.
Die druiwe word veel vinniger ryp as wat dit byvoorbeeld langs die Ryn of in die beter wynboustreke in Frankryk gebeur, met die gevolg dat ons wit wyne selde die soort suurgehalte bereik waarvoor van die wêreld se beste wyne bekend is en dat die alkoholvlakke soms te hoog is vir die wyn om gebalanseerd voor te kom.

"ABC, het ek altyd gesê  - Anything But Chardonnay"

Die gevolg is telkens dat die wyn jou eers in die gesig slaan, dan jou tong verdoof, voor die oordrewe vrugtesmake wat ons wynmakers by Australië en in die VSA aangeleer het, platval in soet-bitter note. Dit het gemaak dat ek begin vermoed het ek niks hou van Chardonnay nie - ABC, het ek altyd gesê – Anything But Chardonnay (dit alles natuurlik voor ek Chablis ontdek het).
Die wat ek graag, sou ek kon, elke Sauvig-non Blanc plant uitruk en met 'n grenadellarank, 'n koejawel of  'n vyeboom en 'n pol aspersies vervang vir diegene wat al vergeet het hoe lekker hierdie vrugte proe.
Maar nou is dit amper Kersfees en 'n mens moet dink aan ander ook en probeer om jou eie besware vir jouself te hou. In elk geval, een van die beste wyne wat ek in die laaste paar maande gedrink het, was 'n stokou Cloudy Bay Sauvignon wat trane na my oë gebring het; en dit vir heeltemal ander redes.

"Vol en romerig in die mond, met tiperende sitrus - en tropiese vrugtegeur op die neus"

So het dit gebeur dat ek hierdie maand voor 4 bottels wit wyn sit, die Chardonnay’s en Sauvig-non Blancs van Nederburg en Du Toitskloof onderskeidelik, en haas nie geweet het waar om my spreekwoordelike kurktrekker in te druk nie. Wat nog iets positief daaroor te sê hê, behalwe miskien "daar ver in 'n krip in 'n bedjie van hooi". Dis in elk geval verbrands moeilik om 'n beskaaf-de witwyn vir onder R50 te koop te kry en ek gaan nie-mand daarvan oortuig dat ek elke aand aan 'n glas Lismore of Hamilton Russell sit en teug nie, of dat daar 'n ry  bottels Sancerre in my yskas lê nie. Op universiteit was Nederburg die woord wat ek in 'n restaurant sou gebruik as ek ‘n meisie wou beïndruk. Dit het natuurlik nie baie gebeur nie, en die resultate was gewoonlik soos my finansies – skraps en taamlik kortstondig. Nederburg kom 'n lang pad. Aanvanklik, in 1791, is die grond aan Philippus Wolfaard toegeken. Daar was moles in die Kaap en die naam was blykbaar 'n poging om die destydse HOIK kommissaris, ene Sebastiaan Nederburgh, 'n bietjie heuning om die mond te smeer. Of dit gewerk het, weet ek nie, maar na 'n reeks triomfe en rampe (waaronder die vernietiging, soos in Frankryk, van amper al die wingerdstokke deur 'n spul Filloxera wortelluise in 1890, en die gevolglike bankrotskap van die eienaar, Petrus Hauptfleish) het die plaas in 1966 in die stal van Stellenbosch Farmers Winery beland; met die beroemde Günter Brözel agter die wynpers. Vandag is Nederburg een van die 3 wynplase met die meeste vyfstertoekennings deur die John Platter wyngids, en nie net jeens sy grootte nie.

"Ek praat nie van halfsoet nie - kom on sê liewers dis net reg"

Die Private Bin reeks kan maar dopgehou word, en die edellaatoeswyne is keer op keer byna onvebeterlik. Nederburg se grootste prestasie, in my beskeie mening, is die volgehoue kwaliteit van al sy wyne – van intree-vlak tot veiling-klas. Die Winemaster's Reserve Chardonnay en Sauvignon Blanc is geen uitsondering nie. Die Chardonnay is 'n mondwater suggestie van waartoe hierdie druif in staat is, veral as dit nie deur eikehout oordonder word nie. Vol en romerig in die mond, met tiperende sitrus- en tropiese vrugtegeure op die neus. Die afsluk is sappig maar tog droog, met 'n ligte wenk van gerasperde lemoenskil in die agtergrond. Wanneer ek dink wat die beste daarby sal smaak-pas is die effe soetigheid van kreefvleis die eerste ding wat by my opkom, maar ek wonder skielik oor kalkoenbors of geglasuurde ham, kersies en pynappel ook. Die Sauvignon Blanc, aan die ander kant, is verfrissend suur op die tong met tipiese grenadella- en groenrissiegeure; 'n verrassende tikkie umami-soutigheid wat die mond vul voor dit wegsterf met 'n laaste bietjie “byt” waarvoor Sauvignon so bekend is. Dit sal goed saamgaan met byna enige van die ryker vissoorte, eenvoudig berei - ek sien in my geestesoog gebraai-de sardyne met growwe sout, olyfolie en vars gesnyde ui, so effentjies verwelk in die pan.

"Dit is met redelik verbasing dat ek dus die twee wyne se proppe afgeskroef en begin proe het"

Van die Du Toitskloof wyngroep het ek eers bewus geword toe ek terug Kaap toe getrek het en my geldjies heeltemal op was, maar ek kon myself steeds nie so ver kry om Graca te sê tensy ek van Mosambiek kom of  liefde op mens se oudag gepraat het nie. Vir 'n lang tyd al is Du Toitskloof die naam op wyndrinkers se lippe as daar van goeie waarde-vir-geldwyne gepraat word. Kort anderkant die berg, op pad Karoo toe, in die dorpie Rawsonville vind mens die wynkelder. Du Toitskloof is 'n konsortium van elf wynboere in die skilderagtige Breedevallei-streek en sluit vandag twee-en-twintig wynplase in. 

"..kan hierdie 4 bottels (en miskien 'n sak ys of twee as dit moet) net sowel die grootste deel van jou aankope uitmaak"

Dit is met redelike verbasing dat ek dus die twee wyne se proppe afgeskroef en begin proe het. 'n Effens soeter styl as meeste (ek praat nie van halfsoet nie – kom ons sê liewers dis net-reg) doen geensins afbreek aan hierdie twee wit wyne nie. Wat eerste opval aan die Chardonnay is hoe lekker dit in jou glas ruik, veral na dit 'n bietjie lug gekry het. Dit herinner aan my gunsteling vrugteslaai: papaja en lemoensap, met een of twee skyfies groenerige piesang en 'n bietjie room. Dit proe amper net soos dit ruik, met ‘n uitstekende suurbalans wat die hoërige 14% alkohol goed dra. Selfs na twee dae in die yskas was ek steeds suinig daarmee. Hierdie wyn is perfek vir net-so drink, maar sal goed werk saam met amper enige pluimvee of seekos. Ek wonder ook hoe dit sal proe saam met vrugteslaai. Die Sauvignon Blanc aan die anderkant  is die ene tropiese vrugte – 'n klein bietjie appelliefie en selfs 'n tikkie wit peper – vars en uiters drinkbaar. Dis eintlik te lekker vir 'n blokkie ys of vir kos, maar sal goed werk saam met wit vis of hoenderbors – gestoom of in 'n sousie. Sorg net dat die wyn goed koud is.

Wat my onkant vang, soos ek hier sit en skryf, is die besef van hoeveel druk daar by mens is om Kersfees te geniet. Om elke hoek word jy vertel, nie net hoe om Kersfees te geniet nie, maar dat  dit spesiaal is; en dat daar dalk fout met jou is as jy nie gek is oor elke oomblik daarvan nie. Die punt is: Kersfees is, onder al die ander dinge wat dit is, 'n verdomp goeie verskoning om jouself te bederf, veral as jy 'n verskoning daarvoor nodig het. En as Kersfees die verskoning moet wees om 'n paar bottels lekker wit wyn in 'n winkelwaentjie te pak, kan hierdie vier bottels (en miskien 'n sak ys of twee as dit moet) net sowel die grootste deel jou van aankope uitmaak.