Volg ons op Facebook

Uitgestrekte en onmiddellik genot

Written by  Lekker Bekkig | March 14, 2014

Sommige mense dink mos boervroue sit net rond met groot diamante aan die vingers en skinder oor ander ryker, of armer, boervrouens oorkant die draad. Of plaasmense sit heeldag en bid vir reën. Dit gebeur seker ook, maar my ervaring is dat daar altyd werk is om te doen op ’n plaas - kom reën, skinner of sonskyn.

    Dit vat baie werk en gebede om ’n goeie oes van die wingerd en boord af te kry. Om nie daai perskes te kneus nie. Om die druiwe op die regte tyd te pluk, en regte tyd te verpak. Maar soos die ou lewe nou maar is, val daar altyd ’n paar korrels op die sand.
    Of andersyds, sit mens met niks of ‘n oorvloed van alles. Die natuur se sin vir humor is ʼn eindelose horison. Maar soos die spreekwoordelike “boer maak ’n plan”, het mense op plase ook planne gemaak om die oorvloed van Moeder Natuur te benut. Hulle het begin inlê; jêm maak, piekels, noem dit maar. Niks word gemors nie.
     Dis mos nou oestyd - daardie tyd van die jaar wanneer ons al die wonderlike vrugte en groente wat deur die somer heen al die son se energie omskep het in soet-stroperige-genot wat ons kan waardeer en geniet.
    En daar is ook ’n oorvloed van perskes, druiwe, pruime en bessies van alle kleure, lekker vye, en enige ander somervrug wat jy aan kan dink. Dis nóú die tyd om ‘n bietjie daarvan te bêre vir die wintermaande wanneer die koue begin kou, en die spens beginne leeg raak, en die lus vir ʼn ingelegdheidjie groot is. Dis nou dié vrugte wat jy nie onmiddellik kan geniet in ‘n wulpse Pavlova nie!
     Maar kom ons los daai vir na die gepiekel.

Mango-blatjang met ’n byt

Wanneer mense oor die groot waters gaan soek na groener weivelde hoor mens hulle gereeld na die tyd teem oor al die dinge wat hulle so verskriklik mis. En een van die smake waarna hul smag is: Mrs Balls Chutney! Dis mos volksmondkos. Maar ek en jy kan ook ons eie blatjang maak uit perskes, mango’s of appelkose. Sy is soos almal se vrou, hierdie blatjang. Braaivleis, kerrie, pasta, sommer so op ’n broodjie, of saam met die oggend-eiers. Sy lê lekker saam met alles.
Nou ja toe, laat ons inlê.

Bestanddele:
6 Pas ryp mango’s  (geskil en in dun skyfies gesny)
2 Uie fyngekap
1 Vinger vars fyngekapte gemmer
2 Knoffelhuisies ook fyngekap
60ml Sonneblomolie
10ml Sout
’n Paar groen- en rooirissies - na gelang van hoe sterk jy dit wil hê
652ml Rooi wynasyn
500g Bruinsuiker
150g Rosyne
30ml Vars lemoensap

Metode:
- Verhit die olie in ’n diep kastrol. Bruin-braai die uie, en voeg die  
   gemmer, knoffel, mangoskyfies, sout, rissies en komyn geleidelik by.
- Roerbraai vir nog so twee tot drie minute.
- Gooi die res van die bestanddele by en verhit stadig totdat die suiker  
   gesmelt het.
- Kook vir so veertig minute totdat die blatjang lekker dik is, en soos ’n  
  blatjang begin lyk en ruik. Roer so af en toe net om seker te maak dit  
  brand nie aan nie.
-  Steriliseer die bottels (Google dit as jy nie weet hoe nie) en bottel jou
   blatjang warm.

Perske in die piekel

Hierdie resep kom van tannie Anne Heunis van Nigel in die ou-Transvaal af. Dit word nou al deur generasies aangegee, en haar dogter maak dit steeds. Ek deel met graagte hierdie resep, en hoop dit word nog lank van geslag tot geslag oorgedra. Ek doen dan ook die afmetings in die “ou” taal voordat ons Afrikaners oorgeslaan het na die moderne fênsie afmetings.

Bestanddele
6 Pond geelperskes gesnipper
2 1/2 Pond gekapte uie
2 Pond suiker
1 Teelepel peperkorrels
1 Teelepel naeltjies
1 Teelepel kerrie
1 Teelepel borrie
1 Teelepel droë mosterdpoeier
1 Teelepel vars gekapte gemmer
1 Teelepel gemaalde koljander
1/2 Handvol anys
1 Opgehoopte teelepel sout
1 Bottel bruin asyn
Halwe bottel wit asyn
1 Koppie stroop

Metode:
- Gooi die suiker oor die gesnipperde perskes en laat dit oornag staan om in te trek.
- Meng al die kruie in ’n groot kastrol saam met die bruin en wit asyn, kook dit deur.
- Voeg die uie nou by en kook totdat hulle sag en deurskynend is, en daar ’n lekker   
   speseryreukie in die kombuis hang.
- Voeg nou die koppie stroop by, asook die perskes, en kook tot hulle sag is.
- Bottel die piekels warm.
- As die stroop te dun is voeg bietjie aangemaakte Maizena by.

Boetebessies en laat vye

Snaaks dat die dames wat so verkeersboetes uitdeel mos ‘boetebessies’ genoem word. Eintlik is bessies lekker soet, stroperig, en goed vir ʼn mens. Maar taal is ’n anderste kalant, en stroperig is boetebessies gewoonlik nie.
    Kom ons fokus dan liewer op vrugte wat laat somer hul verskyning maak, en die enigste boete wat jy hier hoef te betaal is as jou kop op ’n ander plek was en jy nie die wonderlike soetigheid op jou tong geproe het nie.
    Vye is glo die eerste gekultiveerde plant wat die mens formeel verbou het. Dit word beskou as die begin van landboubedrywighede, en as mens wyd lees deur al die verskillende gelowe van die Christenheid, Boeddhisme, Kabbalisme en die Moslems, het hulle almal vye aangeplant.
    Daar word ook vele verwysings in die kunste gemaak na die vyeblaar wat gebruik word om skaamte te verbloem. Ek wil skaamteloos hierdie resep aanbeveel. Dit bevat al die natuur se geskenke, en is een van die mooiste disse wat jy kan maak sonder veel moeite. Dis net die beste van Moeder Natuur op ’n bord. Amper soos ʼn pallet wat die skilder net so neergesit het. Perfek en op sy plek.
     Vyebome gee vroeg in die lente vrugte, en dan weer laat somer. Die laatvye is pers, wulps, en nie eers die klein pitjies wat binne-in-bly, kan mens afsit van hul wonderlike smaak nie.
     Gebruik enige vrugte wat rooi of pers, en in seisoen is, in hierdie resep. Ek het pruime bygesit want ek kon hulle kleur as kind nie weerstaan nie. Koop dan sommer ook ’n lekker botteltjie muskadel of ‘Ouma se Wyn’ van Weltevrede om in die resep te gebruik; en vat maar ook ʼn slukkie terwyl jy so swoeg.  
    Probeer altyd om alles plaaslik en seisoenaal te hou. (Ja, jy kan gevriesde bessies gebruik buite seisoen, maar dit kom nie by die ware Jakob nie.) Hierdie dis kan warm of koud bedien word. Jy kan dit maklik ’n dag voor die tyd voorberei.

Bestanddele:
12 Groot ryp vye in die helfte gesny
250 ml Ruby Port of soetwyn uit jou area
400g Framboosbessies en braambessies (raspberries en blackberries in Ingels)
’n Paar pruime
4 Teelepels olyfolie
2 Eetlepels fruktose of 3 eetlepels bruinsuiker

Metode:
- Sit die Port of soetwyn in ’n groot pan en laat dit afkook tot omtrent   
   so die helfte.
- Gooi die bessies by en verwyder van die hitte. Sit opsy vir ’n uur of so  
   om dit sag te maak.
- Meng nou die vye en pruime in ’n klein bakkie met die olyfolie en
   suiker/fruktose.
- Los dit vir ’n uur of so.
- Sit jou oond se rooster aan op die hoogste hitte.
- Druk die vye en pruime op ’n roosterpan in die oond totdat dit begin
   karamelliseer. Dit klink miskien snaaks om die mooi vrugte onder ’n
   rooster te sit maar dit intensiveer die smaak. Jy kan dit gerus ook met  
   ander steenvrugte soos perskes en kaalperskes probeer.
-  Voeg saam met die bessies wat gerus het by die geroosterde vye en  
   pruime, en geniet dit sommer saam met ’n bolletjie vanieljeroomys.
 
Alhoewel dié resep baie soet klink, is dit gesond indien jy die fruktose gebruik. Bessies bevat ook allerhande genesende kwaliteite, en vye kan net goed wees vir enige mens se bestel.

“Geniet die laaste van die somer se soet geskenke. Gebruik die beste bestanddele uit jou kontrei, en beskou jou kos as kuns. Dit sal jou ewe veel plesier gee.”

Wulpse Pavlova

Die Nieu-Seelanders en Australiërs stry mos omtrent oor alles; selfs hierdie wonderlike nagereg wat ter ere van die wêreldberoemde balletdanseres Anna Pavlova geskep is.
    Volgens die Australiërs het hulle dit eerste vir haar gemaak. Maar soos met rugby, praat hulle weer net groot. Dié nagereg is in 1926 deur ’n sjef van ʼn hotel in Wellington, Nieu-Seeland, geskep.  Volgens Wikipedia was dit gedurende Pavlova se beroemde wêreldtoer, en is daar sedertdien meer as 600 verskillende resepte vir die bekende nagereg uitgedink.
    Vir my is die geheim van dié resep om dit nie te soet te maak nie. Soos die danser Pavlova wat ’n probleem met balans gehad     het, moet hierdie resep gebalanseer word met ’n klein bietjie suur. En dan is daar natuurlik die skuimpies wat as die nessie dien waarin die vrugte gelê word. Ek gebruik ’n titseltjie suurlemoensap om die eiergele mooi glanserig te laat verdik, en om pragtige pieke te maak.

Bestanddele:
Vir die skuimpies:
3 Eierwitte (gebruik die varsste eiers wat jy in die hande kan kry. As jy dit self onder die hoender gaan haal het soveel te beter)
’n Klein bietjie vars suurlemoensap - minder as ʼn teelepel
100g Strooisuiker
75g Versiersuiker gesif, en ’n bietjie om bo-oor die dis te strooi
 Vir die vrugte:
150g Framboosbessies
150g Braambessies
35g Swart druiwe
35g Groen druiwe
4 Teelepels strooisuiker (of meer as jy dit soeter wil hê)
’n Titseltjie suurlemoensap

Metode:
Voorbereiding van die skuimpies:
- Verhit die oond tot 120 grade.
- Klits die eierwitte en die suurlemoensap, dit sal die skuimpies help set.
- Vou nou die versiersuiker in die mengsel in, bietjie  vir bietjie.
- Jy kan nou besluit of jy een groot Pavlova gaan maak of vier kleintjies.

- Voeg die strooisuiker by die eierwitte terwyl jy dit klop. Voeg die suiker teelepel vir teelepel by, en hou aan klop vir drie minute nadat al die suiker bygevoeg is. Jou mengsel moet nou lekker styf en glansend wees. Moet dit nie verder klits of oorwerk nie.
- Vat ’n oondbak en vryf hom in met bietjie botter, sit waspapier op, en vryf botter bo-oor sodat niks kan vassit nie.
- Skep die skuimpiemengsel in die bak, strooi bietjie van die versiersuiker oor, en sit dit in die oond vir so twee ure. Maak die vorm van die skuimpies soos ’n nessie sodat jy later die vrugte daarin kan lê.
- Indien jy nie van ’n bruin kleur op jou skuimpies hou nie, en hulle magies wit wil hou, verlaag die oondtemperatuur tot 100 grade, en bak vir 3 ure.
Voorbereiding van die vrugte:
- Meng al die vrugte saam (met net die helfte van die framboosbessies) en druk ’n bietjie suurlemoensap daaroor uit. Laat staan vir omtrent ’n halfuur. Jy kan   ’n klein bietjie strooisuiker byvoeg as die vrugte nie soet genoeg is nie.
- Sit die framboosbessies in ’n voedselverwerker, en dan deur ’n fyn sif. Jy kan ook die bessie- en Port-resep wat ons vroeër gemaak het, gebruik, in plaas van net die framboosbessies, afhangende van hoe wulps jy wil wees.
Nou vir die bymekaarsit:
- Klop 350g room taamlik styf (jy kan bietjie   vanieljesaadjies byvoeg wat jy uitgekrap het). ’n  Alternatief is volroom Griekse jogurt, dit gee net ’n bietjie balans aan die soetheid van die hele dis. As jy nie kan besluit nie, doen een laag room en dan ’n lagie Griekse jogurt.
- Maak ’n bedjie van die room/jogurt-mengsel in die skuimpie sodat die vrugte daarop kan lê. Skep die vrugte op, en versier net soos jou oog vir jou sê. Gooi die framboosbessie wat jy gesif het daaroor, en strooi met ’n bietjie strooisuiker.